..ook ter nagedagtenis aan PJ Cillie (Toe die prins gekom het)
My sussie het in die erewag gestaan. Met ‘n swart sambreel om die renerigheid
van haar eenvoudige Noir skepping weg te hou. Die druppels het vermeng met haar
trane, maar dit het haar min gepla. Langs haar, in grys, met n crème
hemp,… my swaer. Drie orrelpypies rond hul prentjie netjies af.
Tussen modder en groen matte lê verlepte plastic kranse, gestuur deur grootbase met goeie sekretaresses. Die grondhope skei die gangers in drie groepe… Lovers, familie en nuuskieriges. Die lovers sekerlik die grootste groep, maar ook net miskien, want daar is heelwat nuuskieriges aanwesig.
Soos gewoonlik weet die ingevoerde dominee nie regtig wat om te sê nie, en lees hy maar Murray Janson versies voor om die nuuskieriges te beindruk. Hoe sal hy dan nou weet dat die man in die gat van Donald Walsch gehou het. Almal sien ‘n nuwe hemel kom en laat Heer u seën oor hom daal, … maar wonder oor die koeksisters en melktert wat in die saaltjie wag.
Rukkend sak die kis af in die donker, waar die ligaam dertig jaar of wat sal wag op totale ontbinding…. En almal is bly. Want nou kan hulle die modder uit hul skoene skud, gaan koek en tee en dan voortbou op hul misrabele lewens.
En om my sak die ewige donker toe…
Copyright 2003 LOUIS NELL