Tuiste | Maritz familiegeskiedenis | Geslagsregister | Skakels | Kontakinligting | Werfinligting |Poslys


DONKER URE VAN DIE VOORTREKKERS VAN SUIDWES

SOOS VERTEL DEUR

 CHRISTOFFEL   COETZEE    (Getroud met  Esther Jacoba Maritz)

 

 

Ons het op Grootvlei gebly en in 1898 het ons Kupp (Kub) gehuur vir 5 jaar.   Die Duitsers wou ons toe uitsit uit die land maar ou Gustav Voag het toe gekeer en gesê dis beter dat die Boere die Duitsers in die Unie ook uit die land sit en hy was een van die grootmanne.   Toe wou die Duitsers gehad het dat ons Duitse onderdane moes word, maar daarvoor is ook gekeer, die Boere wat wou Duitse onderdane word het geword en die ander het hulle by die Engelse Konsul in die Kaap gaan aanmeld.   Sodoende het ons toe transport gery, maar ons kon nie ons geld  bank nie.    Hullle wou dit nie aanvaar nie.   Later toe die transport besigheid afbreek het ek, Stoffel Coetzee, gehandel onder die Basters.   Lang Piet Brand het die oorkantse Kup anderkant Visrivier gehuur.   In 1899 het ek gegaan oorkant die Grootrivier en my broer Jacobus Coetzee gaan haal, want my oom Stoffel Dreyer het hom in 1894 kom vat toe ek en my broer met die sout opgekom het.   Vir 'n jaar het hy toe vir my moeder gesorg.   In 1901 het ek afgegaan lyn toe, maar in 1900 is my moeder oorlede, toe was ek nie meer so vas deur vir haar te sorg nie.   In 1902 is ek getroud met Ester Jacoba Maritz.   Toe het haar broers en haar vader ook opgekom hiernatoe.   In 1903 het die laaste Herero's uitgebreek, 100 man van Witbooi het gegaan na die Duitse regering.   Hulle het gegaan met die opinie om weg te loop, maar die Duitsers het hulle in klompies tussen die Duitsers ingesit, toe het hulle nie kans gehad nie.   In 1904 het ons, Stoffel Coetzee, Hans Maritz, Dawid Maritz en my ou skoonmoeder, Esther Jacoba Maritz gegaan na Seskameelboom.    Ons het met  vier waens gegaan, maar die een was leeg.   Die een wa het ons by D. Kotze  gekoop.   Op Seskameelboom het my moeder agtergebly.    Dit was Januariemaand.   Op die pad het ons twee hotnotte teegekom, die een se naam was Nicolaas van der Westhuizen en die ander was ook 'n beampte van Witbooi.   Ek was besig om met die trekgoed te werk toe een van die hotnotte vir my swaer sê dat hierdie die jaar is wat ons julle almal gaan doodmaak.   My skoonsuster Olfiena (Olivina)Maritz, (sy was toe tien jaar en is nou die vrou van Piet Brand) het agter haar broer gestaan toe die een hotnot met sy vinger na haar wys en sê dat dit hulle klas meisies is wat die hotnots sal vat vir vrouens en die mans en ander Boere en Duitsers sal almal uitgemoor word, maar toe die hotnot die woorde klaar gesê het toe slaan ek, Stoffel Coetzee hom met die vuis dat hy op sy rug lê, toe spring hy op en stry dat hy dit gesê het, maar die ander Nicolaas van der Westhuizen sê toe dat hy wel so gesê het en toe het die hotnot dit ook erken.   My swaer, Hans Maritz was net weg osse toe om hulle nader te bring saam met die hotnots wat by die waens gewees het.   Ons het toe aangery en die anderdag oggend 9 uur was ons in Gibeon.   Dawid Maritz en ek het toe geloop na ou Willem Krappenhauf in die winkel en hom toe alles gaan vertel.   Toe sê ou Willem Krappenhauf vir ons dit sal ons niks help om na Burgdorf te gaan en met hom te praat nie, want hy weet dat die hotnots teen ons wil opstaan, maar wil dit nie glo nie.   Toe het ek en my swaer na hom gegaan en alles mooi vertel, maar hy wou glad nie daaraan glo dat Witbooi oorlog sal maak nie.   Ek het toe baie met die ou man daaroor geredeneer, want ek het hom toe al sedert 1895 geken.   Toe hy geen ag op my praat wou slaan nie het ek hom net gesê dis alles goed en wel, maar die hotnots sal vir my sowel as hom doodskiet, en geloop.    Toe het my swaer en ek besluit om om te draai en ons vrouens op Garries te gaan haal waar hulle stoksielalleen was, en my swaer Hans Maritz is toe deur met die ander drie waens na Keetmanshoop.   Ons het toe met ons vrouens gekom na Soepkaus, waar een ou Jan Mostert gebly het en daar het die Boere toe bymekaar getrek.   Die Duitsers sowel as die Boere wat al naby Gibeon geboer het, het toe al geweet dat Witbooi klaarmaak vir opstand.   Ons het daar gestaan tot Hans Maritz met ons waens teruggekom het.   Von Burgdorf het toe 'n polisieman gestuur om vir ons te kom sê ons moet dadelik algar terugtrek na ons plekke toe, want ons maak rebelskap,   Ek was die eerste boer wat getrek het.   Ek het toe gegaan na Nainawas en die Maritze het na Karries gegaan.     Ek het toe daar agt dae gestaan, want ek wou die plek by Witbooi kry.  Die hotnots het my baie geskuld, maar my vrou wou nie daar bly nie, want sy het 'n droom gehad dat sy so vlug voor die hotnots.   Toe trek ons na Ouros anderkant Kupp.   Dit was nog in Januarie, daar het ek pokke gekry en was baie siek.   Die ding het toe so hangende gebly tot in Oktobermaand.   Toe het ons afgetrek na Karries so in Junie, maar ek het toe weer na Witbooi gegaan om die grond by hom te kry, want hy was geregtig om dit te doen met toestemming van die Duitse regering.   Daarom het ons gegaan om die koopkontrakte te skryf.   Toe vra ons vragte om af te vat na Luderitz toe maar daar was nie meer as twee vragte nie, en die papiere sou hy aanstuur na my toe op Karries, maar kort daarna het Witbooi Rietmond toe getrek.    Toe stuur hy my  die 25 Augustus die vragbriewe vir twee vragte wat ek kon afvat en hy skryf my toe dat hy die papiere sal stuur, maar hy wag vir Witbooi om te kom teken, maar Witbooi het nooit weer na Gibeon gegaan nie.   In 28 September is ek toe weg na Luderitz.   Van Burgdorf het toe laat aanplak dat as hy hoor een man praat weer daarvan dat Witbooi sal oorlog maak sal hy $50 boete kry of ses maande tronkstraf.   Alhoewel die gerugte toe al vol gelê het van die oorlog.   Ek was toe op weg om my gras te gaan aflaai wat ou Lehulen vir my gemaak het.   Dit was op Kimberley, toe ek daar kom was die ou Jan Kalie en Lihelen saam met van Witbooi se beampte reeds weg  om van die Duitsers te gaan moor, maar ek het dit nie geweet nie en my gras begin laai Ek het 'n swartman gehad met die naam van Hendrik wat ek grootgemaak het toe raas ek met die ander swartmense wat daar was, toe roep Hendrik my eenkant toe en waarsku my om nie met die hotnots te raas nie, want party is al weg na die  Duitsers om te gaan moeilikheid maak.   Ek was gewapen, maar deur die placate wat opgeplak was het ek toe nie geweet wat my te doen saan of ek moet omdraai na my vrou gaan of wat ek moes maak nie.   Later het ek toe maar besluit om verder te gaan na Luderitzburg om die vragte te gaan haal.    Van Kupp se oorlog kan ek nie veel sê nie, maar my vrou Hessie Coetzee kan alles daarvan vertel en sy sal nou vertel vanwaar die begin van die oorlog tot hulle die gerug gekry het.
Daar is niks verander in die handgeskrewe stuk wat in die Argief in Windhoek bewaar word nie.