deur Mike Oettle
huwelikswapens / egskeiding / rouborde / Welgemoed
HERALDIESE wapens het onder krygsmanne ontstaan, as sisteem van uitkenning op die slagveld. In die begin was die rol van vroue heeltemal buite hierdie sfeer.
Maar toe het dit gekom dat wapens ook in die siviele lewe gedra is, en vroue is gereken as geregtig op die deviese van hul vaders en hul eggenote. Moncreiffe[1] skryf (my vertaling):
“Dogters is hoflikheidshalwe toegelaat om hul vaders se wapens te voer, wat hulle dan konvensioneel op ’n diamantvormige ‘ruit’ of ruitskild aantoon.
“As hulle trou, plaas hulle hul eie familiewapen hul man s’n, op sy skild. Die skild is dan ‘gedeel’.
“Indien die vader geen seuns het nie, word hulle met sy afsterwe heraldiese erfopvolgers. Hulle mag dan hul eie familieskild in die middel van hul man se skild plaas; so ’n binneskild word in Engels ’n ‘escutcheon of pretence’ genoem.”
Die uitdrukking “of pretence” dui daarop dat die man dan gehandel het asof hy die besitter was van sy skoonpa se landgoed. Hy het in werklikheid die landgoed en die inkomste daarvan geadministreer (namens sy vrou, die erfdogter), maar was self nie die eintlike heer of eienaar van die landgoed nie.
In Duitsland word ’n huwelik gesimboliseer deur die plasing van twee skilde skuins langs mekaar (die term wat gebruik word is respekterend). Die hoof-verskil is dat in die Duitse heraldiek, enige diere-wapenfigure – òf in ’n skild van meer as een veld òf waar twee skilde langs mekaar is – na die middel kyk, eerder as na die regterkant van die skild (die normale posisie).
Om terug te gaan na die situasie waar die vrou se wapen as binneskild gevoer word: hierdie posisie verander in die daaropvolgende geslag, wanneer die seun uit hierdie huwelik die landgoed erf van beide sy vader en sy grootvader aan moederskant. Om dit aan te dui, voeg hy sy oupa se wapen by sy pa s’n deur middel van kwartering.
Kwartering is slegs een – maar dié wat mees dikwels gebruik word – van ’n aantal moontlike maniere om twee of meer verskillende wapens bymekaar te voeg. Hierdie dissipline, wat ordening genoem word, word hier bespreek.
Maar wanneer ’n man sonder seuns dit reël dat sy kleinseun sy eiendom mag erf, geld soms ’n ander prosedure: die voorwaarde word dan gestel dat die kleinseun sy naam en sy wapen ook aanneem. Dit word in Engels ’n “name and arms clause” genoem (’n verwysing na die testament waarin dit neergelê word).
Die ruit of ruitskild is die merk van die enkel vrou, òf ongetroud òf as weduwee. ’n Oujongnooi se wapen word tradisioneel met ’n minnaarsknoop bo aan die ruitskild vertoon, maar dit dra geen amptelike erkenning nie.
’n Weduwee se ruit toon haar man se wapen met haar vader s’n gedeel, nes in die skild wat sy gevoer het terwyl sy getroud was.
’n Geskeide vrou, totdat sy weer trou, is veronderstel om by haar vader se wapen ’n malie (’n geledigde ruit) te voeg. Dit word beskryf as ’n merk van uitkenning, eerder as ’n breuk, maar dit word word grotendeels op dieselfde manier gevoer as ’n breuk, daarin dat dit klein is, van enige kleur mag wees, en geplaas word waar dit ookal inpas. (Vir ’n verduideliking van die verskil tussen ’n uitkenningsmerk en ’n breuk, kyk hier.)
Dit blyk onregverdig te wees teenoor die geskeide vrou, dat sy ’n onderskeidsmerk moet dra terwyl haar gewese man dit nie doen nie. Die straf van mans vir onridderlike gedrag is al egter probeer, maar hoofsaaklik vergeefs. Slegs een instansie is aangeteken waar ’n man gedwing is om ’n “eervermindering” vir sy egbrekende gedrag moes dra. Hierdie saak word hier bespreek.
