Tuiste | Maritz familiegeskiedenis | Geslagsregister | Skakels | Kontakinligting | Werfinligting |Poslys
VERTREK VAN NICOLAAS GYSBERT JACOBUS MARITZ NA DUITSWES-AFRIKA. In Augustus 1897 het die Maritz-familie van die Ghaap se Berg, tussen Postmasburg en Cambell, distrik Barkly-Wes, na Duitswes-Afrika getrek. Die dogter, Wilhelmina Hendrieka, wat met Johannes Petrus Louw van die plaas Dikbosch getroud was, het agter gebly. Bekendes soos Lang Piet Brand en sy vrou Mieta, was reeds in Duitswes woonagtig. Die seuns wat saam getrek het was Dawid Johannes, 26 jaar oud, Nicolaas Gysbert Jacobus (Oom Klaas) 24, Johannes Hendrik Gerhardus (Oom Hans) 22, Jan Izak 17, Lodewickus 12, en Andries Francois, 6 jaar oud. Nicolaas Gysbert Jacobus was toe 54 jaar oud. Wat hy gedoen het voordat hy besluit het om te trek is ons nie baie seker van nie, behalwe dat hulle naby Barkley-Wes, Cambell, se omgewing gewoon het. Daar het sy kinders groot geword. Die twee dogters was Esther Jacoba (13 jaar) en die mooie Olvina Susanna (4 jaar) wat later met Piet Brand getroud is. Dawid het as 13jarige by Ellie Young gaan werk as touleier en om die osse op te pas. Oom Ellie was 'n houtryer wat hout aangery het na die Kimberley se mark toe. Dit was die enigste inkomste wat hulle gehad het. Dit is dan ook wat Dawid Johannes gedoen het toe hy sy eie wa en osse kon bekostig. Die Runderpes van 1896 het 'n groot inpak op die mense gehad. Hulle het al hul osse verloor en kon dus nie meer transport ry nie. Osse en vee wat nie gevrek het nie is deur die regering dood geskiet omdat daar geen entstof was nie. Dit was die hoofrede waarom hulle besluit het om hul heil in Duitswes-Afrika te gaan soek. Dawid en Susanna Lesaja du Plooy was getroud en die eerste kind Nicolaas Gysbert Jacobus is in 1899 gebore terwyl hulle getrek het. Presies wanneer hulle op Kub aangekom het kan nie met sekerheid gesê word nie
|
AANKOMS OP KUB. Na die Runderpes het hulle weer osse aangekoop, oral waar hulle kon kry van wat oorgebly het. Dawid het een perd ook gehad. So met 'n paar waens, een perd en 150 skape het hulle die moeisame en ver tog na daardie onbekende werêld aangedurf. Hulle was baie lank op pad. Dawid vertel dat hulle die Kurumanrivier bereik het en toe die loop van die Kuruman of Moloporivier noodwaarts gevolg. In die omgewing van Rietfontein het hulle die grens oorgesteek. Op een stadium moes hulle ses maande oorstaan op die plase Vaalgras en Fonteintjies om reën af te wag, aangesien dit baie gewaagd was om sonder vaste hoop op voldoende water en weiding deur die Kalahari te trek. Hier het hy ook 'n plaas Haaseier verruil vir een os. Hy moes later nog perde aankoop en van sy osse vir sy Pa gee om deur die Kalahari te kom. Hulle het eenkeer by 'n put, water vir die diere gegee, sonder om toestemming van die Witkams te vra. Daarna het die Witkams met 'n gesant en 'n hele paar agterryers gekom met 'n lang stok met 'n gleuf waarin die dagvaarding gesteek was. Hulle druk toe die stok met die dagvaarding in Dawid se gesig en sê dat hulle drie dae gaan oorbly en dat Susanna Lesaja vir hulle vir die drie dae van etes moes voorsien. Dit was die boete! Die Maritze het uiteindelik op Kub aangekom terwyl 'n kwaai droogte geheers het. Daar was toe reeds mense gevestig op Kub, Gibeon en Enkelkameelboom (later Mariental) omgewing. Lnag Piet Brand en sy vrou Mieta, het hulp en raad voorsien en Tante Mieta was sommer ook die sieketrooster. Die eerste boere vestig hulle van 24 Junie 1899 tot 16 Februarie 1900 op Kub. Boere wat alreeds daar was was Rudolf en Willem van der Merwe, Basson, Fritz Brand. Jacobus en Stoffel Coetzee en Piet J. Brand bly op Voigtskub. Kub en Gibeon was aan die Visrivier geleë waar oop water was. Party boere was besig om vir beter weivelde te soek, maar omdat die Maritze se veestapel maar klein was het hulle sommer in die Visrivier op Kub klaargekom. Hulle het eers in tente gebly en omdat daar oral oop water was het die twee kinders van Dawid en Susanna, Kosie (Nicolaas) drie jaar en Willem twee jaar oud malaria gekry. Hulle was baie siek, maar het herstel. Hier het hulle weer transport gery, die keer vir die Duitse Regering en wel van Luderitz na Windhoek en van Walvisbaai na Windhoek en verder na Keetmanshoop. So met die tyd het die Maritz broers toe die plase van Bo-en Onder Garries gehuur en het al die Maritze het daar geboer terwyl hulle ook Transport gery het. Hulle het eenvoudige huisies gebou. Die dakke was van riet wat hulle in die Pakriemrivier gesny het. Die huise was naby die rivier gebou waar staande water volop was. Daar was ook 'n fontein op Bo-Garries. Die vader, Nicolaas Gysbert Jacobus Maritz sterf in 1903 aan 'n beroerte aanval. Esther Jacoba Maritz is nou weduwee en moet self die kinders grootmaak in 'n vreemde land. Op Gibeon was 'n Duitse skool, maar die boere wou nie hul kinders daanatoe stuur nie. Hendrik Smit het die plaas Swartmodder van Hendrik Witbooi gekoop en daar was 'n privaatskool en nadat Hendrik Smit na Nederland geksrywe het, stuur hulle vir Albertus Kooy en sy vrou as onderwysers na Suidwes. Daarna het die klasse te groot geword en is besluit om 'n skool op Kub te begin omdat dit meer sentraal geleë was. Die eerste klasse word in Stoffel Coetzee se huis gehou. Klasgelde word betaal met vee so Meester Kooy begin 'n klein boerdery. Die vee word ook gebruik as voedsel vir die kosgangers. Daar word ook groente tuine aangelê sodat die skool selfonderhoudend was. Die voertaal is Hollands met Duits as tweede taal. Daar was begin met 17 leerlinge. Die Maritze het intussen met vee geboer en ook transport gery. Daarvan het hulle 'n bestaan gemaak
|
DIE UITBREEK VAN NAMA-OPSTANDE 2 OKTOBER 1904 Hulle het nie probleme met die inboorlingbevolking gehad nie en was sleg voorberei vir die oorlog wat op 2 Oktober 1904 uitgebreek het. Die eerste wat hulle weet van die opstande is waarskuwings wat hul bediendes vir hulle gee dat Hendrik Witbooi oorlog wil maak. Dan word op die 4de Oktober 'n sersant met die naam van Ficke op kuis so 3 myl van Kub af doodgeskiet en Bogalecki word in sy winkel op Kuis aangeval. In hierdie tyd was verskeie kinders siek aan pokke. Meester Kooy stuur egter boodskappers uit om die boere te waarsku om almal op Kub bymekaar te kom. Boodskappe gaan na die van Lills, van der Merwe's wat op Gurus geboer het, Mosterts, die Maritze, Jurgens en van Zittert. Op 6 Oktober het aangekom op Kub Koos Spies, Potgieter, van Deventer, van Zyl, Andries Piek, en Kerneels Brink. 'n Patrollie word uitgestuur en Koos Spies, Lodewyk Maritz en Thein vind vir Sersant Ficke. Hulle los egter al die amunisie wat die volgende dag deur Hendrik Witbooi gebuit word. Die 7de Oktober kom ook op Kub aan Willem en Loffie van der Merwe, Harry Gird, Willem Rossouw, Eduart Mostert. Lang Piet Brand, Tielman van Lill, Tielman Nieuwoudt, Dirk Booysen, Jan Lambrecht, Jan Coetzee, Klein Piet Brand en Kreupel Fritz Brand, Jan Jurgens het almal op Kub bymekaar getrek.. Die 8ste Oktober het die weduwee, Ester Jacoba en haar dogter Esther en seun Andries, haar seun Nicolaas, self 'n wewenaar wat ook sy vrou Johanna Susanna Alberta Venter op die 8ste Januarie 1904 op Rietkuil naby Gibeon verloor het, met sy vier kinders, besluit om maar met die voet na Kub te vlug aangesien haar seun Hans met die wa weg was na Windhoek. Hulle het net een perd gehad en die kinders moes almal loop. Die plaas was ongeveer 35 myl van Kub af. Haar twee seuns, Jan en Lodewyk het intussen besluit om hul moeder te gaan waarsku en hulle te help om op Kub te kom. Toe die twee seuns op die plaas kom was hul mense reeds weg. Hulle vind egter dat die plaas geplunder is en al die klere en meubels of gesteel of gebreek was. Almal bereik Kub egter veilig. Dirk Booysen word as Kommandant op Kub aangestel met Willem van der Merwe as Veldkornet. Die mense het grassooie gepak en laer getrek. Daar was egter net 'n klein Duitse garnisoen teenwoordig en dit was nie genoeg mense om die laer te beskerm nie. Intussen was Dawid en sy vrou Susanna nog besig om transport te ry vanaf Luderitz en het eers op die plaas Seskameelboom van die opstande verneem. Hulle het toe na Gibeon vertrek wat die naaste vlugtelingkam was.
|
Dawid Maritz vertel self in sy eie woorde sy vlugtog na Gibeon. |