Armoria familia
http://www.oocities.org/skildsoom

Trots met die naam van ’n Middeleeuse ‘boef’

deur Mike Oettle

DE KOCK is ’n familienaam wat in Suid-Afrika deeglik gevestig is. Maar in hierdie land word die Franse vorm daarvan, de Cocq, of selfs die oorgangsvorm de Cock, selde gesien.

wapen van De Kock (volgens Pama)

Intensiewe navorsing deur lede van die Suid-Afrikaanse familie het hul oorsprong na Nederland teruggevoer, maar dit lyk of min gedoen is om die familie in Nederland met ander van dieselfde naam te koppel.

Maar dit blyk waarskynlik te wees dat die Suid-Afrikaanse familie nie slegs ’n naam voer wat saamval met dié van een van Nederland se bekende edelfamilies nie, maar dat dat dit ’n vertakking is van daardie familie.

Dit is seker dat Cor Pama[1] die familienaam met ’n wapen illustreer wat duidelik aan die patroon behoort van wapens wat met daardie adelhuis geassossieer word.

In die herleiding van die naam lyk hy egter minder versekerd van ’n verbintenis: onder “betekenis” skryf hy: “Oorspronklik Coq, d.w.s. ’n haan”.

Die Suid-Afrikaanse familie is van Servaas de Kock afgestam, wat uit Middelburg[2] in Zeeland afkomstig was en in 1707 aan die Kaap aangekom het. In 1713 is hy met Susanna van Boven getroud, en hulle het agt kinders gehad.

Pama noem eerstens dat die Suid-Afrikaanse familie sedert die 19de eeu hierdie wapen gevoer het: In rooi, drie pale van vair en ’n skildhoof belaai regs met ’n sespuntige ster.

Die ster is, volgens die illustrasie, swart. Dit word met ’n helmteken gevoer van ’n uitkomende swart (halwe) leeu met rooi tong en kloue en ’n goue kroon. Die pale van vair toon die “klokke” eekhoringpels as vertikaal afwisselend, soos wat vair behoort om te lyk.

Tweedens noem hy dat die De Cocks en De Kocks ’n uitgebreide familie was in Noord Brabant en in Zeeland wat almal hierdie basiese wapen gevoer het, met verskeie wapenfigure in die skildhoof (kyk onder).

Ralf Hartemink, waar hy in International Civic Arms[3] skryf, toon dat die edelhuis sterk verbindings het met die dorp Châtillon-sur-Marne, in die Franse streek Champagne, en die Châtillon-wapenpatroon word deur Nederland herhaal in die munisipale wapens van die gemeentes waar hulle eens die plaaslike here was.

Die here van Châtillon het sover terug as 1096 aangeneem: In rooi, drie pale van vair onder ’n goue skildhoof.

Om twee redes gebruik ek die woord aangeneem: eerstens was daar in die 11de eeu geen sisteem van heroute met die gesag om wapens te kan verleen nie; en tweedens het die Franse Koninkryk in geen stadium sy heroute sulke gesag verleen nie.

In daardie ryk het die voer van wapens ’n saak gebly van gebruik en verjaring, en die Franse heraldiek behou daardie aspek tot hede toe.

(Die toestand was egter in die Lae Lande anders. Daar het die plaaslike hertoë en grawe [onderdane van die Heilige Romeinse Ryk] heroute aangehou wat wel die gesag gehad het om wapens te verleen. Sedert 1814 is adellike en amptelike heraldiek in Nederland onder die beheer van die Hoge Raad van Adel.)

Dit was nie lank voodat ander lede van die familie heirdie wapen begin aanpas het, en in 1103 het Jacques de Châtillon ’n seël gebruik waarin die basiese familiewapen gebreek[4] is deur die toevoeging van ’n merlette[5] in die skildhoof.

Hierdie wapen is steeds in gebruik as die devies van die commune Châtillon-sur-Marne.

In 1280 het Rudolf de Châtillon, ’n agterkleinseun van Yolande van Gelre en Boudewijn van Henegouwen,[6] ’n aantal heerlikhede in die hertogdom Gelre[7] geërf. Hy is driemaal getroud en het daardeur verdere heerlikhede bygekry.

wapen van De Cocq van Haaften (en van Haaften)

Hy het die naam de Cocq aangeneem, waarskynlik omdat die Franse koning hom le Cocquin (die boef) genoem het, wat amper ’n eretitel geword het. Die verskeie vertakkinge in Gelderland van die familie De Cocq is van hom afgestam. Hierdie takke het die naam De Cocq behou, en het dan die name van hul heerlikhede bygevoeg, soos De Cocq van Haaften. Elke vertakking het in die skildhoof ’n breukmerk gevoer: die baresteel van Haaften, die voëltjie van Hardinxveld en etlike ander.

Buite Gelderland word hierdie wapen ook in Limburg[8] (Wanssum) en Zuid Holland[9] (Hardinxveld) aangetref. Dit is egter merkwaardig dat Hardinxveld op geen stadium ’n De Cocq-heer gehad het nie, en daar is geen vertakking van die familie wat as De Cocq van Hardinxveld bekend staan nie.

wapen van De Jode van Hardinxveld (en van Hardinxveld)

Een lid van die De Cocq-familie het egter blykbaar ’n bastaardseun gehad wie se moeder ’n Jodin van Keulen was. Sy afstammelinge voer die van De Jeude, De Joede of De Jode. Al die lede van hierdie familie voer die Châtillon-wapen met breuke. So ver terug as 1301 het Willem de Jeude die Châtillon-wapen met drie voëls in die skildhoof gevoer. Vandag voer die familie Van Lith de Jeude steeds die Châtillon-wapen met ’n lopende vos in die skildhoof.

In 1451 het Bruisten de Jeude die heerlikheid Hardinxveld van sy skoonpa Arent van Gent gekoop, en De Jodes het tot in 1641 here van Hardinxveld gebly. Die wapen is deur hul opvolgers in die heerlikheid in gebruik behou.

Hartemink skryf dat die gemeente blykbaar òf die oorsprong van die wapen vergeet het, of dat andersins by hulle heraldiese kennes ontbreek het, met die gevolg dat toe die munisipaliteit in 1816 ’n wapen verleen is, die aangevraagde wapen een was van 12 blou lampe[10] op silwer pale teen ’n rooi agtergrond.

Ten spyte van hierdie beskrywing toon Hartemink se illustrasie van die Hardinxveld-wapen 12 silwer vair-“klokke” op blou pale (die teenoorgestelde van wat in 1816 verleen is). Dit is nie die normale manier om vair op ’n paal aan te toon nie, maar die meeste van Hartemink se illustrasies toon die Châtillon-wapen so aan.

wapen van Wanssum

Heelwat erger as voorbeeld van heraldiese onkunde vind ’n mens in die wapen van Wanssum, wat ’n enkel blou paal aantoon, waarop vier silwer skildjies. Hierdie wapen is in 1819 amptelik verleen (en het dit ’n verlening van 1814 vervang wat die gemeente se beskermheilige, die aartsengel Michiel, aangetoon het).

Die De Cocq-verbintenis vir Wanssum het ontstaan toe die landgoed bekom is deur die tak van die familie wat op Haaften gebaseer is, bekom is, en die wapen wat gevoer is was dié van De Cocq van Haaften, met ’n swart baresteel in die skildhoof. Toe die gemeente in 1969 as Meerlo-Wanssum met Meerlo ingelyf is, is ’n nuwe wapen verleen waarin die wapen van De Cocq van Haaften as binneskild verskyn.

wapen van Beesd

’n Nog erger bespotting van die heraldiek het in die wapen van Beesd voorgekom. Dit blyk nie of hierdie dorp here gehad het wat aan die familie De Cocq behoort het nie, maar die plaaslike here het nietemin die Châtillon-wapen vertoon, soms sonder ’skildhoof, en by ander tye met ’n goue skildhoof waarop ’n blou fleur de lis of lelie. In 1816 is ’n wapen sonder ’n skildhoof verleen, en hierdie eienaardigheid het tot in 1978 gebly, toe Beesd by Geldermalsen ingelyf is. Die wapen van die nuwe munisipaliteit het ’n fleur de lis bevat wat Beesd voorgestel het.

Ironies het die teenoorgestelde met Haaften gebeur: nadat dit amptelik vanaf 1938 die heer se wapen gevoer het, is did in 1978 in Neerijnen ingelyf, en in die wapen van die nuwe gemeente, skuins gevierendeel, toon die rooi skildveld en vair-pale van pallets in die skildbasis, maar sonder òf skildhoof òf baresteel.

Nog drie Châtillon-verwante gemeentes is ook tegelykertyd by Neerijnen ingelyf.

wapen van Waardenburg

Een was die munisipaliteit Waardenburg, wat die Hoge Raad van Adel toegelaat het om voorts die Châtillon-pale met ’n bloot goue skildhoof te voer, soos wat gevoer is deur Gerrit de Cocq van Waardenburg (1376-1399).

wapen van Ophemert

Deel van Ophemert is oof ingelyf. Vanaf 1853 het dit die Châtillon-pale onder ’n blou skildhoof gevoer, waarop ’n goue keper. Op die keperpunt was ’n reebokkop “bedreig deur” twee mensehande wat dolke vashou (laasgenoemde in natuurlike kleure).[11]

Die laaste onder die Châtillon-verwante gemeentes wat in Neerijnen ingelyf is, is die gemeente Est en Opijnen, wat sedert 1884 die Châtillon-wapen gevierendeeld gevoer het (in die tweede en derde kwartiere) saam met die wapen van die familie Van Arkel (eerste en vierde kwartiere), albei met breuke. Hartemink kan egter nie die herkoms van òf die blou baresteel in die Van Arkel-wapen òf die rooi uitkomende leeu in die Châtillon-kwartiere verduidelik nie.

’n Rooi leeu verskyn ook in die wapen van Kerkwijk, maar hierdie keer ’n gaande leeu, nie ’n uitkomende leeu nie.

Rudolf de Châtillon het in 1265 Kerkwijk verkry, en in 1294 is dit genoem dat sy kleinseun Gerrit de Cock die leen gehad het van die nabygeleë heerlikhede Bruchem en Delwijnen. In latere eeue het hierdie eiendomme in ander hande gekom, maar die Châtillon-wapen is steeds met die omgewing geassossieer.

Toe Kerkwijk se wapen in 1923 ontwerp is, is dit besluit om die pale van Châtillon te behou en om in die skildhoof simbole spesifiek tot elkeen van die gemeentes wat in Kerkwijk ingelyf is, in te voeg. Dit sou vir De Cocq van Bruchem (regs) ’n swart halwe leeu wees, en links ’n spoorrad vir De Cocq van Delwijnen.

wapen van Kerkwijk

Die Hoge Raad van Adel het egter kapsie gemaak, en gesê dat terwyl die De Cocqs van Delwijnen in Delwijnen invloed gehad het, dit nie duidelik was dat hulle die heerlikheid besit het nie, aangesien hulle dit aanvanklik gehou het as onderhere vir die here van Vianen. Dit is vasgestel dat Gerrit de Cocq van Bruchem in sy eerste seël, gedateer 1391, ’n leeu gevoer het met ’n spoorrad op sy bors. Maar dit, het die Hoge Raad gevoel, was te gedetailleerd, en dit is ook afgekeur.

Die gemeente het dan op die uitkomende halwe leeu teruggeval, maar aangesien Est en Opijnen reeds een (in rooi) gehad het, is dit gevoel dat dit te nà aan daardie wapen was. (Hierdie argument lyk nie logies nie, want Nederhemert se uitkomende leeu swart was.) As kompromis is ’n rooi gaande leeu aanvaar.

Kerkwijk se Châtillon-verbintenis is tans verduister, want in 1999 is dit in Zaltbommel ingelyf, wat ’n wapen voer sonder enige Châtillon-simbole.

My gevoel is dat die De Kocks van Zeeland – en dus die Suid-Afrikaanse familie ook – deel is van die Châtillon-familie, en dat bietjie meer navorsing ’n definitiewe koppeling met hulle sal vasstel, en dus ook die reg om die wapen te voer wat Pama aan hulle toeskryf.



[1] In Die Groot Afrikaanse Familienaamboek.

[2] Die stad Middelburg is so genoem omdat die voorheen in die middel was van die eiland Walcheren.

Walcheren is egter nie meer ’n eiland nie, want Nederland se Deltaplan het gedurende die 1960s dit by ander eilande aangesluit het om ’n skiereiland te vorm.

[3] Hierdie webwerf het begin as Nederlandse Gemeentewapens en sy bladsye vir Nederland is steeds hoofsaaklik in Nederlands.

[4] Die gebruik om familiewapens te breek word in hierdie artikel breedvoerig bespreek.

[5] Die merlette, wat in Franse en Nederlandse wapens dikwels aangetref word, is een van ’n groep voëls wat volgens heraldiese tradisie onder voete verskyn.

Die merlette het die vorm van ’n eendjie (sonder pote), maar wat verwarring veroorsaak, is die gebruik op dit in Engels as martlet te vertaal.

Die martlet, wat dikwels in die Britse heraldiek gevind word, is ook ’n voël wat sonder pote geteken word, maar word op die swael gebaseer.

’n Derde pootlose voëtipe vind ’n mens in die Duitse heraldiek, waar dit onder die naam gestümmelte Amsel aangetref word. Dit is ’n soort lewerik.

Hierdie drie voëltipes word deur François Velde op sy webwerf Heraldica bespreek.

[6] In die Lae Lande veral word name van hierdie soort geredelik van een taal na die ander vertaal. Engelse geskiedenisboeke verwys dikwels na prinse genaamd òf Boudewijn òf Baudouin as Baldwin.

Henegouwen is die Nederlandse naam vir Hainault, ’n Franssprekende of Waalse graafskap wat lank deur die grawe van Holland behou is. Dit is tans ’n provinsie van België.

[7] Die hertogdom Gelre is uiteindelik gedeel, en sy westelike helfte het die Nederlandse provinsie Gelderland geword, terwyl die oostelike helfte tans deel is van die Duitse Land Nordrhein-Westfalen.

[8] Die Nederlandse provinsie Limburg is geskep nà die Belgiese opstand van 1830, en is ongeveer die helfte so groot as die hertogdom Limburg. Die ander helfte is die Belgiese provinsie Limburg.

[9] Die Nederlandse provinsies Zuid en Noord Holland is in 1840 geskep. Voor daardie datum was hulle gesamentlik die graafskap Holland.

[10] Hartemink beskryf die vair-“klokkies” as “lampen”.

[11] Hartemink haal die wapendiploma se blasoen aan, wat die hande as au naturel beskryf.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Inligting oor Châtillon-familie uit International Civic Arms-insrkywings vir (onder andere) Hardinxveld, en oor die Suid-Afrikaanse De Kock-familie uit die Groot Afrikaanse Familienaamboek deur C Pama.

Illustrasies: Wapens van Hardinxveld, Haaften, Est en Opijnen, Beesd, Waardenburg en Ophemert uit International Civic Arms; Châtillon-wapen met ster uit Groot Afrikaanse Familienaamboek.


Terug na familiewapens-indeks

Terug na Armoria familia-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle