Camping in Qatar

 

Oor die algemeen kyk mense jou snaaks aan as jy sê dat jy vir 'n naweek (Donderdag en Vrydag) gekamp het. Dit klink nie reg nie en as mens na die landskap kyk, lyk dit ook nie reg nie. Ek moet byvoeg, as iemand 'n jaar gelede vir my gesê het ek sal hierdie tyd in die Midde-Ooste onder die sterre in die sand kampeer, sou ek hulle ook snaaks aangekyk het. Wel, hoe meer plekke ons besoek het, hoe meer moontlikhede het ons gesien. Soveel so dat ons (saam met Franc en Nicoleen Weimann) toe net voor Nuwejaar die stad ingevaar het, opsoek na tente. Ons was verbaas om te sien hoeveel daar beskikbaar was (nie naastenby soveel as SA nie, maar baie vir so 'n klein area). Ons kom toe by ACE Hardware (die bestuurder is 'n Suid-Afrikaner) en koop toe elk 'n 5-man Ranger Dome Tent wat deur Out & About (Isando, SA) versprei word. Die koors het so versprei dat daar by die laaste kampgeleentheid 9 tente (waarvan 5 blou ACE-tente) gestaan het.


Ons eerste Kamp:

Die oggend van 28 Desember 1998 is ons hier weg oppad Inland Sea toe. By die see gekom het ons besluit om so drie duine terug te draai sodat ons net uit die vogtigheid uit kon kom. Ons kom toe af om 'n klein kommetjie waarvan die duine met plante begroei is en vol spore van kewers, akkedisse, voëls, kamele en jakkalse. Laat daardie middag hoor ons 'n onaardse geluid en skielik kom daar 'n Arabier met sy kameel oor die duin gejaag. Hy was seker besig om sy ander kamele bymekaar te maak. Hy was baie vriendelik alhoewel hy nie 'n woord Engels kon praat nie.(1) Hy het daarop aangedring dat ons op sy kameel moes probeer ry. Frank en Uwe het eerste probeer. Met 'n groot geskommel was Frank bo en kon hy vir Uwe ook optel.(2). Nadat Hendrik ook probeer het, was die arabier tevrede, en hy is daar weg met 'n klein fooitjie in sy sak. Daardie aand het ons 'n uitstekende hoederpotjie aangeslaan (3) en gesmul voordat ons gaan slaap het.

(1) (2) (3)

Daardie nag was die stilste nag wat ek in my lewe nog beleef het. Daar was nie eens 'n kriek te hore nie. Dit was 'n belewenis! Die volgende oggend was alles sopnat van die miswolke wat eers teen 10:00am gelig het. Toe die son weer begin skyn was alles binne minute droog en kon ons weer oppak.

Nodeloos om te sê, was ons die volgende naweek weer in die duine.....


Tweede Kamp:

Die tweede kamp was net so lekker. Die keer het ons 'n lekker kampvuur gemaak en marshmallows gebraai. Die hout het gekom van droeë bosse wat Francois en Leandi aangesleep het. Die nag was egter minder stil. Die verkeer het ons mal gemaak. Toe ons die volgende oggend tot bo-op die duin stap, sien ons, ons het reg in die vurk van die "highway" geslaap. Daar was ook nie foto's geneem nie, aangesien die videokamera die oorhand gekry het.

LW: By kamp 1 en 2 was slegs Suid-Afrikaners betrokke.

 

Derde Kamp:

N24 51.330 E51 27.720

Vir die derde kamp was die reëlings bietjie anders. Die Kanadese en New Zealanders het besluit hulle wil vir die wêreld wys hoe word daar gekamp. Hulle nooi ons toe vir 'n braai en kamp in die duine. Daar was veertien 4X4-voertuie wat die pad gevat het. 7 van die voertuie was daar slegs vir die braai, die ander 7 voertuie het 9 tente opgeslaan en heerlik gekamp. Daar was: 2X New Zealanders, 2X Auzzies, 2X Kanadese en 3X Suid-Afrikaners (1). Teen die volgende oggend 09:00 het die Souties almal ontbyt geëet, opgepak, en was hulle reg om huistoe te gaan om te gaan bad en slaap. Toe maak ons klomp Boere nog koffie en eet rustig verder. Daarvandaan is ons toe eers weer Inland Sea toe waar ons middagete geniet het. Teen 15:00 het ons weer die pad gevat sodat ons voor sononder (17:07) uit die duine kon wees. Nou vra ek julle: "Wie het die kampery die meeste geniet? Wie weet hoe dit gedoen moet word?"

(1)(2) (3)

Al die blou tente is by ACE hardware gekoop!

Back to home


Zekreet Kamp:

Hierdie is 'n heerlike plek om te kamp. Dis teen die see, en beskut met die rotste van agter.

N25 38.548 E50 50.924

Back to home


 

 

Last updated: Sunday, November 05, 2000