Armoria patriæ
http://uk.oocities.com/landswapen

Provincie Transvaal (gewoonlik Transvaal genoem)

Province of Transvaal

Verlening van 1911 / Republikeinse wapen erken 1951-57

eerste Suid-Afrikaanse posseël, 1 Mei 1910 uitgegee

Die Provincie Transvaal het aanvanklik geen heraldiese simbool gehad nie, aangesien die wapen van die Zuid Afrikaansche Republiek verval het toe die staat deur Brittanje as die Transvaal Colony geannekseer is. Hierdie kolonie het geen heraldiese wapen gehad nie, maar het wel ander simbole gehad wat latere gebruik sou beïnvloed.

Die wapen van die ZAR het wel op die posseël verskyn wat die Unie van Zuid Afrika 31 Mei 1910 uitgereik het om die instelling van sy Parlement te merk.[1] Brownell[2] skryf: “Hiervan sou ’n mens logies aflei dat dit die bedoeling was dat hierdie wapen as Transvaal se provinsiale wapen sou herleef.”

 

Oor die provinsie:

Die kolonie het 31 Mei 1910 formeel ’n provinsie van die Unie van Zuid Afrika geword. Pretoria is tot administratiewe hoofstad van die Unie geproklameer, en die provinsie se eie wetgewer is die Transvaalse Provinciale Raad genoem. Aan die hoof van die administrasie was ’n Administrateur, aangestel deur die Goewerneur-Generaal met die advies van die Eerste Minister, bygestaan deur ’n Uitvoerende Komitee wie se lede verkose lede moes wees van die Provinciale Raad.

 

Heraldiese ontwikkelinge:

Provincie Transvaal (1911)

’n Wapen is 4 Mei 1911 deur die College of Arms aan die provinsie verleen, in die vorm van die Transvaalse kwartier van die Uniewapen, maar die wapen wat so verleen is, is nie eens aan die provinsie gekommunikeer nie (kyk Unie van Zuid Afrika).

Die wapen wat in 1911 verleen is, was slegs aan Eerste Minister Louis Botha en ’n klein kringetjie om hom bekend. Adjunk-Eerste Minister Jan Smuts was egter ook ’n leidende figuur in die oprigting van die Transvaal University College, wat hierdie wapen as deel van sy eie heraldiese vertoon gevoer het.

Ten spyte van twyfelinge oor die wetlikheid van die ou republikeinse wapen, was daar tog ’n sentimentele gevoel daarteenoor. Nadat die Oranje Vrystaat in 1937 besluit het om sy ou republikeinse wapen weer in gebruik te neem, was daar ’n gevoel dat Transvaal ook so moet maak.

 

Naam van die provinsie:

Die provinsie se naam is feitlik ongeaffekteer as gevolg van die erkenning in 1925 van Afrikaans as ampstaal in plaas van Nederlands; die woord Provincie is toe as Provinsie gespel. Die provinsie het reeds in 1914 vir Afrikaans erken as medium van onderrig in skole.

 

Provinsie Transvaal

Province of Transvaal

wapen van die Provinsie Transvaal (1954)

Republikeinse wapen weer aanvaar:

Brownell skryf: “In 1950 het die Sekretaris van Binnelandse Sake die kwessie van provinsiale wapens met die Eerste Minister opgeneem, en elkeen van die Provinsies is versoek om aan te dui watter wapen hulle graag wou aanneem. Vrystaat het reeds in 1937 sy besluit geneem, en het daarby gebly. Transvaal het ’n soortgelyke besluit geneem nadat dr Coenraad Beyers, op versoek van die Administrateur, ’n ondersoek in diepte na die oorsprong en ontwikkeling van die republikeinse wapen onderneem het.

“Op grond van sy bevindings is ’n definitiewe skildery van die wapen deur W H Coetzer vir die Transvaalse Provinsiale Administrasie voorberei. 1 Maart 1951 het Transvaal die Regering versoek om reëlings te tref vir die goedkeuring van hierdie wapen as provinsiale wapen.

“Wat toe gebeur het word duidelik uiteengesit in die volgende uittreksel uit ’n memorandum van die Sekretaris tot die Eerste Minister aan die Sekretaris vir Binnelandse Sake:

 

‘Die saak is aan Haar Majesteit die Koningin voorgelê, luidens die Eerste Minister se instruksies, met die aanduiding dat, indien formele goedkeuring aan die Wapens nie toegeken kon word nie, naamlik, dié van Transvaal en van die Oranje Vrystaat, wat blykbaar nie met die wette van die heraldiek ooreenkom nie, sonder dat dit die Koningin in die verleentheid sou stel en indien Haar Majesteit dus sou verkies om nie daarmee geassossieer te wees nie, die Ministers nie sou wens om enige verdere stappe in die rigting van die verkryging van sulke formele goedkeuring te neem nie. Dit is verder meegedeel dat, in so ’n geval, die Ministers dit voorgedoen het om Haar Majesteit se goedkeuring te soek vir die onttrekking van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, en aangesien dit ongepas sou wees om nuwe Aktes in die geval van die Provinsies Kaap en Natal alleenlik uit te reik, om aan al Vier Provinsies informele verlof te gee om die wapens te voer wat hulle respektiewelik graag wil voer.

’n Antwoord is nou vanaf die Paleis ontvang wat lui dat Haar Majesteit bly sal wees om die voorafgaande voorstel te aanvaar, waardeur die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, wat sekere Wapens aan die Provinsies verleen het wat hulle nie langer begeer nie, onttrek word en informele verlof gelyktydig aan hulle gegee word om die Wapens te voer wat hulle graag wil gebruik. Haar Majesteit voel dat dit nie minder as reg is nie dat die keuse van hulle Wapens by die Provinsies self moet bly. Onder hierdie omstandighede sal ’n nuwe Koninklike Akte nie gesoek word nie.

“Stappe word tans gedoen om bogenoemde Akte te onttrek en u sal meegedeel word wanneer formele goedkeuring daarvoor verkry is.’

 

In 1954 is die Administrateurs van die vier provinsies meegedeel: “. . . Haar Majesteit die Koningin het formeel die onttrekking goedgekeur, met krag vanaf 22 Junie 1954, van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, in terme waarvan sekere Wapens aan die Provinsies verleen is. Daardie Provinsies wat nog nie so gemaak het nie, is nou vry om die Wapen te voer wat hulle graag wil aanneem.”

“ ‘Die Sekretaris vir Buitelandse Sake noem dat die Hoof-wapenkoning Garter . . . voorgestel het, toe hy meegedeel is van die onttrekking van die Koninklike Oktrooi en van die verlof wat aan die Provinsies gegee is, dat die nuwe Wapens met die College geregistreer word.’ ”

Die wapen van die ZAR (soos deur W H Coetzer geskilder) het in gebruik gekom sodra die Koninklike Oktrooi van 1911 onttrek is, en het 29 September 1954 aan die gewelnaam van die provinsie se Amptelike Koerant verskyn. Die wapen is Juliemaand 1955 by die College of Arms op rekord gestel en, noem Brownell dit, is die wapen “dan 8 Augustus 1957 finaal deur die Administrateur-in-Uitvoerende-Raad[3] aanvaar”.

Terwyl Coetzer se skildery nou definitief geword het, en aspekte ingelyf het wat ingesien is as die beste in die laat-19de-eeuse weergawes van die wapen, het dit twee solesismes behou: die kardoesformaat van die skild (die afgryslike geelkoper krulwerk buite die skild self ook ingesluit) en die posisie van die arend, wat steeds op die borant van die skild gesit het. Die arend kyk egter na heraldiese regs, wat ’n aansienlike verbetering is.

Tegelykertyd is ’n afgryslike fout in die wapen van die Unie van Zuid Afrika (wat in die verlening van 1911 herhaal is) is reggemaak, ten minste vir Transvaal: in plaas van die transportwa wat aanvanklik in die seël van die Transvaal Colony verskyn het, in die wapenverlening van 1910 aan die Unie ook voorgekom het en daar gebly het (deur twee veranderings in die kunswerk) tot die aanvaarding van ’n nuwe wapen in 2000, is die wa in hierdie wapen weereens een van die Voortrekker-tipe.

’n Verdere verandering in die wapen wat Coetzer ingebring het, is dat die leeu nou aansiende is – dit wil sê, die gesig kyk na die aankyker. Dit was in die 1867-weergawe van die wapen aansiende, maar in die tekenings van 1869 en ’72 is die gesig na die leeu se eie voorkant gedraai (na die middel van die skild).

Nà die promulgering van die Heraldekwet van 1962 is die wapen van die Provinsie Transvaal deur die Staatsheraldikus geregistreer onder registrasiesertifikaat No 3, 1 Maart 1966 uitgereik. Die blasoen soos dit op daardie sertifikaat verskyn lui (volgens my vertaling van Brownell se bewoording):

 

Wapen: ’n Ovaalvormige skild gesny, die skildhoof gedeel: regs van rooi, ’n omgekeerde, lêende, aansiende natuurlike leeu van goud; links van blou, ’n bebaarde man in volksdrag met hoed en bandolier, met in die linkerhand ’n wapen wat op die grond rus; die skildvoet van groen, ’n voortrekkerwa in sy natuurlike kleure. Op ’n silwer binneskild ’n swart anker met rooi kabel. Bo oop die skild sittend ’n goue arend, sy vlerke uitgesprei. Agter die skild en weerskante daaronder gedrapeer drie vlae van die Suid-Afrikaanse Republiek, groen, rooi, wit en blou.

Leuse: Eendracht Maakt Magt.

 

Brownell skryf: “Die ZAR se ‘Vierkleur’ word deur hierdie registrasie beskerm, aangesien dit ’n integrale deel is van die geregistreerde wapen.”

 

Gebiedsveranderings:

Transvaal het stamtrustlande in verskeie magisteriële distrikte ingesluit, die grondgebied van veel meer verskillende stamme as in enige ander provinsie van die Unie. Hulle is volgens taal geklassifiseer as behorende aan die Tswana-, Ndebele-, Noord-Sotho-,[4] Swazi-, Tsonga-[5] en Venda-groepe.

Die Tswana-tuisland het 6 Desember 1977 sy “onafhanklikheid” geneem as Bophuthatswana, en die Venda-tuisland 13 September 1979 as die Republiek Venda.

Geeneen van die ander tuislandstate in Transvaal het die “onafhanklikheid” wat deur Suid- Afrika aangebied is, geneem nie, maar almal het in ’n kleinere of grotere mate selfregering uitgeoefen tot aan die einde van apartheid in 1994. Die administrasies van al hierdie staatjies het tot in 1995 voortbestaan; toe is hulle in die nuwe provinsies wat in 1994 geskep is, ingelyf.

Volgens die Grondwet van 1984 is die Provinsiale Raad afgeskaf. Die Administrateur, nou deur die president aangestel (die prerogatief het in 1961 aan die Staatspresident oorgegaan), het nou sy Uitvoerende Komitee gekoöpteer in plaas daarvan dat dit uit verkose raadslede geneem is. Die ooglopende doel hiervan was om die basis van die provinsiale administrasie te verbreed, sodoende mense van ander rasse te betrek (slegs blankes kon lid wees van die Provinsiale Raad), maar dié wat aangestel is, was grotendeels slaafs onderdanig aan president P W Botha.

Met die aanvaarding van die nà-apartheidse Grondwet van 1994 het die Provinsie Transvaal van die landkaart verdwyn, en is sy plek ingeneem deur drie volle nuwe provinsies en ongeveer die helfte van nog ’n vierde provinsie. Aldrie die volle provinsies het sedertdien van naam verander. Hulle is:

 

Gauteng (aanvanklik PWV genoem, en bestaande uit die sentrale gebied van Pretoria, die Witwatersrand en die Vaaldriehoek [minus Sasolburg, wat in Vrystaat gebly het]).

Mpumalanga (aanvanklik Oos-Transvaal genoem).

Limpopo (kortstondig Noord-Transvaal genoem, en toe Noordelike Provinsie).

 

Die vierde provinsie, Noord-Wes, is geskep uit die suidwestelike dele van Transvaal, feitlik die gehele Bophuthatswana en die Kaapse distrik Vryburg (kortstondig die Republiek Stellaland).



[1] Dit was toevallig ook die eerste posseël wat in die Britse Ryk uitgereik is met die portret van George V as koning, nie as Prins van Wallis nie.

[2] In National and Provincial Symbols of the Republic of South Africa (Chris van Rensburg Publications). Hierdie boek is wel in Afrikaans uitgegee, maar ek het slegs ’n eksemplaar in Engels. Die Afrikaanse teks wat hier verskyn is my eie vertaling.

[3] Die verwysing na ’n Uitvoerende Raad is ’n foutjie aan Brownell se part. Die vier provinsies het vanaf 1910 tot 1994 Uitvoerende Komitees gehad; die nege provinsies wat in 1994 hulle plek ingeneem het, het Uitvoerende Rade.

[4] Die taal Noord-Sotho word in daardie taal Sesotho sa Lebowa genoem. Deesdae word dit dikwels ook Sepedi genoem. Die Bapedi (wie se opperhoof, Sekhukhune, ’n rol gespeel het in die val van die eerste Zuid Afrikaansche Republiek) is slegs die grootste groep onder die Sotho-sprekende bevolking van die eermalige Provinsie Transvaal.

[5] Die Tsonga-sprekers van Mpumalanga behoort aan ’n grotere groep wat hoofsaaklik in Moçambique aangetref word. Hul voorouers was onderdane van die Gaza-koninkryk wat tydens die Mfecane bestaan het. Hulle staan hulle ook bekend as Sjangaans; een van hulle konings was Shoshangane.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Illustrasie en heraldiese inligting uit National and Provincial Symbols of the Republic of South Africa deur F G Brownell (Chris van Rensburg Publications).


Terug na vier provinsies-indeks

Terug na Armoria patriæ-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

1