![]() |
|||
|
|||
![]() |
Op 22 Oktober 1685 is die Edik van Nantes, wat in 1598 uitgevaardig is, herroep. Die Edik het aan die Hugenote, met hulle gereformeerde geloofsoortuigings, ‘n bestaansreg in Frankryk gewaarborg. Deur die herroeping is die gereformeerde geloof in Frankryk verbied en die Hugenote vervolg, en selfs vermoor. Duisende Hugenote het uit Frankryk gevlug. Die meeste het in Nederland ‘n nuwe tuiste gevind. Die Hugenote se vlug na Suid-Afrika het nie, soos algemeen aanvaar word, slegs in die jare 1688 tot 1689 plaasgevind nie. Oor ‘n tydperk van meer as ‘n driekwart eeu het hulle hulself in die Kaap kom vestig, ofskoon die hoofstroom gedurende dié twee jaar hierheen verhuis het.
Die heel eerste Hugenoot wat hom aan die Kaap kom vestig het, was Francois Villion (Viljoen) wat in Oktober 1671 aan die Kaap gearriveer het. In 1685 arriveer Jean de Long (de Lange) en sy gesin aan die Kaap, en die volgende jaar die broers Guillaume en Francois du Toit. Eers twee jaar later het die georganiseerde staatsondersteunde massa-emigrasie plaasgevind. Op 3 Oktober 1685, maw nog vóór die herroeping van die Edik, het die Here XVII, met hulle uitgebreide handelsbelange, besluit om ‘n aantal koloniste na die Kaap van Goeie Hoop te stuur. Belangrik was dat Franse vlugtelinge, maw Hugenote, ook deel van hierdie koloniste kon wees. Slegs drie of vier Franse was egter teen 1685 bereid om na die Kaap toe te kom. Toe die besluit van die Here XVII in 1687 herhaal is, was dit ‘n ander saak. Veel meer Hugenote was nou bereid om te gaan. Uiteindelik sou daar tussen 1688 en 1689 ongeveer 175 Hugenote hulle aan die Kaap vestig as deel van die amptelike kolonisasie poging van die Here XVII. Ons weet dat daar teen 1729 ongeveer 279 Franse aan die Kaap was
In 1707 het die staatsgesubsideerde
emigrasie tot ‘n einde gekom, maar het enkele Hugenote nog op eie stoom
na die Kaap gekom, waaronder: 1710 – Pierre Labuschagne; 1717 – Anna Maria
Bacat; 1718 – Jacques Naudé; 1723 – Jean Blignaut
Deur die Hugenote wat na die Kaap gekom het, was o.a. die interessante beroepsmense van hulle tyd: Josue Cellier - “landbouwer”, wynmaker en skrynwerkerDie begin jare was baie moeilik. Hulle moes gewoond raak aan die land en die klimaat en daarby moes hulle grond bewerk wat nog nooit voorheen bewerk was nie. Min van hulle het vorige ervaring van boerdery gehad. Hulle het ook telkens probeleme ondervind met die Politieke Raad. Dit het moeilik gegaan. Algaande het hulle vooruit geboer met wingerde, koring, vrugte en vee en het hulle volkome deel geword van ‘n nuwe vaderland. Binne twee geslagte het die Franse taal aan die Kaap uitgesterf omdat daar na 1700 geen voldoende invloei van Franssprekendes was om die taal te laat voortleef nie, en die gebruik van Frans in amptelike kommunikasie met die owerhede in 1707 verbied was. En tog sou die invloed en nalewing van die Hugenote op die gebied van godsdiens, vryheid van geloof, kultuur en lanbou tot vandag toe bly voortbestaan in Suid-Afrika. ‘n Baie besondere bydrae was die beryming van ‘n aantal Psalms deur Pierre Simond. Dit was die eerste literêre en teologiese werk wat aan die Kaap ontstaan het en gepubliseer is. Dit het in 1704 in Amsterdam verskyn onder die titel Les Veilles Afriquaines ou les Pseaumes de David mis en vers Francois (Die Afrika Nagwake of die Psalms van Dawid in Franse versvorm). Vandag roep ons die Hugenote en hulle nalatenskap in herinnering met die pragtige Hugenote Museum en Hugenote Monument op Franschhoek. P Coertzen
.
|