Ek is nie heeltemal seker waneer die idee nou eintlik by my opgekom het nie,
seker die dag toe Len my van sy vriend vertel het... maar ewenwel, hier sit
ek nou in 'n wagkamer by die Staatshospitaal. Dit is 'n vreemde situasie, en
ek voel half uit plek, half bang vir die onbekende... Ek het myself weke lank
emosioneel vir hierdie ontmoeting voorberei, maar tog is ek skrikkerig.
Ek word bewus van iemand wat stil die vertrek binekom. My hart klop in my keel. Dis hy. Ek spring selfbewus op, maak seker dat ek my hand uitsteek en hom groet, nie te ferm nie, maar tog.
"Haai... Jaco... ek is Louis"
Hy groet skugter en ek kan sien dat hy nie mooi weet wat om van die ontmoeting te verwag nie, al is hy breedvoerig ingelig omtrent die redes vir ons ontmoeting. Ek is ongemaklik en weet nie hoe om te begin nie. Skielik is my mond droog ek moet nou rook, dink ek.
"Rook
jy?" vra ek.
"Ja, maar hulle is maar kwaai hier, ons mag nie eintlik hier binne rook
nie."
"Dis okay, miskien kan ons bietjie buite gaan sit en chat, dan rook ons
sommer 'n sigaretjie."
Ons stap na buite. Dis 'n sonnige oggend in Bloemfontein en buite sing die voëls sorgeloos. Amper of hulle nie bewus is van die leed en pyn binne die geboue nie.
Ons gaan sit op 'n bankie in die tuin. Die sigaret rook wieg sag op die oggendlug na geen spesifieke rigting toe nie. Ek waai die bietjie wat na sy kant toe trek, met my hand weg. Ek weet nie hoekom nie, hy rook self.
"Ek
neem aan die suster het jou vertel hoekom ek hier is?..."
"Ja, sy het.."
"En jy het nog steeds ingestem om met my te praat?..."
"Ag, hoekom nie, wat het ek nog om te verloor... miskien help dit..."
"Hoe bedoel jy, miskien help dit?"
"Ag ek weet nie,... miskien hoop ek net dit sal ander mense se oë
laat oopgaan... ek het soveel kak gehad vandat ek,... vandat ek gehoor het,...
as dit ander mense die seer kan spaar, sal dit vir my genoeg wees."
"Jy is reg, ek verstaan, dis hoekom ek besluit het om jou verhaal te skryf,
maar hoe sê eers vir my... wie het jou seergemaak?"
"Ag man, sommer almal... net met hul optrede,.. my vriende het my begin
vermy, ek het so uit gevoel.. my familie, my ma..."
"Dis terrible! Ek het al gehoor dat dit gebeur, maar is dit regtig so erg
soos jy dit maak?"
"Jy wil nie weet nie! Op 'n stadium wou ek selfmoord pleeg, nie omdat ek
AIDS het nie, maar omdat die mense my soos 'n melaatse laat voel het."
"Dis verskriklik man! Maar ek en jy gaan dit regstel nè?!
Ek moet jou eers vertel wat ek met die storie beoog! Dis 'n 'great' idee en
ek dink regtig jy sal my kan help om dit suksesvol te skryf!"
In die daaropvolgende half uur vertel ek hom toe van die planne wat ek het met die storie, hoe dit gekom het dat ek besluit het om dit te skryf, en van al die agter-die-skerms aanvoorwerk, wat my vriendin, dr Doep, gedoen het, sodat ek met hom kon gesels.
Ek kan sien dat hy moeg is toe ek eindelik klaar vertel het. Soos gewoonlik, het ek weer heeltemal meegevoer geword, en nie eens agtergekom dat hy uitgeput is nie.
"Ag,
dis niks nie, ek moet eers 'n bietjie gaan lê... ek raak deesdae verskriklik
gou moeg."
"Ek is jammer jong, jy moes vroeër gepraat het,... kan ek jou help?"
"Ek sal regkom dankie, ek is jammer ek moes ons gesprek kortknip..."
'Moenie worry nie, ek sal dit survive!"
"Waneer kom jy weer?
"So gou as wat jy reg voel om my meer te vertel, dan is ek hier, jy kan
my enige tyd bel, dan maak ek 'n draai..
Het jy my nommer?"
Verbeel ek my of sien hy werklik uit na ons volgende ontmoeting, of is dit maar net omdat hy nou iemand het met wie hy kan gesels...
"Voor
ek gaan, kan ek jou een laaste ding vra?"
"Shoot!"
"Voordat
ek geweet het dat ek jou gaan ontmoet, het ek spesifieke kriteria aan die suster
gegee, byvoorbeeld dat die persoon met wie ek die onderhoude gaan voer, homself
uitgesort het wat sy siekte betref..."
"Ja?"
"Wel
ek kan aan jou praat agterkom dat jy nie 'depro' is oor die AIDS ding nie, maar
ek moet jou vra, hoe het dit gebeur dat jy so voel?
"Moenie 'n fout maak nie, ek was deur hel èn terug, maar een van my beste vriende het my kwalik geneem dat ek volgens hom so onverantwoordelik was om siek te word, hy kon nooit die siekte by die naam noem nie, weet jy?... ewenwel, en waar is hy vandag?... dood. Motorongeluk. Dit het my laat besef hoe vergangklik ons almal is, en dat ek self nog 'n kwaliteit lewe kan lei, want ek kon netsowel hy gewees het. Dis nou twaalf jaar gelede... ek dink ek het meer beleef as hy die afgelope paar jaar, dink jy nie so nie?”
Dis met 'n glimlag in my hart en moed vir die toekoms, wat ek die verkeer aandurf na ons eerste ontmoeting
Copyright 2003 LOUIS NELL