KUB: 1904 - 2004
Agtergrond.
Die naam 'Kub' het sy oorsprong in die Namawoord !!Khub
wat 'doring' beteken. Aanvanklik was die Visrivier die aanvaarde
noordelike grens van Namaland, maar onder leiding van Hendrik Witbooi,
afkomstig vanaf Pella in Suid-Afrika, word bykans alle Nama-nedersettings
oor die geweerloop aan hom en sy volgelinge onderwerp en eien hy homself
die eienaarskap van die hele suidelike deel van ons land toe.
Op grond van hierdie selfverowerde eienaarskap verkoop hy dan ook verskeie
plase. Op 8 Februarie 1898 verkoop hy Kub, die
teenswoordige Voigtskub en Kub Suid, aan Brandt en Mähler, agente van
Carl Wecke. Omdat die gedeelte noord-oos van die rivier as
Bastergebied beskou was, kanselleer die Duitse Distriksbeampte
van Gibeon die transaksie. Die grond was op daardie stadium
egter reeds deur Carl Wecke aan die maatskappy Wecke en Voigts verkoop
gewees as kompensasie vir die 25 065 Mark wat die Basters aan die
maatskappy geskuld het. Hermann Koch word deur Wecke en Voigts
as plaasbestuurder aangestel, maar later koop hy Kub Suid.
Sowat 'n honderd jaar voordat Hendrik Witbooi die land oor die Oranje
binne gekom het, steek Jacobus Coetzé Jansz, afkomstig van
Piketberg, in 1760 tydens 'n olifantjag die Oranjerivier oor en
vorder sover as Warmbad. In baie kringe word hy beskou as die
eerste witman wat die suidelike dele van ons land betree het.
In 1761 volg Hendrik Hop en vorder sover as die huidige Keetmanshoop en in
dieselfde jaar dwing droogtetoestande en 'n watertekort Willem van Reenen
om noord van Keetmanshoop terug te draai.
Eers teen 1704 is plase ten noorde van Slot van de Paarl (Noorder Paarl)
toegeken. Gaandeweg het besetting van landbougrond noordwaarts
in die rigtings van Calvinia, Kenhardt, Van Rhynsdorp en Springbok
uitgebrei en spoedig het die dun stroompie oor die Oranjerivier dikker
geword, bestaande uit sendelinge, handelaars, transportryers,
jagters, sosiaal uitgeworpenes, ontdekkingsreisigers,
avonturiers, voortvlugtendes voor die gereg, maar ook diegene
wat 'n nuwe heenkome en blyplek verder noord van die Kaap gesoek het.
Dit was voorwaar 'n mengelmoes van verskillende geloofsoortuigings,
kleure, geure en morale.
Vanaf die vroeë 1880-tigs en vir die volgende meer as twintig jaar het
verskeie Afrikanergesinne, behoudend in hulle geloofs- en sedelike
oortuigings, die suidelike dele van ons land betree met die voorneme om
iewers 'n heenkome te vind. Oënskynlik was daar twee
hoofroetes: een noordwaarts oor Springbok, die ander oor Kenhardt.
Met die goedkeuring van betrokke Namakapteins, het hierdie 'Suidwes-Voortrekkers'
tydelik in die omgewing van Warmbad, die suidelike en suid-oostelike
Karasberge tot Noenieput en Aroab, gevestig. Die
betrekkinge met die Namakapteins was uitstekend en die Afrikanergesinne
het die jurisdiksie en 'hofsittings' van die kapteins erken.
Teen 1896 het verskeie gesinne die waens gepak en die skrede verder
noordwaarts gewend om uiteindelik in die Skaaprivier te vestig.
Enkele jare later, 1902, sou van hulle weer suidwaarts keer.
Deurgaans egter het vestiging plaasgevind, en is weidingsregte verkry, met
die goedkeuring van betrokke Namakapteins. Nie alleen is
tydelike verblyfregte so verleen nie, maar het Namakapteins begin om grond
te verkoop. Teen die middel 1880-tigs het Hendrik Witbooi se
vader, Moses Witbooi, sóveel grond aan Afrikanerboere verkoop gehad dat
sendelinge na die 'Boererepubliek van Gibeon' begin
verwys het. Hendrik sou voortgaan met verhuring en verkoop van
grond aan ons voorouers.
Afrikanergesinne in die Kub omgewing.
Tussen 24 Junie 1899 en 16 Februarie 1900 vestig verskeie
boere hulle in die Kub omgewing. Willem en Roelof (Loffie) v/d
Merwe, Fritz Brand en Jan Basson vestig op Kub Suid terwyl Jan, Jacobus en
Stoffel Coetzee en Piet Brand Voigtskub van Wecke en Voigts huur.
Die Distriksbeampte te Gibeon skryf onder meer " Hierdie mense
dring aan op 'n verlenging van die huurkontrak, lê groot tuine aan waar
hulle groot bakkiespompe opstel en geld as arbeidsame boere wie
se kleinveestand tans 7 000 is". (Vrye vertaling). Op 15
Augustus 1900 verkoop Wecke en Voitgts die buurplaas Gurus, 12 000 hektare,
aan RW v/d Merwe (4 000 ha), Jan Basson (4 000 ha) en 'Herri'
(Henry) William Gird (4 000 ha), terwyl
Frans van Sittert en Jasper en Willem Dreyer die plaas Narib op 30
Augustus 1900 van Hendrik Witbooi huur. Jare later, maar voor
die Nama opstand, koop Frans van Sittert op 5 Augustus 1904 Narib
(20 000 ha) teen 20 000 Mark van Hendrik Witbooi wat toe op Rietmond woon.
Ander families in die Kub geweste was o/a Maritz, Mostert,
van Lill, Booysen, Lambrecht, Kooij,
Nieuwoudt, Piek, Jurgens, Rousseau en
Croeser.
Skool op Kub.
Aangesien die Afrikanerboere nie geneë was om hulle
kinders na die Duitse skool op Gibeon te stuur nie, het Frans de Villiers
Smeer van Marienthal en Hendrik Smit van Swartmodder met die
Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereniging in verbinding getree en is die
dienste van Albertus Kooij, 30 jaar oud en uit Nederland, verkry.
Sy vergoeding te Swartmodder het ingesluit kos, verblyf en £15 per maand
in vergeleke met die £3-2-6 wat hy in Nederland verdien het. In
1902 land Kooij en sy gade in Swakopmund en kort daarna begin onderrig te
Swartmodder. Synde 'n privaatskool, moes ouers 'n
ooreenkoms met Hendrik Smit aangaan. Gou was die skool te
klein en die meeste ouers het verkies om op Kub, wat meer sentraal geleë
was, 'n skool te begin.
Kooij word weggelok en vroeg in 1903 vestig 'n skool te Kub in die huis
van Stoffel Coetzee. Hendrik Smit eis £100 van Kooij vir
kontrakbreuk, maar die hof beslis met koste teen Smit.
Die skooltjie bestaan uit drie vertrekke: een vir Meester Kooij en sy vrou,
een as slaapkamer vir dogters en die derde as klaskamer/eetkamer en
slaapkamer vir seuns. Kos word buite voorberei,
Nederlands was die onderrigtaal met Duits as tweede taal, terwyl
skoolfooie £8 per kind (per jaar ??) beloop het. Ouers kon
ook met vee betaal en spoedig het die skool 'n boerdery besit.
Die 25 leerlinge het onderrig ontvang in lees, skryf, rekenkunde,
kategismus, sang en die geskiedenis van Nederland (!)
Mevrou Kooij, wat ook matrone vir die 15 kosgangers was, het
die dogters in naaldwerk onderrig. Op 9 Mei 1904 sterf sy aan
longontsteking en word op Kub ter aarde bestel. Anna Brand,
die weduwee van Fritz Brand snr, neem daarna die matroneskap op haar
skouers.
Kort hierna, nadat die Afrikanergemeenskap 'n stukkie grond van die Duitse
handelaar Bogalecki gekoop het, verskuif die skool na Bogalecki se
huis op Kuis oorkant en laer af teen die Visrivier. Die Duitse
Distriksbeampte te Gibeon, Von Burgsdorff, weier egter om die
transaksie goed te keur en skool en kerk verskuif maar weer terug na Kub.
Na die Slag van Kub het die skool bly voortsbestaan, maar in 1905
keer Meester Kooij na Nederland terug en Frans van Sittert verkry later
die dienste van Wilhelm Vogelbruck vir 'n plaasskool op sy plaas Narib.
Vogelbruck onderhandel met die Duitse owerhede en in 1907 begin 'n sekere
Weilbächer met bouwerk aan 'n skool op Kub. Op 22 Maart 1910
was die bouery teen 8 900 Mark afgehandel en die amptelike opening vind op
1 Augustus 1910 plaas. Teen 1911 was daar 21 leerders waarvan
16 in die koshuis tuis gegaan het. Vogelbruck was in 1909 die
eerste regerings-aangestelde onderwyser en sy vrou tree op as matrone.
In 1912 word Vogelbruck deur Paul Hermann, wat diens doen tot met die
uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, opgevolg.
Na die Eerste Wêreldoorlog heropen die skool in Oktober 1917, nou onder
Suid-Afrikaanse bewind, met CJ Strydom, vanaf Calitzdorp, as hoof en mej
Bester, vanaf Wellington, as assistent.
Teen 1928 was die ou skool só bouvallig dat die SWA Administrasie
£1 700 bewillig het vir 'n nuwe skool, met dien verstande dat die
gemeenskap verantwoordelikheid vir die bouwerk sou aanvaar.
Tenders word gevra, maar daar is net een tenderaar: GM Botes, broer
van oom Wiets (WJ) wat in 1926 na Kub gekom het en later 'n garage daar
sou vestig.
Nadat 'n groot, moderne skool op Kalkrand die lig gesien het, het
Kub se skool gekwyn en op 12 Desember 1958 ten einde geloop.
Getalle leerders te Kub
1917 - 20 1931 - 56 1945 - 63
1918 - 43 1932 - 40 1946 - 60
1919 - 55 1933 - 49 1947 - 65
1920 - 71 1934 - 51 1948 - 74
1921 - 60 1935 - 58 1949 - 62
1922 - 40 1936 - 48 1950 - 53
1923 - 54 1937 - 50 1951 - 54
1924 - 52 1938 - 43 1952 - 44
1925 - 62 1939 - 69 1953 - 68
1926 - 61 1940 - 72 1954 -
1927 - 60 1941 - 76 1955 -
1928 - 58 1942 - 73 1956 -
1929 - 54 1943 - 70 1957 -
1930 - 50 1944 - 67 1958 -
[Ek moet beklemtoon dat alhoewel dit wyd aanvaar word dat die skool
te Kub ons land se eerste "Afrikaanse" skool was, dit nie
korrek is nie. Die "eerste skool" word in 1893 te
Gannapan naby Karasburg van ,palen en boschjes' opgerig.
Spoedig was daar 40-50 leerlinge. Later verskuif die skool na
Konnebees waar dit in 1894 met die Nama-opstande ten einde loop]
Kerk op Kub.
In Maart 1904 word Kub as "Hoofd Kerkplaats",
met Gibeon as buitewyk, aangewys. Kerk en skool verskuif
in 1904 na Kuis, oorkant die Visrivier en laer af, maar toe die
Distriksbeampte van Gibeon, Von Burgsdorff, die aankoop van grond te Kuis
ongeldig verklaar omdat die kerk nie 'n regspersoonlikheid was nie,
verskuif kerk en skool weer na Kub. Later verskuif die
gemeenteswaartepunt terug na Gibeon, net om teen 1911 weereens na Kub te
skuif. Op 13 Desember 1911 trou ds Leonard met Johanna Maria
Esterhuizen en op 'n stadium word die plaashuis te Gurus, plaas van
Willem v/d Merwe, as pastorie teen 700 Mark van Carel v/d Merwe gekoop.
Toe ds Leonard in 1913 na Windhoek verskuif, koop v/d Merwe die huis
terug vir £20. Hierdie huis op Gurus was die eerste
vaste eiendom wat die NG Kerk in die land besit het.
In daardie vroeë jare word eredienste gehou, in die woorde van dr MM
Nieuwoudt, in "Rynse sendinggeboue, polisiebarakke,
skooltjies, handelshuise en -store, hotel eetkamers (met oop
kroeë langsaan)." 'n Nagmaaldiens te Kub in die
polisiebarakke word beskryf waar 70 lidmate byeen is. Die
prediker staan met sy rug teen 'n biljarttafel en slagspreuke soos "Ons
Duitsers vrees God en niemand anders nie" teen 'n muur.
Reeds in 1912 word besluit om 'n kerk op Kub te bou op grond wat die
boerevriend Gustav Voigts geskenk het. Dit realiseer
egter nie en eers in 1927 begin die wyksraad om in alle erns middele
bymekaar te maak vir die oprigting van 'n kerk. Spoedig het
hulle £340 en 40 000 stene en Gustav Voigts herhaal sy skenking van 2
hektaar grond vir 'n kerksaal. Die bouer, mnr GW
Botes, ontvang £100 vir sy werk en banke word teen
£0-6-6 per bank, vervoerkoste uitgesluit, vanaf Knysna
aangekoop. Op 1 Mei 1928 was die saal van 70 X 30 vt en
250 (220 ?) sitplekke gereed en ds KW le Roux neem die inwyding waar.
Die totale koste het £650 beloop en die kerksaal word tot in 1960 gebruik.
Besighede te Kub
Voor die Eerste Wêreldoorlog, en wel 1907-1908, was
die wamakersbesigheid van Meissner & Ahrendt te Kub gevestig.
Vanaf 1911 tot 1914 bedryf Karl Weilbächer 'n soortgelyke besigheid
aldaar. 'n Algemene handelaar en hotel word 1907-1908
deur A Voigts bedryf, en van 1911 tot 1914 deur Hermann Koch as bestuurder
in diens van Wecke en Voigts. Dit blyk dat hierdie besigheid
na die oorlog bly voortbestaan het en dat Hermann Koch dit in 1927
oorgeneem het.
Ander algemene handelaars was: 1917-18 - August Gräser
1919-20 - J Hippen & C Woermann
1921-22 - Hippen, Woermann, Vogelbruck
1928 - Muller & Ette
1931-32 - MS Perloff.
In 1936-37 was Otto Alfeld die eienaar van die hotel/algemene handelaar.
Erich Gusinde koop Voigtskub en was in 1939 ook die eienaar van die hotel/algemene
handelaarsbesigheid. So tussendeur het oom Wiets Botes 'n
garage opgerig.
Die Slag van Kub
Kort na sonop op 22 November 1904 val 'n groot getal Namas die boerelaer
te Kub aan. Die Namas was onder aanvoering van Hendrik Witbooi persoonlik,
bygestaan deur o/a Samuel Isaak en Simon Kooper. Oor die
Namagetalle verskil geskiedskrywers. Volgens Connie Zondagh
was daar sowat 1 000 voetgangers en 1 500 berede vegters rondom Kub,
terwyl Gustav Preller die totaal as 1 500 en IM Skillian dit as 1 600
aangee. So ook verskil die bronne oor die getal weerbare manne
aan boerekant. Gustav Preller gee dit aan as 72,
wat 'n aantal Duitse soldate insluit. 'n Ander bron
verwys na 'n totaal van 72, bestaande uit 18 weerbare boere,
10 skoolseuns en 'n aantal Duitse soldate. IM Skillian
stel dit op 31 aan boerekant, waaronder skoolseuns so jonk as die
11-jarige Piet Brand. Later, nadat Von Brandt met sy Duitse
soldate aangesluit het, was die getal volgens Skillian 71.
Spoedig na die aanval op 22 November 1904 begin het, het die Namas
die dolorietkoppie waarop die heliograaf was, beset.
Vanaf hierdie posisie het hulle die laer, wat geleë was ongeveer waar die
latere skool opgerig sou word, onder die koeëls gesteek.
Die manhaftige optrede van sewe boere deur teen
die koppie uit te kruip en die Nama-optog daar te stuit,
het grootliks tot die tydelike redding van die Afrikaner-families en
die Duitse soldate te Kub bygedra. IM Skillian sê onder meer
"Here they fought until noon, and today it is easy to see that
these brave men had to virtually crawl all the way to the top."
Ongelukkig is daar ook onduidelikheid oor die name van hierdie sewe manne
wat reeds in 1953 met 'n monumentjie vereer is. Uit die
bestudering van alle geskrewe bronne tot ons beskikking, is dit
duidelik dat oor die teenwoordigheid van Adriaan Croeser, Harry
Gird, Jan Jurgens, Albertus Kooij en Jan Lambrechts daar geen
twyfel is nie. Benewens hierdie vyf, blyk dit dat twee
van óf Eduard Mostert, óf Piet Brand óf Willem Dreyer die
res van die groepie uitgemaak het. Volgens Fritz Brand
jnr self, in sy weergawe aan PG Visser, het hy en sy swaer,
Jan Coetzee, later by die 'geveglyn' aangesluit, en nog later
ook 'n Duitse soldaat wat die totale getal manne op die koppie tot tien
verhoog het.
Op 'n stadium het die boerevegters op die Namaperde losgebrand en ofskoon
van die Namas teruggeval het, sou die geveg in alle waarskynlikheid
vir die handjievol boere en Duitsers 'n verlore stryd gewees het.
Redding het gekom in die vorm van die 4de Kompanie van Oberst Deimling en
sy 230 soldate en 'n veldkanon en spoedig het die Namas op die vlug
geslaan. Aan boerekant het niemand gesneuwel nie, maar 7
Duitse soldate (sommige bronne sê 8 en andere 9), het die
hoogste tol betaal, terwyl 23 Duitsers gewond was.
'n Breedvoerige beskrywing van die geveg by Kub kan gevind word in:
Voortrekkers van Suidwes - Gustav Preller
en
Herinneringe van Suidwes-Voortrekkers - PG Visser
Saamgestel deur JDJurgens
E-pos jdj@mweb.com.na
Windhoek: November 200
|