deur
Mike Oettle
Mauritius / leeu / Bonham / Burrell / Woolard / skip se wiel / Howard Morris / Shaun Morris / Keith Morris
DIE ontwerp van ’n wapen kan ’n komplekse proses wees, soos wat Warren en Gloria Morris geleer het toe hulle Meimaand 2002 elemente begin bymekaar sit het van die families van wie hule afgestam is, sodoende vir hulle ’n nuwe devies te skep.
En 5 Junie 2002 het hulle by die Buro vir Heraldiek besoek afgelê om die amptelike proses aan die gang te kry.
Maar die noodlot kan ook daar intree, aangesien dit eers in Augustus 2004 wat die wapen uiteindelik in die naam geregistreer is van Warren Francis Morris . . . in tussentyd is Gloria (gebore Woolard) in Februarie 2003 skielik oorlede, en is Warren 26 Junie 2004 met haar niggie, Denise Mulder, gebore Venish, getroud.
Ek begin aan die einde van die proses met ’n beeld van die finale konsep, tesame met die formele beskrywing. Die handtekenings van die Nasionale Heraldikus en sy adjunk verskyn op sertificate No 3436, wat 23 Augustus 2004 in terme van die Heraldiekwet van 1962, uitgereik is. Die blasoen lui (volgens my vertaling):
Wapen: In blou, op ’n deurgaande ingeboë punt van silwer ’n
klimmende leeu van rooi, sy kloue silwer, wat in sy pote ’n groen breedarmige
kruis vashou, tussen in die skildhoof regs ’n skip se stuurwiel van goud, die
speke waarvan in die vorm van silwer weerligstrale, en links ’n gerf van goud,
aan die onderpunt daarvan regs die boonste deel van ’n herderstaf skuins
geplaas, en aan die linkerkant links skuins geplaas die die bo-deel van ’n
hooivurk.
Helmteken: ’n Halwe gerub wat ’n olyftak vashou, alles in natuurlike
kleure.
Wrong en dekkleed: Blou en silwer, met goue tossels.
Leuse: Fidelitas.
Morris, Morrice, Maurice en Mauritius:
Voordat ek die wapen bespreek eers ’n paar woorde oor die naam Morris.
Die naam Morris is ’n verengelsing en verafkorting van die Latynse Mauritius, wat die betekenis dra van “’n Moor”, dit wil sê ’n bewoner van die gebied wat ons tans ken as die lande Marokko, Algerië en Tunisië (of ten minste Marokko en wes- en sentraal-Algerië). Hierdie streek staan in Arabies as al Maghrib[1] bekend.
Mauritius was ook die naam van ’n Romeinse soldaat, ook in Engels en Frans as Maurice onthou, in Duits as Moritz en in Nederlands en Afrikaans as Maurits. Hy is ongeveer die jaar 286 nC gestuur is in bevel van ’n afdeling van die Thebaanse Legioen om ’n opstand onder Christelike kleinboere te onderdruk in ’n Alpynse distrik wat tans deel vorm van die Kanton Wallis (Valais), in Switserland. Blykbaar was hy dus glad nie ’n Moor nie, maar hy het nietemin daardie naam gedra.
Mauritius en sy manskappe – wat volgens die vertelling van hul martelaarskap wat ons van biskop Sint Eucherius van Lyon het (499 oorlede) was Christene uit Egipte – het geweier om teen mede-Christene oorlog te voer, en het protesterend na die dorp Agaunum[2] teruggetrek.
Hulle bevelvoerende generaal Maximianus (wat later keiser sou word) het die troepe vir wat hy hulle lafhartigheid genoem het, gestraf, en het beveel dat hulle gedesimeer word: dit wil sê, een uit elke 10 is tereggestel. Dit het op hulle geen effek gehad nie, en hy het weer ’n desimering beveel. Toe hulle steeds geweier het om bevele te aanvaar, is elkeen van hulle, Mauritius ingesluit, onthoof.
Mauritius het daarna ’n gewilde heilige in verskeie dele van die Duits- en Franssprekende wêreld geword, en kan dikwels gesien word in die wapens van gemeentes waar hy die beskermheilige is. Kunstenaars het egter tradisioneel die donkerhed van sy vel oordryf, en word hy as Neger[3] voorgestel, met rooi lippe en goue oorringe.
Die Duitse stad Coburg[4] voer tot vandag toe vir sy wapen ’n goue skild met Maurits se kop daarop – die wapen dateer tot in die 14de eeu terug. In slegs een tydperk van sy geskiedenis is dit as onvanpas beskou: in 1936 het die nazi’s veroorsaak dat Maurits se kop verwyder word en is ’n skild gevoer wat van swart en goud gedeel is, met ’n swaard en ’n swastika daarop. Sedert 1945 is Maurits se kop weereens as die stad se simbool gevoer.
Die naam Mauritius is een wat in die Normandiese tydperk in Engeland ingevoer is. In sekere gevalle mag dit verband hou met toewyding aan Sint Maurits, maar in ander gevalle was dit bloot ’n bynaam vir ’n persoon wat donker voorgekom het.
“Dit word genoem dat ’n Fulco filius Mauricii in 1185 in Lincolnshire woonagtig was; ’n Josce Mauricii verskyn in die Pipe Rolls van Londen in 1191; ’n Ricardus filius Morys verskyn in die Subsidy Rolls van Yorkshire vir 1297.
“Morris is die familienaam van baronne Killanin.”[5]
Oor die wapen:
Die skild word effektief in drie segmente gedeel – blou, wit, en blou – deur die plasing van die wapenfigure op en langs die punt (’n driehoekige wapenfiguur, wat in hierdie geval ingeboog is).
Op die punt staan ’n rooi klimmende leeu wat in sy pote ’n groen breedarmige kruis vashou. Dit is opmerklik dat die leeu silwer kloue het.[6]
’n Leeu is gekies omdat verskeie Britse families met die van Morris of Morrice ’n wapen voer wat klimmende leeus of, in een geval, ’n gaande leeu bevat. In ’n vroeë stadium van die ontwerpproses was die leeu blou, maar rooi het meer paslik gelyk op ’n silwer veld tussen twee segmente van blou.
Onder Warren se voorouers is ’n lyn van afstamming van koning Robert I van Skotland. Voordat hy homself tot Skotse koning geproklameer het en daarmee ook die rooi klimmende leeu op goud (binne ’n koninklike binnesoom) begin voer het, het Robert die wapen van Annandale gevoer. Voordat sy voorouer egter met die erfdogter van Annandale getroud is, het die familie die blou klimmende leeu op silwer gevoer wat steeds deur sommige vertakkings van die familie Bruce[7] gevoer word.
Die kruis is ontleen aan die Bonham-familie. Warren se voorouer John Bonham van Ballintaggart, in die graafskap Kildare, in Ierland, het ’n silwer keper gevoer tussen drie silwer breedarmige kruise op ’n rooi skild, en daarby ’n gerub vir sy helmteken. Die illustrasie van sy wapen wat Warren gevind het, toon ’n gerubiese kop wat in die lug sweef; die onderpunte van die vlerke wat aan sy kake vassit, sit rakelings aan die wrong..
Die Bonham-familie het tradisioneel wapens gevoer met ’n verskeidenheid kruise: daar is ’n tak wat breedarmige kruise met geboë arms en puntige voete[8] voer, terwyl daar ook een is met reguit breedarmige kruise en weereens puntige voete, en nog een met herkruiste kruise met puntige voete.
Warren se ouma aan vadesrkant was Alice Bonham. Haar skoonma was Jessie Mary Burrell.
Van die Burrell-familie het Warren twee elemente geneem. Die baronette Burrell, van Sussex, het ’n groen skild gevoer waarop silwer skildjies, elk met ’n ingeskulpte goue skildsoom.
Hulle helmteken is ’n arm wat ’n louriertak vashou. Hierdie helmteken is ook deur Warren se voorouer William Burrell, van Beckenham, Kent, in Engeland, gevoer. In Warren se oorspronklike skets verskyn die arm wat die louriertak vashou bo regs in die skild.
In ’n vroeë tekening wat deur die Buro voorberei is, het die skild links bo ’n skildjie gehad (’n silwer buitelyn, met blou gevul, wat geblasoeneer sou word as ’n skildjie van silwer wat van die veldkleur geledig is) belaai met ’n silwer breedarmige kruis.
Die leeu (in daardie stadium blou) het in sy voorpote ’n rooi afgeknotte kruis vasgehou (simbolies van Gloria se vrywillige werk vir die Rooikruis-organisasie). Adjunk-Staatsheraldikus Marcel van Rossum het egter voorgestel dat die gebruik van die rooi kruis te sterk was as simbool, aangesien Gloria se werk administratief was, eerder as die sorg van lydendes, en het in plaas daarvan die breedarmige kruis (nou groen gekleur) tussen die leeu se pote geplaas.
Warren se aanvanklike ontwerp het ’n helmteken ingesluit met landbousimbole, maar toe dié na die skild geskuif is, het hy ’n helmteken voorgestel wat die Bonham-engeltjie en die arm van Burrell (die blasoen beskryf dit eintlik as ’n naakte arm) met sy louriertak kombiner – hy het in der waarheid twee arms geskets, weerskante van die gerubiese gesig.
Die treffende kompromis was dat in plaas van ’n engeltjiekop daar ’n halwe engeltjie bo-op die helm verskyn het, uitkomend[9] uit die wrong en met ’n louriertak in sy regterhand.
Die helmteken met sy landbousimbole het Gloria se familie voorgestel, die Woolards, wat boere was uit Mildenhall in Suffolk,[10] Engeland. Die naam Woolard kan teurggespoor word na die Angel-Saksiese Wulfheard, wat “sterk wolf” beteken, en dit kom huidiglik ook voor met die spelwyses Woollard en Wollard. Middeleeuse vorms sluit ook Wluuard en Vluuard in.
Hierdie simbole was ’n koringgerf met daaragter skuins gekruis ’n herderstaf en ’n hooivurk.[11] Aan die regterkant was daar ook ’n roos en ’n angelier.
Toe hierdie simbole na die skild verskuif is, het die blomme weggeval en is die herderstaf en vurk tot die metaalpunte van hierdie implemente verminder, sonder die houtskagte. In plaas daarvan dat hulle agter die gerf gekruis is, verksyn hulle nou aan die voorkant.
Die roos het die verskuiwing oorleef deurdat dit op die helm geplaas is as simbool van Engelse oorerwing (en word dit ook nie in die blasoen genoem nie). Warren het dit as ’n Tudor-roos[12] beskryf, en heel moontlik was dit in ’n stadium veronderstel om die rooi en wit roos van koning Henry VII te wees, maar dit is in werklikheid slegs as rooi geteken, wat dan ’n simbool is van die Huis Lancaster.
Die mees persoonlike simbool in hierdie samestelling is die skip se stuurwiel regs bo. Dit simboliseer Warren se liefde vir die see – etlike jare reeds werk hy aan ’n boek wat die skeepswrakke van Algoabaai op lys stel.
In plaas van die normale speke binne die wiel het hy silwer weerligstrale, wat sy ambag as elektrisiën voorstel.
Die leuse, Fidelitas, beteken “trou”, of “volharding in die geloof”.
Die wapen onder Warren se afstammelinge:
Elke wapen behoort aan een persoon en, tydens sy (of haar) leeftyd, slegs aan daardie een persoon.
Dit beteken dat alhoewel Warren se wapen aan sy nageslag sal oorgaan, elkeen sy eie breukmerk moet aanbring om aan te dui wie hy is, en ook om aan te toon dat hy nie Warren se wapen wederregtelik voer nie.
Ek praat van “hy” want elkeen van Warren se drie seuns het self ’n seun, en dus (behalwe as die manlike lyn uitsterf) sal hierdie wapen nie deur enige van Warren se drie kleindogters aan hulle nageslag oorgegee sal word nie, alhoewel hulle met reg elkeen haar pa se wapen sal mag vertoon.
Warren se oudste seun, Howard, moet ’n baresteel van drie punte byvoeg, wat met Warren se afsterwe sal wegval.
Die reël van heraldiese kleurkontras word effens verslap as dit by breukmerke kom, want hulle moet dikwels oor of langsaan die meeste van die skild lê. Dus word die reël wat kleur op kleur verbied nie streng toegepas nie. Om die waarheid te sê lyk ’n rooi baresteel die mees gepas, want dit loop oor die oorwegend blou dele van die skild asook goue wapenfigure.[13]
Howard se seun James voeg ’n vyfpuntige baresteel by, wat mettertyd ’n driepuntige baresteel sal word, en op die lange duur sal wegval wanneer hy Warren se wapen erf.
Die twee jongere seuns, Shaun en Keith, moet elkeen ’n permanente breukmerk bybring wat na hul nasate sal moet oorgaan.
Die gewone Engelse gebruik is om klein breukmerkies by te voeg: ’n sekelmaan vir die tweede seun, ’n vyfpuntige ster vir die derde, ’n martlet[14] (’n swaelagtige voëltjie sonder bek of kloue) vir die vierde en so aan.
Maar na ’n paar geslagte kan hierdie breuke slordig raak, en die Skotse Stodart-sisteem laat meer buigbaarheid toe.
Ek het vir hulle skildsome aangewys – die kleure wat ek gekies het, is arbitrêr, en hulle het die vryheid om dit te verander, maar nadat hulle hul keuses uitgeoefen het, word hierdie breuke dan permanent en oorerflik.
Vir Shaun het ek ’n rooi skildsoom toegewys, en vir sy seun Connor ’n driepuntige baresteel van hermelyn. Rooi bly ’n gepaste kleur vir ’n breukmerk, aangesien die skildsoom om blou en silwer loop, maar dit beteken dat die baresteel ’n kontrasterende kleur moet hê. Silwer sou oor die gedeeltes van blou, goud en rooi aanvaarbaar wees, maar op die silwer agtergrond sou dit nie uitstaan nie. Die toevoeging van die hermelynsterte laat dit toe dat die baresteel se middelpunt ook teen die silwer agtergrond uitstaan.
Vir Keith het ek ’n goue skildsoom gekies, en vir sy seun Kelvin ’n rooi baresteel. Rooi bly ’n gepaste kleur vir die baresteel.
Soos in die geval van Howard en James se barestele, sal dié vir Connor en Kelvin uiteindelik wegval, of aan hul oudste seuns oorgaan.
Sou Shaun of Keith van nòg seuns pa word, of sou Connor of Kelvin meer as een seun hê (dit is in die verre toekoms, want albei is tans seuns), kan hulle skildsome gebreek word deur wysigings aan die skeidslyne.
Wat Warren se kleindogters – Aimée (Shaun se dogter), Nicola en Lisa Mari (Keith se dogters) – betref, mag elkeen haar vader se wapen gebruik. Totdat hulle trou, sal hulle hierdie wapens op ’n ruitskild vertoon (die vorm van ’n speelkaartdiamant) of op ’n ovaalvormige kardoes.
Wanneer hulle trou, mag hulle hul vader se wapen op die linkerhelfte van ’n skild vertoon, met die man se wapen aan die regterhelfte (dit word slegs toegelaat indien die man in die eerste plek ’n eie wapen het).
En sou hulle weduwees word, gaan hulle dan terug na die ruit of die kardoes, maar dan behou hulle die man se wapen op die regterhelfte.
[1] Die Maghrib is reeds sedert die vroegste menslike bewoning die tuiste van die More.
Die kuste daarvan is deur die Cartaagse ryk verower, en toe daardie ryk vir die Romeine geval het, het die streek in anargie verval. Die Romeine, wat aanvanklik slegs die distrik rondom Tunis en Cartago in hulle staat ingelyf het, is uiteindelik gedwing om die gehele streek sowel as Spanje te verower.
Die Carthago-Tunis-distrik is deur ’n stam bewoon wat die Aferi genoem is, en die Siciliaanse Grieke wat tydens ’n oorlog met Cartago dit beset het, het dit Afrika (Aphrika) genoem. Die Romeine, wat die naam as AFRICA oorgeneem het, het die dekking van die naam uitgebrei toe hulle die res van die Maghrib verower het, en dit Africa Nova genoem het.
Tot in die Middeleeue het die term Africa geen betrekking gehad op die vasteland ten suide van die Maghrib nie, nie eens die Sahara nie.
Terwyl die Maghrib getel word as deel van die Arabiese wêreld, as gevolg van die Moesliem-verowerings nà die dood van Muhammad, praat die meerderheid Moor-bergbewoners Berber-tale wat met Semities geen verband hou nie.
[2] Agaunum staan vandag as St Maurice-en-Valais bekend.
[3] Die term Neger of Negro word teenwoordig dikwels as rassisties of neerhalend beskou.
Die woord beteken egter eenvoudig “swart”, en word dit regtens toegepas op die uiters donkervellige volkere wat Wes-Afrika bewoon, asook op afstammelinge van hierdie volkere.
Mense van Neger-afstamming word oor Sentraal-, Oos- en Suider-Afrika aangetref, waar hulle meestal Bantu-tale praat, en in die Amerikas, waar vele duisende van hulle tydens die era van die transatlantiese slawehandel in skepe van verskeie Europese lande geneem is.
[4] Coburg is sedert 1918 deel van Beiere. Dit was egter vroeër deel van Thüringe, en het onder die Saksiese hertogdomme geval.
Dit is beroemd as die setel van die hertoë van Sakse-Coburg-Gotha, onder wie se afstammelinge gevind sal word die konings van België, beginnende met Leopold I; Leopold se suster prinses Victoria van Sakse-Coburg-Saalfeld, moeder van koningin Victoria; prins Albert, eggenoot van koningin Victoria en voorsaat van die huidige koningin Elizabeth; prins Ferdinand, eggenoot van koningin Maria van Portugal, wie se afstammelinge in Portugal geheers het vanaf 1843 tot 1910; en die tsaars van Bulgarye vanaf 1887 tot 1946.
Koningin Victoria se tweede seun, Alfred, hertog van Edinburg, het vanaf 1893 tot 1900 as hertog van Sakse-Coburg-Gotha geregeer. As seun van 16 het hy, toe hy in die Britse Vloot as adelbors gedien het, die Kaapkolonie besoek. Die Port Elizabeth-gebaseerde regiment Prince Alfred’s Guard dra sy naam, asook die Prins Alfredpark in Port Elizabeth, en Prince Alfred Hamlet, naby Ceres. Die Nedersetting Edinburgh, op die eiland Tristan da Cunha, is ook na hom vernoem.
[5] Hierdie twee paragrawe is aangehaal (en deur my vertaal) vanaf ’n kaartjie, “The origins of the family name Morris”, wat deur The Heritage Collection gepubliseer is.
[6] In Britse heraldiese gebruik het ’n rooi leeu gewoonlik blou kloue. Enige ander kleur moet genoem word.
[7] Die familie Bruce, of De Brus, is van Vlaamse herkoms: die naam beteken “van Bruggen” – die stad Bruggen in West Vlaanderen. Hulle was aan die grawe van Leuven verwant.
Die Skotse Bruces is ’n vertakking van ’n familie wat in die Normaanse tyd hulself in die noort-ooste van Engeland gevestig het, en in Engeland voer hulle steeds die blou leeu op silwer. Nog ’n vertakking het die van Lyon aangeneem, en hulle blou leeu staan binne ’n blou koninklike binnesoom.
Koningin Elizabeth, eggenote van koning George VI en Koninginmoeder vanaf 1952 tot 2002, wat Bowes-Lyon gebore is, was ’n afstammeling van hierdie tak.
[8] Die kruis met die puntige voet het aan sy voetenent ’n priem wat toelaat dat dit in die grond vasgeslaan word.
Sendelinge in Brittanje en ander dele van Europa tydens die Donker Tyd sou ’n groot kruis saamdra om hulle sending voor te stel; ’n priem was onder aan. Waar hulle van plan was om te staan enpreek, sou hulle die kruis die grond inslaan, totdat die priem verdwyn het.
[9] Die term uitkomend beteken dat die wapenfiguur uit iets opstaan.
Verskeie diere- of mensefigure wat in helmtekens aangewend word kom uit die wrong uit: slegs die helfte van die lyf kan gesien word, en word dit aanvaar dat die res versteek is.
[10] Die graafskap Suffolk vorm tesame met die aangrensende graafskap Norfolk die tradisionele streek Oos-Anglia.
Op hierdie skiereiland aan die suidooste van Engeland het die setlaars van die Germaanse stam die Angli hulle meestal gevestig. Hulle oorspronklike tuiste het aan die monding van die Elberivier gelê, en word hulle naam ontleen aan die winkelhaak wat deur die riviermonding gevorm word. Albei graafskappe was vroeër koninkryke.
[11] ’n Hooivurk kan òf twee òf drie tande hê. Hierdie een het drie tande.
[12] In die tyd van die Engelse oorloë binne die koningshuis wat as die Rose-oorloë (Wars of the Roses) bekend staan, het die ondersteuners van die Huis York ’n wit roos as hul simbool gebruik, en die ondersteuners van die hertoë van Lancaster ’n rooi roos.
Toe Henry Tudor, van die Huis Lancaster, as Henry VII die troon bestyg het en met Elizabeth van York getroud is, het hy die twee gekombineer, met ’n wit roos binne ’n rooie.
Hierdie kombinasie is tot vandag toe ’n koninklike kenteken in Brittanje.
[13] In die Franse koningshuis (die koningswapen: ooorspronklik in blou, besaai met goue lelies [of fleurs de lis; hierdie wapen staan as France Ancient bekend], en vanaf omstreeks 1365 in blou, drie lelies van goud [France Modern]), was rooi die geliefkoosde kleur vir breuke.
In die 13de eeu het Philippe, graaf van Clermont, ’n rooi baresteel van vyf punte gehad. ’n Latere graaf van Clermont het dit vir ’n rooi skuinsbalk verruil; die hertoë van Bourbon was sy nageslag. ’n 12de-eeuse graaf van Alençon het ’n rooi skildsoom gevoer. Robert, graaf van Artois, het ’n driepuntige baresteel van Castilië gebruik: rooi, en op elke punt drie goue kastele.
In die 14de eeu het graaf Louis van Evreux ’n geblokte skuinsbalk van silwer en rooi gevoer, graaf Charles van Valois en Anjou het ’n rooi skildsoom gevoer, en Charles II, graaf van Alençon, het ’n rooi skildsoom gevoer met silwer pennings daarop. Die hertog van Berry het ook ’n rooi skildsoom gehad, dié een ingeskulp. Die grawe van La Marche, ’n vertakking van die Huise Bourbon, het ’n rooi skuinsbalk gevoer waarop drie silwer gaande leeus. Philippe II, eerste hertog van die Tweede Huis Boergondië, het ’n geblokte skildsoom van silwer en rooi gevoer (wat gou maar een geword het van ’n menigte kwartilerings wat die hertoë van Boergondië en hul Habsburg-nasate gevoer het).
In die 15de eeu het die rooi skuinsbalk vir die hertoë van Bourbon gevestig geraak (totdat, met koning Henri IV [ook koning van Navarra], die Bourbons in 1589 die Franse troon bestyg het), en die rooi skildsoom vir die hertog van Anjou (ook koning van Napels). Die latere hertoë van Berry het hulle ingeskulpte rooi skildsoom behou, maar het na France Modern oorgeskakel in plaas van die vroeëre wat met lelies besaai is. So ook het die hertoë van Alençon en Anjou gemaak.
In die 16de eeu het vyf verskillende vertakkings rooi verkorte skuinsbalke (batons) gevoerL die hertoë van Vendôme ene wat belaai is met drie silwer gaande leeus: die hertoë of prinse van Condé (’n vertakking van die Bourbons) slegs ’n rooi baton; die prinse van Conti (op hulle beurt ’n vertakking van die Condés) ’n rooi baton binne ’n rooi skildsoom; die hertoë van Bourbon-Montpensier ’n rooi baton wat aan die bopunt met ’n silwer sekelmaan belaai is; en die hertoë van Montpensier ’n rooi baton met wat soos ’n skildhoof gelyk het: die boonste derde was silwer, en is met ’n blou vis belaai.
In die 18de eeu is twee hertoë van Orléans getroud met bruide van koninklike bastaard-afstamming, van wie albei die koningswapen met ’n rooi barre (verkorte linkerskuinsbalk) gevoer het; die tweede sulke bruid was Adelaide, dogter van Jean, hertog van Penthièvre, wie die moeder was van koning Louis-Philippe, die heel laaste koning van Frankryk. Die hertoë van Angoulême het ’n ingeskulpte rooi skildsoom gevoer, en die hertoë van Parma, in Italië, wat ’n vertakking was van Huis Bourbon,’n rooi skildsoom met agt silwer mantelskulpe daarop. Nog ’n Italiaanse vertakking van die familie, die hertoë van Durazzo, het France Ancient gevoer, gebreek met beide ’n rooi skuinskruis en ’n rooi baresteel van twee punte. En weereens nog ’n Italiaanse vertakking, die grawe van Gravina, het ’n rooi baresteel gevoer binne ’n geblokte skildsoom van silwer en rooi.
[14] Die martlet is ’n voël wat amper uitsluitlik in die Britse heraldiek voorkom. Soortgelyke bek- en kloulose voëltjies kom ook in die heraldiek van die Vasteland voor, en in Nederland word meestal die Franse merlette (’n eendjie) aangetref. Dit word egter gewoonlik nie as breukmerk aangewend nie. Om meer oor hierdie voëltipe te leer, kyk hierdie bladsy.
Erkennings: Wapen
van Warren Morris van die registrasiesertifikaat wat deur die Buro vir
Heraldiek uitgereik is. Skilde van sy seuns en kleinseuns daarvan aangepas. Ek
is aan Warren dank verskuldig vir die leen van sy breedvoerige lêer met die
navorsing in die wapens van sy voorouers en die korrespondensie oor die
registrasie van sy eie wapen. Wapen van Coburg met vergunning van International Civic Arms. Wapens van lede van die Franse koningshuis uit Lines of
Succession deur Louda en MacLagan. Kleure aangepas met behulp van MS
Picture It!©
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle