Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Mpumalanga

naam en tale


Mpumalanga

Mpumalanga, die kleinste van die agt plattelandse provinsies in Suid-Afrika sedert 1994, het ’n wapen wat so geblasoeneer mag word:

Wapen: Links skuins gedeel en in die flanke gesny, van goud en groen; bo-oor die skeidslyn ’n linker-skuinsbalk links skuins gedeel, wat in die flanke verdwarsbalk en gesny is van blou en silwer; bo regs ’n Barberton- of rooi gousblom, goud gesaad, afwissel.

Helmteken: ’n Goue kroon wat onder versier is met swart ruite en wat verhoog word met vier strale wat met ewe veel Barberton-gousblomme, ook van goud.

Skildhouers: Twee koedoes in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Omnia labor vincit.

Wapen verduidelik:
Hierdie wapen is daarin uniek onder die wapens van die provinsies van Suid-Afrika dat dit hoofsaaklik uit geometriese vorms en kleure bestaan, met net een natuurlike wapenfiguur in die skildveld.

Ek het geen amptelike verduideliking vir die wapen nie, slegs die blasoen, maar dit wil voorkom asof die linker-skuinsbalk die afgang vanaf die Hoëveldplato tot in die Laeveld verteenwoordig, terwyl die horisontale flanke van die skild onderskeidelik die Hoëveld (links), die westelike deel van die provinsie, en die Laeveld (regs), aan die oostekant.

Die kleure blou en silwer simboliseer blykbaar die waters van Mpumalanga, veral die Olifants-, Klaserie-, Sand-, Sabie-, Krokodil- en Komati- (iNkomati)-rivier, en miskien selfs die Phongolo- (Pongola)-rivier, wat vir ’n kort ent die grens met KwaZulu-Natal vorm.

(Daar is nog ’n Krokodilrivier in Noord-Wes- en Limpopo-provinsie, ’n takrivier van die Limpopo, en daar is in Wes-Kaap twee Olifantsriviere.)

Behalwe die Phongolo, wat in KwaZulu-Natal ontstaan, het die res almal hulle bronne in Mpumalanga.

Hierdie riviere vloei ooswaarts; in die suide van Mpumalanga is daar ook die Vaalrivier, wat weswaarts vloei en wat kort onderkant Standerton die noordelike grens word van Vrystaat. Dit is daarna ook die suidergrens van Gauteng en van die provinsie Noord-Wes, voordat dit in Noord-Kaap invloei en kort wes van Kimberley met die Oranjerivier saamvloei.

Mpumalanga staan ook bekend vir ’n groot aantal liggame stil water, meestal damme – soos die Loskop, aan die Olifantsrivier, die Grootdraai, aan die Vaal, en die twee Doringpoortdamme te Witbank – maar ook ’n reeks mere, waaronder die Chrissie by die dorp Chrissiesmeer, suid van Carolina.

Opmerklik onder die vele roetes tussen Hoëveld and Laeveld is die roete van die heel eerste spoorweg wat die Zuid Afrikaansche Republiek binnegekom het (vanaf Lourenço Marques, tans Maputo), gebou deur die Nederlandsch-Zuid Afrikaansche Spoorwegmaatschappy (NZASM), wat Waterval-Onder met Waterval-Boven (tussen Nelspruit en Belfast) gekoppel het deur middel van ’n tandradspoortonnel wat in 1893 gebou is. Die tonnel is al baie jare gelede verbygegaan. Die spoorlyn (steeds die hoofroete tussen Gauteng and Maputo) gebruik tans ’n makliker gradient en het elektriese trekking, maar die tonnel self is ’n nasionale monument wat deur rugsak-stappers gebruik kan word.

Die goud van die boonste deel van die skild lyk of dit die subtropiese son voorstel wat Mpumalanga verwarm.

Dit verwys ook heel waarskynlik na die goud wat met panwassing in verskeie dele van die gebied wat tans die provinsie uitmaak (veral Barberton en Pelgrimsrus) verwin is tydens die goudstormlooptydperk wat die ontdekking in 1886 van goud op die Witwatersrand voorafgegaan het. Anders as die meeste van die stormlooptonele, het Barberton produktief gebly. Teen die 1970s het dit steeds sewe aktiewe goudmyne gehad (rifgoud sowel as spoelgoud), vyf asbesmyne en myne wat glas-sand, nikkel, arseen, kwiksilwer, magnesiet, barietes en germanium geproduseer het.

Die groen van die onderste gedeelte staan vir die vrugbare grond en natuurskoon van Mpumalanga.

Die blom is ’n bloeiwyse van die rooigousblom, Gerbera jamesonii, ook bekend as Barberton-gousblom, gerbera of Transvaalse gousblom, ’n lid van die familie Compositć wat in Mpumalanga en die Provinsie Limpopo endemies is. Die blomme is tot 90 mm in deursnee. Hulle natuurlike kleur is helder rooi, maar kultivars bestaan nou in ’n verskeidenheid kleure, asook in komposiete vorm. Dit is ook een van Mpumalanga se beste uitvoere (alhoewel dit bejammerenswaardig vir die provinsie weinige inkomste inbring), aangesien dit gewild is in tuine nie net dwarsoor Suid-Afrika nie, maar ook in Europa en die Amerikas. Die spesie vernoem ter ere van die 19de-eeuse amateur-botanis R Jameson, wat ’n eksemplaar vanaf Barberton na die Botaniese Tuin te Durban geneem het. Daarvandaan is dit na Kew, in Londen, gestuur, waar die spesie wetenskaplik beskryf is.

Die rooigousblom was die wapen (op ’n agtergrond van ligblou) van verskeie Noord-Transvaalse sportverenigings (in Pretoria gesetel), veral die Noord-Transvaalse Rugby-Unie. Dat Mpumalanga die simbool geëeien het is paslik, want hierdie spesie is op die Hoëveld nie heeltemal tuis nie, en moet in Gautengse tuine teen ryp beskerm word.

Die term “gesaad” beteken dat die eintlike bloeiwyse of blomkop in die genoemde kleur (goud of geel) is.

Die helmteken lyk soos ’n Oosterse kroon (soos dit in die heraldiek genoem word), wat gewoonlik ’n reeks driehoekige skerp punte is. In hierdie geval is afwisselende punte met ’n goue rooigousblom vervang.

Die swart ruite in die kroonbasis verteenwoordig klaarblyklik die bitumineuse steenkoolrykdom van Mpumalanga. Die steenkoolvelde van die Oostelike Hoëveld (wes-Mpumalanga) is onder die węreld se rykste. Twee ontsaglike kragstasies kry hulle brandstof uitsluitlik van aangrensende myne, en die olie-uit-steenkool-aanleg te Secunda is die grootste ter węreld. (Secunda word so genoem omdat dit die tweede wat deur die Sasol Korporasie gebou is. Sasol het ’n ouere maar steeds enorme chemiese aanleg te Sasolburg in Vrystaat.)

Die skildhouers is twee koedoebulle (Tragelaphus strepsiceros). Hierdie groot bokke is endemies in daardie gedeeltes van die provinsie waar wild steeds gevind word, veral die Nasionale Kruger-Wildtuin, die suidelike helfte waarvan in Mpumalanga val, en in die vele privaat wildreservate wat die Krugerpark aangrens. Tegnies is hierdie dier die groot koedoe. Dit staan omtrent 130 cm hoog teen die skouer en word in heuwelagtige boswęreld en oop boomwęreld in Suidelike en Oos-Afrika aangetref. Dit is duidelik langer as die klein koedoe (Tragelaphus imberbis, 100 cm hoog teen die skouer), wat in Oos-Afrika gevind word.

Noord-Kaap het ’n koedoe vir sy linker-skildhouer.

’n Bykomstige rede vir die gebruik van koedoes as skildhouers is moontlik dat ’n koedoekop in die wapen van die Nasionale Parkeraad verskyn.

Die leuse, Omnia labor vincit, vertaal as: “Arbeid sal alles oorkom.” Dit dui moontlik bloot op die belangrikheid van harde werk, of andersins dui dit miskien op die sosialistiese neigings van die provinsiale regering.

Die provinsie is huidiglik die enigste wat ’n eie vlag het; dit is ’n banier van die wapenskild.

Oor die provinsie:
Die provinsie het 27 April 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings die eerste maal in Suid-Afrika gehou is waarin kiesers van alle rasse stemreg uitgeoefen het. Dit is aanvanklik Oos-Transvaal genoem (dit is uitsluitlik geneem van die Provinsie Transvaal soos wat dit tussen 1910 en ’77 bestaan het). Aan die hoof is ’n Premier, verkies vanuit en deur die Provinsiale Wetgewer, en wie bygestaan word deur ’n Uitvoerende Raad wat uit lede van die Wetgewer bestaan.

Dit bestaan uit die distrikte wat die nie-onafhanklike tuislandstate van KwaNdebele (Suid-Ndebele-sprekend) en KaNgwane (Swazi-sprekend) en die sub-distrik Moretele 2 van Bophuthatswana, asook 23 landdrosdistrikte uit die eermalige Transvaal:

Piet Retief, Wakkerstroom, Amersfoort, Volksrust, Standerton, Balfour, Ermelo, Bethal, Hoëveld-Rif (Leslie), Delmas, Kriel, Witbank, Middelburg, Carolina, Waterval-Boven, Belfast, Groblersdal, Lydenburg, Pelgrimsrus, Nelspruit, Eerstehoek, Witrivier en Barberton.

Nelspruit is die hoofstad.

Die distrik Piet Retief is tans slegs drie-derdes van sy voormalige grootte, aangesien die suid-oostelike gedeelte in 1994 aan KwaZulu-Natal oorhandig is. As gevolg hiervan word Swaziland slegs aan sy noordelike en westelike kante deur Mpumalanga begrens, waar (Oos-)Transvaal voorheen ook aan die suidekant gegrens het.

Die suidelike helfte van die Krugerpark word gedeel tussen die distrikte Pelgrimsrus en Witrivier. Dit is ’n ironiese toevoeging, aangesien die Pelgrimsrus-gedeelte van die park afgesny is van die res van die distrik deur die Mhala-distrik van KaNgwane. Die Witrivier-distrik is soortgelyk gedeel, alhoewel in hierdie geval die twee gedeeltes aan mekaar aansluit oor ’n eng gaping noord van die distrik Nsikizi, wat ook deel was van KaNgwane.

Mpumalanga het ’n gemeenskaplike grens met Mosambiek wat langs die Lebomboberge vanaf die Swaziland-Mosambiek-grens rofweg noordwaarts loop. Die distrik Komatipoort (waar die nasionale roete N4 en die spoorlyn na Maputo die grens oorsteek) het die suidelike deel van hierdie grens; die res is die oostelike grens van die Krugerpark.

Tale en naam van die provinsie:
Die tale wat in die provinsie gepraat word is hoofsaaklik Afrikaans (onder blankes en as lingua franca in gemengde situasies), isiZulu, Suidelike isiNdebele, Setswana en isiSwazi (wat ook Seswati genoem word). Zulu is blykbaar die taal van ’n bevolkingselement wat die streek oorspronklik as kontrakarbeid uit die Colonie Natal (of sy opvolger, die Provinsie Natal) binnegekom het. IsiXhosa word ook gepraat deur ’n klein proporsie trekarbeiders. Engels is die taal van ’n klein (hoofsaaklik blanke) minderheid, maar geniet ook politieke guns weens die assosiasie van Afrikaans met apartheid.

Die provinsie het in 1995 sy nuwe naam met trots aangekondig. Dit is in isiNguni (die betekenis is dieselfde in isiZulu, isiSwazi, isiNdebele en selfs isiXhosa). Mpuma beteken “ooste” (soos in die Xhosa-benaming vir Oos-Kaap), en ilanga is “son”; die kombinasie beteken “waar die son opkom”.

Daar is twee ironieë aan die naam gekoppel: ten eerste is Mpumalanga nie die mees oostelike provinsie in die land nie – groot gedeeltes van KwaZulu-Natal lę verder oos – en tweedens het die naam reeds aan ’n dorpsgebied (en poskantoor) in KwaZulu-Natal behoort. Dit lę naby Pietermaritzburg.

Die vreemdste uitkomste van die provinsie se naamkeuse is miskien die naam wat deur sy professionele rugbyspan, die Mpumalanga Pumas, aangeneem is. Die span neem duidelik sy naam van die uitspraak “’Pumalanga”, maar die dier wat so geëer word is ’n kat-spesie wat uitsluitlik in die Amerikas gevind word (die puma, bergleeu of cougar, Puma concolor), en is dus ’n bejammerenswaardig onpaslike keuse vir ’n span wat in Afrika speel.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Beeld met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege-provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1