Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Noord-Kaap

Northern Cape Province

Nasionale Kalahari-Gemsbokpark / naam


Provinsie Noord-Kaap

Wapen 25 Augustus 1997 deur die Provinsiale Wetgewer goedgekeur, nadat dit ontwerp is deur die provinsie se Direktoraat Kunste en Kultuur. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Gesny van rooi en blou, ’n ruit van silwer oor alles heen tussen, bo, twee gousblomme van goud. In die skildbasis twee gegolfde dwarsbalke van die een in die ander; vanuit die middelste golf ’n doringboom in sy natuurlike kleure.

Bokant die skild ’n goue kroon, die ring waarvan versier word met ’n blou Boesman-kralekrans waarop ruite van rooi, wit omlyn; die kroon versier met afwisselende koeke van rooi, elkeen belaai met ’n goue ring, en goue rondinge wat bo plat is.

Skildhouers, grond en leuse: Regs ’n gemsbok (Oryx gazella gazella), links ’n koedoe (Tragelaphus strepsiceros), altwee in hulle natuurlike kleure en staande op ’n grond wat die klipbodem kenmerkend van die Nasionale Park Augrabies voorstaan. Onder in die grond ’n lint met die inskrywing: sa k//?a: !aisi ?uisi.

Wapen verduidelik:
Die ruitvorm wat die skildveld domineer stel die provinsie se minerale rykdom en ekonomiese welvaart voor. Terwyl dit minerale insluit soos die ystererts van Sishen, die mangaan van Postmasburg en die koper van Namakwaland – doel van Kaapkolonie se eerste grootskaalse soeke na minerale rykdom, wat 1852 begin het – en Copperton (altwee is tans grotendeels uitgeput), is die ruit spesifiek ’n verwysing na die spoeldiamante van die Oranje- en Vaalrivier, vondse waarvan in 1866 en ’69 die groot Suid-Afrikaanse diamant-stormloop ontketen het, en na die kimberlietpype van Kimberley, wat die eerste maal in 1871 benut is.

Toe die eerste diamant gevind is, was die plek wat tans die stad Kimberley is (hoofstad van Noord-Kaap) ’n plaas met die naam Du Toits Pan, en die hoofpyp ’n koppie wat deur die eerste delwers aldaar Colesberg Koppie genoem is; hulle was van Colesberg afkomstig. Die stormloop het uitgedraai op die uitgrawe van die koppie (aanvanklik in klein kleims) tot ’n diepte sonder presedent, om die uitgrawing te skep wat tans die Big Hole genoem word (amptelik die Oop Myn te Kimberley).

’n Ruit soos die een in hierdie wapen word in die wapen van die Stad Kimberley gevind.

Die gousblomme word nie volgens spesie geďdentifiseer nie, en daar is eintlik twee verskillende genera waaraan hulle kan behoort. Die algemene Afrikaanse naam Namakwalandse gousblom behoort aan Arctotis fastuosa, terwyl die Engelse ekwivalent, Namaqualand daisy, aan Dimorphotheca sinuata gegee word. Altwee is kenmerkend van die flora van Namakwaland, die westelikste deel van die provinsie, wat halfwoestyn is maar wat, ná goeie winterreën, blomme voortbring wat soos ’n tapyt oor die land strek. Die gebied waarin hierdie blomme voorkom strek suidwaarts tot in die Provinsie Wes-Kaap. Altwee genera is tipies onder die wydverspreide groepering blomtipes wat hierin voorkom. Die spesie wat egter die meeste soos die blomme op die skild lyk, is A breviscapa, wat blomblare het wat geheel goudgeel is, terwyl altwee A fastuosa en D sinuata blare het wat aan swart merke aan die blaarbasis gekenmerk word.

Namakwaland word so genoem want dit is die (suidelike deel van die) tradisionele tuiste van die Nama- of Namakwa-Khoikhoi.[1] (Die agtervoegsel “-kwa” beteken “volk”.) Die Nama, wat die mees westelike was van die Khoikhoi-volkere langs die Oranjerivier, vind hulle ook in suidelike Namibia in ’n gebied wat as Namaland[2] bekend staan. Alhoewel veel van die Namakwa hul eie taal verloor het en tans Afrikaans praat, is die Nama-taal die laaste oorlewende dialek van Khoikhoi.

Die golwende strepe – wit op die blou dele van die skild en blou op die silwer of wit ruit – stel die twee groot riviere voor, die Oranje (wat aan die Khoikhoi as Gariep bekend was) en die Vaal, wat wes van Kimberley saamvloei. Hulle gekombineerde vloei is die dominante geografiese aspek van die provinsie, veral te Prieskapoort, waar die water ’n belangrike rotslaag deursny om die plato te ontsnap wat die oostelike helfte van Suid-Afrika se binneland kenmerk, asook te Augrabies, naby die Namibiese grens, waar ’n tweede groot rotslaag deursny word. Vanaf ’n punt naby Augrabies tot by die Atlantiese Oseaan, vorm die rivier die grens met Namibia. In die land se geologiese verlede kon die waters van die bo-Oranje en die Vaal die plato nie ontsnap nie, en het eerder suidwaarts gevloei na ’n uitgestrekte moeras in wat tans een van die droogste dele van Noord-Kaap is. Hierdie gebied het op een stadium glo baie soos die Okavango-delta van Botswana gelyk.

Die doringboom is nie volgens spesie geďdentifiseer nie, maar dit sou klaarblyklik aan die Acacia-genus behoort. Die twee spesies wat tipies in Noord-Kaap gevind word is die karoodoring, Acacia karroo, en die kameeldoring, A erioloba, altwee waarvan aansienlik hoog kan groei.

Die kroon bestaan uit ’n krale-hoofband en ’n versiering wat verdere kraalwerk-motiewe insluit. Die hoofband is ’n kenmerkende versiering van die jagter-vergaarder Boesman[3]-volk, die oer-inwoners van Noord-Kaap, wat na verwant is aan die beeshoudende Khoikhoi.

Die regter skildhouer is ’n gemsbok (Oryx gazella gazella), wat die linker skildhouer was van nie net die Kaapkolonie en Kaapprovinsie nie, maar ook die Unie van Suid-Afrika.

Die linker skildhouer is die groot koedoe (gewoonlik net koedoe genoem), wat ongeveer 130 cm hoog teen die skouer staan en wat in heuwelrige beboste gebied in Suider- en Oos-Afrika gevind word. Dit staan opmerklik hoër as die klein koedoe (Tragelaphus imberbis, 100 cm hoog teen die skouer, wat in Oos-Afrika inheems is.

Behalwe die feit dat koedoe deel is van die wild van die provinsie, vind ’n mens ’n koedoekop in die wapen van die Nasionale Parkeraad, wat beide die Nasionale Augrabiespark en die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park (kyk onder). Alhoewel die provinsie nie vir die insluit van ’n koedoe ’n rede gee nie, het Mpumalanga (wat die helfte van die Nasionale Krugerpark insluit) twee koedoes as skildhouers.

Die Nasionale Augrabies-Park is nie net ’n plek van groot natuurlike skoonheid nie, maar word in die tradisionele kultuur van die Boesmans en Khoikhoi as van groot geestelike betekenis. Dit lę in ’n baie dorre deel van die provinsie, en deur die meeste van die jaar is die Oranje- of Garieprivier en sy watervalle die enigste water wat daar gevind word.

Die leuse, sa k//?a: !aisi ?uisi, is in die /’Auni-taal van ’n klan Boesmans wat op Rietfontein in die Kalahari woon en is deur mev Elsie Vaalbooi voorsien. In die tyd toe die leuse in gebruik geneem is, was mev Vaalbooi 97 jaar oud en was sy die laaste /’Auni-spreker wat nog geleef het. Ek het geen inligting om aan te dui of sy steeds lewe. Die leuse vertaal: “Streef om ’n beter lewe.” Die uitspraak daarvan is moeilik wat vir enigiemand wat nie met die kliek-tale van Suider-Afrika vertroud is nie. Daar is ’n probleem in die lees daarvan, want my enigste bron is die illustrasie van die wapen, wat ’n vae simbool toon wat soos ’n vraagteken lyk, maar wat nie in die Encyclopćdia Britannica aangedui word nie. (Hierdie werk is my bron vir ’n uitspraaktabel.) Die ander letters is // en !. Die eerste (wat in die Nguni-tale en Suid-Sotho met X gespel word) is ’n kliek wat met die tong teen die kant van die mond gemaak word (bo die tande), terwyl die klank ! (amper soos die klank wat in Nguni en Suid-Sotho as Q gespel word) gemaak word met die tong bo teen die verhemelte. Die naam /’Auni bevat ’n verdere kliekgeluid (/, wat in Nguni en Suid-Sotho C is), en word gemaak met die tong teen die voortande. Sy naaste ekwivalent in Westerse gebruik is die “tsk, tsk”-geluid wat deur sommige Engelssprekendes gemaak word.

Oor die provinsie:
Die Provinsie Noord-Kaap – een van vier nuwe provinsies wat uit die Kaapprovinsie gesny is – het 27 April 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings vir die eerste maal in Suid-Afrika gehou is waar kiesers van alle rasse deelgeneem het. Aan die hoof is ’n Premier, verkies deur en uit die Provinsiale Wetgewer, wie gesteun word deur ’n Uitvoerende Raad, die lede waarvan lede moet wees van die Wetgewer.

Noord-Kaap is tans die grootste provinsie, wat oppervlakte betref, in Suid-Afrika, maar die kleinste wat bevolking betref. Dit sluit in die kolonie Griqualand West (1874-1880, wat as gevolg van die diamant-stormloop geannekseer is) en ongeveer die suidelike twee-derdes van die kolonie British Bechuanaland (wat in 1895 tot die Kaapkolonie geannekseer is; kyk Provinsie Noord-Wes vir nadere inligting), asook Namakwaland, Boesmanland en dele van die Groot Karoo.

Die provinsie bestaan uit 26 landdrosdistrikte. Waar die distriksnaam anders is as dié van die hoofdorp, word die dorp tussen hakies genoem. Die distrikte is:

Barkly-Wes, Britstown, Calvinia, Carnarvon, Colesberg, De Aar, Fraserburg, Gordonia (Upington), Hanover, Hartswater, Hay (Griekwastad), Herbert (Douglas), Hopetown, Kenhardt, Kimberley, Kuruman, Namakwaland (Springbok), Noupoort, Philipstown, Postmasburg, Prieska, Richmond, Sutherland, Victoria-Wes, Warrenton en Williston.

Die distrik Gordonia sluit ook die Nasionale Kalahari-Gemsbokpark in, wat in 2000 deel geword het van die onsetlik groot Kgalakgadi Transfrontier Park, waarin die heinings langs die Botswana- en Namibiese grense verwyder is om die vrye oorgang van wild toe te laat.

Die grense met Namibia is ’n reguit lyn noordwaarts vanaf die Oranjerivier op die breedtegraad 20° Oos en, van hierdie lyn weswaarts, die noord-oewer van die Oranjerivier. Die meeste riviergrense in Suid-Afrika lę in die rivier se middelloop, maar hierdie noordoewer-grens is in 1848 neergelę toe sir Harry Smith, Goewerneur van die Kaap, die rivier die noordgrens van die kolonie gemaak het; hierdie grens is behoue toe Duitsland vir Suidwes-Afrika geannekseer het.

Toe Namibia in 1990 onafhanklik geword het, het daardie land se regering Walvisbaai en die verskuiwing van die riviergrens gevra.

Walvisbaai is 1 Maart 1994 oorhandig (en het dus nie deel van die Provinsie Noord-Kaap gevorm nie), maar die saak van die riviergrens het egter (ten spyte van verskeie beloftes) tot in 2001 gesloer, toe die Suid-Afrikaanse regering aangekondig het dat dit sal bly by die beleid van die Organisasie vir Afrika-Eenheid, dat koloniale grense onveranderd moet bly.

Voorstelle is gemaak dat die hoofstad geskuif word vanaf Kimberley – aan die oos-einde van die provinsie en aangrensend aan Vrystaat – na Upington, min of meer in die middel van die provinsie. Maar alhoewel Kimberley ver lę van sy watervoorraad en Upington langs die Oranjerivier is, is dit besluit dat Kimberley, die grootste nedersetting in die provinsie, die hoofstad sou bly.

Naam van die provinsie:
Aangesien die Oranje- of Garieprivier die dominante aspek is van die oppervlakte van Noord-Kaap, is dit voorgestel dat die provinsie sy naam van die rivier sou neem. Dit het egter nie in die Wetgewer ondersteuning gekry nie, miskien omdat die naam Gariep die Tswana- en ander Bantu-sprekende lede daaraan herinner het dat hulle relatief onlangs die gebied binne gekom het. Dit is besluit om die naam Noord-Kaap te behou, alhoewel dit ’n redelike onbeduidende naam is wat ’n kompasrigting saamvoeg met ’n verwysing na ’n kaap aan die suid-westelike hoek van die Provinsie Wes-Kaap.



[1] Die term Khoikhoi (wat ook Khoekhoe of Kwekwena gespel word) beteken “mense van mense”. Dit word gebruik om die afstammelinge aan te dui van Tsju-Khwe Boesmans (hierdie groep kan steed gevind word langs die Botswana/Zimbabwe-grens naby Hwange en weswaarts langs Botswana se noordgrens) wat beeste begin aanhou het, en suidwaarts getrek het, eers na die Oranje- of Garieprivier en daarna na die kusgebiede van Oos- en Wes-Kaap.

[2] In die tyd van die Unie van Suid-Afrika is Namaland dikwels Groot Namakwaland genoem, en die gebied suid van die Oranjerivier Klein Namakwaland. Hierdie benamings het intussen weggeval.

[3] Daar is ’n tendens om na Boesmans as San te verwys, aangesien “Boesman” (in Nederlands, “Bosjesmannen”) oorspronklik ’n skelterm was wat die rowwe skuilings wat deur hierdie jagters uit die Steentydperk gebruik is, beskryf het. “San” is egter ook ’n skelterm, wat deur die Khoikhoi gebruik is om die jagter-vergaarders as “amper diere” te kategoriseer. ’n Konferensie van oorblywende Boesman/San-bendes in Namibia in 1995 het ooreengekom om die term “Bushman” vir hulle etniese groep te gebruik.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

    1