Armoria patriæ
http://uk.oocities.com/landswapen

Provincie Kaap de Goede Hoop (gewoonlik Kaap Provincie of Kaapland genoem)

Cape of Good Hope Province

Verlening van 1911 / Koloniale wapen kry erkenning, 1950-54

Kaap Provincie (1910)

Die Kaapprovinsie het voortgegaan om die wapen te voer wat 29 Mei 1876 volgens Koninklike Akte aan die Colonie Kaap de Goede Hoop (Kaap Colonie) verleen is, die blasoen waarvan lui (volgens my vertaling):

Wapen: In rooi, ’n klimmende leeu tussen drie ringe van goud, op ’n silwer skildhoof drie koeke van blou, elkeen met ’n goue fleur-de-lis belaai, Helmteken – op ’n wrong van goud en rooi die figuur van Hoop in haar natuurlike kleure, in blou geklee, wat haar regeterarm op ’n rots rus en wat met die linkerhand ’n swart anker stut, die anker van ’n kabel in sy natuurlike kleure omwend, en vir Skildhouers – aan die regterhand ’n swart wildebees en aan die linkerhand ’n gemsbok, altwee in hulle natuurlike kleure, tesame met die leuse “SPES BONA”.

Oor die provinsie:
Die Kaapkolonie het in sy geheel formeel op 31 Mei 1910 ’n provinsie geword van die Unie van Zuid Afrika (die Nederlandse taal was steeds in gebruik). Die Parlementsgebou van die Kaapkolonie in Kaapstad het die tuiste geword van die Unie-Parlement, en die provinsie se eie wetgewer is die Kaapse Provinciale Raad genoem. Die administrasie het ’n Administrateur aan die hoof gehad, deur die Goewerneur-Generaal aangestel volgens die raad van die Eerste Minister. Hy is bygestaan deur ’n Uitvoerende Komitee, die lede waarvan verkose lede moes wees van die Provinsiale Raad.

Heraldiese ontwikkelinge:
Kaap Provincie (1911)’n Wapen is 4 Mei 1911 deur die College of Arms aan die provinsie verleen, in die vorm van die Kaapse kwartier van die Unie-wapen, maar die provinsie is nie eens van die wapen wat so verleen is, verwittig nie (kyk Unie van Zuid Afrika) en, ten spyte van die tegniese ongeldigheid van die verlening van 1876, is die gebruik hiervan voortgesit, selfs nadat die inhoud van die akte van 1911 in 1937 aan die provinsiale administrasie bekendgestel is.

19 Oktober 1928 het die koloniale wapen die koninklike wapen op die hoof van die Officiele Gazette van het Provincie Kaap de Goede Hoop vervang.

In Oktober 1948 het die Uitvoerende Komitee besluit om die wapen van die 1911-verlening te aanvaar, met Van Riebeeck se skip as helmteken en met behoud van die wildebees- en gemsbok-skildhouers, maar niks het hiervan gekom nie.

Naam van die provinsie:
Aangesien die Unie se ampstale Engels en Nederlands was, is die Nederlandse benaming behou. Dit het in 1925 verander, toe Afrikaans erkenning verkry het, en die gewone vorm was van toe af Kaap die Goeie Hoop. Reeds in 1914 het Afrikaans ’n instruksie-medium in die provinsie se skole geword.

 

Provinsie Kaap die Goeie Hoop (Kaapprovinsie, Kaapland )

Cape of Good Hope Province

Cape Province (1950)

Agtergrond van die tekening van 1950:
Staatsheraldikus F G Brownell skryf (my vertaling): “In 1950 het die Sekretaris van Binnelandse Sake met die Eerste Minister die saak van die provinsiale wapens opgeneem, en is elkeen van die Provinsies versoek om aan te dui watter wapen hulle wou aanneem. Dit het sake op ’n punt gebring en die Kaapse Uitvoerende Komitee het 24 November 1950 besluit ‘dat . . . Besluit No 1414 gedateer 19 Oktober 1948 herroep word en dat die Sekretaris vir Buitelandse Sake verwittig word dat die Uitvoerende Komitee nou versoek dat Koninklike goedkeuring versoek word vir die erkenning van die wapen wat in die Government Gazette van die Kaapkolonie, No 5609 gedateer 1 September 1876, gepromulgeer is, en gewysig volgens die voorgelegde gekleurde ontwerp, met die sterte van die wildebees en die gemsbok opwaarts in plaas van afhangend, as die amptelike wapen van die Kaapprovinsie’.

“Die gewysigde tekening van die wapen was die werk van prof C S Groves.” Daar is bloot een sigbare verandering, wat in die blasoen hieronder gemeld word.

“In Februarie 1952 het die College of Arms aangedui dat dit geen beswaar gehad het tot die her-aanneem van die wapen in hierdie vorm, en hierdie weergawe het sedert 9 Mei 1952 op die voorblad van die Amptelike Koerant van die Kaapprovinsie verskyn.”

In 1954 is die Administrateurs van die vier provinsies verwittig (weereens my vertaling): “. . . Haar Majesteit die Koningin het formeel die onttrekking goedgekeur, met ingang van 22 Junie 1954, van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, in terme waarvan sekere wapens aan die Provinsies verleen is. Daardie Provinsies wat tot dusver nog nie so opgetree het nie, is nou vry om die wapen te voer wat hulle graag wil aanneem.”

Ná die promulgering van die Heraldiekwet van 1962 is die wapen van die Kaapprovinsie deur die Staatsheraldikus geregistreer volgens registrasiesertifikaat No 99, wat 30 Oktober 1967 uitgereik is. Die blasoen lees (weereens my vertaling):

 

Wapen: In rooi, ’n klimmende leeu van goud, blou gewapen en getong, tussen drie ringe van goud; op ’n skildhoof van silwer drie koeke van blou, elkeen met ’n goue fleur-de-lis belaai.

Helmteken: Die figuur van Hoop, silwer geklee en blou gemantel, wat haar regterarm op ’n rots rus en met die linkerhand ’n swart anker stut wat in sy natuurlike kleur gekabel is.

Wrong: Goud en rooi.

Skildhouers: Regs ’n swart wildebees en links ’n gemsbok in hulle natuurlike kleure.

Leuse: SPES BONA.

Die enigste opmerkbare verskille is eerstens die kleur van die dame Hoop se kleding (sy is nou wit geklee met ’n blou mantel, in plaas van blou geklee), en dat die kleur van die leeu se kloue en tong gespesifiseer word. Dit is ’n gebruik van die Britse heraldiek om ’n rooi leeu, of ’n leeu op ’n rooi agtergrond, blou te wapen en te tong, maar om dit nie spesifiek te noem nie.

Gebieds- en Grondwetlike veranderings:
Walvisbaai is 1 Oktober 1922 vir praktiese doeleindes aan die administrasie van die Mandaatgebied Suidwes-Afrika oorhandig (die mandaat het Januarie 1921 effektief geword), maar het in terme van die internasionale gereg deel van Suid-Afrika en van Kaapprovinsie gebly. 30 Augustus 1977 het die Kaapprovinsie weer die administrasie van Walvisbaai oorgeneem.

Ná die onafhanklikheid van Namibia in 1990 het Windhoek twee grensaansuiwerings gevra: die oorgee van Walvisbaai en die verskuiwing van die Oranjeriviergrens. Aan die riviergrens is op die ou end niks gedoen nie, maar Walvisbaai is 1 Maart 1994 oorhandig.

Die Kaapprovinsie het stam-trustgebiede in sy oostelike dele en in die verre noorde ingesluit, wat onder die beleid van groot-apartheid uitgemerk is vir “tuislande” of “Bantustans” en wat in die laat 1970s en vroeë ’80s “onafhanklike” state geword het – hulle het ’n status bereik wat deur Suid-Afrika erken is, maar deur geen ander land nie, ten spyte van die feit dat die posseëls wat hierdie state uitgereik het, in vele lande aanvaar is. Hierdie gebiede het bestaan uit Xhosa-sprekende distrikte in Oos-Kaapland en Tswana-sprekende gebiede in die verre noorde.

Transkei, wat vanaf die Keirivier tot aan die Mtamvuna langs die grens van Natal gestrek het, was die eerste om “onafhanklik” te word, wat op 26 Oktober 1976 geskied het. Hierdie gebied het Griekwaland-Oos (landdrosdistrik Mount Currie; dorpe Kokstad en Matatiele) van die res van die Kaapprovinsie afgesny, en die twee distrikte is aan Natal oorgedra. Ten spyte van Grondwetlike bepalings dat veranderinge in provinsiale grense deur die provinsies goedgekeur moet word, is hierdie oordrag deur die sentrale regering sonder raadpleging volbring.

Bophuthatswana, wat bestaan het uit geïsoleerde stukke grond versprei oor die verre Noord-Kaapland en twee ander provinsies, het 6 Desember 1977 sy onafhanklikheid geneem.

Ciskei, wat vanaf die Visrivier tot die buitewyke van Oos-Londen en noordwaarts tot naby Queenstown gestrek het, het 4 Desember 1981 “onafhanklik” geword.

Volgens die Grondwet van 1984 is die Provinsiale Raad afgeskaf. Die Administrateur, nou deur die President aangestel (hierdie prerogatief het in 1961 na die Staatspresident oorgegaan), het nou sy Uitvoerende Komitee gekoöpteer in plaas daarvan dat hy verkose wetgewers moes aanstel. Die ooglopende doel hiervan was om die basis van die provinsiale administrasie te verbreed, sodoende mense van ander rasse te betrek (in die praktyk was slegs blankes lid van die Provinsiale Raad, alhoewel nie-blankes nie volgens die wet verbied is nie), maar dié wat aangestel is, was grotendeels slaafs onderdanig aan President P W Botha.

Die einde van apartheid in 1994 het ook die einde van die Kaapprovinsie beteken, en dit is in vier dele gesplits: Wes-Kaap (hoofstad Kaapstad) en Noord-Kaap (hoofstad Kimberley), wat nie deur “tuislande” geaffekteer is nie, en Oos-Kaap en die Provinsie Noord-Wes, wat deels of in hulle geheel die drie “onafhanklike” state wat vroeër uit Kaapland gesny is, ingesluit het.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Heraldiese bron: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell.

  • Skanderings met vergunning van die Evening Post.


    Terug na vier provinsies-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmkerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1