My storie met die Skrywer

Death lies upon her, like an untimely frost - upon the sweetest flower of the field
- William Shakespeare

As ek nou moet sê hoe my belangstelling in die skrywer begin het, moet ek lieg. Ek het nog nooit voorheen van hom gehoor nie, ek dink dis omdat iemand iewers met moeite sy spore probeer doodvee... ek meen, hy het in sy dae die wêreld warm gemaak vir heelwat mense. Maar toe stap ek eendag in hierdie boekwinkel in en ek kry 'n boekie heel goedkoop afgemerk deur een van my gunsteling skrywers. (nie dieselfde persoon nie, alhoewel ek deesdae dink my gunsteling skrywer probeer hard om die onnoembare kunstenaar na te volg). Nou,... ek hou nie regtig daarvan om by sulke plekke te koop nie, want ek sal nogal heel verontreg voel as ek weet dat een van my skryfsels vir so min as R12-00 verkoop word. Ek is maar 'n Exclusive Books tipe, maar as hulle nie het wat ek soek nie, sal ek enige iets probeer om te kry waarna ek soek, al is dit dan nou ook om in die pienk neon - verligte wêreld van die "cheapies" in te beweeg.

Ek moet egter dit duidelik stel dat ek myself nie werd voel om 'n tipe van 'tribute' oor die skrywer te skryf nie. Ek glo nie ek is eens een van sy ou skoene werd nie, maar dat daar 'n defnitiewe bewondering vir sy werk by my bestaan, dis gewis. Ek is ook bang om ruiterlik te sê dat ek ooreenkomste in ons beide se lewens raaksien, want dit sal dalk lyk of ek op die man se rug my fortuin wil soek, en dis nie die idee nie.

Maar ek verloor al klaar weer die draad van die storie. Die onbekende skrywer, is tragies oorlede, so 'n paar jaar gelede. Ek dink dis elke skrywer wat bietjie van die pad af is, se droom om eendag tragies te sterwe. Om nie sommer net dood te gaan nie. Pille drink en skiet is so... ordinêr. Maar stap in die see in, of huur iemand om jou dood te maak, word een van die eerste gevalle om aan 'n rare siekte te sterf, dis wat baie seker voor hoop... wel ek doen.

Ek kry koue rillings as ek van sy werk lees en soek naarstigtelik na iets wat deur homself geskryf is. Kry niks. Om een of ander rede is sy boeke nie meer in druk nie. Nog voor ek een woord van die man gelees het, het ek die gevoel in my borskas dat ek mal oor hom is. (Dankie J dat jy hom so mooi uitlig in jou boek.)

Ek gesels met van die ouens by Afrikaans Nederlands en het informele besprekings oor die skrywer met een van die lektore. Kry net meer stukkies inligting om my verder te dryf in my soeke na die man en sy skryfsels.

Ek kry toe die gedagte om NALN te pols oor ietsie van die man. Ek praat met die Direkteur toe ek hom weer een aand op 'n vergadering raakloop. Ja sê hy, hulle het heelwat oor die skrywer,... het al sy primêre skryfsels en ander sappige inligting in 'n kluis of iets, want daar was nog nie tyd om 'n uitstalling vir hom in te rig nie en van sy goed is nog ge-embargo tot met 'sekere mense' se dood of aftrede. Hy het immers voor sy dood al relings getref dat sy werk ten minste by NALN gekatoguseer word. Anders was hy seker ook nou een van die verlorenes. Hel, maar die man is omtrent in omstredenheid gedompel, en dit jare na sy dood!

Die volgende oggend is ek vroeg daar. Vandag is dit ek en die skrywer. Ek wil hom leer ken, deel van my maak, hoekom is ek nie seker nie, maar ek is weet dat ek gaan uitvind.
Die dames is soos altyd, uiters behulpsaam. Binne tien minute het ek seker so vier verskillende persone wat vir my leërs en uitknipsels aandra. Tot drie van sy oorspronklike boeke, een nogal deur hom onderteken. Ek druk die snaakse grootte boek teen my gesig vas en asem die verslane argief reuk in terwyl die growwerige papier teen my dagoud baard skuur, met 'n gevoel wat die voorgenome passie met die man aandui.

Ek kry tot oorspronklike briewe wat deur 'n kennis van my by die Uitgewers in Kaapstad aan die skrywer gestuur is. Ek is verbaas oor die aantal korrespondensie van vooraanstaande skrywers en ander in die bedryf aan my skrywer na sy eerste boek. Dit opsigself dui sekerlik op die man se toekomstige onvoorspelbare skryfsels. Ek glimlag vir party briewe wat sonderlik gatkruiperig is. Die arme mense moes seker in 'n toestand gewees het toe die man op die toneel gekom het. 'n Maaksel van die skrywerswêreld
wat bietjie 'ge-backfire' het op hulle self.

Ek lag hardop vir knipsels uit die dagblaaie waarin hy lof besing word en waar hy gestenig word, veral gestenig word. Ek kom op keurverslae af waarop iemand, heel moontlik my skrywer self, aantekeninge gemaak het, ondermeer van 'n 'breindood keurder' uit Natal. Ek kan nie anders as om hardop te lag nie. Die dametjie wat daar werk, kyk gesteurd op van haar rekenaar skerm. Ek sien sy het 'n ander weergawe van Solitaire wat al haar aandag verg.

Hoe ironies.

Maak afdrukke van sommige van sy stories, in die verskillende stadiums van ontwikkeling, volg die herskryfproses wat hy volg noukeurig. Verwonder my oor die man se durf om belangrike mense sosiaal te verneder deur aanmerkings wat sy karakters maak, fiktief natuurlik. Wil saam huil as ek die verhaal van iemand soos hy se lewe lees, Hy haal mense soos John Bunyan aan, hy moes 'n wye
leeskennis gehad het.. Huldeblyke wat in tydskrifte en koerante na sy dood verskyn het, beslaan byna 'n hele leër. Ek is ietwat verbaas om positiewe briewe te sien op die amptelike hoof van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, al is die skrywer van die briewe 'n gerespekteerde skrywer wat weet waarvan hy praat. Dit bly egter ironies dat so 'n instelling se mense 'n warm plekkie vir my skrywer gehad het.

Die man se lewe is hel interesant. Ek is seker daar is baie wat hom stilweg beny het, en dit nog steeds doen. Ek vind dramatiese ooreenkomste in sy privaat lewe en my eie. Dit laat my hart se klop versnel en por my aan om meer te lees.

My eerste verhaal wat litterer erken is deur mense slimmer as ek, se hoofkarater is 'n ene Johnny. Sy eerste wenverhaal het ook om 'n Johnny gegaan. Miskien niksseggend vir ander, maar vir my het dit die hare laat rys. Deur verdere punte uit te lig, sal ek die man se identiteit moet verklap, en dit wil ek nie nou al doen nie.

Ek raak lus om te rook, neem sy boek en gaan sit in die binnehof. Die lentesonnetjie wil-wil net deurkom, maar dis maar nog donners koud in Bloemfontein. Ons Kapenaars is mos nie gewoond aan die kougat plekke nie. Maar rook moet ek rook, en dis al waar 'n wetsgehoorsame landsburger nog sy
dingetjie kan suig, in die openbaar.

Maar ek vergeet skoon om die sigaret aan te steek. Vir die eerste keer lees ek die verhale wat ek al so goed ken van die hope resensies wat ek gelees het. Maar dis anders. Nie heeltemal so omstrede as wat almal dit maak nie, meer gewoon dood eerlik. Miskien is die tydvak die bepalende faktor, maar die man het net uit sy hart geskryf. Wie kan hom blameer vir die stekies vennyn wat hy gebruik het met soveel duidelikheid. Ek kan egter nie verstaan hoe hy die werk, hoe litterer ook al, gepubliseer gekry het nie. Die spreekwoord sê jy byt nie die hand wat jou kos gee nie, hy't sommer arms afgeruk!

Daar is vir my diepe betekenis en tragedie in elk van sy fiktiewe (so beweer hy) verhale opgesluit. Die man het seker 'geflourish' op depressie. Die sigaret brand my vingers en twee duim as val op my swart broek. Die grys kol kom nie werklik uit voor dit eers gewas is nie.

Die tyd stap aan en na die vierde of vyfde sigaret, raak my gat seer van die 'plasic' stoel. Ek gaan weer binnetoe. Dis al na drie in die middag. Ek sorteer al die goed uit wat ek wil hê en laat dit fotostateer. Ek loop weer my direkteur vriend in die gang raak. Hy lyk bly om my te sien, want hulle hou daarvan as die plek gebruik word. Min mense weet eintlik van NALN en die werk wat hulle doen. Hy vra my uit en ons het so vinnige twintig minute bespreking oor die skrywer en sy werk, sommer so in die gang. Tot die loodgieter ons onderbreek, en daar hol die direkteur weer...

Dis maar my eerste werklike ontmoeting met my skrywer. En ek is soos 'n verliefde skoolseun. Ons het volgende week weer 'n 'date' daar by NALN se tuin tussen die brons koppe van oorlede skrywers.

Ek belowe ek sal niemand sê nie.

 

 

 

Copyright 2003 LOUIS NELL