Armoria academica
http://uk.oocities.com/wapenskild

HOËRSKOOL P J OLIVIER, Grahamstad.

English blazon

Hoërskool P J Olivier

Die wapen mag geblasoeneer word:

Wapen: gevierendeel, I en IV: in silwer, ’n skuinsbalk van rooi; II en III: in silwer, ’n olyfboom in sy natuurlike kleure, staande op ’n terras van groen. Oor alles heen ’n binneskild gekanteel gesny van goud en van blougrys stene, in swart gemessel; met ’n skildhoof van swart belaai met drie mantelskulpe van goud.

Helmteken: op ’n wrong van silwer en rooi, ’n bal van groen waaruit drie volstruisvere spruit, gekleur rooi, wit en blou.

Leuse: Pertinax ut olea.

Die wapen bestaan uit familiewapens:

A: Die eerste en vierde kwartiere is ’n wapen wat deur die Suid-Afrikaanse Retief-familie gevoer word, en wat die Voortrekkerleier Piet Retief voorstel. Retief het lank op Grahamstad gewoon, en voor sy vertrek daarvandaan met die ossewatrek van 1835 het hy in die Grahamstown Journal ’n brief laat publiseer wat bekend staan as die Voortrekker-manifes.

B: Die tweede en derde kwartiere is ’n wapen wat deur die Suid-Afrikaanse familie Olivier gevoer word, en stel voor P J Olivier, na wie die skool vernoem is. Die naam Olivier beteken ’n kweker van olyfbome of bestuurder van ’n olyfboord.

Die olyfboom word in Latyns Olea europća europća genoem; die olienhout behoort aan dieselfde spesie, maar word ’n aparte subspesie gereken. Sy naam is Olea europća africana. Die olyf is in werklikheid ’n gekultiveerde variant van die olienhout, maar aangesien dit eerste deur die wetenskap erken en ondersoek is, dra dit die spesienaam. (Vroeër het hierdie twee boomsoorte as Olea europća en Olea africana bekend gestaan; hulle verwantskap as lede van dieselfde spesie is eers onlangs vasgestel.)

C: Die binneskild is ’n wapen van die Graham-familie, en dui op Grahamstad se stigting as militęre vesting in 1812 deur kol John Graham of Fintry, ’n lid van Skotland se Graham-klan. Die mantelskulpe kom in die meeste Graham-wapens voor, en is ’n element wat verskeie Grahamstadse wapens in gemeen het.

D: Volstruisvere het vroeër ’n belangrike rol in Grahamstad se ekonomie gespel. Die stadswapen se helmteken sluit drie swart volstruisvere in, en die helmteken in die oorspronklike stadswapen was ’n lopende volstruis. Behalwe dit is die helmteken se oorspronge is vir my onbekend.

E: Die leuse of wapenspreuk (Pertinax ut olea) vertaal as: “So taai soos ’n olyfboom.”

Oor die skool:
Die Hoërskool P J Olivier is ’n koëdukasieskool, wat klasse vanaf Graad 1 tot 12 (volgens die ou Kaapse stelsel, Sub A tot St 10) insluit, en is in 1958 gestig. Dit was die eerste en is steeds die enigste Afrikaans-medium skool op Grahamstad. Vroeër het Afrikaanssprekende seuns die Engels-medium Graeme College bygewoon, en hul susters Victoria Girls’ High.

Die skool dra die naam van die Vrystater Philippus Jacobus Olivier (1901-1958), van Fauresmith, wat tydens die Anglo-Boere Oorlog van 1899-1902 gebore is, en as babatjie saam met sy moeder in die konsentrasiekamp op Bethulie geďnterneer is. Sy broer is in die kamp oorlede. Hy het op Fauresmith grootgeword, maar het sy sekondęre skoling aan die Hoër Seunskool Paarl in die Boland gekry, en het op die Universiteit van Stellenbosch ’n landboukursus gevolg en daarna ’n diplomakursus in landbou aan die Universiteit Sydney, in Nieu Suid-Wallis, Australië, voltooi. ’n Suksesvolle boer op Fauresmith, hy het die politiek in die jare dertig betree en is in 1940 as Lid van die Volksraad vir Kuruman (in Noord-Kaapland) verkies.

Hy het in 1951 as LV bedank om Administrateur van Kaapland te word. Dit was sy taak as Administrateur om die provinsie se uitgawes te besnoei; tog het hy verskeie groot hospitale laat oprig, sowel as nuwe skole, waarvan die Afrikaans-medium hoërskool op Grahamstad een was. Hy is kort na die opening van hierdie skool oorlede.

Oor die wapen:
Ongelukkig is daar vraagtekens oor die familiewapens wat in die skoolwapen opgeneem is. Die fout lę nie by die skool nie, maar by selfgeproklameerde heraldiese deskundiges in Suid-Afrika wat verklaar het dat sekere families wapenvoerend is, en in baie gevalle is wapens óf vir hulle versin óf is die wapens van ander families “gesteel”. Selfs Cor Pama, wat dikwels die waarheid agter verskeie wapenoorspronge geweet het, het eers in sy Groot Afrikaanse Familienaamboek van 1983 begin om by sekere wapens aan te dui dat daar probleme was.

Die Retief-wapen soos hier aangetoon is blykbaar in die jare veertig in gebruik geneem, maar selfs dit is onseker. Verskeie Europese families voer so ’n wapen, maar geeneen dra die naam Retif nie. Die Suid-Afrikaanse familie stam van François Retif, wat uit Blois, in Frankryk se Orléanais-gebied, afkomstig was, en wat in 1688 in Tafelbaai aangekom het. Die mees breedvoerige bron van inligting oor Europese wapens is J B Rietstap se Armorial Générale, wat geen wapen vir enige Retif-familie aantoon nie.

Die Olivier-wapen is ook verskeie dekades in gebruik, maar hiervoor is ook geen bewys nie. Die Afrikaanse Oliviers stam van die broers Hendrik Corneliszoon Olivier en Ockert Corneliszoon Olivier wat in 1661 hulle in die Kaap kom vestig het; hulle was vanaf die eiland Duiveland, in die Nederlandse provinsie Zeeland, afkomstig. (Duiveland is nie meer ’n eiland nie; die Delta-projek van die 1960s het dit in deel van ’n skiereiland omskep.) Verskeie Franse families wat ’n van voer wat dieselfde gespel word, sluit wel olyfbome in hulle wapens in, maar geeneen is identies met hierdie een nie.

Selfs by die Graham-wapen is daar ’n mate van onsekerheid, aangesien dit onduidelik is waar die vesting vandaan kom. Die eenvoudige Graham-wapen, soos wat dit deur die klan-hoof, die hertog van Montrose, as kwartering gevoer word, is: in goud, ’n swart skildhoof belaai met drie goue mantelskulpe. Maar die Grahams van Fintry voeg drie omgekeerde swart punte by. (Die oorspronklike breuk was ’n getande skeidslyn onderaan die skildhoof, wat mettertyd verdiep het totdat dit as omgekeerde punte [in Engels, piles] aanvaar is.)

Moontlik is die vesting simbolies vir die rol wat Grahamstad in die vroeë 19de-eeuse verdediging van die Visrivier-grens gespeel het, maar ek dra geen kennis hiervan nie.

English blazon:
In English, the blazon reads:

Arms: quarterly, I and IV: argent, a bend gules; II and III: argent, an olive tree proper growing on a base vert; an inescutcheon per fess embattled, or above and below a wall of blue-grey ashlars, masoned sable; upon a chief sable, three escallops or.

Crest: upon a wreath argent and gules, a pomme issuant of three ostrich feathers, the dexter feather gules, the middle one argent, and the sinister one azure.

Motto: Pertinax ut olea.

The motto translates as: “As tough as an olive tree.”


Counter

Terug na bo

  • Bronne: inligting en illustrasie voorsien en illustrasie geskandeer deur Hoërskool P J Olivier; agtergrondsinligting uit (onder andere) Die Groot Afrikaanse Familienaamboek deur C Pama en die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika.


    Terug na skole-indeks

    Back to schools index (English)

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle