Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Besny of onbesny?

WANNEER mans naak rondgaan, is een ding dadelik sigbaar: of hulle besny is aldan nie.

Dit behoort nie veel saak te maak nie – in die Westerse wêreld is daar groot gemeenskappe wat, om die een of ander rede, hul seuns wel besny, en ander wat dit nie doen nie. Niemand behoort na ander skeef te kyk nie, selfs as jy die enigste is in ’n klomp mense wat anders is.

In die Klassieke wêreld was dit egter belangrik. Vir die Antieke Grieke en daardie ander – Romeine ingesluit – wat hul kultuur gevolg het, was daar streng reëls oor wat welvoeglik was en wat onwelvoeglik was wannner ’n mens naak was.

Soos in hierdie artikel genoem, is dit as barbaars beskou om enige soort liggaamshare te hê. En elke manspersoon moes ’n voorvel hê, want dit het die eikel (of soos dit medies beskryf word, die glans penis) gedek. Om dit bloot te stel is (as jy in die openbaar was) as obseen beskou.

Die gedagte het hulle blykbaar nie bygekom nie dat terwyl ’n ereksie in gemengde omstandighede obseen is, die eenvoudige blootstelling van die eikel (in ’n besnyde) heeltemal kuis is.

Hulle reëls vir daardie soort ding was ook anders as ons s’n, want hulle het ’n hoë agting gehad vir homoseksuele verhoudings tussen mans en seuns in die gymnasium – maar daaroor sal ek nie hier uitwei nie.

Vir Grieke en Romeine was hierdie situasie – dit wil sê, om naak en haarloos te wees, en met voorvel by – heeltemal aanvaarbaar.

Hier het egter een etniese groep eenkant gestaan: Jode.

Grotendeels het Jode nie daarin belang gestel om van hierdie aspekte van die Griekse kultuur – gimnastiek en atletiek – deel te wees nie.

Hulle het hoofsaaklik by hulle eie mense gehou, waar naaktheid heelwat meer beperk was. Dit wil nie sê dat daar geen geleenthede was waar mans of vrouens saam naak was nie, want hulle het wel gebad (die geslagte het egter streng apart gebly). Tewens was rituele baddens veral vir vrouens van groot godsdienstige belang, en onder die Ortodokse bly dit tot vandag toe so.

Toe mans saam met ander gebad het, was dit vir almal duidelik wie Joods was, want dit is neergelê dat elke Joodse seun in die ouderdom van agt dae besny moet word, en dit word verwag dat dié wat dit (om watter rede ook al) mis, as volwassenes besny moet wees.

Ons lees in Handelinge 16:1-3 dat die Apostel Paulus persoonlik vir Timoteus, die seun van ’n Griekse vader en ’n Joodse moeder, besny het, sodat hy in die Joodse gemeenskappe waar die twee as sendelinge sou werk, aanvaar sou wees.

Jode en Grieke het nie in totaal aparte gemeenskappe geleef nie.

Baie Grieke en Romeine het tot die Joodse leefwyse aangetrokke gevoel, sover dat daar in elke stad groepe nie-Jode was wat as Godvresend bekend gestaan het. Spesiale sitplekke is in die stadiums vir Godvresendes (sowel Jood as nie-Jood) voorsien, sodat hulle nie met die heidene moes meng nie.

En in die teenoorgestelde rigting was daar enkele Jode wat na die Griekse leefwyse geaspireer het, en aan gimnastiek en atletiek wou deelneem.

Hier was daar natuurlik dadelik ’n struikelblok: die gebrek aan ’n voorvel.

Jode wat aan atletiek wou deelneem, moes ’n pynlike operasie ondergaan wat hulle van ’n kuns-voorvel voorsien het.

In die huidige atletiek is hierdie oorweging heeltemal irrelevant, want moderne atlete dra klere.

Daar is daardie idealiste onder naturiste wat voorspel dat daar in die toekoms ’n tyd sal wees wanneer deelnemers aan die Olimpiese Spele naak sal wees, soos wat dit in die Klassieke tyd onder die berg Olimpus plaasgevind het.

Ek sou hoop, indien hierdie ideaal verwesenlik sou word, dat dit nie van manlike deelnemers verwag sal word dat hulle òf besny òf onbesny moet wees – of selfs harig of haarloos[1] – en dat al hierdie toestande as welvoeglik beskou sou word.

– Strandloper

Vir ’n bespreking van besnyding van nader by, kyk hierdie artikel.



[1] My persoonlike houding (soos ek dit elders duidelik uitspel) is dat die verwydering van liggaamshare vermy behoort te word, maar dit sou oorbeperkend wees om harigheid òf te verbied òf verpligtend te maak.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper