Die Groot Afrikaanse Familienaamboek
November 2006
(Click here for the English version)

As iemand op soek is na 'n Afrikaner familiewapen, sal hy seker op Dr Cornelis Pama se Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (GAF), wat in 1983 uitgegee is, afkom. Alhoewel dit 'n handboek oor die herkoms en betekenisse van meer as 3000 Afrikanervanne is, sluit 445 van die inskrywings ook inligting oor wapens in. Die wapens word in volle kleur deur die kunstenaar Sidney Ivey uitgebeeld.

Omdat die wapeninligting in GAF ietwat beknop is, veral wat die herkoms van die wapens betref, kan dit misverstaan word - veral as die hoofstukke oor heraldiek nie ook gelees word om die inligting in konteks te plaas nie. Miskien sal die volgende opmerkings, wat uit my eie gebruik van GAF spruit, die gebruik van dié boek as 'n wapenregister vergemaklik.

'n Paar heraldiese begrippe
Dit sal help om in gedagte te hou dat:

  • wapens behoort aan mense, en nie aan families nie;
  • lede van 'n familie voer dieselfde wapen omdat hulle stam almal van die oorspronklike wapenvoerder af, en nie bloot omdat hulle dieselfde van het nie;
  • iemand wat 'n bestaande wapen as sy eie wil gebruik, moet eintlik eers die herkoms en die eerste voerder daarvan vasstel, en dan vasstel of hy van hom 'n afstammeling is;
  • daar is baie families waar daar nooit wapens gevoer is nie.

Hoofstukke oor heraldiek
As iemand GAF wil gebruik om 'n wapen na te slaan, stel ek voor hy eers drie van die hoofstukke voor in die boek lees. Hoofstuk 5 handel in die algemeen oor die herkoms van wapens; hoofstuk 6 handel oor bronne van inligting oor wapens in Suid-Afrika; en hoofstuk 7 verduidelik dat baie sg "familiewapens" wat wel gevoer word nie eintlik outentiek is nie.

As hy 'n kopie van Pama se vroeër boek Wapens van die Ou Afrikaanse Families (WOAF) ook in die hande kan kry, sal hy meer inligting oor baie van die wapens daar kry.

Herkoms van die wapens in GAF
In GAF word die herkoms van baie van die wapens in beknopte sinne soos "Bell verwys in sy manuskrip" of "die wapen het c1940 in gebruik gekom" aangedui. Hoe moet hierdie beskrywings geïnterpreteer word? Met behulp van WOAF kan ons hulle soos volg verstaan:

Charles Bell

Historiese bronne: As daar na Charles Bell of sy manuskrip verwys word, dan is dit 'n ou wapen uit die Kaaps-Hollandse tydperk of die vroëe 19de eeu. Pama beskryf in hoofstuk 6 van GAF hoe Bell in die 1830s begin het om wapens te versamel, uit bronne soos kerke, grafte, rouborde, en seëls. Hierdie is dus egte historiese wapens. Beide GAF en WOAF bevat fotos van Bell se tekeninge.

Pama het self ook nog ongeveer 40 ou wapens opgespoor op ou seëls, portrette, wapengoed, e.d.m., wat dan ook histories is.

Dit is nie altyd seker of 'n historiese wapen deur die familie se stamvader self gevoer is nie, en in verskeie gevalle identifiseer Pama 'n tweede- of derde-geslag afstammeling as die eerste persoon wat beslis die wapen gevoer het.

Moderne bronne: Oor meer as 'n dosyn wapens skryf Pama in GAF dat hulle laat in die vorige (d.w.s. 19de) eeu of vroeg hierdie (d.w.s. 20ste) eeu in gebruik gekom het. As mens dieselfde wapens in WOAF naslaan, sal hy vind dat sommige in die vroeë 1900s in die tydskrif Goede Hoop verskyn het, terwyl ander uit bronne van so laat as die 1930s en '40s kom.

In die 1930s en '40s, het verskeie boeke en artikels oor familiegeskiedenisse verskyn wat met wapens geïllustreer is, sonder bewyse dat die betrokke Afrikanerfamilies wel daarop geregtig was nie. As Pama dan skryf dat 'n wapen in of omstreeks 1930, 1933, 1940, 1945, 1946, of 1947 "vir die eerste keer verskyn het" of "eers in gebruik gekom het" of "nuut ontwerp is", bedoel hy die wapen kom uit een van daardie bronne. Hy bespreek die egtheid of onegtheid daarvan in hoofstuk 7.

"1933" verwys na Loxton se Die Afrikaner Voorgeslag. "1940" beteken Kannemeyer se Die Hugenote Familieboek, en Pama maak wel die punt dat die wapens in haar boek nie histories is nie.

