Armoria familia
http://www.oocities.org/skildsoom

Algoa Sun

Wapens – geleen en nuut geskep

deur Mike Oettle

Geregistreerde Snyman-wapen

“ELKE Afrikanerfamilie het ’n familiewapen . . .”
Snyman

Nouja, N H Theunissen het hard probeer om hierdie stelling waarheid te maak.

Boonop bestaan daar nie so iets soos ’n wapen wat deur elke lid van ’n familie gevoer mag word nie.

Tussen 1944 en ’47 het hy maandeliks ’n artikelreeks (getiteld “Afrikaner, ken uself”) in Die Brandwag geskryf wat die heraldiek van Afrikanerfamilies voorsgestel het.

Of altans, dit was ’n reeks wapens waarvan sommiges wel voorheen gevoer is, maar wat ander ingesluit het wat hy self versin het.

Lesers van Die Brandwag het dit as gesaghebbend aanvaar en van die Kaap tot op die Limpopo – en selfs verder noord – het Afrikaners sy ontwerpe op hul sitkamermure geplaas en trots verklaar: “Dit is ons familiewapen daardie!”

’n Treffende voorbeeld is die wapen van die familie Snyman of Snijman.

Hierdie familie het sy oorsprong in Suid-Afrika. Daar is geen gelyknamige familie in Europa wie se wapen “geleen” kon word nie.

So iets het ook al by tye gebeur – genl Piet Joubert het tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog Europa toe gereis om steun vir die Boererepublieke te werf, en het teruggekom met, onder andere aandenkings, ’n tekening van ’n blou wapenskild met drie verkorte kepers in silwer.
Joubert

Dit, het hy verklaar, is die wapen van die Jouberts.

Hy was blykbaar onbewus dat sy familie nie oorspronklik Joubert geheet het nie: die familienaam van sy stamvader, Pierre Jaubert, is aan die Kaap verander na die O-spelling.

Die Jauberts se tuiswêreld was die mondinge van die Rhône-rivier, in die suide van Provence. Die familie wie se wapen deur genl Piet as sy eie familie s’n geproklameer is, stam uit Dauphiné, aan die noordekant van Provence, en alhoewel dit verlangs moontlik is dat daar ’n verbintenis is tussen die twee, is so iets tot dusver nie bewys nie.

Met ander woorde, die Jouberts van Suid-Afrika voer die wapen van vreemdelinge, sonder hulle toestemming.

Maar om by die Snymans terug te kom: gelukkig vir hulle is Theunissen se ontwerp blykbaar uniek. Dit lyk of daar geen ander familie in Wes-Europa is wat so ’n wapen voer nie.

Daarom was die Staatsheraldikus bly gewees om dit as binneskild in te lyf by die wapen wat eerw Roy Snyman in 1979 laat registreer het.
Roy Snyman

Enige ander Snyman kan nou ook die wapen op sy naam laat registreer.

Vir die Snymans[1] eindig hierdie storie gelukkig.

Maar vir die Jouberts van Suid-Afrika is die wapenskild van drie silwer kepers iets waarop hulle nie geregtig is nie, en waarvoor die Staatsheraldikus nie aan hulle registrasie sal toeken nie.

En in ander gevalle het Theunissen wapens versin wat wel die bestaande wapens van families in Europa na-aap.

Dié staan ook nie ’n kat se kans om in Pretoria geregistreer te word nie.

En miskien staan daar in julle huis ’n wapentekening wat een of ander handelaar in ’n boek gevind het. “Dit is jou van,” het hy miskien gesê, “dit is jou wapen.”

Maar as hy geen bewys het van ’n verbintenis tussen die gelyste familie en joue nie, het hy jou geld gesteel.



[1] Vir ’n insig in die oorsprong van die Snyman-familie, kliek hier.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkenning: Wapens van Joubert en Snyman (die een in goud en rooi) uit Die Groot Afrikaanse Familienaamboek deur dr Cor Pama (Human & Rousseau); wapen van eerw Roy Snyman vanaf ’n besoekkaart wat hy self laat druk het.

  • Hierdie artikel is aanvanklik in Afrikaans in die Algoa Sun gepubliseer, op 30 Maart 2000.

    Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle