Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Oos-Kaap

iPhondo leMpuma-Koloni

Eastern Cape Province

name / tale

Provinsie Oos-Kaap

Hierdie wapen is 25 Maart 1996 deur die Staatsheraldikus geregistreer. Die blasoen lees (volgens my vertaling):

Wapen: In silwer, aan albei kante rooi uitgesny; in die skildbasis, twee golwende dwarsbalke van blou, waaruit ’n groen boom-aalwyn met drie rooi raseme spruit.

Helmteken: Bokant die skild ’n kopring van luiperdvel in sy natuurlike kleur, waaruit ’n halwe son van goud rys.

Skildhouers: Twee eland in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Development through Unity.

Wapen verduidelik:
Die sentrale wapenfiguur is ’n aalwyn; die spesie word nie genoem nie, maar dit is waarskynlik Aloe ferox, ’n lang en opvallende aalwynsoort, of miskien Aloe arborescens, wat tot drie meter hoog kan groei. A ferox kom voor binne ’n grotendeels kustelike streek wat strek vanuit die Wes-Kaap tot in KwaZulu-Natal en aan die binneland sover as Lesotho. Die bloeiwyse word rooi aangetoon; dit is ’n natuurlike kleur, maar die blomme wissel in werklikheid van kleur tussen geel en rooi. Dit is egter ’n praktyk in die heraldiek om blomkleure te versterk, of selfs om purpur blomme na rooi te verander omdat rooi die sterkste is van die tinkture.

In die amptelike beskrywing is daar verwysing na die genesende eienskappe van aalwyne, alhoewel die plant wat vir medisinale doeleindes gebruik word in werklikheid Aloe vera is; hierdie spesie groei egter nie so skouspelagtig soos eersgenoemde nie. Die plant simboliseer uithouvermoë en sterkte.

Aalwyne verskyn ook in die helmteken van die wapen van Transkei, en ook in die wapens van verskeie van die sportverenigings van die Grens (in Oos-Londen gebaseer). ’n Aalwyn het in die wapen van Walmer verskyn.

Die drie blomraseme uit ’n enkele stam simboliseer glo eenheid onder die verskeie bevolkingsgroepe in die provinsie. Dit is miskien opsetlik dat dit nie gestel is watter drie groepe bedoel word nie (kyk onder).

Die skild se rooi flanke simboliseer die grond, en die blou golwe die skouspelagtige Oos-Kaapse kus. Die keuse van rooi om grond voor te stel dui op ’n verbintenis met die oker-kleur wat in die wapen van Transkei voorgekom het. Maar die besluit om terug te gaan na ’n konvensionele heraldiese kleur, in plaas van die unieke oker, dui ook op ’n sekere verafstanding van die tuisland-administrasie van die Republiek Transkei.

Afwisselende blou golwe en wit/silwer is die gewone heraldiese simbool vir water.

Die luiperdvel kopring in die helmteken verteenwoordig tradisionele gesag; kopringe van hierdie soort word deur stamhoofde en konings gedra. Die luiperd word in Nguni-kultuur as koninklike dier beskou, en die gebruik van sy vel word tradisioneel vir die gebruik van konings en amakhosi. Die son wat uit die kopring rys word beskryf as simbool van prestige, mag en die provinsie se erfenis. “Dit simboliseer die vriendelikheid en positiewe houding van sy volk,” lui die amptelike beskrywing (volgens my vertaling). “Dit verteenwoordig ook ’n nuwe tyd en ’n belowende toekoms van groei, ontwikkeling en voorspoed.” ’n Stygende son verskyn ook in die wapens van Oos-Londen en die Universiteit van Fort Hare.

Die skildhouers is eland (Taurotragus oryx), wat die mees wyd verspreid was van groot boksoorte in Oos-Kaapland. Soos die meeste wildsoorte is dit uitgejag en moes weer ingevoer word; dit kan op natuurreservate en wildplase gesien word. Dit is die gewone eland, ook bekend as Kaapse eland of Livingstone se eland. Dit is kleiner as die verwante Derby-eland, maar die twee spesies saam is die grootste van lewende antelope. Die Kaapse eland is ook in volksoorleweringe belangrik, en verskyn dikwels in die religieuse rotsskilderye van die Boesmans wat die provinsie se vroegste menslike inwoners was. Die bul-eland verteenwoordig glo heerlikheid.

Alhoewel die meerderheid van die provinsie se bevolking Xhosa-sprekend is, verskyn die leuse in Engels omdat die provinsiale regering hierdie taal as polities neutraal beskou en die gemene besit van die meerderheid Suid-Afrikaners. Kinders in skole wat voorheen deel uitgemaak het van die Bantoe-onderwyssisteem ontvang onderrig in Engels in die senior primęr en sekondęre vlakke. Dit sou wenslik lyk om moedertaal-onderrig tot in matriek in te stel, tesame met onderrig in Engels (tweede taal) vanaf Graad 1.

Oor die provinsie:
Die Provinsie Oos-Kaap – een van vier nuwe provinsies wat uit die Kaapprovinsie gesny is – het 27 April 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings gehou is waarin kiesers van alle rasse vir die eerste maal in Suid-Afrika stemgeregtig was. Aan die hoof is ’n Premier, verkies uit en deur die Provinsiale Wetgewer, wie ondersteun word deur ’n Uitvoerende Raad, die lede waarvan verkose lede van die wetgewer moet wees.

Die nuwe provinsie het twee hoofstede geërf wat tydens die apartheidsjare met uitgebreide akkommodasie vir wetgewers en ministeries gebou is, naamlik Bisho (vir Ciskei vars gebou op die buitewyke van King William’s Town; tans word die naam as Bhisho gespel) en Umtata (hoofstad van Transkei sedert 1882, met uitgebreide konstruksie in die 1970s en ’80s; die naam word tans as Mthatha gespel). Weens sy meer sentrale ligging is Bhisho as hoofstad van Oos-Kaap gekies.

Die provinsie bestaan uit die landdrosdistrikte wat Transkei en Ciskei uitgemaak het, en uit die oostelike deel van die Kaapprovinsie, 45 distrikte (etlikes het name anders as dié van die hoofdorpe; waar nodig word die dorpname tussen hakies gegee):

Aberdeen, Adelaide, Albany (Grahamstad), Albert (Burgersdorp), Alexandria, Aliwal-Noord, Barkly-Oos, Bathurst (Port Alfred), Bedford, Cathcart, Cradock, Elliot, Fort Beaufort, Graaff-Reinet, Humansdorp, Hankey, Indwe, Jansenville, Joubertina, King William’s Town, Kirkwood, Komga, Lady Grey, Maclear, Maraisburg (Hofmeyr), Middelburg, Molteno, Oos-Londen, Pearston, Port Elizabeth, Queenstown, Somerset-Oos, Sterkstroom, Steynsburg, Steytlerville, Stutterheim, Tarka (Tarkastad), Uitenhage, Venterstad, Willowmore en Wodehouse (Dordrecht).

Die afbakeningskommissie het ook Griekwaland-Oos (landdrosdistrik Mount Currie; dorpe Kokstad en Matatiele) aan Oos-Kaap toegeken (hierdie distrikte was deel van Kaapland tot in 1976 en toe aan Natal gegee), maar KwaZulu-Natal het kapsie gemaak en die saak is nog nie finaal beredder nie. Altwee provinsies het administratiewe strukture vir hierdie twee distrikte opgerig.

Voorsiening is ook gemaak vir die moontlike splitsing van die provinsie in oostelike en westelike helftes, maar die huidige regering van Oos-Kaap is teen hierdie idee, deels weens onenigheid oor hoe dit gedeel kan word.

Omdat dit beide Ciskei en Transkei insluit, sluit die provinsie groot onderontwikkelde gebiede in.

Name van die provinsie:
Die tale wat hoofsaaklik in Oos-Kaap gepraat word is isiXhosa (kyk Ciskei vir ’n bespreking hiervan), Engels en Afrikaans, daarom verskyn die provinsie se naam in daardie drie tale.

Koloni”, wat kolonie beteken, is die Xhosa-naam vir die ou Kaapprovinsie/kolonie, en “mpuma” beteken oos (kyk Mpumalanga; die voorvoegsel “le-” beteken “van”). “Phondo” is die Xhosa vir provinsie (en die voorvoegsel “i-” beteken “die”).

Oorweging is gegee aan ’n nuwe naam vir die provinsie nadat dit omtrent ’n jaar lank bestaan het, maar ten spyte van etlike praktiese voorstelle (veral die naam Kei-provinsie, aangesien hierdie rivier in die middel van die provinsie lę), is dit besluit om by die naam Oos-Kaap te bly. Die huidige Premier het die saak heropen, maar geen besluit is nog gemaak nie.

Klagtes deur Xhosa-sprekende burgers dat die naam “Koloni” vir swart mense vernederend en beledigend is, is deur die swart-gedomineerde provinsiale regering oorweeg, maar die naam is in werklikheid nie verander nie. Voorstelle dat “Koloni” na “Kapa” behoort te word is nutteloos, want Kapa, alhoewel dit soms op die geheel van die eermalige Kaapkolonie/provinsie toegepas word, verwys eintlik na Kaapstad en die Kaapse Skiereiland (kyk ook Wes-Kaap).

Tale van die provinsie:
Xhosa is verreweg die meerderheidstaal. Engels word gepraat deur relatief hoë getalle stadsbewoners, en deur ’n hoër proporsie boere as in baie ander landsdele, maar meer mense praat Afrikaans. Engels word egter polities verkies weens die verband tussen Afrikaans en apartheid. Oos van Port Elizabeth, het Xhosa-sprekers gewoonlik Engels as hul tweede taal, maar wes en noord van die stad praat hulle dikwels Afrikaans in plaas daarvan.

Die provinsie se bevolking is in die verlede volgens wet geklassifiseer volgens ras: swart (letterlik “Bantoe”, wat abeNguni en swart minderhede gedek het), blank en Kleurling, sowel as klein minderhede van Indiese en Sjinese herkoms.

In ander lande word “Coloured”[1] gebruik om mense aan te dui wat deels swart, deels wit is, maar in Suid-Afrika dui dit op ’n gemeenskap, of groepering gemeenskappe, wat hoofsaaklik van bruin- of geel-vellige herkoms is, alhoewel die meeste Kleurlinge ’n mate van blanke afkoms het en baie is deels swart. Die term is in die statistiek van die Kaapkolonie gebruik om almal aan te dui wat óf Engels óf Afrikaans gepraat het, maar nie deel was van die “Europeaanse” groep nie. Die gebruik het sy oorsprong in ’n klassifikasie van die VOC waaronder sulke mense geklassifiseer is as “vrij zwarten”.

Dit sluit mense in van Asiatiese herkoms, veral dié van Maleise herkoms (Indonesiese of Skiereilandse Maleiers), maar ook dié van Khoikhoi-[2] en Boesman-[3]herkoms. In die plattelandse gebiede van die westelike gedeelte van die provinsie, val die meeste Kleurling-inwoners in hierdie laaste kategorie (Khoikhoi of Boesman) en is Afrikaans-sprekend.


[1] Dit word veel bespreek of die term Kleurling aanvaarbaar is aldan nie. Dit word as polities korrek beskou om of glad nie na mense van hierdie groep met hierdie woord te verwys nie, of om te praat van “sogenaamde Kleurling”, maar daar is baie ook wat trots is om Kleurling te wees.

[2] Die term Khoikhoi (wat ook as Khoekhoe of Kwekwena geskryf word) beteken “mense van mense”. Dit is van toepassing op die afstammelinge van Tshu-Khwe Boesmans (wat steeds langs die Botswana/Zimbabwe grens naby Hwange gevind kan word) wat beeste verkry het en suidwaarts getrek het, eers na die Oranje- of Garieprivier en daarna na die kusstreke van die Oos- en Wes-Kaap. Die Khoikhoi het voorheen (beledigend en verkeerdelik) as Hottentot bekend gestaan.

[3] Dit is die mode om na Boesmans as San te verwys, aangesien “Boesman” (in Nederlands “Bosjesmannen”) oorspronklik ’n skelterm was wat die rowwe skuilings van hierdie Steentydperk-jagters beskryf het. “San” is egter ook ’n skelterm, wat deur die Khoikhoi gebruik is om die jagter-vergaarders te verwys as “amper diere”. In 1995 het ’n konferensie oorlewende Boesman/San bendes in Namibia ooreengekom om die term Bushman vir hul etniese groep te gebruik. Die term Khoisan word gebruik om mense aan te dui wat van óf Boesman- óf Khoikhoi-herkoms is.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege-provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1