Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Wes-Kaap

Western Cape Province

iPhondo leNtshona-Koloni

leuse “Spes Bona” / name/ tale


Provinsie Wes-Kaap

Hierdie wapen, wat ontwerp is deur Staatsheraldikus F G Brownell, is deur die provinsie se Uitvoerende Raad goedgekeur en in die Uitsonderlike Provinsiale Koerant van 19 Mei 1998 aangekondig. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: In blou, silwer gekap: I ’n anker van rooi; II ’n tros rooiwyndruiwe in hulle natuurlike kleure, met groen blare; III ’n kleipot van goud.

Bo die skild ’n kroon van goud, die kring versier met ’n Boesman-styl kralekrans bestaande uit afwisselende driehoeke, rooi bo en blou onder, en aan die bokant van die kroon afwisselende protea-bloeiwyses en ringe van goud, die blommetjies van silwer.

Skildhouers, grond en leuse: Regs ’n kwagga, links ’n bontebok, altwee in hulle natuurlike kleure en staande op ’n gestileerde voorstelling van Tafelberg met Duiwelspiek en Leeukop van blou. Aan die onderkant van die grond twee volstruis-vlerkpluime van goud, horisontaal geplaas met die skagte naas mekaar. Die leuselint lę oor die veerskagte, met die woorde Spes Bona.

Agtergrond van die wapen:
Heraldiese deskundige Cor Pama is in 1994 genader om voorstelle vir ’n wapen vir die nuwe provinsie op te trek. Hy is egter oorlede voordat hy die projek kon voltooi. Majoor Brownell, wie op hierdie stadium genader is, het gedurende 1995 met verteenwoordigers van al die partye in die provinsiale wetgewer. Die ontwerp wat hy na vore gebring het, is in 1966 eenparig deur al die partye goedgekeur.

Verduideliking:
Die anker is geneem van die een wat deur die simboliese figuur van Hoop vasgehou is in die helmteken van die wapen van die Colonie Kaap de Goede Hoop (Kaapkolonie) en sy opvolger, die Provinsie Kaap die Goeie Hoop. Dit simboliseer hoop, stabiliteit en geloof, en verwys na die maritieme geskiedenis en rykdom van die Wes-Kaap. Die anker se kleuring (rooi op silwer) is ’n ommekeer van die Kaapprovinsie se kwartier in die wapen van die Unie van Zuid Afrika, waarin die dame Hoop silwer was op ’n rooi agtergrond.

Die druiwe verwys na die belangrikheid van landbou, en spesifiek na die provinsie se leidende posisie as wyn-produserende gebied.

Die kleipot aan die onderkant van die skild is ’n artefak geskep deur mense wat onder die vroegste inwoners van die provinsie was. Dit is gemodelleer op ’n pot van Khoikhoi[1]-oorsprong wat in die distrik Ceres gevind is. As vervaardigde voorwerp simboliseer dit ook die provinsie se industrie. Sy kenmerkende vorm is ’n gevolg van die sanderige omstandighede waar dit gebruik is.

Die kroon bestaan uit twee afsonderlike elemente: ’n kralekrans en die versiering van protea-bloeiwyses en ringe. Die kralekrans is ’n kenmerkende ornament van die jagter-vergaarder Boesman[2]-volk, die oerinwoners van Wes-Kaap, wat naby verwant is aan die vee-aanhoudende Khoikhoi.

Die proteas lyk soos Protea cynaroides,[3] die nasionale blom van Suid-Afrika.

Die ringe kom van die familiewapen van Jan van Riebeeck, stigter van die Kaapse nedersetting in 1652. Hierdie wapen – in rooi, drie ringe van goud – is in 1804 aan die Raad der Gemeente Kaapstad verleen en is daarna in die wapen van die Kaapkolonie en in vele ander Suid-Afrikaanse wapens opgeneem. Twee volle proteas en twee halwe bloeiwyses is in die kroon sigbaar, en drie ringe verskyn tussenin.

Die kwagga (Equus quagga quagga), wat kenmerkend was van Wes-Kaap se wild voordat jag dit feitlik uitgewis het, is vroeër as uitgewis beskou. Die laaste lewende kwagga is oor die honderd jaar gelede in die Amsterdamse Dieretuin in Nederland dood. Wetenskaplikes glo egter tans dat die kwagga ’n variant of subspesie was van die bontkwagga (Equus quagga burchelli, in Engels bekend as Burchell’s zebra). Die kwagga se kleuring is gekenmerk deur die afwesigheid van die tipiese sebra-strepe benede die skouer, as gevolg waarvan dit ’n sjokolade-bruin rug, bors en bo-stert gehad het.

Bontkwaggas wat neigings toon na hierdie kleuring is tans onderworpe aan ’n intensiewe teelprogram. Die naam kwagga is van Khoikhoi-oorsprong en is onomatopeďs (gebaseer op die klank wat mannetjies-kwaggas maak), terwyl sebra ’n woord is van Iberiese ontlening (Portugees, van Oud-Spaans), met die oorspronklike betekenis van “wilde esel”.

Die bontebok (Damaliscus dorcas dorcas), wat van uitwissing gered is deur die optrede van die Kaapse Provinsiale Administrasie, is uniek tot Wes-Kaapland en was tot onlangs toe slegs gevind binne ’n driehoek tussen Bredasdorp, Kaap Agulhas en Swellendam. Dit is op die Nasionale Bontebokpark spesiaal gepreserveer, maar word ook tans op die Natuurreservaat Kaap die Goeie Hoop aangehou. ’n Kaart wat die verspreiding daarvan aandui kan hier gevind word.

Dit is naby verwant aan die kleinere blesbok (D dorcas philippsi). Die bontebok staan 102 cm hoog by die skouer en is ’n diep rooibruin met liervormige horings en duidelike wit merke op die gesig, rug, onderkant en bene. Dit was die provinsiale dier van Kaapprovinsie.

Tafelberg, met sy noordekant wat Tafelbaai domineer en sy oostekant wat oor die Kaapse Vlakte troon, is Wes-Kaap se kenmerkendste natuurlike landmerk. In die wapen van Kaapstad verskyn net die twee pieke, Duiwelspiek en Leeukop, terwyl sy oostelike aansig (saam met Duiwelspiek) in die wapen van Rondebosch gesien kan word.

Die volstruisvere verteenwoordig die węreld se grootste lewende voëlsoort, Struthio camelus, wat in hierdie streek se natuur voorgekom het totdat dit uitgevind is dat daar kommersiële waarde in steek. Oudtshoorn, in die Klein Karoo, is steeds die węreldsentrum van die volstruisbedryf, wat oorspronklik alleenlik gebaseer is op die voël se vere en wat kortstondig in groot rykdom uitgedraai het, maar wat deesdae ook gebruik maak van die voël se vleis, sy huid en feitlik elke ander deel van sy liggaam.

Die feit dat die pluime gekleur is, maak van hulle ’n simbool van die volstruisveerbedryf, eerder as van die wilde voël. Die wilde voël kan egter weer in natuurreservate gevind word. Die geteelde volstruis is die produk van ’n kruising tussen voëls van die Suider-Afrikaanse ras en voëls van die Sahara/Arabiese-ras wat tydens die 1920s uit Noord-Nigerië ingevoer is. ’n Derde ras word in Oos-Afrika gevind.

Die leuse, Spes Bona, wat “goeie hoop” beteken, is identies met die leuse van Kaapprovinsie en die Kaapkolonie, asook dié van beide die Stad en die Universiteit Kaapstad, en verteenwoordig die voortleef van ’n tradisie wat tot in 1488 teruggaan, toe die Portugese ontdekkingsreisiger Bartolomeo Dias die kaap aan die voet van die Kaapse Skiereiland omseil het en dit Cabo de Bőa Esperança (Kaap die Goeie Hoop) genoem het.

Die geskiedkundige feite is vervals toe hy na Portugal teruggekeer het, waar dit aangeteken is dat Dias die kaap Cabo Tormentoso (Kaap van Storms) genoem het, sodat koning Joăo II die eer kon kry vir die optimistiese – en profetiese – naam Cabo de Bőa Esperança. Dit het gedui op die hoop op die ontdekking van ’n seeroete na die Ooste, wat in 1497 verwesenlik is met die reis van Vasco da Gama.

Dit dien gemeld te word dat die Latynse vorm, Spes Bona, reeds aan die Kaap bekend was toe Kaapkolonie se wapen ontwerp is. C A Fairbridge, die prokureur wat die wapen opgetrek het, is in die Cape Argus so bespreek (13 Mei 1875): “We understand that one very estimable gentleman objected to the introduction of that abominable ‘Dutch’ phrase Spes Bona as one of the mottoes for the shield, and we understand, moreover, that Mr Fairbridge satisfied his querist with the explanation that, being Dutch, the phrase in question would, as the Prayer Book hath it, be generally ‘understood of the people’.”

Oor die provinsie:
Die Provinsie Wes-Kaap – een van vier nuwe provinsies wat uit die Kaapprovinsie gesny is – het 27 April 1994 formeel tot stand gekom toe verkiesings waarin kiesers van alle rasse die eerste maal in Suid-Afrika stemreg gehad het, gehou is. Aan die hoof is ’n Premier, verkies uit en deur die Provinsiale Wetgewer, wie gesteun word deur ’n Uitvoerende Raad, die lede waarvan lede van die wetgewer moet wees.

Wes-Kaap is hemelsbreed groter as die oorspronklike Nederlandse nedersetting in Tafelbaai, wat slegs enkele hektaar groot was, maar is minder as ’n kwart van die grootte van die Kaapkolonie, die politieke eenheid wat uit daardie eerste nedersetting gegroei het.

Die provinsie bestaan uit die 40 landdrosdistrikte:

Beaufort-Wes, Bellville, Bredasdorp, Caledon, Calitzdorp, Ceres, Clanwilliam, George, Goodwood, Heidelberg, Hermanus, Hopefield, Kaapstad, Knysna, Kuilsrivier, Ladismith, Laingsburg, Malmesbury, Montagu, Mosselbaai, Murraysburg, Oudtshoorn, Paarl, Piketberg, Prins Albert, Riversdale, Robertson, Simonstad, Somerset-Wes, Stellenbosch, Strand, Swellendam, Tulbagh, Uniondale, Vanrhynsdorp, Vredenburg, Vredendal, Wellington, Wynberg en Worcester.

Name van die provinsie:
Die tale wat hoofsaaklik in Wes-Kaap gepraat word is Afrikaans, Engels en Xhosa, daarom word die provinsie se naam in hierdie drie tale gegee. Xhosa, wat die mees onlangs aangekom het, is laaste op die lys. Koloni, wat kolonie beteken, is die Xhosa-naam vir die ou Kaapprovinsie, en Ntshona beteken wes. Phondo is die Xhosa-woord vir provinsie.

Uit al die provinsies wat uit die Kaapprovinsie stam, kan Wes-Kaap die mees paslik homself Kaap die Goeie Hoop noem. Maar terwyl die naam “Kaap” steeds deur die provinsies Noord-Kaap en Oos-Kaap gebruik word, sou dit nie heeltemal in orde wees nie.

Tale van die provinsie:
Afrikaans is verreweg die meerderheidstaal. Engels word gepraat deur ’n hoë proporsie stadsbewoners, maar ’n klein minderheid in die platteland. Plaaslike owerhede in die platteland verkies egter dikwels Engels weens die assosiasie van Afrikaans met apartheid.

Xhosa is die taal van ’n groep wat reeds in die middel-19de eeu verteenwoordiging in die Moederstad gehad het en op ’n paar plase, maar die getalle Xhosa-sprekers het in die 20ste eeu geweldig gegroei, veral op die oostelike dele van die Kaapse Vlakte, waar mense uit Ciskei en Transkei veral hulle in die jare sewentig tot negentig gevestig het.

Die westelike en suidelike dele van die Kaapse Vlakte, en ander dele van die Kaapse metropool waar sogenaamde Kleurlinge die meerderheid vorm, is ook die tuiste van die sogenaamde “Capie”-taal of “Kaaps”, ’n meng-dialek wat hoofsaaklik Engelse en Afrikaanse woorde gebruik. In die platteland praat Kleurlinge basies dieselfde dialekte as blanke Afrikaanssprekendes – en in Wes-Kaap varieer die dialekte van Afrikaans meer merkbaar as in ander landsdele.

Die provinsie se bevolking is in die verlede volgens wet geklassifiseer volgens ras: blank, Kleurling en swart (letterlik “Bantoe”, wat abeNguni en swart minderhede gedek het), sowel as klein minderhede van Indiese en Sjinese herkoms.

In ander lande word “Coloured”[4] gebruik om mense aan te dui wat deels swart, deels wit is, maar in Suid-Afrika dui dit op ’n gemeenskap, of groepering gemeenskappe, wat hoofsaaklik van bruin- of geel-vellige herkoms is, alhoewel die meeste Kleurlinge ’n mate van blanke afkoms het en baie is deels swart. Die term is in die statistiek van die Kaapkolonie gebruik om almal aan te dui wat óf Engels óf Afrikaans gepraat het, maar nie deel was van die “Europeaanse” groep nie. Die gebruik het sy oorsprong in ’n klassifikasie van die VOC waaronder sulke mense geklassifiseer is as “vrij zwarten”.

Dit sluit mense in van Asiatiese herkoms, veral dié van Maleise herkoms (Indonesiese of Skiereilandse Maleiers), maar ook dié van Khoikhoi- en Boesman-herkoms. In die Kaapse metropool toon die Kleurlingbevolking kenmerke van beide Oosterse herkoms (veral in buurte wat moskees het) en Khoisan-herkoms, en onder hulle is heelwat Engelssprekendes, maar in die plattelandse dele val die meeste Kleurling-inwoners in hierdie laaste kategorie (Khoikhoi of Boesman) en is Afrikaanssprekend.



[1] Die term Khoikhoi (ook as Khoekhoe of Kwekwena geskryf) beteken “mense van mense”. Dit is van toepassing tot die nageslag van Tshu-Khwe Boesmans (wat tot vandag toe langs die Botswana/Zimbabwe-grens naby Hwange gevind sal word, asook langs Botswana se noordgrens tot by Namibia) wat beeste verkry het en suidwaarts getrek het, ten eerste tot langs die Oranje- of Garieprivier en daarna na die kuswęreld van Oos- en Wes-Kaap. Die verkryging van vleis van hulle vee was die hoofdoel van die Nederlandse verversingstasie wat in 1652 in Tafelbaai gestig is. (Die Khoikhoi was voorheen onder die skelnaam Hottentot bekend.)

[2] Dit is die mode om na Boesmans as San te verwys, aangesien “Boesman” (in Nederlands, “Bosjesmannen”) oorspronklik ’n skelterm was wat na die rowwe skuilings van hierdie jagters uit die Steentydperk verwys het. “San” is egter ook ’n skelterm, wat deur Khoikhoi gebruik is om na die jagter-vergaarder volk te verwys as “amper diere”. ’n Konferensie van oorblywende Boesman/San-groepe in Namibië het in 1995 ooreengekom om die term Boesman vir hul etniese groep te gebruik.

[3] Om ander beelde van Protea cynaroides te sien, kliek hier, hier, hier en hier.

[4] Dit word veel bespreek of die term Kleurling aanvaarbaar is. Dit word as polities korrek beskou om of glad nie na mense van hierdie groep met hierdie woord te verwys nie, of om te praat van “sogenaamde Kleurling”, maar daar is baie ook wat trots is om Kleurling te wees.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

    1