Die een nadeel van die ruit is die engheid daarvan, wat beteken dat die inhoud van die (man se) skild bekrimp moet word om daarbinne te pas. Hierom word ’n ander formaat ook gebruik (meer dikwels op die Europese Vasteland as in Brittanje), waar die enkel vrou se wapen binne ’n ovaalvormige kardoes geplaas word. Hier aangetoon is die seël van Charlotte d’Orléans, weduwee van koning Louis XIV se broer Philippe, waarin die wapens van haar man, hertog van Orléans, en haar vader, die Paltskeurvors, in die vorm van twee kardoese skuins teen mekaar verskyn.
Die heraldiese sisteem wat deur die keiser Napoleon I opgetrek het, het die kardoes vir vroue verkies. Dit is in sy tyd wyd gebruik, en is steeds in gebruik onder dié wat in daardie tyd veredel is, maar dit is onwaarskynlik dat daar baie vroue is wat steeds wapens voer soos wat onder hierdie sisteem voorgeskryf is nie.
Verdere voorbeelde van die gebruik van kardoese vir vrouewapens kan hier en hier gevind word, terwyl die Heraldry Society of Scotland die wapens van twee vroue-lede met kardoese aantoon. Die kardoes word egter ook gebruik vir die wapens van priesters. Dit word op hierdie bladsy bespreek.
Gedurende haar lewe gebruik die
getroude vrou ’n gewone skild, gedeel (soos hierbo aangetoon) – dit wil sê, met haar man se wapen aan die regterkant (soos van agter die skild gesien word), en haar vader s’n aan die linkerkant.
’n Vrou wat meermale getroud is sal gewoonweg die wapens vertoon slegs van haar vader en haar huidige eggenoot. Maar tradisioneel word bietjie meer vryheid nà haar oorlye toegelaat.
In die verlede, toe ’n wapenvoerende persoon dood is, is daardie persoon se wapen op ’n roubord vertoon (’n groot ruitvormige bord) waarop die oorledene se wapen geverf is. Die agtergrond van die bord sou wit gekleur word om ’n lewensmaat aan te toon wat steeds leef, en swart om ’n oorlede lewensmaat aan te toon.
’n Weduwee wat tweemaal getroud was, sou dan haar eerste man se wapen regs bo vertoon, die tweede man s’n regs onder. Indien dit die weduwee was wat gesterf het, en ’n oorlewende eggenoot gelaat het, sou haar vader se helfte swart wees, en die tweede man se kwartier wit. As die man oorlede was, sou die oorlewende weduwee natuurlik haar vader se kant wit vertoon, en as al die lewensmaats dood was, sou die hele roubord ’n swart agtergrond hê.
Regs bo verskyn die roubord van Charles Compton, 9de graaf en 1ste markies van Northampton. Aangesien sy vrou, Maria Smith van Erle Stoke Park, Wiltshire, hom oorleef het, word haar kant van die bord wit aangetoon. Aangesien sy ’n erfdogter was, word haar wapen as binneskild vertoon (alhoewel die skilder wat dit geverf het dit verkeerd getoon het, want daar behoort om ’n goue mantelskulp in die middel van die dwarskruis te verskyn).
In die seldsame geval dat ’n oorledene die laaste was van sy (of haar) lyn, word dit vertel dat die roubord by tye, in plaas van ’n helmteken, ’n doodskop bo-aan gehad het.
Dit kom miskien morbied voor, maar dit was ’n algemene (en kleurvolle) manier van vertoon. Die bord sou tydens die rouperiode buite die oorledene se huis verskyn, en sou daarna in die plaaslike kerk gedeponeer word. Kerke dwarsoor Wes-Europa het voorbeelde van sulke rouborde (waar dit nie in uitbarstings van radikale gier vernietig is nie, ofskoon dit nou godsdienstig of teenreligieus is), en die Groote Kerk in Kaapstad het ’n versameling rouborde wat tot in die Nederlandse koloniale tyd terugdateer. Hierbo links is die Groote Kerk-roubord van Johannes Fischer, ’n majoor van artillerie, wie se familie ’n woordspelende walvis (of Walfisch) in hul wapen gevoer het.
In die 20ste eeu is heeltemal ’n ander benadering tot vroue en heraldiese wapens ingeneem, waar ’n vrou gesien kon word as wapenvoerder in haar eie reg, nie slegs as weerspieëling van haar vader en haar man se wapens nie, of as oorgewer van haar vader se wapen aan haar nageslag.
Toe Skotse wette verander is om vroulike erfopvolgers toe te laat om titels of klan-hoofskappe aan te neem, het die wapenkoning Lord Lyon begin om vroue as wapenvoerders in eie reg te erken. Vroeg in 1995 het die wapenkoning Garter (hoofbeampte van die College of Arms in Londen) hierdie gebruik na Engeland ook uitgebrei. Dit word verwag dat veral vroue wat as burgemeester, lord mayor of balju dien, hiervan gebruik sal maak.
’n Man of vrou wat ’n amp beklee wat sy eie wapen meebring, mag daardie wapen met sy of haar eie wapen op dieselfde skild kombineer. Die Britse gebruik is om die skild te deel, soos in die geval van ’n huwelikswapen, maar op die Vasteland word kwartering of ’n binneskild soms gebruik. Kyk hier vir meer oor ampswapens.
Die komplikasie by die voer van ’n ampswapen deur ’n vrou is dat die indruk geskep kan word dat sy ’n weduwee is (sou sy haar ampswapen op ’n ruit vertoon) of dat die amp waarvan die wapen vertoon word, aan haar man behoort. Die oplossing wat voorgestel is, is dat sy twee aparte skilde naas mekaar leunend sou vertoon, die huwelikswapen aan regterkant en dié van haar amp (die ampswapen met haar vader s’n gedeel) aan linkerkant. Ongelukkig voorsien dit nog nie ’n oplossing vir die ongetroude vrou nie.
’n Verdere ontwikkeling het in 1999 gekom toe die Kanadese Heraldiese Gesag met ’n stel breuke vir vroue na vore gekom het. Breuke is eeue lank gebruik om die skilde van jongere seuns in ’n familie te merk (soos in hierdie artikel bespreek), maar breuke vir vroue is heeltemal iets nuuts.
Die Kanadese Heraldiekvereniging het ’n lys sulke breuke uitgebring, maar ek het dit tot nog toe nie op werklike Kanadese wapens gesien nie.
Christo Welgemoed, ’n Port Elizabethse man wat in 2001 sy eie wapen laat registreer het, het ’n stel illustrasies voorberei vir die wapens van sy kinders, wat hierdie merke inlyf.
Hulle is nie heeltemal korrek nie, aangesien sy dogters se wapens slegs op ruite verskyn, terwyl een van hulle getroud is, en na regte haar wapen op ’n gedeelde skild (saam met haar man s’n) behoort te vertoon.
Die skilde en ruite wat hier verskyn is die wapens van mnr Welgemoed self; sy seun, Christo Jacobus Welgemoed (met ’n rooi baresteel van drie punte, wat die erfopvolger aandui); sy dogter Chriselda Welgemoed (met ’n hart, wat die oudste dogter aandui); sy dogter Elisabeth Greyling (met ’n hermelynstert, die merk van ’n tweede dogter); en sy jongste dogter Juanita Welgemoed (met ’n sneeuvlokkie, die merk van die derde dogter).
[1] Sir Iain Moncreiffe van Moncreiffe, mede-skrywer (voordat hy klan-hoof geword het) van Simple Heraldry, Cheerfully Illustrated, geskryf met en geïllustreer deur Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons). Sir Iain was in daardie tyd kaptein Moncreiffe van Easter Moncreiffe en Kintyre-persevant; hy was later Albany-herout. Pottinger was Ekstraordinêre Herout-skilder aan die Hof van die Wapenkoning Lyon.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle