Alt.Woordeboek


Hierdie is 'n alternatiewe woordeboek vir die Afrikaanse taal. Die HAT is nog cool vir die gewone woorde, maar hier sal jy die taal kry wat jongmense praat. Ouers sal met behulp van dié woordeboek vir die eerste keer actually kan verstaan wat hulle kinders sê. Jongmense kan hulle pêls impress met hulle nuutgevinde woordeskat. Die gewone leser kan dit gebruik as hy/sy 'n woord êrens in dié blaaie raakloop en nie 'n clue het wat dit beteken nie.

Die meeste van die woorde word geredelik in die alternatiewe Afrikaanse subkultuur (sjoe!) gevind, maar daar mag ook 'n paar nuutskeppinge by wees. As Edwill van Aarde dit kan doen, kan ons ook mos.

o

o

Boffin - Expert, spesialis. Iemand wat baie van 'n spesifieke onderwerp weet. Bv. Hy is 'n computer boffin.

Dik - Word gebruik as 'n universele versterkende trap. Bv. Dik gesuip (baie dronk); Dik pêls (goeie vriende); Dik baie geld (vreeslik baie geld).

Ent - Sigaret.

Fully - Ten volle, beslis; ja. Gewoonlik alleen gebruik om iets te beaam (bv. "Ek dink ons moet nog 'n bier drink." "Fully!"), maar kan ook in 'n sin gebruik word (bv. "Dit is fully die moeite werd om na 'n Koos Kombuis concert te gaan).

Full-on - Regte, ware. Dikwels gebruik om die waarheid van iets te beklemtoon (amper soos genuine, maar sterker). Bv. "Hy is 'n full-on dokter." of "Dit was 'n full-on sukses."

Idioroon - Samevoeging van idioot en moroon.

Into - Hou van; Lus vir, wil hê. Bv. "Ek is into Reggae."; Bv. "Ek's nogal into iets om te eet."

Kief - Lekker, goed, wonderlik, uitstekend. Bv. "Dis 'n kief huis." of "Ek het 'n nuwe CD gekry." "Kief!"

Lank - ('n Engelse lank; moet nie verwar word met die eg Afrikaanse lank nie). 'n Universele versterkende stap (vgl. dik).

Mission - Moeite, baie moeite. Bv. "Dit is 'n mission om te skeer."

Moerse - Universele versterkende trap. Bv. Hy is moerse gesuip/happy/deur die kak; goed, nice, lekker. Bv. "Dis moerse!"; Manier om misnoë uit te druk. Bv. Moerse! (stemtoon baie belangrik)

Rap - Gesels, praat. Bv. "Daai ou rap altyd met my oor boeke."

Tune - Sê. Bv. "Tune hom om die bottel aan te gee."

Wetties - Enige drinkbare vloeistof. Bv. Water, wyn, koeldrank, bier.

Zef - Kitch, common; Word altyd neerhalend gebruik. Waarskuwing: Dit is nie goed om as zef beskryf te word nie. Iemand wie se kar 'n lemoen op die airial en fur op die dash het is zef. Daar is mense wat Bles Bridges as zef sou beskou.

Zeffer - Iemand wat zef is. Daar is mense wat Bles Bridges as 'n zeffer sou beskou.

o

o

Huistoe!