Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

HOËRSKOOL DESPATCH, Despatch.

English blazon

Hoërskool Despatch

Die wapen is by die Buro vir Heraldiek geregistreer. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: In groen, ’n kampvuur in sy natuurlike kleure.

Leuse: Blaas hoog die vlam.

Die skool se prospektus verduidelik die wapen so:

“Die Vlam: Ons strewe na kennis en hoë ideale.

“Die vier stompies hout: Samewerking tussen Onderwysowerheid, Personeel, leerlinge en ouers, om die vlam hoog te laat brand.

“Die Leuse: Blaas hoog die vlam: Strewe met ywer en volharding na kennis en ons hoë ideale.”

Wapenagtergrond:
Die eerste deel van die wapensamestelling wat aanvaar is, is die leuse. Die prospektus lui: “Uit baie voorstelle is dié van die st 8-klas van 1950 gekies. Dit kom uit Die Smid, ’n bekende gedig deur Eugène Marais.”

In dieselfde jaar is die wapen ontwerp deur ’n kunstenaar van die redaksie van die tydskrif Sarie Marais.

Die skoollied is ook in 1950 geskryf, nà die aanvaarding van die skoolleuse. Die digter was dr W J de Wet, wie dit ook getoonset het.

wapen van Hoërskool Despatch met naamlint

Die skoolwapen soos dit gewoonlik vertoon word, sluit ’n tweede lint in bo die skild (soos hier links getoon word).[1]

Oor die skool:
Die Afrikaans-medium Sekondêre Skool Despatch is in 1949 gestig, met 144 leerlinge (seuns en dogters) en vyf personeellede. Voor daardie jaar was dit vir kinders uit Despatch nodig, indien hulle verdere skoling wou ondergaan as bloot primêre onderwys, om met die trein of bus òf Uitenhage òf Port Elizabeth toe te ry, of om kosgangers op skole in daardie sentra te wees.

Reeds in 1950 is dit as hoërskool verklaar, en in 1951 het 12 leerlinge die Senior Sertifikaat-eksamen aan die skool afgelê. In daardie jare was St 7 die beginjaar van die sekondêre of hoërskoolloopbaan. Eers in die middel-50s het St 6 deel geword van die sekondêre kursus.

Die eerste skoolsaal is in 1958 ingewy. Die skool het in 1963 sy eie sportgronde in gebruik geneem, en in November 1991 is ’n sportklubhuis ingewy.

Die skool is vandag steeds ’n Afrikaans-medium koëdukasie-hoërskool. Volgens die klasindeling wat tans gebruik word, loop dit vanaf Graad 8 to 12.

English blazon:
The arms may be blazoned:

Arms: Vert, a campfire proper.

Motto: Blaas hoog die vlam.

The motto translates literally as “Blow the flame high,” and figuratively “Strive with zeal and perseverance towards knowledge and our high ideals.”



[1] My beeld van die wapen sny die skoolnaam-lint uit, want dit vorm nie deel van die heraldiese konsep van ’n wapen nie. Maar in alle amptelike weergawes van die wapen wat tans deur die skool gebruik word, verskyn die naamlint bo-aan.


Counter

Terug na bo

  • Bronne: illustrasies en wapenbeskrywing deur die skool voorsien


    Terug na skole-indeks

    Back to schools index (English)

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle