Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Vrystaat

Lebatoa la Freistata

Free State Province

Provinsie Vrystaat

Hierdie wapen is 7 Mei 1999 deur die Staatsheraldikus geregistreer. Die amptelike blasoen lui (volgens my vertaling):

Wapen: Kepergewys omgekeer gedeel, goud bo en groen onder, in die goue veld die hoof van ’n Oranjerivier-lelie (Crinum bulbispermum) met drie bloeisels en vier blomknoppies, aan die stang afgesny, in sy natuurlike kleure; en ’n hoekige skildhoof van blou waar die boonste punte van die skeidslyn in merlons eindig; bo die skild ’n kroon van goud, versier met geslypte diamante van silwer, bo blou en onder groen geëmaljeer, die bo-rand versier met vier silwer mieliekoppe met goue blare, afgewissel met ewe veel koringare van goud.

Skildhouers: Twee jagluiperds in hulle natuurlike kleure.

Spesiale kompartement: ’n Voorstelling van die Vrystaatse vlaktes in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Katleho ka kopano.

Verduideliking:
Die sentrale wapenfiguur is die Oranjerivier-lelie, wat so benoem is omdat vroeë reisigers soos Burchell hulle in groot getalle opgelet het waar hulle langs die oewers van die Oranje- of Garieprivier, wat jaarliks oorvloei word, gegroei het. Dit is tans bekend dat hierdie plantsoort langs al die syriviere van die Oranje – die Vaalrivier ingesluit – groei, en is in die meeste dele van die Vrystaat, die suidelike dele van die voormalige Provinsie Transvaal, die Middellande van KwaZulu-Natal, Lesotho en Noord-Kaap, aangeteken. Dit was die amptelike blom van die Provinsie Oranje Vrystaat.

Hierdie groot, statige blom – wat tans geklassifiseer word onder die Amaryllidaceć, maar voorheen onder Liliaceć – groei altyd in moerassige gebiede wat in die winter uitdroog. Sy verganklike habitat verseker sy oorlewing. Dit bloei vanaf Oktober tot in Desember en vele sade word geskiet. Soos by alle Crinums, het die saad ’n sponsagtige, waterdigte buiteomhulsel wat dit laat dryf. Die plantjie groei gou uit die saad, maar dit vat jare voordat die bloeistadium bereik word. Ten spyte hiervan is dit ’n gewilde tuinplant en is in die 18de eeu in Engeland ingebring. Die kleur van blomme skakeer vanaf wit tot pienk, met ’n rooi streep in die middel van die blomblaar af. Die naam Crinum is aan die Griekse krinon ontleen; dit beteken lelie. Etlike ander spesies Crinum is in Suid-Afrika inheems.

Die groen in die skildbasis dui op die weiding wat die Vrystaat aanloklik gemaak het vir vroeë herders – die Khoikhoi wat die eerste beeste in hierdie węrelddeel ingevoer het, die Sotho-sprekende herders wat sowat duisend jaar gelede in hierdie streek kom woon het, die Batswana onder Moroka wat kort voor die Groot Trek uit die weste ingetrek het, die Trekboere wat eers die Vrystaat ná die Difaqane[1] binnegetree het, en die Griekwa[2] wat langs die Oranjerivier gewoon het.

Die boonste deel van die skild lyk soos die koppies tipies van verskeie dele van Suid-Afrika, die Vrystaat ingesluit. Dit is in die geologiese verlede gevorm deur die erosie van rotslae wat geďsoleerde some van dolomiet oorgelaat het.

Die versiering van die kroon bestaan uit afwisselende mieliekoppe en koringare. Die oostelike dele van Vrystaat, veral in die Caledonrivier-vallei, vorm een van slegs twee streke in Suid-Afrika wat gunstig is vir die kweek van koring, terwyl die noordelike dele van Vrystaat in die sogenaamde Mielie-Vierkant val; hierdie streek, wat ook dele van die voormalige Provinsie Transvaal insluit, is hoogs geskik vir mielieboerdery.

Die band van die kroon is met diamante versier, wat verwys na die diamante wat te Koffiefontein gedelf word, sowel as die spoeldiamante wat steeds van tyd tot tyd langs die Oranjerivier gevind word. Daar is moontlik ook ’n ironiese verwysing na die Kimberley-diamantvelde, waarop die Oranje Vrij Staat in die 1870s aanspraak gemaak het, ’n aanspraak wat, volgens latere bewyse, sterker was as dié van sommige ander aanspraakmakers.

Die jagluiperd (Acinonyx jubatus) is die węreld se vinnigste dier op land, en kan oor kort afstande tot 95 km/h bereik. Die gebied waar dit natuurlik gevind word dek groot dele van die vasteland van Afrika sowel as dele van Asië, alhoewel die getalle daarvan drasties verminder is en die Asiatiese subspesie bedreig is. Dit word reeds lank in die Vrystaat as ’n spesiale dier beskou, en die provinsiale rugbyspan word die Free State Cheetahs genoem.

Die kompartement dui op die geologiese strata wat die Vrystaatse vlaktes kenmerk, en sluit ook twee koppies in. Die groen van die onderste vlak dui op die plantegroei van die riviervalleie.

Die leuse vertaal as “Sukses deur eenheid.”

Oor die provinsie:
Die Provinsie Vrystaat het 27 Mei 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings waarin kiesers van alle rasse die eerste maal in Suid-Afrika stemgeregtig was, gehou is. Aan die hoof is ’n Premier, wie deur en vanuit die Provinsiale Wetgewer verkies is, en wie gesteun word deur ’n Uitvoerende Raad, die lede waarvan verkose lede van die wetgewer moet wees.

Alhoewel dit gevorm is uit die voormalige Provinsie Oranje Vrystaat, die distrik Thaba Nchu van Bophuthatswana en die nie-onafhanklike tuislandstaat van QwaQwa, is dit nietemin die provinsie van Suid-Afrika wat die minste ten opsigte van grondoppervlakte verander het. Dit het in 2000 dieselfde oppervlakte gehad as sy voorgangers, nie net in 1910 nie, maar ook in 1890.

Met inbegrip van hierdie twee “tuisland”-gebiede, bestaan die provinsie uit die 51 landdrosdistrikte:

Bethlehem, Bethulie, Bloemfontein, Boshof, Bothaville, Brandfort, Bultfontein, Clocolan, Dewetsdorp, Edenburg, Excelsior, Fauresmith, Ficksburg, Fouriesburg, Frankfort, Harrismith, Heilbron, Hennenman, Hoopstad, Jacobsdal, Jagersfontein, Koffiefontein, Koppies, Kroonstad, Ladybrand, Lindley, Marquard, Odendaalsrus, Parys, Petrusburg, Philippolis, Reddersburg, Reitz, Rouxville, Sasolburg, Senekal, Smithfield, Thaba Nchu, Theunissen, Trompsburg, Ventersburg, Viljoenskroon, Virginia, Vrede, Vredefort, Welkom, Wepener, Wesselsbron, Winburg, Witzieshoek en Zastron.

Toe die verkiesings van 1994 gehou is, is die nuwe provinsie voorlopig Oranje Vrystaat genoem. Kort voor lank het die Provinsiale Wetgewer egter besluit om die woord “Oranje” van die naam te laat wegval weens sy koloniale konnotasies.



[1] Die Difaqane (soos dit in Sesotho genoem word) of Mfecane (die naam in isiNguni) was ’n tydperk van oorlog en vernietiging wat in die vroeë 19de eeu uitgebars het en groot dele van die Vrystaat verwoes het. Oorlewendes het gevlug en sodoende groot leë gebiede oopgelaat wat dan bewoon is eers deur die Tswana-sprekende volgelinge van Moroka (in die distrik Thaba Nchu) en daarna deur Voortrekkers.

[2] Die Afrikaanssprekende Griekwa was slegs die laaste van ’n reeks Khoikhoi-groepe wat langs die Oranjerivier gewoon het. Hulle het hul oorsprong aan die Wes-Kaapse kus en het, teen die tyd wat hulle hulle naby die rivier in die oostelike deel van die huidige Noord-Kaap en in die suid-westelike Vrystaat gevestig het, ’n leefstyl aangeneem wat baie na aan dié van die Boer Trekkers was; hulle was grotendeels Christene, hulle het Westerse klerasie gedra en vuurwapens gehad, en het ossewaens en ryperde gebruik.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

    1