Die afstel was lank, maar dis op dae soos vandag, waneer die verlange in nat
strale teen my wange afloop, dat ek met ma wil praat, want wie anders sal verstaan...?
Ek is
jammer ek het nooit regtig verstaan wat die dokters bedoel het met tien persent
sig in net een van jou oë nie... die sagte bruin oë wat net met liefde
na my gekyk het. Ek het dit so as vanselfsprekend aanvaar. Jy het my geken.
Beter as wat ek self het. Nou eers begin ek besef dat jy al die tyd geweet het
van dinge wat nou eers vir my duidelik word. Ek is so bly jy het my gelos om
te word wat ek bestem is om te wees, selfs meegewerk het om my woordeloos op
my pad te stuur. Verskonings help maak het, sodat ek nie vir pa in die garage
hoef te help en olie op my hande kry nie. Ek gril nou nog daarvoor. My kunsprojekte
waardeer het, sonder om dit altyd te verstaan, en pa omgepraat het, om, ten
die wet, vir my 'n kar te kry vir my sestiende verjaardag.
Toe ek polisiekollege toe is, my ondersteun het met liefde in woorde geskryf op elke brief, jou trots toe ek myself bekeer het, en soms tè Charismaties wou wees! Jou stil trane toe ek die pad byster geraak het en die Hillbrow meisies huis toe gebring het.
Maar ma, dit was alles deel van my mensword. Die rebellie was diep, en ek het hard baklei om nie die waarheid in die gesig te staar nie.
Die Sondagoggend ses uur, toe ek bo op jou gesit het, met my vuiste teen jou borskas, en my trane gemeng met speeksel,... vir veertig minute alles wat die polisie my van noodhulp geleer het, niks beteken het nie... want die dokter het gesê jou hart is in stukke geskeur ma,... toe het ek gebreek. Want jy was my alles. Ek dink nou nog wrang terug na die weke na daai dag, 'n aaneenlopende siklus van huil, werk en slaap, en die beangste gesig van die tannie wat my wakker gemaak het op jou hopie grond... met my vuil hande twee voet diep ingegrawe om jou te kry, en die pistool wat gespan langs my gelê het.
Ma, ek het toe getrou, kind gehad, en geskei. Steeds het dit my gejaag ma. Ek moes nooit getrou het nie, maar die Here het my geseën om pa te staan vir die mooiste blondekop blou oog prinses.
Hoekom
ek skryf ma, is net om te sê, ek het my pad gevind. Ek is gelukkig, my
eerste gedigte is laas maand gepubliseer, en ek het liefde gevind. Ek het nog
probleempies om uit te stryk, maar ek is deur die drif. Ek treë met swaar
gewigte om my voete, maar ek gaan vooruit. My keuses het ek gemaak, en ek sal
voort gaan om hulle te maak,... maar iets sê vir my ek is uiteindelik
op my bestemde pad na selfverwesentliking.
My kasdeure gaan oop en ek is vry. En 'n nuwe land, wat ma nooit geken het nie, met sy vriendelike reënboog, hou sy arms wyd oop om my te verwelkom.
Ek gaan nou eers afsluit ma, maar in ons gedagtes sal ons tweegesprekke voortgaan. Ek mis ma geweldig baie en wens so vir 'n lekker ou ma-drukkie.
So ma kan nou maar ontspan. Moet net nooit ophou om oor my skouer te kyk en my lief te hê nie.
Ma se seun
Copyright 2003 LOUIS NELL