Armoria
http://www.oocities.org/armoria_frage
wapen van Barclays Bank

VDG

Wat is ’n heraldiese wapen?

OP sy eenvoudigste, bestaan ’n heraldiese wapen uit ’n skild. Niks meer is nodig nie.

Terwyl daar nie veel familiewapens is wat uit slegs ’n skild bestaan, kan sommiges teruggevoer word na die vroegste dae van die heraldiek, voordat daar so iets was as ’n helmteken. ’n Geweldige aantal wapens van kerke, skole en universiteite bestaan slegs uit ’n skild, of ’n skild plus ’n leuse.

Die wapen van Barclays Bank[1] is byvoorbeeld slegs ’n silwer skild belaai met ’n swart adelaar, waarop drie silwer krone verskyn. En die wapen van Port Elizabeth se katedraal van die Maagd Maria bestaan ook slegs uit ’n skild.
wapen van die katedraal van die Maagd Maria, Port Elizabeth

Ook kan ’n wapen wat ander elemente insluit, soos ’n helmteken ensovoorts, vereenvoudig word deur om dit slegs in skildvorm voor te stel.

Die term wapen word ook toegepas op ’n meer swierige samevoeging van elemente. Dit kan ’n helm en helmteken insluit (kyk Wat is ’n helmteken?), dekkleed, en wapenspreuk of leuse.

Dit kan ’n skild plus ampsinsignieë wees. Moncreiffe en Pottinger[2] gee die voorbeeld van die Oorerflike Behoedeer van die Biskopstaf van Sint Fillan. In hierdie illustrasie het die behoeder se ampswapens twee biskopstawe wat skuins agter die skild gekruis word.
ampswapen van die Oorerflike Behoeder van die Biskopstaf van Sint Fillan, met gekruiste biskopstawe agter die skild

Die medaljes en juwele van sekere ordes, en die krae van meer belangrikes, kan ook bykom – soos die blou band van die Orde van die Kousband (Order of the Garter) wat rondom die skild in die Britse koningswapen voorkom (die soewerein is ex officio hoof van die Orde), en ook in die wapens van die ander 25 lede van die Orde.[3] ’n Voorbeeld van die wapen van ’n Dame-Kommandeur van die Orde van die Britse Ryk kan hier gesien word.
wapen van ’n Britse lord: burggraaf Byng van Vimy

Die wapens van magtige here, of die wapens van groot dorpe of stede, of van streke, kan ook skildhouers en ’n grond (waarop die skildhouers staan) insluit.

Hier links getoon is die wapen van burggraaf Byng van Vimy. Die rooi sekelmane op die skild en die linker-helmteken is breuke, wat die burggraaf se wapen onderskei van dié van sy neef, Byng, graaf van Strafford.

Die byskrif in Boutell’s Heraldry stel dit so (volgens my gedeeltelike vertaling): “Die vaandel van die 31st Regiment of Foot in die wapen, en die helmteken van eretoevoeging (aan die regterkant), is verleen aan veldmaarskalk sir John Byng, eerste graaf van Strafford, vir die ‘signal intrepidity and heroic valour displayed by him in the action at Mougerre, near Bayonne, 18 Dec. 1813’, toe hy persoonlik hierdie regimentsvaandel op die verdedigingslyn van die vyand geplaas het.”

Let daarop dat die samestelling uit ’n grond, skild, burggraaf se kroon, twee helms (een vir elke helmteken; een met ’n muurkroon wat vir dapperheid verleen is, die ander met die gebruiklike wrong), dekkleed en skildhouers bestaan. Elke skildhouer dra op die skouer ’n rooi roos.

Die regterhandse skildhouer en die linker-helmteken is voorbeelde van die heraldiese tyger, wat in Middeleeuse boeke wat wilde en legendariese diere voorgestel het, voorkom, en wat geen verbintenis het met die Bengaalse tier wat in sommige moderne wapens voorkom.
wapen van die Skotse stad Perth

Wat dikwels in die heraldiek van die Europese Vasteland voorkom, maar seldsaam in Brittanje, is die gebruik van ’n enkel skildhouer. Hier regs is die wapen van die Skotse stad Perth, met ’n enkel adelaar (met twee koppe) as skildhouer. Vir nog ’n Skotse voorbeeld van ’n enkel skildhouer, kyk hier.

(Let op twee tipies Skotse elemente in hierdie wapen: die agnus dei of paaslam stut ’n banier van St Andries, en rondom die skildrand is ’n koninklike binnesoom, wat ’n koninklike vergunning aandui.)

Soms word bykomstige elemente langs die skildhouers bygevoeg, soos die lanse met baniere bo-aan in die koningswapen vir Skotland, of die buitensporig groot volstruisvere langs die griffioen-skildhouers in die wapen van Oudtshoorn.

Ook kan ’n grond ook besaai wees met verdere simbole, soos die proteas in die wapen van Suid-Afrika (die 1932-tekening van die wapen wat in 1910 verleen is), of die rose in die Britse koningswapen (die Engelse weergawe), en die distels in die Skotse weergawe.

Op die Europese Vasteland word daar dikwels onderskei tussen eenvoudige en meer ingewikkelde weergawes van dieselfde wapen:
groot wapen van Denemarke tydens die regering van koning Frederik IX klein wapen van Swede: die skild van die Unie van Kalmar plus die kroon en die kraag van die Orde van die Serafim

Daar is dan die klein wapen (dikwels slegs die skild [bestaande uit ’n enkele kwartering,[4] of die minimum moontlik]), met miskien slegs een van die verskeie helmtekens wat by die wapen hoort.
klein wapen van Beiere - die skuins geruite wapen van Wittelsbach plus ’n kroon

Die groot wapen sal die volle dinastiese vertoon wees van die koning of prins wat in daardie gebied heers, of in die verlede geheers het, met die volledige kwarterings (tot dosyne), al die moontlike helmtekens, die pawiljoen en ’n kroon bo-aan.

Kom ons neem Denemarke as voorbeeld: hier regs is die groot wapen soos gevoer deur koning Frederik IX,[5] waar die Kruis van Dannebrog (waarom die kwarterings gerangskik word) is breedarmig. In die huidige groot wapen deur koningin Margarethe II[6] gevoer, wat onderaan hierdie bladsy verskyn, is die Dannebrog-kruis reguit. In altwee weergawes toon die eerste kwartier die wapen van koning Waldemar die Grote[7] (drie gekroonde blou leeus op goud, op ’n veld besaai met rooi harte). Hierdie kwartering op sy eie, plus die Deense kroon, konstitueer die klein wapen (soos op die gekoppelde bladsy getoon), en is reeds eeue lank so.

Albei weergawes van die groot wapen het Sleeswyk (twee blou leeus op goud) in die 2de kwartier, in die 3de kwartier die Unie van Kalmar (bo), ’n silwer ram vir die Faroër-eilande en ’n ysbeer vir Groenland. Maar koning Frederik se wapen bevat steeds in die 4de kwartier die fiktiewe wapens van Gothland (’n blou leeu oor ’n veld van harte) en Wandalië (’n goue draak). Hierdie is die lande waar die Oos-Germaanse invallervolke gebly het voordat hulle aan die aanvang van die Donker Tyd die Romeinse Ryk binnegeval het – ten minste 600 jaar voordat die Dene heraldiese deviese begin voer het.

In koningin Margarethe se groot wapen vul die wapen van Waldemar I die vierde kwartier.

In die middel is daar ’n binneskild vir die koninklike familiewapen – vir koningin Margarethe, Oldenburg (in goud, twee dwarsbalke van rooi) alleen, maar vir koning Frederik, nog vier ander kwartiere wat Holstein, Stormerk, Ditzmers en Lauenberg voorstel, en, op ’n hartskild, Oldenburg met die goue kruis op blou van Delmenhorst gedeel. Laastens is daar wilde manne vir skildhouers, die ketting van die Orde van die Olifant, ’n koninklike pawiljoen en die kroon bo alles.

Hierbo links is die klein wapen van Swede (dieselfde drie kronie van die Unie van Kalmar wat in Denemarke se wapen verskyn). Die groot wapen van Swede verskyn op hierdie bladsy. Vir ’n bespreking van hoe Swede se rykswapen saamgestel word, kyk hierdie bladsy, en die aard van ’n rykswapen, kyk hierdie bladsy.

Ook bo links getoon is die klein wapen van Beiere (die skuins geruite skild van Wittelsbach) plus ’n Volkskrone. Kliek hier om die groot wapen van hierdie Duitse Land te sien, wat tot in 1918 ’n koninkryk was.

Tussen hierdie twee uiterstes sal soms die middelwapen gevind word, bestaande uit die skild met enkele kwarterings by, en indien die klein wapen die helmteken uitsluit, sal ’n helmteken hier ingevoeg word.
middelwapen van Bremen, bestaande uit die skild en ’n Volkskrone

In die geval van ’n regering met ’n meer demokratiese tradisie, soos die stede Hamburg en Bremen, is die dinastiese element afwesig, maar daar is nietemin ’n duidelike gradasie tussen die eenvoud van die klein wapen en die swier van die groot wapen.

Hierdie bladsy toon die klein, middel- en groot wapen van Hamburg, terwyl hierdie bladsy die middel- en groot wapen van Bremen aantoon (twee weergawes van die groot wapen).

  • Kyk ook, interessantheidshalwe, die vraag in Engels What is a coat of arms?



    [1] Barclays Bank, wat in Brittanje gebaseer is, opereer nie meer in Suid-Afrika nie, nadat dit in die 1980s aan plaaslike beleggers verkoop is.

    Dit het wel ’n geskiedenis van sowat anderhalf eeu se diens aan Suid-Afrikaners, aanvanklik in die Kaapkolonie en later verder noord, veral nadat dit eienaarskap verkry het van die Nationale Bank van die Zuid Afrikaansche Republiek.

    Dit het in Suid-Afrika en vele ander wêrelddele onder die naam Barclays Bank DCO (die letters staan vir Dominion, Colonial and Overseas) bekend gestaan.

    Die wapen in sy egte vorm word nie meer gebruik nie. In plaas daarvan verskyn dit as logo. Etlike jare lank was dit in wit op ’n agtergrond van turkoois.

    Aangesien die oorskakeling na hierdie kleurskema plaasgevind het alvorens die verkoop van die Suid-Afrikaanse bank, gebruik die opvolgerbank, Eerste Nasionale Bank, ironies genoeg steeds die wit-en-turkoois kleurskema.

    Barclays gebruik egter tans ’n stilering wat selfs vreemder voorkom.

    Gedurende die 1960s en ’70s was daar twee banke wat in Suid-Afrika handel gedryf het wat wapens vertoon het; die ander was die Standard Bank.

    [2] In Simple Heraldry (Thomas Nelson & Sons).

    [3] Vir die wapens van ander lede van die Orde van die Kousband (dood of lewendig), kyk hier, hier, hier, hier en hier.

    [4] Lees oor kwarterings in hierdie artikel.

    [5] Frederik IX, *1899 †1972, koning vanaf 1947.

    [6] Margarethe II, *1940, koningin sedert 1972.

    [7] Waldemar I, *1131 †1182, koning vanaf 1157.


  • Counter

    Volgende vraag

    Terug na bo

    For English, click here

  • Bronne: wapen van Barclays Bank deur Violetta Keeble, uit An Encyclopædic Dictionary of Heraldry deur Julian Franklyn en John Tanner; wapen van St Mary’s-katedraal vanaf die wapendiploma deur die College of Arms uitgereik; wapen van die Oorerflike Behoeder van St Fillan se Biskopstaf en van die Stad Perth uit Simple Heraldry deur Iain Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson & Sons); wapen van burggraaf Byng uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Warne); wapens van koning Frederik IX, van Beiere en van Swede uit Heraldry of the World deur Carl Alexander von Volborth (Blandford); wapen van Bremen met vergunning van International Civic Arms. Kleure met behulp van MS Picture It! ® aangepas


    Terug na VDG-indeks

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle