Armoria familia
http://oocities.com/skuinsbalk

Kwartiere – en nog kwartiere

Castilië en Leon

deur Mike Oettle

Pruise

wapens van Lyon (bo) en Bowes

WANNEER die wapens van twee aparte families, of twee aparte heerlikhede, gekombineer word, verg dit ordening – die kombinasie van wapens volgens neergelegde reëls.

Sommige tydelike voorbeelde van ordening is die gebruik van skilddeling om ’n huwelik aan te dui, of om aan te toon dat ’n spesifieke persoon ’n sekere amp beklee. ’n Binneskild sal gebruik word waar ’n vrou ’n erfopvolger is – ordening wat ’n huwelik aandui word in hierdie artikel genoem, terwyl ampswapens hier genoem word.
Bowes trou met Lyon wapen van Bowes-Lyon

Maar wanneer wapens permanent saam georden word, as gevolg van oorerwing, is dit die mees algemeen dat die skild in kwartiere gedeel word – die terms kwartilering of vierendeling word altwee gebruik. Om mee te begin is dit ’n wiskundige verdeling in vier, en in die begin word gewoonlik slegs twee aparte wapens so saamgevoeg.

Die heel eerste keer toe twee wapens gevierendeel is, was in die unie van die koninkryke Castilië en Leon, toe die woordspelende wapens van die twee ryke – die kasteel van Castilië en die leeu van Leon – op ’n enkel skild geplaas is, die goue kasteel op sy rooi veld in die eerste en vierde kwartiere, die pers leeu op sy silwer veld in die tweede en derde kwartiere.
wapens van Fleming (bo), Fraser, Keith en Drummond (onder) Fleming-Fraser trou met mej Drummond-Keith

Moncreiffe en Pottinger gee die voorbeeld van die families Bowes en Lyon, voorouers van Elizabeth, koningin van Brittanje se koning George VI en koninginmoeder vanaf 1952 tot 2002. Moncreiffe voeg by (my vertaling): “Natuurlik as ’n man sonder seuns etlike dogters gehad het, sou al sy kleinkinders op die ou end sy wapen kan ‘vierendeel’ met hul eie vaders se wapens.”

Kwartilering stop natuurlik nie met die samevoeging van slegs twee wapens. Daar is vier kwartiere (wiskundig gesproke) aan die skild, en as daar nie genoeg kwartiere is vir al die wapens waarop ’n man geregtig is, word die term “vierendeling” uitgebrei om vir verdere toevoegings ruimte te maak.

In Skotland sal ’n persoon wat ’n wapen erf wat reeds gekwartileer is, verplig word om dit by sy familiewapen as “groot kwartier” – ’n kwartier wat verder onderverdeel is – by te voeg.
Fleming met Fraser, Keith en Drummond gevierendeel Elphinstone trou met ’n Fleming-dogter

Hier het ons die wapens van Fleming, Fraser, Keith en Drummond, reeds in eenvoudige gevierendeelde wapens verenig. Dan trou mnr Fraser-Fleming met mej Drummond-Keith, en hul nageslag kwartileer die vier wapens saam.

Dan kom daar ’n huwelik tussen ’n dogter van hierdie familie en ’n Elphinstone, wat ’n wapen skep met Elphinstone en ’n groot kwartier van eersgenoemde vier families se wapens.
wapen van lord Elphinstone

Die huidige lord Elphinstone is ook vanaf erfdogters van Fullerton en Buller afgestam, dus bring hy daardie twee wapens ook by.

Die lengte van ’n familienaam of van sal natuurlik onder families wat sulke kwarterings kan bybring, heelwat varieer. Sommige families voer veelvoudige, gekoppeltekende vanne, terwyl ander slegs die voorvaderlike van voer.

In Engeland (en ander Engelssprekende lande) het ’n soort omgekeerde snobisme ontstaan waar families wat nie aan die adelstand behoort nie, die gebruik van koppeltekens vermy, terwyl die House of Lords op die koppelteken aandring. Toe die komponis Andrew Lloyd Webber ’n lord geword het, is hy verplig om ’n koppelteken in sy titel as lord Lloyd-Webber te gebruik.
ou Stourton en sy vrou, ’n Chideock wapens van (van links af, afwaarts gelees) Stourton, LeMoyne, Belvale, Chideock, Fitz Payn, Fitz Warin, Argentine, Fauntleroy, Howard en Mowbray

Maar waar meer as een naam gebruik word, kom die pronominale naam (dié van die voorvader in die manlike lyn) in een van twee posisies voor: in Brittanje kom dit aan die einde, terwyl dit op die Vasteland eerste kom. (’n Uitsondering hierop is die tak van die Spencer-familie wat die hertogdom Marlborough besit – wat veronderstel is om hulself Churchill-Spencer te noem. Maar in plaas daarvan voer dit die van Churchill, en voeg hulle Spencer as bykomstige voornaam vir die seuns by. ’n Beroemde familielid was sir Winston Churchill.)

In die Iberiese skiereiland word name soms permanent oor die geslagte heen gekoppel deur om die woord y (“en”) te gebruik, maar dikwels word slegs twee vanne gebruik: ’n man sal gewoonlik aan beide sy vader se van en sy moeder s’n – in Spanje kom die vaderlike naam eerste, en word die moeder se van agteraan bygevoeg. In Portugal is dit andersom, met die vaderlike naam laaste. In gevalle waar slegs een naam gebruik word, word die vaderlike naam verkies.
die volgende Stourton en sy vrou, ’n Fauntleroy

Anders as die Skotse reël van “groot kwartiere”, vind ’n mens in Engeland ’n eenvoudige aanwas van kwarterings. Indien daar drie wapens in een gekwartileerde skild gekombineer is, herhaal die vierde kwartier die eerste. Die eerste kwartier het gewoonlik die pronominale wapen, alhoewel sommige heerlikheidswapens eerste geplaas word, en persone van Britse koninklike afstamming wat daarop geregtig is om ’n vorm van die koningswapen te voer, plaas dit gewoonlik ook eerste. Met ses kwartiere, kan die sesde kwartier die eerste herhaal.
jong Stourton lê aan by mej Howard wapens van (van links en van bo) Segrave, Plantaganet van Norfolk, Fitzalan, Warenne, Dacre, Greystoke, Talbot, Cummin, Baliol en Galloway

Die skild word “in ses gevierendeel” as daar ses onderverdelings is, “in agt gevierendeel” indien dit agt is, ensovoorts.

Moncreiffe en Pottinger is beskeie en noem nie die oorsprong van die olifant wat op een van hul bladsye verskyn wat ’n kleed dra wat 20 kwartiere insluit, maar ’n olifant met net so ’n kleed het deelgeneem aan die heraldiese optog wat hierdie twee vir die Festival of Britain van 1951 gereël het. Moncreiffe se teks onder die olifant lui:

kwarterings van lord Mowbray and Stourton op ’n olifantkleed vertoon

“Soveel kwarterings kan oor etlike eeue deur ’n ou Engelse familie bymekaargemaak word dat ’n gevierendeelde wapen soms so groot word dat dit amper ’n olifant sou verg om dit te dra.

“Dit is onnodig om al die versamelde kwarterings te vertoon nie, op voorwaarde dat die junior takke enige aantoon wat hulle as breuke aan hul eenvoudige familiewapen gebruik (waar hulle verskil aangedui het deur om te kwartileer – in Engels, ‘difference by quartering’).”
die wapen soos in werklikheid deur lord Mowbray and Stourton vertoon

“Gerieflikheidshalwe sal slegs sowat ’n halfdosyn kwarterings aangetoon word.

“Maar indien’n kwartering vertoon word wat deur meer as een vrou geërf is, moet die wapens van al die erfdogters tussenin ook vertoon word.”

die kwarterings van die konings van Pruise

In Duitsland is vierendeling die metode wat gebruik word om die verskeie heerlikhede van ’n adellike familie te orden – en hoe ouer en hoe magtiger die familie, hoe meer kwartiere. Soms verskyn fiktiewe kwartiere (dikwels heelwat meer vergesog as die Engelse aanspraak op die Franse troon, wat vanaf 1340 tot 1801 in die wapens van Engelse en Britse soewereine weerspieël is).

Die kwarterings van families met ’n tradisie as soewereine heersers – vòòr Napoleon het Duitsland meer as 300 soewereine state gehad – het dikwels ’n ekstra skildveld (gewoonlik rooi en sonder wapenfigure) ingesluit, waarna verwys word as ’n Regalienfeld. Dit kan miskien vertaal word as “rooi vir soewereiniteit”. ’n Alternatiewe Duitse naam daarvoor is Blut Fahne (letterlik “bloedvlag”; die “bloed”-verwysing is na die koninklike bloed of “blood royal”).

Duitsland is ook bekend vir die gebruik van ander ordeningsmetodes as slegs vierendeling.

Bo en behalwe kwarterings sal ’n adellike familie miskien die wapens van sy belangrikste heerlikhede, of van sy belangrikste voorouers, op ’n binneskild vertoon, en sal soms selfs ’n tweede skildjie in die middel van die skildveld (en van die binneskild) – ’n hartskild – ook aantoon.
die kwarterings en helmtekens van die vorste van Schwarzburg-Sondershausen

Die “groot wapen” (hierbo links as skild alleen aangetoon [met nie minder as 48 kwartiere!], maar gewoonlik tesame met pawiljoen en skildhouers vertoon) van die koning van Pruise (vòòr 1871) het nie minder nie as drie binneskilde ingesluit nie, een bo die ander: die boonste vir Brandenburg, met ’n keurvorsmus en ’n hartskild (kyk hier vir ’n verduideliking hiervan); die middelste vir Pruise, met ’n koningskroon; en die onderste vir Hohenzollern, die Swartwoud-staatjie waar die koningsfamilie sy oorsprong gehad het. In die skildvoet (’n reguit skildvoet) is die Regalienfeld.

Kwarterings word dikwels tussen die arms van ’n kruis vertoon.

Die heersers van die vorsdom Schwarzburg-Sondershausen (bo regs) het ’n Regalienfeld (weer in die skildvoet) vertoon – by uitsondering in goud, nie rooi nie (en belaai met ’n hooivurk en roskam [wat foutiewelik ’n hark genoem word]) – en die (grotere) middelste binneskild uit die drie wat hulle vertoon het, het ’n hartskild ingesluit, waarop ’n vorstelike mus. Weereens is die skildvoet reguit. Hierdie wapens het die kwarterings tussen die arms van ’n kruis opgebou uit skuinsstrepies van blou, goud en swart (dit strek nie onder tot in die skildvoet nie), en daar is nie minder as ses helmtekens nie.
wapen van Borcherds wapen van Blanckenberg

Dikwels kom vierendeling selfs glad nie voor nie. Twee wapens kan saamgevoeg word deur skilddeling (hierdie metode word hier verduidelik), deur om die skild deur te sny, of ’n kombinasie van hierdie twee metodes. Wanneer ’n vierde wapen tot enige van hierdie twee toegevoeg sou word, sal die vier miskien saam gevierendeel word.
wapen van koning Juan Carlos van Spanje

By tye sal die wapens van ’n Vastelandse familie georden word deur die plasing van ’n tweede wapen op ’n skuinsbalk, ’n vryhoek, ’n skildvoet of deur om die skild te kap. Die voorkoms van hierdie laaste metode is baie soos dié van ’n skildvoet, maar laat meer ruimte vir die derde wapen oor. In altwee hierdie instansies is die skeidslyn dikwels geboog. (Voorbeelde van beide die skuinsbalk en die gekapte skild verskyn in hierdie artikel.) ’n Geboogde skildvoet vorm deel van die wapen van Spanje, waar dit ’n granaat vertoon, simbool vir die provinsie Granada, die laaste deel van die skiereiland wat deur die reconquista tot die Spaanse ryk toegevoeg is.

Ook in die wapen van die huidige koning, Juan Carlos, te siene is ’n kardoes (foutiewelik in plaas van ’n binneskild gebruik) van Borbon y Parma (die koning se familiewapen). Om meer oor kardoese te lees, kliek hier (aangaande die gebruik daarvan deur dames) en hier (oor waar dit deur kerklikes gevoer word).

’n Ordeningsmetode wat in Spanje en Portugal gewild is, is die gebruik van ’n skildsoom van een familie se wapen om die skild van ’n ander wapen. Die gebruik van skildsome word hier bespreek.
hoe twee verskillende wapens in Duitsland gekombineer kan word

Laastens kan twee wapens gekombineer word deur middel van konjunksie, waar die elemente van die twee wapens saamgevoeg word. ’n Voorbeeld wat deur Fox-Davies gegee word is van ’n wapen skuins gedeel van silwer en blou, saamgevoeg met een in silwer, ’n sespuntige ster van blou, waar die nuwe wapen dan skuins gedeel van silwer en blou, twee sespuntige sterre van die een in die ander is.
wapen van die Cinque Ports

Halvering was ’n vroeë voorloper van skilddeling, waar een helfte van een wapen (vertikal gedeel) gekombineer is met die linkerhelfte van ’n ander wapen. Die Engelse heraldiek het verskeie Middeleeuse voorbeelde hiervan, byvoorbeeld in die wapen van die Cinque Ports (oorspronklik vyf hawestede op die kus van Kent, verantwoordelik vir verdediging teen Franse invalle) waar die regterhelftes van die drie leeus van Engeland blykbaar vir sterte die agterstewe van houtskepe het.
wapen van Loschau of Lexau, van Augsburg wapen van d’Aubigny soos in ‘‘Simple Heraldry’’ aangetoon wapen van d’Aubigny soos dit in Boutell’s verskyn

In Duitsland is halvering steeds ’n algemene ordeningsmetode, waar een of altwee van twee gekombineerde wapens gehalveer word, soos in die wapen van Loschau.

’n Naspoor van halvering kan gevind word in die moderne behandeling van gedeelde of gevierendeelde wapens, waar ’n skildsoom of binnesoom dikwels slegs gedeeltelik aangetoon sal word, soos in die wapen van d’Aubigny soos dit in Boutell’s verskyn. Hierdie gedeelde skild blyk egter die wapen te wees van ’n vroeëre seigneur d’Aubigny te wees as die een wie se wapen in Simple Heraldry verskyn; hierdie illustrasie toon ’n gevierendeelde wapen met ’n binneskild (vir die graafskap Lennox). Behalwe dat die gevierendeelde wapen die skildsome in elke kwartier volledig vertoon, is daar verder twee interessante verskille: die Franse koninklike wapen verskyn met ’n ander soom, terwyl Skotland met Stewart vervang is (met dieselfde soom wat, in die vroeëre wapen, om die lelies van Frankryk verskyn).

Kwartilering is ’n metode wat op die skildinhoud van toepassing is, maar dit is ook ’n samevoeging van wapens wat dikwels een of meer helmtekens insluit. Die moderne Britse praktyk is gewoonlik om slegs een helmteken te vertoon, die een wat aan die pronominale wapen behoort (die kwartering wat die hoofnaam van die familie aandui), maar soms is meer as een toegelaat.

In Duitsland sal ’n adellike familie miskien soveel as ’n halfdosyn helmtekens vertoon, of selfs meer.

Britse ordeningsmetodes het gewoonlik met kwartilering te doen, maar een uitsondering word gevind in instansies waar sekere wapens deur vroulike oorerwing kom. Dit kom voor waar ’n vroulike erfopvolger trou en dogters het, terwyl haar man, deur ’n ander huwelik, ook seuns het. Die seuns erf die vader se wapen, maar die erfdogter of -dogters dui hul erfenis aan deur die gebruik van vryhoeke.
Lady Mary Bermingham William, graaf van Howth William, graaf van Annesley Lady Isabella St Lawrence

L G Pine skryf in die Encyclopædia Britannica van die instansie van Thomas Bermingham, graaf van Louth († 1777), wie se dogter lady Mary met William St Lawrence, 2de graaf van Howth, getroud is, en vier dogters gehad het. Die graaf het ’n tweede maal getrou en het ander kinders gehad, waaronder ’n seun (die 3de graaf).
Lady Mary Annesley

Lady Mary se dogter lady Isabella St Lawrence, mede-erfdogter van haar moeder, is getroud met William Richard Annesley, 3de graaf van Annesley, en het een dogter, Mary, gehad. Die graaf het, soos sy skoonpa, ’n tweede maal getrou en het seuns gehad (die 4de en 5de grawe), maar lady Mary was haar moeder se enigste erfdogter (en ook mede-erfdogter van haar ouma).

Lady Isabella se wapen (hier op ’n ruit vertoon, wat haar voor haar huwelik aandui) word aangegee as dié van Bermingham met St Lawrence op die vryhoek, terwyl lady Mary Annesley se wapen (ook ’n ruit) die wapen van Annesley op ’n linkervryhoek byvoeg.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: wapen van Castilië en Leon, van die koning van Pruise en van koning Juan Carlos van Spanje met vergunning van International Civic Arms; wapen van Schwarzburg-Sondershausen uit Flags of the World deur Whitney Smith (McGraw-Hill); wapens van Blanckenberg en Borcherds uit Die Groot Afrikaanse Familienaamboek deur C Pama (Human & Rousseau); wapens met sterre (om konjunksie te illustreer) en van Loschau uit A Complete Guide to Heraldry deur A C Fox-Davies, hersien en met aantekenings deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Nelson); wapen van die Cinque Ports en van d’Aubigny (gedeelde weergawe) uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, (Frederick Warne & Co); wapens van Bermingham-, St Lawrence- en Annesley-families uit die Encyclopædia Britannica, 15de uitgawe, vol 8 (Chicago, 1981); alle ander illustrasies uit Simple Heraldry. Kleure aangepas met behulp van MS Picture It!


    Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle