Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Limpopo

Limpopo Province

Provinsie Limpopo

Die Provinsie Limpopo, die noordelikste van die nege nuwe provinsies, het 23 Maart 1998 sy wapen aanvaar, toe dit as Noordelike Provinsie bekend gestaan het. Die blasoen lui (volgens my vertaling):

Wapen: In goud, ’n kremetartboom en ’n skildhoof met golwende skeidslyn van groen; bo die skild ’n kroonring van goud verhoog met agt broodboomblare gestut met stelle buffelhorings van silwer.

Skildhouers: Twee buffels in hulle natuurlike kleure.

Spesiale grond: ’n Golwende grond, groen bo en swart onder, die onderste rand van goud.

Leuse: Peace, Unity and Prosperity.

Wapen verduidelik:
Die boom is ’n eksemplaar van Adansonia digitata, wat algemeen in Afrika benoorde die Limpoporivier voorkom maar wat in Suid-Afrika slegs in Limpopo Provinsie gevind word. Dit behoort aan ’n familie wat in die Amerikas, Australië en Madagaskar gevind word, maar hierdie spesie is uniek aan en binne die vasteland van Afrika en kom wydverspreid voor. Die beste omgewing vir die kremetartboom (wat in Engels baobab genoem word) is relatief laagliggende warm, droë boomwęreld.

Die Voortrekkers het volgens hulle eie berigte kremetart van die vrugvleis gemaak, maar dit wil voorkom asof dit in werklikheid sitroensuur is wat só voortgebring word.

Everyone’s Guide to the Trees of South Africa deur Keith, Paul en Meg Coates Palgrave vertel dit van die bome (my vertaling):

“Hulle is grotesk vet met ’n hoogte van tussen 10 en 20 m, en het ’n massiewe stam met ’n omtrek van gewoonlik ongeveer 10 m. Die hoofstam neig om skielik spits toe te loop en dan hoog bo die grond te vertak.

“Die uitstrekkende takke is relatief kort en dun en, wanneer hulle blaarloos is, lyk baie soos wortels. Dit is die oorsprong van ’n verstandhouding onder sekere stamme dat God die kremetartboom onderstebo geplant het.”

Die blare op volwasse bome is saamgesteld en handvormig [Engels: digitate] (daarvandaan die spesifieke naam). Jong bome het eenvoudige blare, wat blykbaar die oorsprong is van die verstandhouding in sommige stamme dat daar glad nie jong kremetartbome voorkom nie.

Voort met Coates Palgrave:

“Die wasagtige wit blomme is ongeveer 15 cm in deursnee. Hulle verkleur na bruin as hulle gepluk word en het ’n onaangename reuk.

“Die eiervormige vrug is tot 26 cm lank, en het ’n harde, houtagtige dop wat met groen-grys fluweelagtige hare gedek is. Die sade sit vas in ’n witterige, stowwerige vleis wat wynsteensuur, natrium bitartraat en vitamine C bevat. Die sade is verfrissend as dit gesuig word. Dit kan ook in water geweek word om ’n smaaklike drankie te maak, en dit is gebruik om koorse en tekort aan vitamine C te behandel.

“Onlangse koolstof-datering dui daarop dat sekere baie groot eksemplare tot oor die 3 000 jaar oud kan wees. Die lewenskrag van hierdie bome is merkwaardig, en selfs wanneer die binnekant van die hoofstam uitgebrand is, floreer hulle steeds. Die ruim uitgeholde stamme van kremetartbome het al gedien as huise, gevangenisse, skure en plekke van skuiling van wilde diere. Wanneer hierdie bome egter doodgaan, verval hulle in hope veselagtige sagte massa.”

Die Encyclopćdia Britannica voeg by dat die stamme soms vir die stoor van water gebruik word, en dat ’n vesel van die bas soms vir tou en weefsel gebruik word. Die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika noem dat die boom blaarwisselend is, en dus in die winter blaarloos is (wat in tropiese Afrika buitengewoon is).

Die skeidslyn vir die skildhoof suggereer die loop van die Limpoporivier wat, tesame met sy takrivier die Marico, die noordelike (aan Zimbabwe aangrensend) en noordwestelike (Botswana) grens van die provinsie – meer as ’n derde van die provinsie se grense. Dit was hierdie rivier wat Rudyard Kipling “the great, grey-green, greasy Limpopo River” in sy allegoriese verhaal The Elephant’s Child genoem het.[1]

Die helmteken bestaan uit broodboomblare – waarskynlik die Modjadji-broodboom, Encephelartos transvenosus. Broodbome is ’n oeroue plantorde (Zamiaceć) wat tussen 200 en 300 miljoen jaar gelede gefloreer het. Die meeste van die oorblywende spesies is bedreig. Broodbome word in verskeie węrelddele gevind, maar slegs die genus Encephelartos kom in Suid-Afrika voor.

Die Modjadji-broodboom is ’n hoë spesie wat tot 13 m in lengte kan bereik. Hulle vorm natuurlike woude op die berge bokant die setel van die Reënkoningin, Modjadji, in die distrik Bolobedu. Hierdie bome is streng beskerm deur die geslagte Reënkoninginne, die oorerflike heersers van die Sotho-sprekende Lobedu-stam. Die spesie kom ook in die Soutpansberge voor.

Die broodboomblare word afgewissel met klein horinkies van die Kaapse of Afrikaanse buffel, Syncerus caffer; bulle van hierdie beesagtige spesie dien ook as skildhouers. Die dier – wat steeds in dele van die provinsie wild gevind word, en wat vroeër so ver suid as Wes-Kaapland voorgekom het – word as een van die Groot Vyf onder die wild van Afrika getel. Dit is nog nooit mak gemaak nie, en word beskou as een van die diere wat vir die mens die gevaarlikste is as dit beseer is. Bulle kan tot 150 cm hoog teen die skouer staan en tot ongeveer 900 kg weeg.

Die generiese naam Bubalus (wat gewoonlik behou word vir die Indiese buffel, Bubalus bubalis, behou word – hierdie spesie staan ook bekend as waterbuffel of carabao) word soms gebruik nie net vir die Kaapse buffel nie, maar ook vir die anoa en die tamarau, klein woudbuffels van die genus Anoa wat gevind word op die Indonesiese eiland Sulawesi (anoa), en die Filippynse eiland Mindoro (tamarau).

Dit lyk of die grond die bergagtige terrein van ’n groot deel van die provinsie voorstel.

Die leuse is in Engels, waarskynlik omdat hierdie taal as polities neutraal beskou word.

Oor die provinsie:
Die provinsie het 27 April 1994 formeel tot stand gekom. Op daardie datum is verkiesings die eerste maal in Suid-Afrika gehou waarvoor kiesers van alle rasse stemgeregtig was. Aanvanklik is dit Noord-Transvaal genoem (aangesien dit uitsluitlik geneem is uit die Provinsie Transvaal soos dit tussen 1910 en ’79 bestaan het), maar die Wetgewer het redelik gou besluit om dit Noordelike Provinsie te noem. 12 Februarie 2002 is ’n nuwe naam, Provinsie Limpopo, aangekondig, onderworpe aan die goedkeuring van die sentrale regering.

Aan die hoof is ’n Premier, verkies uit en deur die Provinsiale Wetgewer, wat gesteun word deur ’n Uitvoerende Raad bestaande uit lede van die Wetgewer.

Pietersburg, wat in 1901 kortstondig hoofstad was van die Zuid Afrikaansche Republiek ná die onttrekking van die republikeinse regering eerstens vanaf Pretoria en daarna vanaf Lydenburg, is tot hoofstad verklaar. Ook in Februarie 2002 is Pietersburg tot Polokwane hernoem.

Die setel van die Wetgewer is egter Lebowakgomo, wat hoofstad was van Lebowa.

Die provinsie bestaan uit die distrikte van die “onafhanklike” tuislandstaat Venda, sowel as die nie-onafhanklike tuislandstate Lebowa (Noord-Sotho-sprekend) en Gazankulu (Tsonga-sprekend). Met uitsondering van Venda was die distrikte waaruit die provinsie saamgestel is:

Thabazimbi, Warmbad, Waterberg (hoofdorp Nylstroom), Ellisras, Potgietersrus, Mokerong, Sheshego, Bochum, Nebo, Thabamoopo, Pietersburg, Soutpansberg (hoofdorp Louis Trichardt), Messina, Sekhukhuneland, Naphuno, Letaba, Phalaborwa, Namakgale, Bolobedu, Sekgosese, Giyani en Malamulelele.

Addisionele nuwe plekname wat in Februarie 2002 angekondig is, is Bela-Bela (Warmbad), Modimolle (Nylstroom), Mokopane (Potgietersrus) en Musina (Messina). ’n Paar maande later is die naam Makado (vir Louis Trichardt) ook in gebruik geneem is.

Die provinsie sluit ook die noordelike helfte van die Nasionale Krugerwildtuin in, wat gedeel word tussen die distrik Phalaborwa in die suide en Soutpansberg in die noorde. Hierdie toewysing is ironies, aangesien hierdie gedeelte van die distrik Soutpansberg van die res van Soutpansberg geskei is deur distrikte wat vroeër deel was van Venda, Lebowa en Gazankulu.

Die tale wat in die provinsie gepraat word is hoofsaaklik Afrikaans (onder blankes en as lingua franca in gemengde situasies), tshiVenda, Sesotho sa Lebowa (of Noord-Sotho) en Noord-Ndebele. Engels is die taal van ’n klein minderheid (hoofsaaklik blank), maar word ook polities gunstig beskou weens die verband tussen Afrikaans en apartheid.

Noord-Sotho word dikwels Sepedi genoem, alhoewel die Pedi-volk en hul dialekte nie meer is as die grootste groepering onder die Sotho-sprekendes van die provinsie is.

XiTsonga, ook bekend as Shangaan, word ook in ’n veel groter gebied ten ooste van die Krugerpark gepraat, in Mosambiek. Dit was die taal van die Gaza-koninkryk, waarvan een van die vroeë konings Shoshangane was. Die Gaza-staat was uniek onder dié wat tydens die Mfecane ontstaan het, daarin dat dit gestig is deur ’n invallende groep uit Suid-Afrika (abeNguni uit dieselfde streek as waar die Zulu-koninkryk gefloreer het), maar het die taal van die verowerde volk behou. Die Tsonga-taal was nietemin deur isiNguni beďnvloed.



[1] Kipling se The Elephant’s Child was deel van die inspirasie vir ’n ondersoek na ’n Suid-Afrikaanse pleknaam – soos dit uitdraai was dit nie in Limpopo nie maar in NoordWes – wat op hierdie bladsy vertel word.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Beeld met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1