Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Dinge waaroor ons gewoonlik nie praat nie

Die toepassing van ’n naturisties-gerigte gedagterigting op sake wat die kleinhuisie betref

ONS hondjie – amper volgroeid, maar steeds ’n rabbedoe-tefie – het iets onder my aandag gebring oor wat ons in die toilet doen.

Wag ’n bietjie, vra jy miskien, hoekom praat jy hier van toilette? In vele families is selfs die woord toilet[1] iets wat sover moontlik vermy word.

En naturisme, sal jy miskien sê, gaan daaroor om dinge wat jy gewoonlik doen, sonder klere te doen, nie oor wat jy in die privaatheid doen nie.

Privaatheid is iets wat naturiste wel hoog ag, al sien vele buitestaanders dit nie so nie. Hulle swem, bak in die son, gaan stap en doen allerhande dinge poedelnakend, maar as hulle die toilet gebruik, doen hulle dit privaat.

Naturistiese fasiliteite voorsien gesamentlike stortbaddens waar mans, vroue, seuns en meisies hulself was – die hele liggaam – saam met enigiemand anders wat ook daar mag wees.

Maar hulle voorsien ook aparte vroue- en manstoilette, gewoonlik met deure op die afskortings, want selfs al is ’n mens heeltyd naak, is daar steeds oomblikke wanneer dit nodig is om privaat te wees.

Terselfdertyd het naturists wat sulke fasiliteite gebruik ’n voordeel oor jou Jan Alleman met klere aan want, nadat hulle die kleinhuisie[2] of gemakshuisie[3] gebruik het, kan hulle stort, en heeltemal skoon wees – selfs nadat jy jou anus deeglik met papier afgevee het, is dit nie heeltemal skoon nie. Jan of Janie Alleman (of Tekstiel, as jy dit eerder so wil hê) trek daarna aan om die bietjie vuilheid weg te steek, maar Gert of Gertruida Naturis maak eers seker dat hulle skoon is, en tree dan die daglig in sonder òf klerasie òf vuilheid.

Weereens moet ek noem dat naturisme gaan oor dinge natuurlik te doen – en veral om gedagte te gee aan wat natuurlik is.

Ek praat nie hier vuil nie bloot om vuilbekkig te wees nie: dit is sake wat naturiste miskien meer as mnr en mev Alleman in die oë behoort te bekyk.

Wat was dit dan wat my dogter se hondjie onder my aandag gebring het?

Nouja, in ons huis sluit ons nie altyd die badkamerdeur nie (ja, ek sê badkamer, maar in ons huis het ons spoeltoilette in beide die stortkamer en die badkamer). My kinders is ietwat meer vol fiemies, maar my vrou en ek het ’n punt daarvan gemaak om bekombaar te wees, al sit ons op die porseleintroon, en die jonglui ly nie daaroor enige trauma nie.

Die hondjie het egter in hierdie situasie ’n nuwe element ingebring. Sy is lief om naby mense te wees, en is gewoond om die kamer binne te storm en vir jou haar hele aandag te gee (en eis sy ook tegelykertyd jou aandag). En soos ons haar afweer, besef ons dat die water-aksie[4] nie die eenvoudige funksie is wat ons miskien dink nie, maar ’n inspanning van wil en spiertrekking. Nie maklik as jy ’n groot, woelige, snuffelrige hondjie probeer weghou nie!

Terwyl ek hieraan dink, nadat genoemde hondjie dit onder my aandag gebring het, het ek teruggedink na ’n Tom Selleck-film getiteld Mr Baseball,[5] waarin hy ’n verouderde professionele bofbalspeler wat aan ’n Japannese verkoop is vir heel moontlik sy finale seisoen.

Selleck se karakter kry ’n skok-blootstelling aan die Japannese kultuur, aangesien sy tolk aan die einde van die eerste dag vir hom vertel dat hy alles verkeerd gedoen het, en sy moontlike ondersteunders afstoot gegee het. Uiteindelik ontplof hy in die klub se kleedkamer en skree hy op die tolk: “Next thing you’ll be telling me how to go to the toilet!” . . . toe kyk hy af en gewaar hy ’n vreemde toilet-apparaat vlak teen die vloer, wat duidelik die plek inneem van die wit porseleintroon wat vir Westerlinge so bekend is.

(In Sjina is openbare toilette gewoonlik bloot gate in die vloer, en blykbaar is dit ook so in ander Oosterse lande.)

Hoekom, dink jy, gebruik die Japannese sulke fasiliteite? Is dit dat hulle primitief is? Baie Westerlinge sou maklik daardie gevolgtrekking maak, maar die Japannese (ja, selfs die Oosterlike) kultuur is hoogs ontwikkel, en op verskeie maniere is dit hoër as ons eie.

Die kritieke verskil is dat waar ons taamlik hoog bo die vloer sit as ons toilet toe gaan, hurk die Oosterling. [6]

En hurk is ’n hoogs natuurlike manier om die nodige funksies uit te rig.

Al hoe meer mediese getuienis bewys die teorie dat mense wat op die toilet hurk (of hulle ’n gat in die vloer gebruik of bloot ’n heelwat laer bak) ’n aansienlik laer insidensie het van ’n verskeidenheid siektetoestande, wat beide spesifiek verband hou met die ontlastings-[7] en urineringsfunksie en met die algemene toestand van die liggaamspiere wat gebruik word (hoofsaaklik dié van die rug en bene).

Ons Westerlinge is lui – vrek lui – en om op toilet-sitplekke te sit wat so hoog is as 430 mm (17 duim) bo die grond is, help nie ons algemene gesondheidstoestand nie.

Meer belangrik is dat om te buk terwyl ons hierdie funskies uitrig dit toelaat dat ons heelwat skoner is, aangesien die anus-opening heeltemal ongehinderd is, en nie tydens ontlasting vuilheid sal behou nie.

Dit maak vir ’n man min verskil of hy staande, sittende of hurkende urineer nie (die staande posisie word oor die algemeen verkies, en sommige macho-mans leer hul seuns dat die sittende posisie wyflik is), maar vir vroue is urinering in die hurkende posisie ook heelwat skoner, aangesien daar minder moontlikheid is van drippeling.[8]

Westerse vroue is dikwels onbewus dat hulle net so reguit soos ’n man kan piepie[9] indien hul bene ver genoeg oop is nie. Maar hulle dink nie eens daaraan om dit te probeer nie, want hulle is geleer dat dames op die toiletbak sit met hul bene bymekaar, en dit is onprakties om wyd oop te maak indien dit jou doel is om dit wat uitkom, binne die bak te laat bly.

Dit kan hier genoem word dat ’n reisiger uit Klassieke Griekeland eenmaal opgelet het oor hoe anders die Egiptenare was van al die ander nasies op aarde.[10] Hy het ’n aantal verskilpunte genoem, maar die een wat hier relevant is, is dat, soos hy dit neergeskryf het, die mans sittende sou urineer en die vroue staande.

Sou ’n vrou dit staande doen? [11] Nouja, ek onthou ’n skreeusnaakse afdruk van ’n 18de-eeuse spotprent wat in ’n vriend se gastetoilet gehang het, wat ’n Engelse poskoets getoon het wat gehalt is om dit toe te laat wat miskien letterlik ’n blaaskans genoem kan word. Die koetsier staan op sy hoë sitplek, en laat ’n vloed op die aarde af, so ook die perde wat nog in die tuig staan. Die here van binne die koets en die arbeiders van die buitekantste agtersitplek staan op die grond, ook besig om ’n vloed af te laat. En twee dames (deftig aangtrek) staan, hulle rokke effens gelig en bene wyd uitmekaar, ook besig om ’n vloed af te laat. Die uitdrukking op die gesigte is, sonder uitsondering, een van verligting!

Dit mag beskou word as onwaardig, maar in die dae toe vroue heelwat onderrokke gedra het maar geen broek van enige soort nie, was dit ’n hoogs praktiese manier om die nodige uit te rig.

Wat behoort naturiste hieroor te doen?

Ek sal beslis nie voorstel dat toilette geïntegreer moet word nie (mans en vroue saam) en die afskaffing van private hokkies daarbinne ook nie. Almal het sy privaat ruimte nodig – en naturiste miskien meer as dié wat die voordele van naakte ontspanning nie kan of nie wil insien nie – en hierdie aspek van die naturistiese leefwyse moet sekerlik voortbestaan.

Binne die naturistiese gemeenskap is daar soveel sieninge as mense, en baie sal voel dat hulle geen verandering behoort te maak nie.

Toe ek vir my vrou voorgestel het dat die tradisionele baktoilet afgeskaf moet word, en vervang met vlak-op-die-vloer-toilette, het sy geprotesteer en my gevra: “Wat gaan ou dames maak?” Sy het haarself verdedig deur om te sê dat sy aan my moeder dink (vanjaar 79), maar sy het ook aan haarself gedink (slegs in haar middel-50s).

Sommige naturistiese vroue sal miskien wil hê dat die oorde wat hulle besoek ’n she-inal moet installeer (kyk voetnoot 11), maar staande urinering is nie (sover ek kan aflei) vir vele vroue ’n saak waaroor hulle opgewonde raak nie.

Op vele plekke word daar teen mans gediskrimineer want urinale word glad nie voorsien nie, en waar bak-urinale gebruik word, is dit nodig om laer bakke vir klein seuntjies te voorsien (of stoele waarop hulle kan staan). Miskien sal dit behulpsaam wees om ’n laer she-inal vir klein meisiekinders te installeer.

Maar wat vir my heelwat belangriker voorkom is ’n erkenning dat om te hurk ’n natuurlike en gesonde posisie is vir toiletfunksies, en na aanleiding hiervan die voorsiening van vlak-op-die-vloer-toilette (langsaan, of in plaas van, die gewone baktoilet).

Wie weet – as naturiste in die Weste dit opneem, sal dit miskien na ’n dekade of drie moontlik wees om met mediese statistiek te kan bewys dat om op die toilet te buk ’n gesonder leefwyse is.

– Strandloper



[1] “Toilet” kom van ’n Franse woord wat spieëltafel of kleedtafel beteken. Die woord verwys na die klein toile (dit wil sê ’n toilet [uitgespreek as twa-leh]) of doek wat die tafel gedek het.

Die Engelse woord “lavatory” beteken eintlik ’n plek waar jy jou hande kan was (oorspronklik rituele was, soos gedurende of voor die mis), van die Laat Latynse lavatorium. Dikwels gebruik Afrikaners die Engelse woord in hulle huise.

Altwee woorde is in hulle moderne gebruik eufemismes – tog word altwee eufemisties vermy. Miskien is die mees verwronge eufemisme die gebruik om na sulke fasiliteite as “badkamers” te verwys, selfs al is daar geen bad of selfs ’n stort in die kamer nie.

[2] Nog ’n eufemisme, wat steeds gebruik word van die binnenshuise toilet, al dui dit eintlik op die vrystaande toilet-hut wat in die dae voor moderne riolering in elke huis se agterplaas gestaan het. Dit het òf ’n put onder gehad, òf is ’n verwyderbare emmer onder die sitplek voorsien, wat dan deur die nagwa-span geledig is.

Verwant aan “kleinhuisie” is ’n uitdrukking wat blykbaar in die destydse Rhodesië onstaan het, en ook in ander Britse dele van Sentraal-Afrika voorgekom het. Moontlik is dit ’n “pidgin”-verengelsing van “kleinhuisie” – onthou dat die pioniers wat blanke nedersetting in Rhodesië begin het, ook Boere ingesluit het, al het hul nageslag heeltemal verengels.

In die kombuistaal wat tussen die vrou van die huis en die bediende gebruik is, is daar verwys na die “piekanien kaja” – piekanien van die Portugese pequeno (klein), plus die verkleiningsagtervoegsel -ino, en kaja from the isiNguni khaya, wat hut of huis beteken. Hiervanaf is verder die selfs meer eufemistiese akroniem PK afgelei.

[3] Hier het ons ’n verdere eufemisme, dikwels afgekort na “gemak”.

 

[4] Ja, nog ’n eufemisme, maar oneindig verkieslik bo die gebruik onder dokters wat, wanneer hulle ’n urinemonster verlang, die pasiënt sal versoek om te “miktureer”.

Die woord “miktureer” beskryf wat voëls doen: hulle het nie aparte ekskresie en urinering nie, maar bring hulle waterige drolle voor uit ’n opening wat die kloaka genoem word. Om so ’n woord op ’n menslike funksie toe te pas is in werklikheid hoogs vernederend.

[5] Die rolprent neem sy titel van ’n televisie-onderhoud waarin die Japannese verslaggewer na die nuwe aankomeling as “Mistah Beisoboru” verwys – ’n Japannese poging om die woord “baseball” te reproduseer, aangesien in Japannees die letter L skaars gevind word, en vokale kom tussen konsonante, soos veral ook in die Sotho-tale.

[6] Die invloed van die Westerse kultuur ondermyn hierdie en heelwat ander positiewe aspekte van die Japannese leefwyse.

Soos wat indiwiduele badkamers in huise die gesamentlike badhuis vervang, het baktoilette in Japannese stede die norm geword, asook op oorde wat voorsiening maak vir Westerlinge.

Japan het ’n geweldige probleem ten opsigte van watervermorsing in sulke toilette, aangesien baie Japannese vroue voel dat hulle ’n toiletbak nie kan gebruik nie voordat sy dit driemaal uitgespoel het nie, en dit nie daarna kan verlaat nie totdat sy dit nog sewe maal uitgespoel het!

[7] Die woord ontlasting is ook ’n eufemisme. In plat Afrikaans praat ons van “kak” – die woordeboek gebruik die beskrywing “plat” vir hierdie woord, maar vir baie is dit vulgêr.

In werklikheid, egter, het dit ’n heel respektabele herkoms. Dit kan teruggevoer word na die Middelnederlandse cacken en Hoogduits kacken, wat altwee dieselfde betekenis het.

Of dit oorspronklik Germaans was, is onduidelik, maar Latyn het die woord cacare, wat duidelik naby verwant is aan die Griekse woord kakos (kakoV), wat moontlik reeds in die Klassieke tyd afgewater is, want dit word in die woordeboeke verduidelik (waar dit voorkom in woorde soos “kakofonie” en “kakistokrasie”) as bloot “sleg”.

[8] Die drippeling van urine, wat dikwels as onafwendbaar aanvaar word, is moontlik ’n bron van die afkeer wat baie vroue blykbaar teenoor hul eie vaginas het.

Dit beteken dat die labia (wat in hurkende urinering gewoonlik droog is) onafwendbaar met urinesoute besmet is, asook die hare daarom. Om met toiletpapier saggies aan die labia te druk, verwyder die nattigheid, maar nie die soutigheid nie.

Oor die algemeen het mans nie ’n vergelykbare probleem nie, alhoewel verswakking in die urinêre spiere mag beteken dat daar ’n effense drup is nadat die broeksgulp toegemaak is, en wanneer onbesnyde mans dit versuim om die voorvel genoegsaam terug te trek, sal daar daaronder sout versamel.

[9] Die woord pis of piepie (of bloot pie), en in Afrikaans soms ook die Engelse woord wee (weewee), word algemeen vir urinering gebruik.

Die verdubbelde vorms piepie en weewee word as kindertaal beskou, en piss as vulgêr, maar al hierdie vorms is onomatopeïes (’n imitasie van die geluid), en is dit Germaanse substitute (eufemismes) vir woorde wat vroeër gebruik is.

Die voorkeur vir Latynse vorms (urineer kom van die Latynse urinare) word dikwels as verfynd beskou, maar dit it is ook ’n soort eufemisme. Germaanse woorde is, na alles, verkieslik bo vreemde vorms.

[10] Dit blyk dat die Grieke geneig was om hulle kennis (wat erkennelik heel uitgebreid was) van die volkere rondom die Middellandse See en die Swart See te oordryf. En Aleksander die Grote het, na alles, sover oos as die Indusvallei verowerings gemaak.

[11] Een maatskappy in die Verenigde State, met ’n vrou aan die hoof, het vir homself heelwat publisiteit ingewin (en, neem ’n mens aan, inkomste) uit ’n uitvinding wat die “she-inal” genoem word. Die uitvinding, wat in openbare toilette geïnstalleer word sowel as in privaat-fasiliteite, laat ’n vrou toe om staande te urineer.


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper