Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Noord-Wes

North-West Province

British Bechuanaland


Provinsie Noord-Wes

Wapen vir die Provinsie Noord-Wes, 7 Mei 1999 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die blasoen lui (volgens my vertaling):

Wapen: Skuins gevierendeel in rooi en blou, ’n skuinskruis kwadraat van groen, silwer omlyn, in die middel belaai met ’n voorstelling van ’n waterkalbas binne ’n riem-mandjie, in goud; bo die skild ’n ringkroon, silwer buite, die middellyn van goud, waarop ’n paar silwer horings rus en, op die horings, ’n sonneblom in sy natuurlike kleure.

Skildhouers: Twee swartwitpensbokke in hulle natuurlike kleure, met horings en pote van goud.

Leuse: Kagiso le Tswelelopele.

Wapen verduidelik:
Hierdie wapen is die enigste devies onder die nege provinsies wat duidelik gebaseer is op die kleure en (in ’n sekere mate) vorms van die nasionale vlag wat 27 April 1994 in gebruik geneem is. Dit is miskien omdat die provinsie ’n nuwe skepping is onder ’n régime wat onwillig is om te erken dat dit basies gefundeer is op die “onafhanklike” tuislandstaat die Republiek Bophuthatswana.

Die veld is skuins in kwartiere gedeel, bo en onder rooi en blou links en regs. Oor die veld is ’n groen skuinskruis, in silwer of wit omlyn. Op die skuinskruis het ’n ruit in die middel, van dieselfde kleur.

Op die ruit is ’n kalbas wat in ’n riem-mandjie sit. Dit is as goud geblasoeneer, maar is in werklikheid in natuurlike kleure geteken. Dit verteenwoordig die Tswana-kultuur van die inheemse volk wie se stamgrond die basis gevorm het van beide Bophuthatswana en Noord-Wes.

In die helmteken word die ringkroon as silwer geblasoeneer, maar is in werklikheid in ivoor-skakeringe geteken. Die binnering is goud gekleur, soos dit in die blasoen genoem word. Die horings wat op die ring rus word nie geďdentifiseer is nie, maar lyk soos dié van die Kaapse buffel (Syncerus caffer), alhoewel sulke horings dikwels donker gekleur is, terwyl die helmteken-horings wit na liggrys is.

Die sonneblom (Helianthus anuus) in die helmteken verteenwoordig die landbou in die streek, waar sonneblomme gekweek word vir hul voedsame sade en die olie wat die sade voortbring. Sonneblomolie word vir kook gebruik, sowel as in seep en verwe, en as smeermiddel. Die sade word glo gebruik om brood en ’n koffie-agtige drank te maak, alhoewel dit wil voorkom of dit ’n gebruik is wat in Suid-Afrika minder bekend is. Die sonneblom is nie uit Afrika afkomstig nie, maar uit die Amerikas. Dit word egter algemeen in die somerreënvalstreek gekweek. Die blom is blykbaar ook simbolies van die helder sonlig wat nodig is om ’n sonneblom-oes voort te bring, asook vrolikheid en vrugbaarheid.

Die skildhouers is twee swartwitpense (Hippotragus niger). Hierdie spesie leef in troppe in boswęreld in Suider-Afrika en is ’n bekende deel van die wild van ten minste die oostelike helfte van Noord-Wes (moet nie deur die verspreidingskaart op die skakelbladsy mislei word nie). Dit staan tot 137 cm hoog aan die skouer. Die diere wat getoon word is manlik, en kan aan hulle swart kleuring uitgeken word; wyfies is meer rooibruin. Die swartwitpens is naby verwant aan die bastergemsbok of baster-eland (H equinus).

Die leuse vertaal as “Vrede en welvaart.”

Oor die provinsie:
Die Provinsie Noord-Wes het 27 April 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings die eerste maal in Suid-Afrika gehou is waar volwassenes van alle rasse stemgeregtig was. Aan die hoof is ’n Premier, verkies uit en deur die Provinsiale Wetgewer. Hy (of sy) word gesteun deur ’n Uitvoerende Raad, die lede waarvan lede van die Wetgewer moet wees.

Noord-Wes het die tweelingdorpe van Mafikeng (wat 1885 as Mafeking, hoofstad van British Bechuanaland en die Protektoraat, gestig is, en beroemd is vir sy weerstand teen ’n beleg tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog) en Mmabatho (wat as hoofstad vir Bophuthatswana gestig is) geërf. Die twee is onder die naam Mafikeng saamgevoeg, en is nou gesamentlik die provinsie se hoofstad.

Dit bestaan uit twee elemente:

1. Die distrikte wat die “onafhanklike” tuislandstaat Bophuthatswana uitgemaak het, behalwe vir die distrik Thaba Nchu (wat aan Vrystaat teruggegee is) en die sub-distrik Moretele 2 (wat deel geword het van Mpumalanga).

2. Daar bygevoeg is (van die Kaapprovinsie) die distrik Vryburg (wat tussen 1882 en ’85 die Republiek Stellaland was) en (van die Provinsie Transvaal) die distrikte (voorheen bekend as Wes-Transvaal):

Christiana, Bloemhof, Schweizer-Reneke, Wolmaransstad, Delareyville, Klerksdorp, Lichtenburg, Coligny, Potchefstroom, Ventersdorp, Koster, Marico, Swartruggens, Rustenburg en Brits.

Die provinsie word aan die noordekant deur Botswana in die weste en in die ooste deur die Provinsie Limpopo begrens; aan die oostekant deur Gauteng; en aan die suidekant deur Vrystaat in die ooste en Noord-Kaap in die weste.

Die provinsie het ’n geskiedkundige verbintenis met die kolonie British Bechuanaland, alhoewel dit slegs omtrent ’n derde van daardie kolonie se gebied dek, plus verdere gebied ten ooste wat ietwat groter is.

British Bechuanaland het tot stand gekom omdat die Tswana-volk (of Bechuana/Betsjoeana, soos hulle in die koloniale tyd genoem is) onder druk gekom het van Boer vrybuiters wat, nadat hulle deur sekere Tswana-kapteine met grond beloon is vir militęre dienste, twee Boererepublieke opgestel het ten weste van die lyn wat onder die Londense Konvensie neergelę is as die wesgrens van die Zuid Afrikaansche Republiek.

Die republieke – Stellaland (hoofstad Vryburg) en Goshen (met administrasie op die gehuggie Rooigrond gesetel, net suid van die hedendaagse Mafikeng) – het die veiligheid van die streek bedreig. ’n Britse mag onder sir Charles Warren is 1884 op die been gebring om die republieke te onderdruk, en Vryburg is Februarie ’85 ingeneem. Die inwoners van Goshen kon egter nie gevind word nie – dit is heelwat later vasgestel dat die manlike Boere hulle families in die sorg van bloedfamilie in die ZAR gelos het, en hulle dienste as transportryers (met ossewaens) aan die Britse mag aangebied het! Hulle verdienste het hulle in staat gestel om in Wes-Transvaal plase te koop.

In November ’85 het Warren die gebied tussen die Oranjerivier in die suide, die Molopo- en Nossobrivier in die noorde (beide hierdie rivierlope is gewoonlik droog), Duits-Suidwes-Afrika in die weste, en Griekwaland-Wes en die ZAR aan die oostekant as British Bechuanaland geannekseer. Die oorspronklike proklamasie het in werklikheid die Auobrivier as noord-westelike grens aangegee, en dit is etlike dae later gewysig tot die Nossob. Die skuinste van die Nossob bend is die kenmerkende buitelyn van die Nasionale Kalahari-Gemsbokpark, wat tans teel is van die Provinsie Noord-Kaap.

Die kolonie is in 1895 tot die Kaapkolonie geannekseer.

Met die verlof van die Tswana-kapteins ten noorde van die Molopo het sir Charles ook ’n Britse protektoraat daar geproklameer, onder die naam Bechuanaland Protectorate (Betsjoeanaland Protektoraat). Dit was hierdie staat wat in 1966 as die Republiek Botswana onafhanklik geword het.

Die tale wat in die provinsie gepraat word is hoofsaaklik Afrikaans (meestal onder blankes, maar ook as voertaal in gemengde omstandighede) en Setswana. Engels speel egter ’n groter rol as in die verlede, weens Bophuthatswana se besluit om Afrikaans in die skole en die administrasie uit te sluit en Engels te verkies. Die wil om Engels te gebruik kom ook voor in die huidige regering van Noord-Wes. Daar is ook ’n Engelssprekende minderheid, veral in die dorpe.

Van al die nuwe provinsies is dit, etnies gesproke, die mees gepas wat sy grense betref, aangesien dit die meerderheid stamtrustlande insluit wat deur Tswana-sprekers bewoon word. Dit het ook die langste grens in gemeen met Botswana (hoofsaaklik langs die Moloporivier), wat gepas is aangesien die Tswana-volk min of meer eweredig gedeel is tussen Noord-Wes en Botswana.

Daar is ook ’n Tswana-sprekende gebied in Namibia wat, onder apartheid, selfregerend was onder die naam Tswanaland.

Dit is ’n jammerte dat die provinsie ’n naam het wat niks meer as ’n windrigting reflekteer nie, veral omdat dit die tuiste is van die suidelike helfte van die Tswana-volk.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1