deur Mike Oettle
EEN van die treffendste familiewapens wat in Suid-Afrika gevoer word is dié wat aan die familie Van der Merwe gekoppel word.
Maar ongelukkig is die ketting van bewyse so deurmekaar dat hierdie familie, en hul neefs in Nederland (wat die van as Van de Merwe voer), nie verder terug kan gaan nie as die oupa van die heel eerste Suid-Afrikaanse Van der Merwe.
Hierdie grootvader, Willem van de Merwe, word vandag erken as voorvader van al die Van der Merwes en van al die Van de Merwes.
(Van der Meer is heeltemal ’n ander van, maar een Suid-Afrikaanse Van der Merwe wat in die VSA gaan woon het, het gevind dat die Amerikaners soveel moeilikheid met sy regte van gehad het, dat hy op die ou end homself Van der Meer of Vandermeer moes noem.)
Daar is verskeie redes waarom rekords ontbreek, en dit is na die verloop van tyd moeilik of selfs onmoontlik om te sê wat die regte toedrag van sake is nie, maar die Van der Merwes/Van de Merwes glo vas dat hulle afgestam is van ene Daniel van der Merwede.[1]
Genoemde Daniel se wapen is in 1293 deur die beroemde Middeleeuse herout Gelre aangeteken as:
In rooi, ’n dwarsbalk van silwer tussen 15 goue pennings.
In Nederlands word goue pennings “bezanten” genoem – sulke ronde wapenfigure het mense laat dink aan ’n soort goue munt wat uit Konstantinopel gekom het. Die naam kom van die dorpie Bisantium, op die perseel waarvan daardie keiserlike stad gebou is.
Rooi, goud en silwer maak feitlik altyd ’n kombinasie wat vir die oog mooi is.
Die 15 pennings is
veronderstel om die voorkoms te hê van ’n omgekeerde punt, maar die kunstenaar wat hierdie tekening voorberei het, het nie te mooi die driehoekige voorkoms uitgebring nie.
’n Vertakking van die familie Van der Merwede, genaamd Van Klootwyk, het die kleure omgedraai en het die wapen so gevoer:
In goud, ’n dwarsbalk tussen 15 koeke, alles van rooi.
Ongelukkig kon net rooi op die goue agtergrond voorkom; silwer op goud is in die heraldiek onwenslik.
Hierdie wapen is nietemin ook treffend.
Maar alhoewel daar ’n familie Van Klootwyk in Suid-Afrika is wat hierdie wapen “voer”, ontbreek daar weer bewyse dat hulle wel van die Middeleeuse Van Klootwyks afgestam is.
Die gevolg is dat die Staatsheraldikus ongelukkig sal moet weier indien enige Van der Merwe of Van Klootwyk hulle respektiewelike wapen sou probeer registreer.
’n Ander wapen miskien wel.
En waar kom die Van der Merwes vandaan, vra jy dalk.
Wel, die Merwede is ’n vertakking van die Rynrivier, naby die Land van Altena en verwikkeld met die Oude Maasrivier. Die Merwede loop deur Oud-Beyerland, en Dordrecht lê aan die voet van die Beneden-Merwede.
En Willem Schalkszoon van der Merwe, die stigter van die Suid-Afrikaanse familie, is in Oud-Beyerland gebore.
Hy was ’n hakbusskut[2]
in diens van die VOC en het aan boord die Dordrecht in Tafelbaai te lande gekom. Hy het in 1661 vryburger geword. In 1677 het hy en Pieter van der Westhuizen die eerste boere geword op Kronendal, in die Houtbaai-vallei.
Willem se vrou was Elsje Cloete, dogter van die heel eerste permanente setlaar aan die Kaap, Jakob Klute (Cloete), van Keulen.
Hulle verskyn in my stamboom – joune ook, miskien.
[1] ’n Afstammeling van Daniel van der Merwede se familie, ’n Amerikaner genaamd George van der Merwede, het sy wapen laat vertoon op die webwerf van die American Heraldry Society hier. Hy het die familiegeskiedenis van die Van der Merwedes nagevors, maar sy eie webwerf is tans onbeskikbaar.
[2] Teen die tyd van die Nederlandse nedersetting aan die Kaap was die hakbus geheel en al ’n verouderde wapensoort (dit was ‘n vroeë vuurwapen). Die rang van hakbusskut het blykbaar voortgeleef, miskien vergelykbaar met die rang bombardier, wat tans in die artillerie gebruik word as gelyk aan korporaal maar wat van ’n verouderde kanonsoort afgelei is. Ou regimente behou ook die naam “musketier” of “fusilier”, wat altwee ou soorte vuurwapen aandui, en in Brittanje se Huishoudelike Brigade vind ’n mens ook die Grenadier Guards, wat oorspronklik die taak gehad het om granate of handbomme te gooi.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings,, navrae: Mike Oettle