Armoria patriæ
http://www.oocities.com/haigariep

Republiek Stellaland

Republiek Stellaland

Stellaland het ’n wapen gevoer wat bekend is aan versamelaars, want dit het op die staat se pos- en inkomsteseëls verskyn. Maar dit is veel eerder ’n politiese spotprent en ’n uittarting van sy bure as ’n ernstige stuk heraldiese kuns. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Gevierendeel: 1. In goud ’n korhaan in sy natuurlike kleure, vlerke na bo, wat aan die regterbeen deur ’n man se hand vasgehou word, die arm natuurlik geklee.; 2. In blou, ’n links-skuins vyfpuntige ster van silwer; 3 In rooi, ’n weegskaal van goud; 4. In rooi, twee visse wat horisontaal lê, die boonste een na regs, die onderste na links, altwee deur ’n kavalleriesabel deursteek, almal in hulle natuurlike kleure.

Helmteken: ’n Links-skuins vyfpuntige ster van silwer.

Skildhouers: Twee staande aansiende leeus in hulle naturlike kleure.

Leuse: Gewapend en Rechtvaardig.

Wapen verduidelik:
Die skild word in vier kwartiere gedeel, maar dit is dadelik van die kleuring van die kwartiere sigbaar dat die persoon wat dit opgetrek het, nie ’n goeie verstand van heraldiese kleurkontras gehad het nie (aangesien altwee die onderste kwartiere rooi is), of dat die arserings wat gebruik is, nie die kleure wat werklik gebruik is, weerspieël nie.

Terloops, die illustrasie is vanaf die 10-sjieling Gouvernements Zegel of inkomsteseël gekleur, en die kleure is afgelei van die arserings wat daar gebruik is. Die staat het in 1884 twee stelle seëls in Kaapstad laat druk – ’n stel vyf posseëls (waardes 1d, 3d, 4d, 6d en 1s) waarop die skild, helmteken en leuseling (maar geen leuse nie!), en ’n grotere stel vir inkomste-doeleindes, waardes in sjielings, waarop die volle wapen verskyn het (leuse ingesluit).

As ’n mens aanvaar dat die kunstenaar die standaard Petrasancta arseringsisteem gevolg het, is die kleure soos aangedui: ’n veld swart stippels is as goud geïnterpreteer, ’n veld horisontale strepe as blou, en die twee velde vertikale strepe as rooi.

Vir ’n ander interpretasie van die kleure, kyk die vlae wat hier op Flags of the World geïllustreer word. In hierdie vlae, is die eerste kwartier wit (silwer), die tweede kwartier groen, die derde blou en die vierde rooi.

Die korhaan is ’n simbool vir die Korana of Koranna, ’n Khoikhoi-volk wat hoofsaaklik suid-wes van Stellaland gewoon het, alhoewel die Korana-horde wat met Stellaland te doen gehad het, ten ooste van die staat gewoon het. Dit is deur ’n hand styf vasgehou, simbool van die Boer-republikeine se vermoë om die Korana in toom te hou.

Die presiese spesie wat bedoel word is ’n raaiskoot, aangesien vier verskillende korhaanspesies – die swart korhaan (Eupodotis afra), die witpens-korhaan (Eupodotis cafra), die rooikuif korhaan (Eupodotis ruficrista) en die blou korhaan (Eupodotis cærulescens) – in die omgewing van Vryburg, hoofstad van die kortstondige republiek, gevind word.

Maar aangesien, uit die vier spesies, slegs die swart korhaan langs die Oranjerivier in die omgewing van die huidige dorp Upington aangetref word – die meeste van die Korana het in hierdie geweste gebly – is dit hoogs waarskynlik hierdie voël. Die tekening is swak, en kan net sowel ’n hoender of selfs ’n maer kalkoen voorstel.

Die ster (nie net in die tweede kwartier nie, maar ook in die helmteken) verteenwoordig ’n komeet wat gesien is deur die kommando wat die staat gestig het terwyl dit uit was vir die veldtog wat uitgedraai het op die stigting van die republiek.

Skrywer Dan Jacobson (aan wie ek dank verskuldig is vir baie van die inligting op hierdie bladsy) skryf dat hy oortuig is dat die kommandant, later President Gerrit Jacobus van Niekerk van Stellaland, “die Lone Star State van Texas ook in gedagte gehad het”. (My vertaling.)

Die ster lê skuins – nie heeltemal 45º, die teoretiese graad van ’n linker-skuinsstreep, nie, maar effens meer regop. Sy posisie dui blykbaar iets aan met betrekking tot die voorkoms van die komeet soos die kommandolede dit gesien het.

Die weegskaal in die derde kwartier is duidelik simbolies van reg en geregtigheid, iets wat die burgers graag wou beklemtoon – die leuse verwys ook na regverdigheid.

Die visse in die vierde kwartier simboliseer die Tlhaping, ’n Tswana-stam, wat ’n vis het vir ’n stamtotem.

Die 21 Tswana-stamme of klans wat in Suid-Afrika aangetref word het elk ’n totemdier (’n totaal van 16 diere, vier van hulle deur twee of meer stamme gedeel). Al hierdie totems (tesame met die luiperd, as nasionale totem) het in die posseëlreeks wat Bophuthatswana in 1977 uitgereik het, verskyn. Die Bakwena of Bakoena het ’n krokodil, wat in die wapen van Lesotho gesien kan word.

Jacobson noem dat die vis van die Tlhaping “met ’n sabel vasgesteek is, asof vir ’n visbraai” (weereens my vertaling).

Van die leuse, Gewapend en Rechtvaardig, skryf Jacobson: “Eers gewapen, dan regverdig.”

Jacobson het geen verduideliking vir die leeu-skildhouers (Leo leo) nie – miskien omdat die wapenillustrasie wat hy gesien het sonder skildhouers was – maar die Boere republikeine het duidelik leeus geadmireer, tesame met die karaktertrekke wat hulle in die Westerse tradisie gewoonlik togeskryf word.

’n Leeu verskyn in die wapen van die Zuid Afrikaansche Republiek, en is ongetwyfeld gebaseer op die Nederlandse tradisie van heraldiese leeus (soos ook in die wapen van Kaapkolonie gesien kan word). Soos die leeu van die ZAR is hierdie eerder as ’n natuurlike dier geteken in plaas van’n Middeleeuse heraldiese konsep.

Leeus was destyds steeds algemeen in die omgewing van Vryburg gevind.

Alhoewel ek nog geen illustrasie van die wapen met vlae weerskante van die skild gesien het nie, noem die ensiklopedie-beskrywing die vlae van Nederland en dié van Stellaland – watter van die drie word egter nie genoem nie.

Oor die staat:
Die Standard Encyclopædia of Southern Africa rapporteer so oor Stellaland (weereens my vertaling):

“Die stigting van hierdie klein republiek was die gevolg van ’n konflik wat teen die einde van 1881 uitgebreek het tussen die Batlapin-kaptein (sic) Mankoroane, van Taung,[1] wat die Britse regering gunstig was, en die Korana-kaptein David Massou Riet Taaibosch,[2] van Mamusa (tans Schweizer-Reneke). Laasgenoemde het Blanke vrywilligers, die meeste van hulle Transvaalse burgers, gewerf. In ’n ooreenkoms gedateer 9 Feb. 1882 is hulle plase en ’n aandeel in die buit belowe. Mankoroane is gedurende Julie 1882 verslaan, en Massouw het ’n bestuur wat in Jan. 1883 deur die vrywilligers verkies is, erken, met Gerrit Jacobus van Niekerk as ‘Voorsitter’. Massouw het Van Niekerk as ‘administrateur’ van die gebied wat die vrywilligers ontvang het, en vir hom die reg gegee om die gebied ‘onder die naam of titel van die Land van die Ster, Stellaland’, te vestig. 6 Aug. 1883 het Van Niekerk ’n proklamasie uitgereik met betrekking op ’n gebied ‘suid en noord van die Hartsrivier’, met Vryburg, ’n nuut gestigte dorp, as hoofstad. Gedurende sy kort bestaan het die Republiek Stellaland ’n eenvoudige maar effektiewe administrasiestelsel ontwikkel, met inbegrip van ’n Volksraad wat vanaf 23 Feb. 1883 gefunksioneer het. Die grondwet van die Transvaalse Republiek (sic) is aanvaar; ’n vlag en wapen is ontwerp; en posseëls is gedruk.

“Die volk van Stellaland wou met die Transvaalse Republiek verenig; maar ná die Londense Konvensie, wat 27 Feb. 1884 geteken is, het die Britse regering uiteindelik daarop aangedring om die nuut gedefinieerde westelike grens van die Transvaal te handhaaf. ’n Keiserlike ekspedisiemag onder sir Charles Warren het in Feb. 1885 ’n bloedlose einde gemaak aan die republiek Stellaland.”

Jacobson lewer hierdie kommentaar oor verhoudings met die staat se bure soos dit in die wapen blootgelê word (dit volg van sy opmerking dat die vis braaigereed is): “Goed genoeg, kan ’n mens sê, hulle [die Batlhaping] was die vyand wat deur van Niekerk se manne verslaan het. Maar die teenoorgestelde kwartier van die skild toon ’n korhaan, die voël van die Koranna, wat veronderstel was om die geallieerdes van die Boere te wees, vasgekeer en gekniehalter. Net om almal te laat weet wie in die gevolg werklik die baas was.”

Hy gaan voort: “Wat die weegskaal van die gereg betref – nouja, met die prominensie van die gesabelde vis en die gekniehalterde voël, is dit seker gevoel dat ’n bietjie geregtigheid miskien ook handig te pas sou kom.”

Die republiek het dus in 1885 deel geword van die kolonie British Bechuanaland (kyk Provinsie Noord-Wes), en in 1895 is British Bechuanaland tot die Kaapkolonie geannekseer. Tydens Uniewording in 1910 het dit deel van die Kaapprovinsie geword. Toe Bophuthatswana in 1977 sy “onafhanklikheid” verkry het, het die distrik Vryburg deel van “blanke” Suid-Afrika gebly, met distrikte van Bophuthatswana noord, suid en wes. Die distrik het deel gebly van Kaapland, maar die enigste deel van Suid-Afrika wat dit werklik geraak het was die Provinsie Transvaal. In 1994 het dit by die gebied van Bophuthatswana en die distrikte van Wes-Transvaal aangesluit, wat gesamentlik nou die Provinsie Noord-Wes geword het.

Taal van Stellaland:
Die taal wat deur die burgers van Stellaland gepraat is, was ’n vroeë vorm van Afrikaans. Maar aangesien Afrikaans destyds geen erkende geskrewe vorm gehad het nie, was die geskrewe taal van die staat Nederlands.

Die klein Boererepublieke:
Stellaland was een van vyf “klein” Boererepublieke wat op verskillende stadiums bestaan het, drie waarvan wapens van die een of ander soort gevoer het.

Die vroegste hiervan was die republiek Utrecht, langs die grense van Zululand, wat moontlik die Voortrekker-vlag gebruik het, maar blykbaar nie ’n wapen gevoer het nie. Dit het in die 1840s kortstondig apart bestaan, maar het toe deel geword van die republiek Lydenburg, wat op sy beurt saam met Zoutpansberg en Potchefstroom die Zuid Afrikaansche Republiek gevorm het. In 1903 het Utrecht deel geword van die Natal Colony.

Stellaland se susterstaat Goshen (in die omgewing van waar die Warren-ekspedisiemag in 1885 Mafeking gestig het) het ’n vlag gehad, maar geen wapen nie. Net soos Stellaland is dit in 1885 in British Bechuanaland geabsorbeer.

Die Nieuwe Republiek (suid van die Phongolo- of Pongolarivier tussen Natal en die ZAR) het ’n vlag gehad en het posseëls uitgereik, en het ’n staatswapen gevoer wat in ses verdeel is, wat ’n ossewa, ’n tent, ’n koei, ’n skip, ’n ploeg en ’n skuurtang getoon het. Die ensiklopedie se beskrywing sê dan (my vertaling): “Oor alles heen is ’n Bantu-skild. Agter die wapen is twee spiese en weerskante die vlag van die republiek . . . op die manier van die Transvaalse Vierkleur gerangskik, met die bewoording: ‘Eendragt, Regtvaardigheid en Liefde’ op ’n lint onderaan”.

Die wapen is later deur die munisipaliteit Vryheid oorgeneem.

Dit het in 1884 deel van die Zuid Afrikaansche Republiek geword, maar ná die Suid-Afrikaanse Oorlog is dit in 1903 aan Natal toegeken. Dit is beskou as reparasies vir die skade wat die kolonie tydens die Boere-inval gely het.

Die Klein Vrystaat het daglig gesien nadat ’n klein aantal ZAR-burgers in 1877 12 000 ha grond vanaf die Swazi-kaptein Mbandine gekoop het. In 1886 het hulle hulle eie bestuur gevorm, waarop Mbandine van die gebied sy hande gewas het. Die burgers het inlywing in die ZAR gevra, en het hulself voorlopig onafhanklik verklaar. Die Swaziland-konvensie van 1890 het dit toegelaat, en in 1891 het die Klein Vrystaat Wyk 1 van die distrik Piet Retief geword.

Die nok in die suid-westelike deel van die Swazilandse grens is ’n aandenking van die staat se bestaan. Dit is vandag deel van die Provinsie Mpumalanga.

Die staat het ’n vlag gehad, asook ’n wapen wat drie Boere getoon het, simbool vir die driemanskap van J J Bezuidenhout, F I Maritz en W A du Plessis wat die staat gelei het.

Soos illustrasies van die wapens van hierdie state te hande kom, sal dit op aparte bladsye van Armoria verskyn.



[1] Die pleknaam Taung beteken “leeu”, wat ironies is, aangesien die wapen van Stellaland twee leeus insluit. Die dorp Taung was deel van Bophuthatswana en is tans deel van die Provinsie Noord-Wes.

[2] Jacobson gee sy naam as David Mosweu; dit is moontlik Setswana-weergawe van die naam, wat meer waarskynlik dui op Franse (en Boer-) herkoms vir die Korana-leier.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Standard Encyclopædia of Southern Africa en The Electronic Elephant: A Southern African Journey, deur Dan Jacobson (1994: Hamish Hamilton).

  • Illustrasie van die wapen gekleur met behulp van MS Picture It! Dit is nog nie voltooi nie, maar sal binnekort wees.


    Terug na kolonies- en republieke-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1