Barnard
(Baernaert)
"1945", "1946" of "1947" beteken dat die wapen ontstaan het as 'n illustrasie in Theunissen se lang reeks artikels oor Afrikaner familiegeskiedenisse, "Afrikaner ken uself", wat in Die Brandwag gepubliseer is. Soos Pama in hoofstuk 7 van GAF (en ook in WOAF) verduidelik, het Theunissen blykbaar wapens gebruik wat behoort het aan mense met soortgelyke vanne in Europa. Bv is die wapen van die Hollandse familie Baernaert gebruik in die artikel oor die Barnard-familie, wat van Duitse afkoms is!

Volgens Pama, as Theunissen meer as een wapen vir 'n betrokke van gekry het, het hy hulle saamgeflans, en as hy geen wapen gekry het, het hy dan self een versin. Aangesien hierdie wapens nie deur die stamvaders gevoer is nie, van wie af kan iemand hulle dan erf?

In 1977 het die destydse Staatsheraldikus te kenne gegee dat die Buro vir Heraldiek nie wapens afkomstig uit die 1944-47 tydskrifartikels sal registreer tensy die egtheid daarvan bewys kan word nie. Dit is duidelik 'n verwysing na die Theunissen-wapens.

Wapens van gelyknamige Europese families: By ongeveer 50 van die wapens in GAF skryf Pama slegs dat dieselfde wapen deur 'n familie met dieselfde van in Nederland of België of elders gevoer word. Maar hy sê nie uitdruklik dat die Afrikanerfamilies van hulle afstam nie, en verduidelik nie hoekom hy die wapens by GAF ingesluit het nie.

Ierse "sept"-wapens: Agt wapens word as Ierse "sept"-wapens beskryf. In die 1950s het 'n teorie in Ierland ontstaan dat lede van sekere families geregtig is om die wapen van die stamhoof te voer. Maar, volgens die Ierse hoofheraldikus se webwerf word hierdie teorie nie amptelik erken nie. Wat is dus die status van hierdie agt wapens?

Onvermelde bronne: By ongeveer 90 van die wapens - veral in verband met stamvaders wat laat in die 19de eeu of vroeg in die 20ste eeu in Suid-Afrika aangekom het - word slegs die blasoen gestrek, sonder 'n enkele woord oor waar die wapen vandaan kom nie. Hulle verskyn nie in WOAF nie.

"Verbeterde" en "vereenvoudigde" wapens: Oor twaalf van die wapens skryf Pama dat die oorspronklikes om die een of ander rede foutief of te ingewikkeld is, en dat hy hulle dus "verbeter" or "vereenvoudig" het. Na my mening moet hierdie dus as nuwe wapens, wat in 1983 onstaan het, beskou word. Aangesien hulle nie deur die stamvaders gevoer is nie, wie het dan aanspraak daarop?

Om op te som: van die 445 wapens (eintlik 444, want Von Ludwig s'n verskyn twee keer), kom 183 uit historiese bronne; 107 kom uit koerante, boeke en tydskrifartikels; 48 is die wapens van Europese families wie se verwantskap aan die betrokke Afrikanerfamilies nie aangedui word nie; 12 is deur Pama herontwerp; 8 is sg Ierse "sept"-wapens; en daar is geen aanduiding van die herkoms van die res nie.

Die kleurplate
'n Paar opmerkings oor die illustrasies van die wapens in GAF.

Sommige klop nie met die geskrewe wapenbeskywinge (blasoene) in die teks, bv Du Plessis (silwer in plaas van hermelyn), Du Toit ('n keper in plaas van 'n dwarsbalk), en Klerck (rooi sleutels in plaas van rooi en swart).

As jy sommige van die wapens, bv Myburgh, met die fotos van seëlafdrukke voor in die boek vergelyk sal jy sien dat die helmtekens nie dieselfde is nie.

In sommige gevalle, waar 'n oorspronklike bron soos 'n seël nie die kleure aangedui het nie, Pama self kleure gekies het vir doeleindes van die illustrasies. Daar is ook wapens, bv Myburgh, waar die kleure verskil van dié in die wapen wat eintlik deur familielede gevoer word.

Verwysings/Bronne/Skakels
Hartman, NF: "Die Ontwerp van Familiewapens" in Opvoeding en Kultuur (Des 1977)
Kannemeyer, AJ: Die Hugenote Familieboek (1940)
Laing of Colington, RA: "Our South African (Afrikaner) Heraldic Heritage - A Mythical Creation?"
   in Arma 181 (2004)
Loxton A: Die Afrikaner Voorgeslag (1933)
Office of the Chief Herald of Ireland se webwerf
Pama, C: Wapens van die Ou Afrikaanse Families (1959)
Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (1983)
Theunissen, NH: "Afrikaner ken uself"-reeks in Die Brandwag (1944-47)

This website has been created for interest and entertainment. It is unofficial, and not connected with or endorsed by any authority or organisation. It is the product of the webmaster's research, and the content is his copyright. So are the illustrations, except for a few which were derived from other sources, as acknowledged in the "references/ sources/ links" sections on the pages concerned. Additional information, and correction of errors, will be welcome.