BRIEWE OOR DIE AFRIKAANSE WOORDELYS EN SPELREËLS, EN OOR "INSIGTE"

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

BRIEWE ONTVANG, PER E-POS

Tom McLachlan

Vrydag 15 November 2002

Ek was uiters verras om van u webtuiste oor die AWS te hore te kom. Ek sou baie graag wou weet wie die misterieuse skeppers van die tuiste is. Groete.

Werfmeester antwoord: [x] Kliek op die paai regs onder.

Gerhard van Huyssteen

Saterdag 16 November 2002

Dankie vir `n oulike en insiggewende webbladsy! Doe zo voort... Groetnis.

Ek het die webadres van julle by Wannie Cartsens gekry, wat dit weer by Pharos uitgewers gekry het. Waar hulle dit uitgekrap het, sal nugter weet!

Tom McLachlan

Maandag 18 November 2002

Ons is in samewerking met Pharos besig om te werk aan 'n webtuiste, en dis juis via Pharos dat ek van u s'n te hore gekom het.

Tania Hanekom

Vrydag 22 November 2002

> "Insigte" nooi u uit om 'n terugskakel na ons webwerf
> te maak op u webwerf.

Baie dankie! Ek maak graag so!

Donald Herman

Vrydag 22 November 2002

> "Insigte" nooi u uit om 'n terugskakel na ons webwerf
> te maak op u webwerf.

Dankie vir skrywe. Is julle die uitgewers van die AWS?

Met wie praat ek? Wie is die mens hieragter? Foto? Ek hou daarvan om met 'n mens te deel en aan te beveel.

Werfmeester antwoord: [x] Kliek op die paai regs onder.

boostdam_@hotmail.com

Donderdag 12 Desember 2002

As 'n kaaskop getrou met fraaie Z.A. vrou es ek baje verras met die goeie woord "web werf" - Nederlanders gebruiken net "website". Congrats!

Anton Raath

Vrydag 13 Desember 2002

Dis 'n baie interessante projek wat julle daar het.

Roeland Delhez

Saterdag 14 Desember 2002

Excuse me for writing in english, and not in afrikaans. As a Dutchman I understand it, but writing is a bit more difficult... Found your site when looking for a dictionary.

Well, I do design web graphics and web sites, and had nothing to do, so you're invited to take a look at the [attached banner]

Afrikaanse Spelreëls <-- Die baniertjie wat Roeland ontwerp het.

Rina Loader

Maandag 16 Desember 2002

> "Insigte" nooi u uit om 'n terugskakel na ons webwerf
> te maak op u webwerf.

Ek het ´n link na die Spelreels ingevoeg onder studiehulp, grammatika (woordeboeke) [hier].

Irene van Schalkwyk

Vrydag 28 Maart 2003

Kan julle my asseblief sê wanneer die ander hoofstukke, m.a.w. hoofstukke 16-18 ook op die web geplaas gaan word.

Werfmeester antwoord: Wanneer ons die fut kry. Hoofstukke 17 en 18 is twee knewels!

Prof Matthias E Storme

Donderdag 3 Julie 2003

> "Insigte" nooi u uit om 'n terugskakel na ons webwerf
> te maak op u webwerf.

Ik heb met veel vetraging uw briefje teruggevonden en de schakel aangebracht!

Anne-Marie Welsh

Dinsdag 18 November 2003

My seun is tans in graad 7. Hy moet 5 woorde in Afrikaans gee wat verander het in oor 'n paar jaar.

Werfmeester antwoord: 1964 narcisme of narcissisme 1991 narsisme of narsissisme; 1964 jeropigo 1991 jeropigo of jeropiko; 1964 hidroëlektries 1991 hidro-elektries; 1964 luiters of luters of leuters 1991 luiters; 1964 oud-burgemeester 1991 oudburgemeester.

Colin Pretorius

Dinsdag 6 Januarie 2004

Ek was baie jare gelede op skool en miskien het die spelreëls intussen verander, maar ek het gewonder of die reël dat as mens 'n "nie" in 'n sin gebruik, dit gevolg word deur nog 'n "nie", nog geld. ... m.a.w. as ek wou sê "ek sou nie die sin so opstel" moet ek eerder sê "ek sou nie die sin so opstel nie".

Werfmeester antwoord: Hierdie is nie 'n spellingskwessie nie hoewel die Taalkommissie hom waarskynlik sal aanmatig om dit te probeer bereël. My opinie is dat die tweede "nie" wel nodig is.

Mariska M Scholtz

Donderdag 19 Februarie 2004

Ek is 'n bibliotekaresse by Akasia Biblioteek. Een van ons gebruikers wil graag weet wat die afkorting vir ‘n genootskap is. Ons het in al ons woordeboeke, afkorting boeke en nog meer gesoek maar ons kry dit nêrens nie. Dit is vir 'n blokkiesraaisel en ons weet die eerste 3 letters is gns maar daar kort ‘n letter.

Werfmeester antwoord: Ek weet ook nie van 'n amptelike afkorting vir "genootskap" nie. Ek moet byvoeg dat blokkiesraaiselskrywers dikwels sommer hul eie afkortings opmaak, en as die onbekende letter 'n dooie letter is (een wat nie in 'n ander woord voorkom nie), moet 'n mens maar 'n kans vat en raai. My geldjies is op "gnsk".

Barbara Overberg

Saterdag 13 Maart 2004

Twee vrae wat ek op die oomblik het maar nêrens antwoorde kry nie. (1.) Gebruik ek die komma om 20 af te kort by die datum, bv '04? (2.) Vir 'n afgetredene is dit pensionaris of pensioenaris?

Werfmeester antwoord: (1.) Die Taalkommissie beskou die skryfwyses 04 en '04 ingevolge reël 7.7 beide as niestandaard en wend dus geen poging aan om dit te bereël nie. Dit hang dus van julle eie huisstyl af. Persoonlik sou ek die afkaptekentjie weglaat, dus slegs 13 Maart 04 en nie 13 Maart '04 nie. (2.) Die 1964-AWS bevat nie "pensioenaris" nie, maar bevat wel "pensionaris" vir 'n losieshuisinwoner. Beide die 1991- en 2002-AWS bevat die woord "pensioenaris" vir 'n afgetredene en "pensionaris" vir 'n soort Nederlandse amptenaar.

Bernd Schaefer

Woensdag 23 Junie 2004

Ek soek ´n lys of ´n boek met al die reduplikasies daarin (ek bedoel woorde soos: gou-gou, staan-staan, lag-lag, ens.)

Werfmeester antwoord: Ek ken g'n so 'n boek nie, jammer. Sover ek weet kan enige eenlettergrepige werkwoord en die meeste eenlettergrepige byvoeglike naamwoorde geredupliseer word in Afrikaans. Die reduplikasie is dan 'n bywoord. Ander reëls geld vir gedeeltelike reduplikasies soos "netnou" of "flip-flap". Kan van ons lesers hiermee help?

Johan Jacob Kritzinger

Donderdag 12 Augustus 2004

Waar kan ek 'n woordeboek van die net aflaai (verniet) wat die woorde in lettergreepe gee?

Werfmeester antwoord: Ek weet van g'n so 'n webwerf of nutsding wat gratis op die web is nie, maar ek weet wel die ouens van OpenOffice.org is besig om 'n afkapfunksie vir die gratis Afrikaanse speltoetser te ontwikkel. Vra gerus die ouens by Translate.org.za.

Adéle Pansegrouw

Dinsdag 17 Augustus 2004

My seun het gisteraand 'n opdrag van die skool gekry om met sekere klanke woorde te maak en dan verkleinings daarvan. Een van die klanke was "oei". Die enigste woord wat ons ‘n verkleining van kon maak, was koeitjie. Is daar dalk nog ander woorde wat gebruik kan word?

Werfmeester antwoord: Koeitjie is inderdaad die enigste waaraan ek ook kan dink. Alle ander woorde waaraan ek kan dink met die klankwaarde "oeitjie" is afleiding van "oed", soos bloed -> bloedjie (uitgespreek bloeitjie).

Sonja Burger

Saterdag 21 Augustus 2004

Ek stel belang daarin om u webwerf by te voeg by ons lys van webwerwe maar dit bekommer my dat die outeur van die webwerf nie aangedui word nie en die outoriteit dus nie duidelik is nie. ... Daar is ook heelwat klein spelfoutjies op die webwerf wat natuurlik die gesaghebbendheid daarvan ondermyn.

Werfmeester antwoord: [x] Kliek op die paai regs onder vir my besonderhede. Ek het na dese die webwerf gefynkam vir foutjies en alle sinne doelbewuste foute of informaliteite met 'n "[x]" gemerk. Die spelreëls is egter myns insiens akkuraat en dus nuttig vir skoliere en studente.

Andre Loots

Woensdag 1 September 2004

Ek is 'n Afrikaans Tweedetaal onderwyser. Ek is dringend opsoek na 'n handleiding oor deelwoorde. Die HAT, WAT of Verklarende Woordeboeke kan my nie help nie. Selfs nie die Woordelys en Spelreëls nie. Waar kan ek die nodige inligting kry?

Werfmeester antwoord: Die jongste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls bevat wel kort inskrywings oor deelwoorde. Dis ongelukkig al waarmee ek kan help. Ek het ook baie gesukkel met deelwoorde toe ek op skool was.

Bladsy 568 sê:
'n Onvoltooide deelwoord (ook teenwoordige deelwoord genoem) is 'n woord wat van 'n werkwoord afgelei is deur die toevoeging van die agtervoegsel -end(e). Voorbeelde is afkeurend, etende, spelende. Kyk ook voltooide deelwoord.

Bladsy 574 sê:
'n Voltooide deelwoord (ook verlede deelwoord genoem) is 'n woord wat van 'n werkwoord afgelei is met behulp van ge- en/of -de, byvoorbeeld gevestigde in gevestigde inwoners, geverfde in geverfde muur, aangelaste in aangelaste lap, en hernude in hernuwe intekening. Kyk ook onvoltooide deelwoord.


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π