VERSLAG OOR 2004 HERDENKINGSFEES -

STAMPRIET, KUB, SWARTMODDER, RIETMOND EN MARIENTHAL. 

  "HULLE WAT LEWE IN DIE HARTE WAT AGTERBLY, STERWE NOOIT"

 

Vanaf 25 Augustus tot 29 Augustus 2004 het die nasate van die Pioniers van Suidwes  bymekaargekom en 'n uiters suksesvolle byeenkoms gehou tydens die Herdenkingsfees  op  Stampriet.   Die mense het gekom om te onthou, hul voorsate te eer en te leer omtrent  die geskiedenis van honderd jaar gelede.   Die belangstelling, entoesiasme en geesdrif van almal was iets om te aanskou en ondervind.   Voorwaar 'n geestelike verrykende belewenis en in nederige dankbaarheid 'n trotse dag vir al ons Afrikaners bymekaar.   Ons Geskiedenis, Kultuur en Taal het almal soos een groot familie laat voel. 

Mense het van oral gekom, sover as Pongola en Port Elizabeth, Pretoria, Piketberg, Stellenbosch, Potchefstroom, Johannesburg, Kaapstad, Bethal,  Oranjemund en van oraloor van Namibië,   om hierdie fees by te woon.   Die sentrale punt was die Skoolkoshuis waar baie mense tuis gegaan het en die Skousaal op Stampriet by die Elnatan Private Skool.   Toe ons Woensdagmiddag daar opdaag was die koshuis gereed vir die mense wat daar sou tuisgaan, Ina en Charmaine Kotzé het begin etenskaartjies verkoop,  die van Vuurens was al besig om kos voor te berei en die saal was reg en nog meer opwindend,  die eerste mense het begin opdaag. 

Die fees  was statig en plegtig gehou met 'n informele aanslag sodat elkeen homself kon geniet.   Elke oggend is met skriflesing en gebed geopen deur Smit Kotzé (Smittie) voordat met die dag se verrigtinge begin is. 

Vanaf Woensdag die 25ste Augustus het die mense begin arriveer, veral die wat van ver gekom het.     Sommer daardie eerste aand was ons al 'n hele klomp bymekaar en het ons mekaar ontmoet en begin gesels.    Na 'n heerlike aandete het Ponk O'Kennedy vir ons 'n bandopname gespeel van Mev. Potgieter wat sowat dertig jaar gelede alreeds opgeneem is deur haar kleindogter.   Die ondervindinge van hierdie vrou tydens en na die Moorde deur die Witboois op Swartmodder in 1904 het almal teenwoodig diep ontroer en geraak. 

Mev. Potgieter se man, 18 maande oue seuntjie, vader, drie broers, twee van haar oudste broers se seuns sowel as haar swaer, Hendrik Smit, is vermoor op Swartmodder.   Sy verloor ook daarna haar maand oue baba op die vlugtog.   Sy het 'n graf met haar hande gegrawe en die babatjie in sy vlak graf neergelę.      Sy het vertel hoe alles gebeur het en wat die vrouens moes deurmaak op die vlugtog van drie weke om op Rietfontein te kom en later na Upington.   Sy vertel hierdie hartseer storie sonder enige verwyt of emosie. 

Donderdag het ons bymekaar gekom vir die opening van die fees met skriflesing en gebed.   Die getalle het al so gegroei dat die hele saal vol mense gesit het.   Na raming was daar ongeveer 150 mense byeen vir die besoek aan Swartmodder.    Ponk O'Kennedy het die verrrigtinge geopen en almal voorgestel en bedank en elkeen kon toe vertel waarvandaan hy kom en wat sy belangstelling in die fees is.    Tannie van der Westhuizen wat soveel jare gelede op Kub skoolgehou het, het ons so 'n bietjie meer vertel van daardie jare.   Derick Kirsten het vertel dat hy van die van der Lindes en Dreyers afstam.   Mariana Olivier wat al die pad van Kaapstad gekom het om meer omtrent die moord op  Willem Adriaan Cilliers en sy twee skoonseuns, Kuhn en Knoesen, en wie se grafte nie gevind kan word nie, te leer.   Afstammelinge van Hendrik Smit en die van der Westhuizens was volop.   Die foto van Hendrik Smit is deur al die Smit afstammelinge bewonder asook die kleertjies wat Dirkie Smit gelukkig tydens die Swartmodder moorde aangehad het, is uitgestal.   Dit het sy lewe gered, want al die seuntjies is vermoor. 

Onder andere is ook die bybel van Nicolaas Gysbert Jacobus Maritz wat in 1897 Suidwes binnegetrek het, vertoon deur Klaas Maritz wat die Bybel vir die nageslagte in bewaring hou. 

Jan en Sarie Vermeulen, met sy wa en vier spogmuile het spesiaal 180 km vęr uit die Sandveld langs die Botswana grens gekom.   Sy vertellinge en grappe sal almal nog lank bybly.   'n Ware ou Suidwes karakter.   Sulke karakters is deesdae maar yl gesaai.   Veral die kinders het die ritte om die feesterrein en die palmbome, amper honderd jaar gelede aangeplant deur die Maritz broers, ontsaglik geniet.   Wat is lekkerder as so 'n ondervinding in die natuur en met 'n sak lemoene as padkos! 

Daarna het ons na Swartmodder vertrek om die ou  murasies te besoek en ook die begraafplaas, waar Smit Kotzé (Smittie) eertydse predikant, nou boer,  vir ons die geskiedenis vertel het  van Swartmodder wat weereens diep roerend was.     Dit was vir die Smit afstammelinge, wat in groot getalle teenwoordig was, 'n hoogtepunt.    'n Klein gedenkplaat is onthul.   Baie foto's is geneem, ook van die vier afstammelinge van  Dirkie Smit, sy seun Dirk Smit, kleinseun en twee agterkleinseuns wat die Smit naam voortdra.   Hulle het van heinde en verre gekom om die geleentheid by te woon en hul voorvaders te eer, te onthou en  te huldig wat daar gesterf het.    As Dirkie Smit nie oorlewe het nie sou hulle nie hierdie dag om die grafte kon staan nie.     Die fontein by Swartmodder is nog daar en die modder is werklik swart en baie taai om af te was!  

Daarna is almal terug om verder by die saal te kuier.    Drie skape het  reeds bruin  op die spit gedraai en kon ons heerlik eet. 

Daar was pragtige hemde en pette te koop wat Klaas Maritz vir ons in Pretoria laat maak het asook biltong, koeksisters en koekies.    Dan was daar 'n groot verskeidenheid boeke te koop oor die geskiedenis en ander boeke oor Suidwes wat gretig opgeraap is deur die besoekers.   Koeldranke en lekker Suidwes bier was ook te koop. 

Die aand het ons tot laat gekuier, gesels en inligting uitgeruil en beplan. So tussendeur al die verhale uit die ou Duitswes Geskiedenis was dit opvallend hoe die jongmense oral deelgeneem het.   Kyk maar op die Groepfoto's.   Hulle het gekamp, by die tafels gehelp, jukskei en bal gespeel, muilwa gery en perd gery!   Die tegnologie van die toekoms is ook deur 'n jongklomp ingespan en het  hulle met kompers, "scanners" en drukkers T-hemde en keramiek bekers verkoop met foto's van oupa en ouma-grootjies en families.   Voorwaar versamel items vir die toekoms! 

Vrydag nadat Smittie met gebed en skriflesing geopen het en almal ontbyt genuttig het, het ons na Kub vertrek.    Op Kub was daar weer vele nuwe gesigte te sien.   Mense wat nie op Swartmodder was nie het bygekom.    Ons het in die ou Hotel byeengekom en in die ou winkel is daar plek gemaak sodat ons kon luister wat Dr. Jan Jurgens vir ons   kon vertel van die geskiedenis van die Nama opstande van 1904, die Slag van Kub, die storie van die eerste skool en die sewe man wat die koppie bestorm en bevry het.   Die gedenkplaat wat deur die Maritz nasate, Susan Bredenkamp en Hennie Conradie geskenk is, is onthul.     Die mense het vir twee uur in daardie ou winkel gesit en luister.    Dit is asof almal 'n behoefte gehad het om te luister na die geskiedenis.     Baie het agterna vertel dat hulle nie meer kon onthou wat alles gebeur het nie en dors is na kennis oor die gebeure.   

Daar is gevra  dat die mense moet opstaan en wys wie hulle is. Eers almal wat op Kub op skool  was of wie die Lambrechts, Jurgens, Kotzes, Maritze, verteenwoordig.    Almal was so gretig om te wys waar hulle inskakel, dat hulle soos blommetjies wat die son aanvoel, gestraal het!      Mev. Van der Westhuizen wat in die jare vanaf  1942 daar skool gehou het was veral geesdriftig verwelkom.       Barend Loftie-Eaton het vertel hoe hy om 'n hoekie gehuil het toe hy hoor sy juffrou moes weggaan.     Daar is weer foto's geneem  van alles en  veral van almal voor die ou Hotel.     

Danie J. Lambrechts (Boesman)  het vir ons vertel van sy grootouers en sy ouers wat  daar geboer het en dat sy oupagrootjie een van die manne was wat die koppie bevry het.    Hy het van sy pa, Jan Lambrechts vertel  en vir ons die nuwe nageslag voorgestel, klein Jan Lambrechts, nou ses jaar oud wat die plaas gaan erf wat nou reeds 100 jaar in hulle besit is.    Boesman en Koeloes Lambrechts  boer op die plaas Kub-Suid,  waar die geskiedkundige geboue is en hou die begraafplase en terrein in baie goeie orde.   Daar was puik nuwe toiletgeriewe gebou, die saal was skoongemaak en alles gereed vir die feesgangers.   Saam met ons was ouma  Anna,  wat alreeds 94 jaar in hul diens is en wat soos eie familie is.    Sy het voor my gesit en dit het gevoel of ek na my eie ouma kyk as ek na die tenger figuurtjie, wat haar sakdoek so vou en vou, kyk. 

Wanneer daar geen spreker op die podium was nie het die ou winkel gegons soos bye, soos wat almal gesels.    Mense wat mekaar vir jare nie gesien het nie, het weer kontak gemaak. 

Ons is toe na die koppie waar daar  reeds tevore'n klein monument vir die sewe man opgerig is om na 'n rede deur Dr. Jan Jurgens te  luister.   'n Plaat, geskenk deur Dr. Jan Jurgens,  met die name van 10 man is onthul.   Daarna het die mense die begraafplaas, die ou skool en kerk besoek.    Daar was eenvoudig net nie genoeg tyd om alles te sien en om van almal afskeid te neem en weereens te gesels nie. 

Terug op Stampriet het Dr. Nieuwoudt, wat die Gedenkdiens sou waarneem, ons ingewag.   By die saal het ons weer 'n heerlike aandete geniet en toe het ons na Videos gekyk wat Jan Spies jare gelede opgeneem het en gesels het met Mev. Potgieter oor die moorde op Swartmodder. 

Saterdagoggend was Jan Vermeulen weer daar met sy vier pragtige muile en wa om  mense wat graag wou saamry op te laai.    Na ontbyt en baie gesels het ons vertrek na ou Stampriedt/Bismarck.   Hier het Ponk O'Kennedy weereens vir ons vertel wat daar gebeur het.    Op Bismarck by die Groot gedenk-klip was dit 'n belewenis vir Trudie en Tinus Marais.   Trudie, synde 'n afstammeling van Frederick Scherrer  wat  'n "reiter" in die Schutztruppe was wat op Bismarck geveg het. Hulle het die emosionele ondervinding diep ervaar.   Ons het almal ook besef hoe ineengestrengel die lotgevalle van die Duitse en Afrikaners in Duitswes 'n eeu gelede was.   As die Duitsers nie betyds by Kub opgedaag het om te help nie was daar stellig geen oorlewendes nie.     Ons het ook Hofmeyer besoek.     'n Paar nuwe gaste, Smit afstammelinge vanaf Piketberg, is later  geneem om Swartmodder te sien aangesien hulle laat opgedaag het. 

Daardie aand het ons na Dr. Nieuwoudt geluister.    Hy het vir ons vertel van die rol van die kerk en die Pioniers in die ou Duitswes.   Daarna is  die toneelstuk "Die Dors" opgevoer wat deur almal geniet is.   Aldo Behrens en sy span verdien groot lof hiervoor. 

Sondagoggend het Dr. Nieuwoudt, afgetrede predikant, tans woonagtig in die Strand wat 'n kenner van die Geskiedenis van Suidwes is en reeds verskeie boeke oor die onderwerp geskryf het, onder andere die uitstekende boek "Bakermat van 'n Kerkverband" oor die eerste gemeente  van Gibeon en die eerste kerk op Mariental in Suidwes, vir ons die erediens waargeneem en weereens was die saal gepak met mense.    Dit was 'n treffende wyse om hierdie Gedenkfees mee af te sluit.    Hy het vir ons 'n boodskap van hoop gebring deur dieselfde teks te gebruik wat Albertus Kooy 100 jaar gelede gebruik het. 

Susan Bredenkamp het die laaste woord gehad en al die persone wat so hard gewerk het agter die skerms onder leiding van Ponk O'Kennedy,  bedank.   Eerstens vir Dr. Nieuwoudt wat bereid was om vir ons die Gedenkdiens waar te neem,  Smittie, wat elke oggend vir ons geopen het met skriflesing en gebed en veral die dagboekstukkies  van 1904 met die boodskap wat steeds besonderlik toepaslik is vandag.    Daan, Ina en Charmaine Kotzé wat die harde werk agter die skerms  gedoen het om alles glad te laat verloop.   Met die reëlings voor die tyd en ook al die terrein reëlings sodat alles elke dag net reg verloop het.    Hannes en Zakkie van Vuuren en hul helpers wat die heerlike kos aan die feesgangers altyd op tyd voorsien het.  Selfs die dag op Kub was hulle daar sodat almal iets te ete gekry het.  Dan ook aan al die feesgangers wat daar was en nie ontsien het om so van ver te kom nie.    Veral aan Tannie Wiesa en Oela, dogters van Nicolaas Maritz, pionier van Suidwes,    wat van Pretoria en Johannesburg gekom het.   Ook aan al die mense wat so geesdriftig alles ingedrink het.    Daar was net nooit genoeg tyd om te gesels met almal nie.   Ponk O'Kennedy, wat die visie gehad het en die fees beplan het,  vir sy kennis van die geskiedenis  wat hy so interessant aan ons oorgedra het.    Ons hoop net dat hy sy kennis blywend  aan ons sal oordra in die vorm van 'n nuwe boek oor die geskiedenis van die Pioniers van Suidwes. 

Na 'n kort pouse het ons  na "Dawid, Klong van God" gekyk wat opgevoer is deur Aldo Behrens, Chrisna Beuke-Muir en Danie Strydom. 

Smit Kotzé het almal bedank vir die bywoning en het ons verdaag.    'n Paar mense het die middag ook ou Marienthal en Rietmond besoek.   Op ou Marienthal is weereens 'n gedenkplaat onthul.    Ons het ook die klipkerk op Mariental besoek, eerste N.G. Kerk van  Gibeon Gemeente in Suidwes .      Daarna het almal vertrek en was dit die einde van 'n baie geestesverrykende paar dae.    Almal was so geesdriftig en smagtend om te hoor van die geskiedenis dat dit die eintlike hoogtepunt van die byeenkoms was.   In totaal was daar ongeveer 200 tot 250 mense wat die verrigtinge bygewoon het, wat uitsonderlik  is vir so 'n klein plekkie soos Stampriet. 

Daar word nou reeds beplan om 'n repetisie van die fees op 'n twee en/of drie jaar siklus.    Hierdie was 'n unieke eerste en op hierdie sukses word daar geglo, kan voortgebou word.    Daar word 'n korter fees van twee dae met 'n sentrale Kultuur-tema en groeps-besoeke aan die verspreide lokaliteite van geskiedkundige  belang, beplan.   Sal dit nie pragtig wees as die entoesiasme kan voortstu en miskien selfs die ou Kerk op Kub restoureer word  en 'n lewende gastebedryf in die Hotel en Skool ontwikkel  word nie.  

Ons het ideale  om 'n trust te stig om die ou Kerk op Kub te laat restoureer.    Enige persoon wat  insette wil lewer tot die projek sal baie welkom wees.    Enige ander idees omtrent die fees oor twee jaar en die omvang daarvan sal ook welkom wees. 

Die grafskrif op my Oupa Dawid Johannes Maritz en Ouma Susanna Lucia Maritz op Mariental is vir my persoonlik 'n bron van inspirasie en mag ander ook so daaroor voel.    "HULLE WAT LEWE IN DIE HARTE WAT AGTERBLY, STERWE NOOIT" 

Ons wens is dat die jongmense wat hierdie eerste geskiedkundige Fees bygewoon het in die toekoms sal terugkeer, die tradisies sal voortsit en sal put uit die ervaring en meelewing. 

Geskryf deur Susan Bredenkamp 2004