Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.
'n Paar basiese reëls geld oor die algemeen by afkortings, en die reënboog-AWS spandeer drie bladsye oor dié riglyne voor enige reëls behandel word.
Die reënboog-AWS bevat 40 bladsye met afkortings, op bl 477.
Die nuwe "reëls" vir afkortings is hoofsaaklik nie juis reëls nie, maar bloot 'n beskrywing van die verskillende soorte maniere waarop afkortings gemaak word. Voorts word daar in die AWS weinig poging aangewend om die gebruiker te lei oor wanneer watter metode gebruik moet word om 'n afkorting te skep. Die metodes is dus analogies van aard, nie voorskriftelik nie.
(3.1) Woorde kan afgekort word in die vorm [eerste lettergreep][eerste (een|twee|drie) letters van volgende lettergreep], byvoorbeeld aanb., aanvr., en aanspr. Soms kom die laaste letter van die woord ook by. (3.2) Woorde kan ook afgekort word in die vorm [eerste (een|twee|drie|n-ste) letters van enige van die lettergrepe], of (3.3) met die eerste en laaste letter van die woord, en soms ook sommer 'n middelste letter van die woord daarby saam. Nouja, geen kommentaar nodig oor dié "reël" nie.
(3.4) Woordgroepe se afkortings bestaan eweneens soms uit die eerste letter of letters van een of meer van die woorde in die woordgroep. In gevalle waar meer as een letter per woord afgekort word, kom daar geen spasie tussen die afgekorte letters nie, byvoorbeeld "tel.no." en nie "tel. no." nie. Dieselfde (3.5) geld vir die name van instansies. Let op hoedat die laaste drie letters van die afkorting S.A.R.V.U. 'n verkorte vorm van 'n enkele woord, "rugbyvoetbalunie" is. Koppeltekens word dus nie in sulke gevalle gebruik nie, m.a.w. "SARVU" en nie "SAR-V-U" nie, en ook "reg.afd." en nie "reg.-afd." nie.
(3.6) By voorname se afkortings word daar ook geen spasie tussen die letters gebesig nie, maar wel 'n spasie tussen die voorname en die van. Dus "N.P. V.W. Louw" (hoewel die reënboog-AWS dit spel as "N.P. v.W. Louw", wat onses insiens 'n fout is - "Van Wyk" is immers nie 'n van nie, dis 'n voornaam, in dié geval).
Tradisioneel (3.7) kry sommige afkortings punte, behalwe indien dit die name van instansies is (soos SARVU in plaas van S.A.R.V.U.). Nóg uitsonderings op die reël van punte is (3.8) by name van grade en diplomas (opsioneel met of sonder punte), (3.9) afkortings wat net uit hoofletters bestaan (opsioneel met of sonder punte), (3.10) afkortings wat as akronieme uitgespreek kan word nie (geen punte nie, verpligtend), ongeag of dit met hoofletters of gemengde kas geskryf word (bv SASOL en Sasol), (3.11) by vakterme en produkname waar die volvorm gewoonlik alles in kleinletters geskryf is, maar waar die afkorting net in hoofletters geskryf word (geen punte nie, verpligtend), byvoorbeeld LAW (ligte afleweringswa) en AVB (algemene verkoopsbelasting). (3.13) Titels en voorletters kan met of sonder punte geskryf word.
SI-simbole kry (3.12) nooit punte by die afkortings nie. Punte kan wel gebruik word indien die punt nie daar is omdat dit 'n afkorting is nie. Die doodsklok vir die bykans gevestigde GMK (geneties gemodifieerde kos) word ook met hierdie reël ingelui, want die reënboog-AWS sê ondubbelsinnig dat die afkorting gemaak moet word van die eerste letter van elke lettergreep of woord, en nie van die stam van die woord nie. Dis nou jammer, né?
(3.14) Wanneer 'n koppelteken deel van 'n woord vorm, en dit word dan afgekort, mag die koppelteken deel van die afkorting wees, maar as die koppelteken nie deel van die oorsponklike woord is nie, en wel deel van 'n samestelling met die afkorting is, moet dit buite die punte staan, byvoorbeeld s.nw.-funksie en ko-op. is beide reg. Afkortings wat deel van samestellings is, kry nie 'n koppelteken nie as die volvorms los geskryf word, byvoorbeeld "Geref. predikant" en nie "Geref.-predikant" nie, want die volvorm is Gereformeerde predikant (sonder koppelteken).
(3.15) Geen koppelteken word gebruik wanneer die ampersand of "en" deel van 'n afkorting is nie, soos in "Poggenpoel en Kie" of "AT&T" (nie AT-&-T nie).
(3.16) Sommige afkortings se meervoudsvorme is dieselfde as die volvorm s'n, byvoorbeeld depte., maar (3.17) sommige afkortings se meervoudsvorme behels die een of ander verdubbeling, byvoorbeeld mevv. in plaas van meve.
Die keuse (3.18) van =s of =e by die meervoud van afkortings (gewoonlik met afkapteken, behalwe soos in reël 3.19 bereël) word bepaal deur die letter in die afkorting self, en nie deur die laaste letter van die volvorm nie, behalwe (3.19) by sommige Latynse of Griekse afkortings.
(3.20) Rangtelwoorde kan op =de/=ste of op =e eindig. Dus is 2de en 2e albei reg. Maar "2 de" en "2 e" is nie reg nie - geen spasies nie! Dis ook, aldus reël 9.42, tans korrek om dié vorm by straatname te gebruik, soos in "2e Laan" (nie 2e-Laan, 2e-laan of 2de-Laan of 2de-laan nie).
Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).
Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.
Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.