Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

MERRYVALE-SKOOL / MERRYVALE SCHOOL, Mangoldpark,[1] Port Elizabeth.

Merryvale-Skool

Die wapen mag so geblasoeneer word:

Wapen: Van moerbeikleur, ’n hoekige linkerskuinsstreep van silwer, die reghoeke waarvan ’n stel van vyf trappe vorm; die tweede en die derde trappe vorm ook deel van die breë omsoming om ’n Latynse kruis van moerbeikleur; die geheel binne ’n silwer skildsoom.

Die wapen is nie geregistreer nie, maar dit lyk of dit aanvaarbaar sou wees vir registrasie by die Buro vir Heraldiek mits enkele klein aanpassings gemaak word.
Merryvale se skoolwapen soos dit gewoonlik gedruk word

Eerstens word die skoolwapen gewoonlik met die silwer gedeeltes in metalliese silwer ink gedruk, wat aan die geheel ’n donker voorkoms gee.

Tweedens het die wapen soos gewoonlik voorgestel, behalwe die skild wat hierbo geblasoeneer word, ’n bykomstige skildveld van moerbeikleur (nie ’n skildhoof nie, maar ’n toegevoegde iets) wat die skool se naam dra, en wat met ’n verdere silwer omsoming gepaard gaan.

Aangesien die gebruik van letters teen die heraldiese tradisie skry, word dit voorgestel dat dit uitgelaat word.
voorgestelde Merryvale-wapen

Derdens beskou die heraldiese tradisie die regterkant (soos van agter die skild gesien) as meer belangrik en meer eerbaar as die linkerkant. Dit word voorgestel dat die skuinsstreep vanuit die linkerposisie na die meer paslike regterkant geskuif word.

Die heraldiese moerbeikleur is die naaste ekwivalent in daardie kleursisteem aan die donkerrooi of maroen wat baie Suid-Afrikaanse skole gebruik.

Die trappe simboliseer blykbaar die leerlinge se klim na ’n beter posisie in die lewe as wat hulle miskien sou gehad het sonder die voordeel van die spesiale onderwys wat die skool aanbied.

Die kruis, in die middel van die skild geplaas, lê klem op die sentrale rol van die Christelike Geloof in die skool se etos.

Oor die skool:
Die skool se visie word so beskryf: “Merryvale, ’n multi-kulturele skool vir verstandelik gestremde leerders, strewe daarna om sover moontlik die leerder in sy totaliteit, maksimaal te bemagtig om ’n waardige burger te kan wees.”

Die missie word in hierde woorde gestel: “Fasiliteerders pak met voortdurende, sinvolle vernuwing hul roeping met entoesiasme en empatie aan, om die verstandlelik gestremde leerling optimaal te bemagtig met basiese lewensvaardighede en ’n positiewe gesindheid.”

In 2003 het die skool 270 leerlinge tussen die ouderdomme van ses en 18 gehad, van wie 140 daagliks gebruik gemaak het van skoolvervoer vanaf neergelegde optelpunte binne 10 km van die skool. Die skool het ’n koshuis wat in 2003 60 leerlinge gehuisves het, maar wat ’n kapasiteit van 104 het.

Dit word geskat dat sowat 40% van die leerlinge uit minder bevoorregte of arm families kom. Daarby is die subsidie wat deur die Departement Onderwys en Kultuur tussen R15 000 en R20 000 per maand te min om lopende onkoste te dek. Dit beteken dat die skool afhanklik is van die behulpsaamheid van welwillendheidsorganisasies om sy bevondsing te supplementeer.

’n Amptelike voorstelling van die skool het dit daaroor te sê:

“Die skool het ontstaan as ’n klein private inrigting op inisiatief van ouers met verstandelik gestremde kinders. Die Departement van Onderwys het betrokke geraak en die skool is hoofsaaklik ondersteun in sy eerste paar jaar deur die P.E.-tak van die S.A. Federasie vir Geestesgesondheid. In 1978 neem die SKDB van die N. G. Kerk in die Oos-Kaap egter die rol van borgliggaam oor. Hierdie taak volvoer hul dan ook met die uiterste besorgdheid en met welslae onder die bekwame leiding van Ds D. P. du P. Moolman tot op datum (1999).

“Alhoewel die SKDB sedert 1997 nie meer as Borgliggaam optree onder die nuwe skole-dispensasie nie, neem sekere gemeentes in P.E. steeds die verantwoordelikheid vir die nodige ondersteuning van hierdie uiters verdienstelike saak.

“DOEL VAN MERRYVALE

“Hierdie skool is uitsluitlik in die lewe geroep vir die opvoeding en opleeiding van verstandelik erg gestremde leerlinge en neuraal verstandelik erg gestremde leerlinge wat aldus nie sterk genoeg is vir die Spesiale Skole nie. Downssindroom leerlinge, Spina Bifida- en Serebraal-verlamde kinders is maar enkele tipe sindrome wat veral voorkeur geniet met inname met die oog op behoorlike versorging en opvoeding tot die individu se maksimale potensiaal.”

Die skool het in 1985 sy huidige perseel in Alanrylaan, Mangoldpark, Port Elizabeth, in gebruik geneem.



[1] Mangoldpark is ’n dorpsgebied wat ontwikkel is nadat die dorp Walmer in Port Elizabeth ingelyf is. Alhoewel dit dus binne die grense van die munisipaliteit Walmer lê (aangesien dit suid van die Baakensriviervallei geleë is), was dit nie (as dorpsgebied) deel van daardie munisipaliteit nie. Mense dink dikwels daaraan as uitbreiding van die Port Elizabeth-voorstad Newtonpark.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: illustrasie in maroen en silwer en agtergrondsinligting deur die skool voorsien. Kleure met behulp van MS PictureIt! aangepas


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle