GETALLE, SYFERS EN SIMBOLE - OPSOMMENDE AFRIKAANSE SPELREËLS EN OPMERKINGS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.

GETALLE, SYFERS EN SIMBOLE

(7.1) Samestellings met getalle, syfers of simbole word met 'n koppelteken vas geskryf, byvoorbeeld A-klas, B-mol (maar blykbaar nie B-# nie), o.17-span ens. SI-simbole moet nie gebruik word as vervangings van volwoorde, indien daar geen sprake van mate bestaan nie. Dus "liter-sakke" (sakke wat 1 liter hou), maar "50 l" ('n hoeveelheid van vyftig liter) en "20 l-sakke" (sakke wat twintig liter hou), en nie "l-sakke" vir "liter-sakke" nie. Dié koppelteken reël geld ongeag of die verbindingswoord 'n eienaam is of nie.

SI-simbole kry 'n spasie tussen die syfer en die simbool. Dus "200 m" en nie "200m" nie. Grade Farenheit is nie 'n SI-maat nie, maar moet om redes van gelykvormigheid met Celsius ook maar liefs met 'n spasie geskryf word. Daar is egter geen spasie tussen die "graad"-tekentjie en die F of die C nie.

[x] Die gebruik van "cc" in plaas van "cm³" is slegs aanvaarbaar in die motorbedryf, waar dit ook maar net getolereer word en nie aangemoedig word nie.

Die Taalkommissie het in sy alwysheid beslis dat daar geen spasie tussen die geldeenheid en die syfers moet kom nie, glo om tradisionele redes. Onses insiens reflekteer dié tradisie nie die "tradisie" wat ons in die (veral Engelse) pers waarneem, om 'n spasie tussen die geldeenheid en die syfers te plaas nie. Ek meen, daar is geen kans op vervalsing as dit by drukwerk kom nie. Nietemin is die skryfwyse "R 20,00" dus verkeerd, ongeag of dit in kolomme geskryf word of in 'n sin. Die uiters sinvolle gebruik om die geldeenheidsletter in kolomme onder mekaar te skryf, soos hier onder, is dus verkeerd:

R 1 234,00
R    20,21
R   320,98
R 4 002,03

Die afkorting van miljoen of miljard volg die vorm "R10m" of "R10mjd", sonder spasie weereens om bedrog te vermy, ingeval die koerantverkoper 'n ekstra nul tussen die "10" en die "mjd" met sy potloodjie inskryf op so'n manier dat die leser dink dis so gedruk.

Opeenvolgende syfers en kommas in chemiese verbindings kry geen koppeltekens of spasies nie, byvoorbeeld "yster(III)", "yster(III)hidrochloried" en "N,N-diëtiel-1-butaanamien". Dié geld egter net as die dele chemiese stowwe is, maar vir iets soos "yster(III)-verbinding" kom daar dus wel 'n koppelteken, omdat "yster(III)" as 'n simbool geag word.

Afleidings soos rangtelwoorde, waarin die getalle gebruik word, kry die vorm 23e of 23ste.

(7.2) In 'n samestelling waarvan die een deel in sy onsaamgestelde vorm twee woorde is, bly daardie deel twee woorde, byvoorbeeld "Sub A-klas" en nie "Sub-A-klas" nie.

(7.3) Maatname wat deur massaname gevolg word, kry geen koppeltekens nie. Dus "2 liter melk" en nie "2-liter-melk" nie, tensy die hele ding 'n naamwoord word, met ander woorde "Ek het 'n 2-liter-melk gekoop" teenoor "Ek het twee liter melk gekoop".

(7.4) Die wet van Suid-Afrika sê dat jy slegs 'n komma as 'n desimale teken mag gebruik. Ons weet nie hoe jy dit in ander lande moet skryf waar Afrikaans ook gepraat word nie. Ons weet ook nie wat die straf binne Suid-Afrika is vir wetsoortreders wat die desimale-komma-reël oortree nie. Die reënboog-AWS sê wel dat ander maniere om desimale breuke aan te dui, in die praktyk bestaan, maar lewer geen verdere waarde-uitspraak daaroor nie, behalwe om te sê dat die punt om historiese redes in sommige gevalle gebruik word, byvoorbeeld by gewere se name, motors se enjinkapasiteit en, glo dit as jy wil, by modems se bandwydte. Die skryfwyse "28,8-modem" is dus nou amptelik verkéérd.

(7.5) Getalle kleiner as nul moet 'n nul kry, byvoorbeeld "0,1" en nie bloot ",1" nie.

(7.6) Getalle groter as 999 en kleiner as 0,001 moet spasies tussen die duisende en duisendstes kry, ongeag hoeveel getalle dit is. Dus "4 000" en "0,123 4" en nie "4000" en "0,1234" nie. Die skryfwyse "4000" is dus amptelik verkeerd, en ons moet dus uitsien na die nuwe uitgawe van die Sakboek van Regte Afrikaans (SARA) se nuwe, reggemaakte uitgawe waarin die skryfwyse van "4000" nie meer as "aanvaarbaar" aangedui word as gevolg van die feit dat die beter leesbaar is om dit te doen as daar net duisende en nie tienduisende is nie.

Datums se voorkeur-skryfwyse (7.7) is in die vorm CCYY-MM-DD, hoewel die skryfwyse syferdag-woordmaand-syferjaar (soos in "1 Januarie 2002") nie strafbaar is nie. Tot tyd en wyl die skryfwyse wat deur sekere soorte amptelike vorme (soos tjeks of rekenaarprogramme) gebruik word, reggemaak word, is dit in die praktyk gelate aanvaarbaar om die datum op ander maniere ook te skryf. Die tyd (7.8) word nie met 'n "h" nie maar met 'n dubbelpunt geskryf, soos in "12:00" vir middagete, of "05:30" vir opstaantyd. (7.9) Waar dit nie 'n hoelaat-tyd is wat aangedui word nie, maar 'n tydsduur, is die nulletjie vooraan enkel-uur-getalle weglaatbaar. Dus "dit is nou 5:00" is verkeerd, maar "Die atleet se tyd was 5:00:23" is korrek. Die desimale komma kan ook in sulke gevalle gebruik word. Die gebruik van sommige Afrikaanse koerante om dus "9:00" vir "nege-uur" te skryf, in plaas van "09:00", is verkeerd. Dit behoort interessant te wees om te sien of hulle hul foutiewelike gebruik gaan "regstel".

Daar kom tans geen komma ná die weeksdag in die datum nie. Dus is "Maandag, 1 Mei 2002" nou finaal verkéérd en slegs "Maandag 1 Mei 2002" is aanvaarbaar.

Die skryfwyse van metrieke simbole word beheer deur die Wet op Meeteenhede en Nasionale Meetstandaarde (no. 76 van 1973) en die Wysigingswet daarop (no. 24 van 1998). As jy dus geen respek vir die AWS het nie, wel, dalk het jy respek vir die land se wet. Maar alle grappies op 'n stokkie, dit beteken bloot dat die AWS se reëls nie sommer uit die lug gegryp is nie, en wel praktiese en teoretiese gronde het.

Metrieke simbole word as simbole beskou en nie as afkortings nie, en daarom is die reëls van afkortings nie noodwendig op hulle van toepassing nie. Dis ook die rede hoekom (7.13) die SI-simbole slegs punte kry aan die einde van 'n sin. Die Taalkommissie verkies dat (7.10) metrieke simbole altyd in romein-font geskryf word (dus nooit in skuinsdruk nie, selfs al is die res van die sin in skuinsdruk en selfs al wil 'n mens dit beklemtoon). Die uitsondering hierop is die liter-teken wat, in die lettertipe wat die Taalkommissie gebruik, met 'n "een" verwar kan word, en dus kursief geskryf mag word.

(7.11) SI-simbole deurgaans met 'n kleinletter geskryf word, behalwe in gevalle waar dit met 'n hoofletter geskryf word. Moenie so grinnik nie. Die SI-simbool (7.12) vir "liter" is 'n kleinletter- óf hoofletter-L, of 'n kursiewe kleinletter-L. (7.14) Saamgestelde SI-simbole word vas geskryf, byvoorbeeld "mm" vir milimeter, en nie "m-m" of "m m" nie. (7.15) SI-simbole kry nie meervoude nie, behalwe waar dit letterkundige of omgangstaal-waarde het en die volwoordvorm van die simbool gebruik word. Dus "10 km" en nie "10 kms" of "10 km's" nie, maar wel "10 kilometer" of "10 kilometers".

Ingeval jy, die wetsgetroue leser, dit die eerste keer gemis het, (7.16) jy moet 'n spasie sit tussen die getal en die SI-simbool. Dis 'n wetlike voorskrif. Die (7.17) skryfwyse van "geen koppelteken" by samestellings met SI-simbole met syfers nie, byvoorbeeld "10 km-wedloop" en nie "10-km-wedloop" nie, is ook 'n wetlike voorskrif. Gebruik eerder die SI-simbool in plaas van alternatiewe afkortings, byvoorbeeld "m³" en nie "vk.m" nie, en SI-simbole moet ook nie met sulke omgangstaalafkortings gemeng word nie, byvoorbeeld "megagreep" en nie "M-greep" nie.

Probeer om verwarrende skryfwyses te vermy. Dus "10 200 m-wedlope" moet eerder as "tien 200 m-wedlope" geskryf word. Die hemel beskerm ons teen "34 254 765 098 2 l-bottels" - dit word dus "vier-en-dertig-duisend-twee-honderd-vier-en-vyftig-miljoen-sewe-honderd-vyf-en-sestig-duisend-en-agt-en-negentig 2 l-bottels". Dit vat nouwel 'n ietsie ekstra spasie, maar ten minste is daar geen verwarring nie. REGSTELLING:Die hoeveelheid bottels het verkeerd gelees; dankie aan Petri Jooste wat dit opgemerk het.

KOMMENTAAR

Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π