Tuiste | Maritz familiegeskiedenis | Geslagsregister | Skakels | Kontakinligting | Werfinligting |Poslys



NAMA-OPSTANDE

SOOS ONTHOU DEUR JOSEPH JOOSTE

in die handskrif van Stoffel Coetzee

 

Op Kanaams het Joseph Jooste en Apie Burger gemerk dat die Hotttentotte ontstuimig is en dat daar moeilikheid gaan kom. Die anderdagmôre het ons besluit dat Josehp Jooste na Seskameelboom sal gaan en Apie Burger na oom Centre van Zyl om uit te vind wat aan die gang is.Vanaf my plek moes  ek en Joseph Jooste deur 'n diep sloot teen 'n rant uitgaan en waar ek teen die rant kom kon ek toe baie ver sien. Daar sien ek toe 'n groot stofwolk soos van vee wat aangejaag word en terselfdertyd twee perderuiters wat na my toe aankom. Dit was toe hottentotte, maar toe hulle sien ek het my geweer by my het hulle stilgehou ongeveer 200 tree van my af.   

Daar was toe nog 'n klomp ruiters in aantog, maar ek herken hulle toe as Duitse troepe en het toe my pad verder aanvaar. Toe ek op Seskameelboom aankom het die mense onder de Wet se perde klaar opgesaal gestaan toe vra ek vir Andries de Wet wat gaan aan. Hy sę toe dat hy nou dadelik Gibeon toe ry, want dit lyk vir hom dit is oorlog. Toe kry ek vir Dawid Maritz en van der Linde daar en stap na hulle toe. Dawid sę toe vir my hy het sy vrag hawer afgegooi, want dinge lyk sleg en hy ry dadelik Soetkaus toe. Ek het toe ook teruggery, nie met die kloof langs nie maar sommer reguit na die rante en toe ek op die berg uitkom kon ek mooi op die huis sien en lei toe my perd af werf toe.  

Daar was niemand nie, maar daar was wel mense, ek het toe nie my perd afgesaal nie en alles deurgekyk en toe kom vier hotttentotte aan, maar hulle was ongewapen. Ons het toe koffie gedrink en voor die deur gaan sit, ek het eers my geweer gelaai en agter die deur gaan neersit, want ek het geweet daardie geweer sal hulle nie verstaan nie. Die hotnots het my toe uitgevra waarom ek nie afsaal nie, maar ek praat toe die ding dood. Jan Hefer skryf my toe 'n briefie dat ek moet oorkom om te kom kaart speel.  

Die een hotnot staan toe op en sę dat hy sy pyp in die huis vergeet het. Die ander staan toe ook eenkant toe gaan ek ook in die huis, want ek was onrustig dat hy my in die rug sal skiet en toe ek daar kom staan hy met my geweer in sy hand, maar hy kon hom nie hanteer nie en moes dit weer neersit en toe is hulle almal weg. Ek wag toe vir Apie Burger en hy kom toe eers sononder daar aan. Ons het toe besluit dat Apie se vrou die volgende dag die perdekar sou vat, Apie self die perd om die beeste en perde aan te jaag en ek sou die vee aanjaag en trek na Rietfontein.

Die volgende more het ek toe ook vee toe gegaan soos besluit, maar daar was geen veewagter nie.   Ek het my hotnot veewagter die aand gesę vroeg die more moes hy kom vuurmaak en koffie maak, maar hy het toe nooit gekom nie. Ek het sewe patrone in my besit gehad en Apie het nege gehad. Ek het toe maar self vuur en koffie gemaak en vir Apie-hulle wakker gemaak en loop toe vee toe, maar sonder die geweer, maar is maar altyd onrustig, want dit was toe nog skemerdonker. Ek verstaan die hotnots taal baie goed en ek het na die vee toe geloop en my mooi in die hotnots vasgeloop, want ewe skielik praat een agter my en toe ek omspring skiet een van hulle op my en toe 'n hele sarsie, maar nie 'n skrapie wat ek kry nie.  

Ek spring toe daar van 'n krans af en hardloop huistoe maar hulle gaan sit toe op die krans en skiet op my en so hardloop,  en dan weer stap het ek die huis bereik en toe ek amper by die huis is klap 'n koeël net so by my.   Apie kom toe uit en ons gryp ons gewere, want die  hotnots wil toe ons perde vat. Ons gaan toe na die koppie anderkant die huis (die vrou ook), want ons moet vlug uit die huis, ons het te min patrone.   Ons het toe die perde daar gevang en opgeklim, ek met die vrou agter op my perd, want Apie was siek, en so het ons gevlug na Soetkaus, die hotnots het ons toe by die huis gaan soek toe kon ons darem uitvlug.   

Toe ons daar kom was die ander mense net klaar om te vertrek na Kameelhaar, daar kry ons toe vir Jan Heevers en hy weet toe nog niks wat aangaan nie, want hy het nog met al sy werkvolk gestaan en werk en toe is hy saam met ons na Gibeon toe hy hoor van die aanvalle. Ons is toe met 'n wa uit Gibeon om 'n paar vrouens op Skuimboog te gaan haal.   Die een vrou het nog geboorte gegee aan 'n kind. Die hotnots het ons gewaar, want ons was maar agt man en hulle skiet toe op ons, maar ons behoud was 'n ander patrollie van die ander kant af. Ons kon toe deurkom tot by die vrouens. Hulle lę ons toe weer voor toe ons met die vrouens terug gaan en toe val die wa om met die vrouens, maar nie een het seergekry nie. Ons het toe weer die wa opgetel en die vrouens gehelp, maar die goed net so laat lę en is toe darem verder veilig deur met die vrouens.

Versamel en opgestel deur Ponk O'Kenndey.