Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Naaktheid in die militêre

DIE Suid-Afrikaanse Weermag [1] was nie ’n omgewing wat teenoor naturisme vriendelik was nie – dit is logies, want sy funksie was elders gerig.

Ek glo ook nie dat die situasie verander is sedert die mag in 1994 die SA Nasionale Weermag geword het nie.

Tog bly dit ’n omgewing, soveer ek nog weet, wat gekenmerk word aan ’n hoogs redelike houding teenoor naaktheid binne die perke waarin dit toegelaat word.

Toe ek in 1968 vir Nasionale Diensplig opgeroep is, was daar kommer in die SAW oor gevalle van institusionele homoseksualiteit. Om hierdie neiging te keer (of dit in enige groot mate onder soldate bestaan het aldan nie), is nuwe spesifikasies neergelê vir ablusie-fasiliteite wat gereflekteer is in die pas opgeknapte ablusieblokke wat my infanterie-kompanie in Meimaand daardie jaar begin gebruik het.

Dit is sonder deure ontwerp, nòg binne nòg aan die buitekant. Die privaatheid van die fasiliteit is gewaarborg deur die voorsiening van ’n L-vormige muur om die ingang. Binne was daar geen afskortings hoër as ongeveer 1,2 m – selfs om die toiletbakke. Die stortbaddens, wat sowat ’n kwart na ’n derde van die vierkantige gebou opgeneem het, is van die res van die kamer geskei deur niks meer as ’n trappie (om te keer dat water na die res van die fasiliteit deurgeloop het).

Die gevolg was dat troepies, soos nasionale dienspligtiges genoem is, gou enige skaamte verloor het wat oorgebly het na drie maande se basiese opleiding – waartydens hulle bungalows[2] bewoon het waarin hulle in elk geval geen privaatheid van hulle mede-soldate geniet het nie.

In die buitelug, egter, was daar in die opleidingskamp geen geleentheid vir naaktheid nie.

Die buitemuurse naaktheid wat wel bestaan het, kon in veld-opleidingsgebiede gevind word, waar opelug stortgeriewe (sonder dak, maar met sinkplaat-buitemure) voorsien is, en in die digte bos, waar troepe wat in die “operasionele gebied”[3] ontplooi is, verplig is om hulself te was sonder fasiliteite in geboue. Dit sou miskien die gebruik behels van bad langs ’n watergat tydens ’n ruspouse gedurende patrolliediens. Stortfasiliteite is ook voorsien by tentkampe in gebiede soos die Limpopo-vallei of die verre noorde van Suidwes-Afrika.[4] Hierdie is dikwels slegs met goiingskerms afgeskort, wat ook vir toilette in die buitelug voorsien is.

Maar een geval van naaktheid onthou ek goed as ek op my middelmatige militêre loopbaan terugkyk.[5]

Dit het in Owambo plaasgevind – in daardie jare was Owambo ’n self-regerende Bantustan-staat wat min of meer die middelste deel uitgemaak het van die noordelikste sektor van Suidwes, soos dit bekend gestaan het.

Voordat ons Owambo toe gestuur is, is ons vertel dat vir ’n paar maande in die jaar swaar reënval is, wat in hewige donderstorms val.

Die streek is ’n uitgestrekte plato wat tot etlike meter diep in sand toe is – aan die suiderent rooi sand, maar oor die meeste van die gebied, wit. Op sy beurt is die sand gedek met hardehout-bos, en in groot dele was die woud heel dig, met bome tussen 3 m en 4 m hoog.

As die reënseisoen verby is, is die enigste bekombare water in panne wat nà die reën ’n tyd lank vol bly, maar daarna word dit skaars. Dus het die leër verskeie maniere toegepas om water op te berg, en om dit na geïsoleerde basiskampe te karwei.

Dieselfde was van toepassing op die infanterie-kompanie waarin ek in Owambo gedien het. Die bataljon-basis was langs die teerpad wat vanaf die hek te Oshivelo (ingang tot Owambo, en ’n veesiekte-kontrolepunt) na Oshakati, die hoofsentrum van die stamgebied, loop. Maar die kompanie-basis was in taamlik digte bos sowat twee uur se ry weg, langs sandspore, en al ons water is aangery in tenktreilers wat deur militêre voertuie getrek is.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat dat Owambo tropies is, dus is die son iets wat in die middel van die dag vermy moet word.

Toe ons dus kamp opgeslaan het in wat tot op daardie oomblik ongerepte bos was, moes die lede van my kompanie eers ’n eiland oopmaak waarin ons ons tente kon oprig, en ’n defensiewe perimeter oprig. Binne daardie perimeter is tente opgerig vir kompanie-doeleindes en vir die huisvesting van dié wat min of meer permanent op die basis sou bly. Die res is aangesê om skuilings op te rig.

Ons is almal met grondseiltjies uitgereik, maar daar was oorgenoeg vir akkommodasie-doeleindes, dus het verskeie manne hulle grondseile as sonskerms opgerig.

Nadat ons ’n paar dae in die kamp was, en begin het om vuil te voel – daar was stortwater, maar nie veel nie – toe die hemele een namiddag oopbars en dit begin om te reën.

Nouja, ek was in Suid-Afrika aan reën gewoond, van ligte spoegreëntjies tot swiepende winterreën oor die Kaapse Vlakte, maar ek het nog nooit sulke swaar reënval gesien terwyl dit buite steeds warm was. Dit was soos ’n stortbad.

Ek kyk toe buitekant toe, besluit dis tyd om skoon te was, en tree ek die reën in, kaal en met seep byderhand. Soos ek gewas het, het ek hierdie vloed uit die hemele terdeë geniet – dit was so sterk dat ek nie eens nodig gehad het om met die hande af te spoel nie – maar toe ek klaar is, kyk ek rond en let ek op dat die grondseile met water vol is, en begin om oor te loop.

My eerste gedagte was om die water te laat uitval, maar toe val dit my by dat ons die water kon bêre, deur om die tweewiel-tenktreilers wat ons daagliks gebruik het, en wat amper leeg was, vol te maak.

Toe gaan ek oor na die naaste en begin om die water in die tenk te laat inloop. Maar dit was moeilik om alleen te doen, dus het ek om hulp geroep, en binnekort was daar meer as ’n halfdosyn naakte mans – die kompanie-sersant-majoor ingesluit – wat besig was om water in te samel, en hande bygesit het om die treilers onder die grondseile in te bring sodat daar nie ’n druppel verlore gegaan het nie.

Dit was regtig pret, en niemand het daaraan aandag geskenk dat ons almal poedelnakend was.

Dis net jammer dat dit net eenmaal gebeur het toe ek in Owambo was. Die reënseisoen het daarna op ’n einde geloop en ons moes bloot die snikheet weer verduur, en moes ons ook aangekarweide water gebruik.

Maar die water wat ons gebêre het het minstens ’n week lank gehou, en was daar boonop ’n besparing op brandstof.



[1] Die naam Suid-Afrikaanse Weermag is tussen 1961 en 1994 gebruik. Voorheen was dit die Unie-Weermag (in 1913 deur wetgewing geskep waaronder die militêre formasies [in daardie stadium slegs van die leër] van die vier kolonies wat in 1919 die Unie gevorm het, onder gesamentlike bevel en organisasie gebring is).

In 1994 het die Weermag ’n proses begin waardeur dit oor die loop van ’n paar jaar saamgesmelt het met elemente van uMkhonto weSizwe, die gewapende vleuel van die African National Congress, en die gewapende vleuels van ander Afrika-nasionalistiese bewegings, almal waarvan voorheen in Suid-Afrika verbande organisasies was. Lidmaatskap van hierdie organisasies is, onder die vorige regime, as hoogverraad getel.

Vanaf 1994 is die nuwe organisasie die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag genoem.

[2] Die Engelse woord “bungalow” het in Suid-Afrika (in beide Engels en Afrikaans) hoofsaaklik ’n militêre gebruik. Die Unie-Weermag en die SAW het tradisioneel na enkelverdieping-barrakke as bungalows verwys. In Engeland word die woord gebruik om enkelverdieping huise te beskryf, maar in Suid-Afrika word so ’n gebou bloot ’n huis genoem.

[3] Hierdie term is gebruik om na enige gebied te verwys waar Suid-Afrikaanse militêre magte operasioneel was. (Dit was nie van toepassing op die ontplooiing van polisie in Rhodesië.) Tegnies was dit veronderstel gewees om slegs na gebiede binne Suid-Afrika en Suidwes-Afrika te verwys, maar dit is dikwels uitgebrei om Suid-Afrikaanse operasies in Angola en Zambia te dek.

Dit is egter doelbewus nooit duidelik gemaak nie, en toe Suid-Afrikaanse troepe die eerste maal gestuur is om in Angola oorlog te voer (teenoor “hakkejag”-operasies), is die Verdedigingswet misbruik om enige verwysing daarna in die media te verswyg.

Ek is persoonlik gestuur om by Verdedigingsminister P W Botha toestemming te vra vir die publisering van die feit dat Suid-Afrikaners besig was om in Angola te veg – ’n verslag van die nuusagentskap Reuters wat in daardie tyd wêreldwyd verkondig is. Toe ek die versoek beleefd aan hom in Afrikaans voorlê, was mnr Botha se enige antwoord (in Engels): “You can’t publish it.”

Volgens die wette van daardie tyd was dit moontlik, nà so ’n uitspraak, dat sulke publikasie gestraf sou word met die arres van die redakteur en die moontlike sluiting van die koerant.

[4] Die gebied wat Duits-Suidwes-Afrika (Deutsch-Südwestafrika) was, is amptelik Suidwes-Afrika genoem vanaf 1915, toe Suid-Afrikaanse magte die meeste daarvan ingeneem het (’n mag van die British South Africa Police uit Rhodesië het die Caprivi-strook ingeneem), tot in 1980, toe die gebied onder die naam Namibia onafhanklik geword het.

Namibia is ’n naam wat die Verenigde Nasies in New York op die gebied afgeskuif is. Dit is ontleen van die Khoikhoi-woord Namib, die naam van die kuswoestyn wat vanaf Namakwaland in Suid-Afrika (tans in die Provinsie Noord-Kaap) tot diep in Angola strek. Op sy beurt is dit ontleen van nami (wat “niks” beteken) plus die manlike einding -b, wat ons ’n woord gee met die betekeinis “die Niks” of “Hy-Niks”. Daarby is die Latynse vroulike einding -ia toegevoeg, wat algemeen in landsname voorkom.

Dit skep dan die anomalie van ’n manlike woord wat sy manlike vorm behou terwyl dit tegelykertyd vroulik gemaak is.

Die gebied is sedert die laat 1960s deur die Verenigde Nasies Namibia genoem, maar ten spyte van verskeie pogings om vir die gebied ’n regering te skep, was daar tot in 1980 geen praktiese uitwerking daarvan behalwe die aanstelling van amptenare wat in New York gestasioneer is.

[5] Ek is wel een veldtogmedalje, die Pro Patria-medalje, toegeken. Ek het egter my militêre diens tot die minimum van my verpligting voltooi, om te vermy dat ek my in situasies sou vind waar ek miskien beveel sou word om mede-Suid-Afrikaners dood te skiet.

– Strandloper


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper