"Bid sonder ophou" (1 Tess. 5:17)
Hernuwing
In die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, Amen.
Here Jesus Christus, Seun van God, wees my, sondaar, genadig.
Ek buig voor U neer en verbind my daartoe om van vandag af my lewe te wy aan die getroue nakoming van U Heilige gebooie.
In die wete dat U my liefhet, roep ek tot U, "Here ontferm U, Here ontferm U, Here ontferm U".
Hernuwe in my, onwaardig soos ek is, die Gawes van die Heilige Gees wat ek by my doop ontvang het.
Versterk my om te aanvaar en te vertrou dat U Wil oor alles heers.
Ek kom na U met 'n nederige en gebroke hart.
U is die Een wat vergewe, deur U Heilige Sakramente.
Aanvaar my berou en lei my elke oomblik van my lewe.
Help my om nie my broers en susters te oordeel nie, maar om die balk in my eie oog raak te sien.
Help my om hulle te vergewe wat my haat en vir hulle te bid; wys my U weë, Liewe Heer.
Neem my weg uit die invloed en kwaad wat die Bose veroorsaak.
Laat U Heilige Gees my lei, en leer my U woord van verlossing verwesenlik.
Ek is geëerd dat U my gekies het om U tempel te wees.
Maak my n vat van U Genade en Liefde, vol van die Heilige Gees.
Ek wy my hele lewe toe aan U, Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.
Die Trisagion
Wanneer jy in die oggend opstaan, voor jy die dag begin, bring God die offer van 'n innige gebed. Begin, staande of op jou knieë, met 'n oomblik van stilte. Keer in tot jouself sover jy kan en rig jou gedagtes en gevoelens op God. Nader God as 'n Vader wat jou liefhet en vir jou persoonlik omgee. Maak die kruisteken en bid met toewyding deur noulettend aandag te gee aan elke woord van jou gebed.
In die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Amen.
Eer aan U, ons God, eer aan U!
Gebed aan die Heilige Gees
Hemelse Koning, Trooster, die Gees van die Waarheid, oral teenwoordig en in alle dinge,
die skatkis van seëninge en gewer van lewe;
kom woon in ons.
Suiwer ons van alle onreinheid en red ons siele,
genadige Heer.
Die Trisagion
Heilige God, Heilige Magtige, Heilige Onsterflike, ontferm U oor ons. (3x)
Eer aan die Vader en aan die Seun en aan die Heilige Gees, nou en altyd. Amen.
Allerheiligste Drie-eenheid, ontferm U oor ons.
Here, vergeef ons sondes.
Meester, spreek ons vry van ons oortredinge.
O Heilige, besoek en genees ons swakhede, tot verheerliking van U naam.
Here, ontferm U. (3x)
Eer aan die Vader en aan die Seun en aan die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.
Onse Vader...
Die Jesus Gebed
Here Jesus Christus, Seun van God, wees my, sondaar, genadig.
n Kind se Gebed
Here Jesus, ek dank U vir die gawe van hierdie nuwe dag.
Toe U na die aarde gekom het, het U as kind in wysheid en genade toegeneem.
As Heer het U kinders in U arms geneem.
U het hulle geseën en gesê dat U koninkryk aan hulle behoort.
Liewe Jesus, ontvang ook my op hierdie dag en hoor my oggendgebed.
Seën my ouers, onderwysers, en almal wat vir my lief is en my versorg.
Seën ook vir my en beskerm my teen gevaar en die kwaad.
Gee my die krag om eerlik, getrou, welwillend en behulpsaam te wees teenoor ander.
Lei my om as 'n lid van U koninkryk in genade en wysheid toe te neem.
U is my Heer en Koning, en U sal ek ewig loof en dank. Amen.
Ander Oggendgebede
Die volgende gebede kan afwisselend al om die ander dag of elke oggend na die voorafgaande Trisagiongebede gebid word. Dit bied 'n meer gekonsentreerde geleentheid vir oggendgebed en 'n weg vir 'n dieper persoonlike gemeenskap met God. Word rustig in die teenwoordigheid van God en bid dan:
Dankseggingsgebed
Ek prys, loof en dank U, almagtige God, die Vader van die lig, dat U my weer eens die lig van hierdie dag laat sien het. Ek smeek U, vergewe my sondes en neem my gebed in U groot genade aan, want ek neem my toevlug tot U, die genadige en almagtige God. Laat skyn die lig van Christus, die Son van Geregtigheid, in my hart. Verlig my verstand en my hele wese dat ek volgens U gebooie mag leef en U dien in alles wat ek doen en sê. Want U is die bron van die lewe en die lig, en aan U bring ek die lof en dank, aan die Vader, Seun en Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.
Gebed van Verheerliking
Eer aan U, almagtige God en Koning. Deur U goddelike en liefdevolle sorg het U my, 'n sondaar, die geleentheid gegee om uit die slaap uit op te staan en U heilige teenwoordigheid te betree. Neem, Here, die stem van my gebed aan soos wat U die lofprysinge van die heilige en geestelike magte aanneem. Gee dat ek U met 'n suiwer hart en 'n nederige gees mag loof deur my onrein lippe. So sal ek 'n deelgenoot word met 'n stralende kleed; ek sal U verheerlik, Vader, Seun en Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.
Persoonlike Bedes
Bid ook tot God in jou eie woorde. Vertrou aan Hom toe persoonlike sake, gesinsaangeleenthede, werkverpligtinge en die behoeftes van die wêreld. Jy kan dalk die volgende gebed deur Metropoliet Filaret van Moskou, d.1867, as voorbeeld gebruik.
Here, gee dat ek die dag wat voorlê in vrede tegemoet sal gaan.
Help my om in alles op U heilige wil te vertrou.
Openbaar U wil aan my elke oomblik van die dag.
Seën my omgang met almal om my.
Leer my om met almal met wie ek vandag te doen kry, om te gaan met vrede in my siel, en met die vaste oortuiging dat U wil oor alles heers.
In al my dade en woorde, lei my gedagtes en gevoelens.
Laat my by die voorkoms van die onvoorsiene nie vergeet nie dat alle dinge onder U sorg staan.
Leer my om beslis en wys op te tree, sonder om ander te verbitter en in die verleentheid te stel.
Gee my die krag om die vermoeienis van die dag wat voorlê en alles wat dit sal meebring, te kan dra.
Rig my wil, leer my bid, bid U self in my. Amen.
Oggend-Bybelstudie
Die Ortodokse Tradisie het verskeie vorms ontwikkel van "wag op die Here in die vroegoggend" (orthrizein pros Kyrion) en om " 'n waaksame hart gestand te doen" (filake kardias) deur die eredienste, vas, die Jesus Gebed, en die lees van die Bybel. Een van die steunpilare van die Ortodokse spiritualiteit is die eerbiedige bestudering van die Skrif. Wy 'n kwartier of langer, sonder steurings, aan gebed en die lees van die Bybel. Soek 'n rustige plek op en vermy die gewone afleidings. Offer van die gebede uit die voorafgaande oggendgebede. Sit gemaklik en bid dan:
Gebed om Verligting
By die ontvangs van hierdie nuwe dag as 'n gawe, dank ek U, Heilige Drie-eenheid, want deur U goedheid en geduld was U nie toornig teenoor my, 'n luiaard en sondaar, nie; ook het U my nie in my sondes verwerp nie. Maar U het my U liefde betoon en my gelei om my daaglikse waak te onderneem en om U mag te verheerlik. Verlig my denke om U woord te bestudeer en open my hart om U leer in die Skrif te verstaan. Help my om wat ek leer, uit te leef en om U met my ganse hart te prys en U heilige naam te verheerlik, Vader, Seun en Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.
Aandgebede
Wanneer jy gereedmaak om te gaan slaap, hoe laat ookal, sonder jou 'n wyle af om tot God te bid met 'n nederige, dankbare, en rustige gees. Hoewel moeg van die dag se sorge, sal jy die aandgebed 'n bron van vrede en troos vind. Hierdie gebede kan ook met jou eggenoot en gesin na die aandete gebid word. Keer in tot jouself en bring jou gedagtes en gevoelens voor God. Na 'n oomblik van stilte, bid met 'n rustige gees, terwyl jy aandagtig let op die betekenis van die woorde wat jy bid:
Gebede aan die Verlosser
Noudat die dag ten einde geloop het, dank ek U, Here, en smeek U dat die aand en ook die nag sonder sonde mag wees; skenk my dit, Verlosser, en red my.
Eer aan die Vader en aan die Seun en aan die Heilige Gees.
Noudat die dag verby is, verheerlik ek U, Meester, en smeek U dat die aand en ook die nag sonder struikeling mag wees; skenk my dit, Verlosser, en red my.
Nou en altyd en tot in ewigheid, Amen.
Noudat die dag sy loop geneem het, prys ek U, Heilige God, en smeek U dat die aand en ook die nag rustig en sonder kwaad mag wees; skenk my dit, Verlosser, en red my.
Gebed van St.Efraim die Siriër
Here en Meester van my lewe, bevry my van die gees van luiheid, sinlose nuuskierigheid, magsug en ydel praatjies.
Maar gee my, U dienaar, die gees van matigheid, nederigheid, geduld en liefde.
Ja, Here en Koning, laat my my eie foute raaksien en nie my broers en susters oordeel nie.
Want U word geloof tot in ewigheid. Amen.
Gebed van Voorbidding
Here, ons bid vir vrede in die wêreld.
Vir alle gelowige en Ortodokse Christene.
Vir ons Aartsbiskop (naam), ons Priester, Vader (naam), en al ons broers en susters in Christus.
Vir ons land, ons President, en alle ampsdraers.
Vir ons ouers, broers en susters, ons kinders, ons familie en vriende, en alle mense.
Vir hulle wat ons haat en hulle wat ons liefhet.
Vir hulle wat ons gevra het om, onwaardig soos ons is, vir hulle te bid.
Vir reisigers op land, see en in die lug.
Vir gevangenes.
Vir hulle wat honger is, hulle wat ly, en hulle wat siek is.
Vir hulle wat uit hierdie lewe heengegaan het in die hoop op die wederopstanding.
Wees ons deur die gebede van ons heilige Vaders genadig, Here Jesus Christus, en red ons. Amen.
In U hande, Here Jesus Christus, my God, gee ek my siel en my liggaam oor. Seën my, wees my genadig en skenk my die ewige lewe. Amen.
Gebed aan jou Beskermengel
Heilige Engel, hemelse metgesel van my lewe,
verlaat my 'n sondaar nie en laat bose geeste nie toe om my deur my swakhede te oorweldig nie.
Maar hou my swak hand vas en lei my op die pad van verlossing.
Ja, heilige Engel van God, beskermer en bewaarder van my liggaam en siel, sien alles oor waardeur ek u verdriet aangedoen het.
Bewaar my ook gedurende die nag
en beskerm my teen elke invloed van Satan,
sodat ek nie in sonde verval nie.
Doen by die Here voorbidding vir my
dat Hy my vergifnis van sondes sal skenk
en help my om Sy goedheid waardig te wees. Amen.
Gebed aan Christus
Christus ons God, U wat te alle tye en elke oomblik in die hemel en op die aarde verheerlik word; lankmoedig, oorvloedig in genade, en ryk in medelye; liefdevol teenoor die regverdige en genadig teenoor die sondaar; U roep almal tot verlossing deur die belofte van seëninge wat wag: Here, aanvaar nou ons gebede en rig ons lewens op die weg van U gebooie. Heilig ons siele, reinig ons liggame, stel ons gedagtes reg, suiwer ons denke en bevry ons van alle beproewinge, kwaad en nood. Omring ons deur U heilige engele sodat ons, gelei en beskerm deur hul deelgenootskap, die eenheid van die geloof en die kennis van U weergalose heerlikheid mag bekom, want U word geloof tot in ewigheid. Amen.
Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy die lig van Sy aangesig oor ons skyn en Hom oor ons ontferm.
Gebed aan die Theotokos
O onbevlekte, smettelose, ongeskonde reine Maagd, Liewe Vrou en Bruid van God!
Deur u wonderbaarlike geboortegewing het God die Woord met die mensdom één geword en is die gevalle natuur van ons geslag weer met die Hemelse verbind.
U is die hoop van hulle wat sonder hoop is, die hulp van hulle wat in stryd verkeer, die bereidwillige beskermster van hulle wat tot u roep, die toevlug van alle Christene.
Verag my, 'n skuldbelade sondaar, nie, wat myself met slegte gedagtes, woorde en dade waardeloos gemaak het en my aan die slawerny van die luste van die lewe oorgegee het.
Wees mensliewend, as die Moeder van die mensliewende God. Ontferm u oor my, reddelose sondaar, en neem die smeekbede aan wat ek met onrein lippe aan u opdra.
Bid as Moeder tot u Seun, ons Meester en Heer, dat Hy my tallose oortredinge in Sy goedheid sal vergewe, dat Hy my deur boetvaardigheid na Hom sal laat terugkeer en dat Hy my hart deur Sy gebooie sal onderrig.
Wees my in u barmhartige en medelydende mensliewendheid steeds naby.
Wees in hierdie lewe my vurige beskermster en hulp. Hou die teenstander van my weg, maar lei my op die Heilspad.
Wanneer die einde van my lewe aanbreek, omvou dan my ongelukkige siel en spaar my die duistere gesig van die bose geeste.
Beskerm my tydens die ontsagwekkende oordeelsdag teen ewige straf en maak my 'n erfgenaam van die onuitspreeklike heerlikheid van u Seun, ons God.
Skenk my dit deur u hulp, my Meesteres, alheilige Theotokos.
Deur die genade en liefde van u eniggebore Seun, die Here en God, en ons Verlosser, Jesus Christus, aan wie al die heerlikheid, eer en aanbidding toekom, saam met Sy Vader wat sonder begin is, en Sy allerheiligste, goeie en lewegewende Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.
Amen.
Geleentheidsgebede
Tafelgebede
Here Jesus Christus ons God, U het die vyf brode op n verlate plek geseën en die menigte mans, vroue en kinders gevoed.
Seën ook hierdie gawes van U en vermenigvuldig dit vir die hongeres in die wêreld.
U is die Een wat alle dinge seën en heilig en ons verheerlik U tot in ewigheid.
Die ootmoediges sal eet en versadig word; hùlle sal die Here prys wat na hom soek; mag julle harte lewe vir ewig.
Seën ons, Here, en hierdie gawes van U wat ons gaan ontvang.
Want U kom toe lof en verheerliking tot in ewigheid. Amen.
Gebed vir Reisigers
Here Jesus, U het na die opstanding met twee dissipels saamgereis na Émmaüs en het hulle harte brandende gemaak met U genade. Reis ook saam met my en maak my hart bly met U teenwoordigheid.
Ek weet, Here, dat ek op hierdie aarde 'n pelgrim is wat streef na die burgerskap van die hemel.
Omring my tydens my reis met U heilige engele, en beskerm my teen sigbare en onsigbare gevare.
Gee dat ek my planne tot uitvoer sal bring en dat my verwagtinge vervul sal word volgens U wil.
Help my die skoonheid van die skepping raaksien en die wonder van U waarheid in alle dinge begryp.
Want U is die weg, die waarheid en die lewe, en ek dank, prys en verheerlik U tot in ewigheid. Amen.
Voor Enige Taak
Here Jesus Christus, my God, U het gesê: "Sonder My kan julle niks doen nie."
Ek gryp U woorde met geloof aan, Here, en smeek U om U goedheid.
Help my die taak uitvoer en afhandel wat ek nou gaan begin.
Aan U bring ek die eer, Vader, Seun en Heilige Gees.
My Heer en Verlosser, U het mens geword en met U hande gewerk totdat U bediening 'n aanvang geneem het.
Seën my by die aanvang van hierdie taak.
Help my dit tot voltooiing bring.
Here, verlig my denke en versterk my liggaam,
dat ek die taak wat my opgelê is, volgens U wil sal voltooi.
Lei my om goeie werke te doen tot U diens en verheerliking. Amen.
Gebed vir Getroudes
Here Jesus Christus, U het die bruilof in Kana met U teenwoordigheid geseën en vir ons getoon dat U die ware priester van die mistieke en die suiwere huwelik is. Ons dank U vir die dag waarop U ons deur U hemelse seëning in die sakrament van die huwelik aan mekaar verbind het. Here, seën steeds ons huwelik met liefde, kameraadskap, onderlinge steun, eensgesindheid en vordering in die geloof en die lewe. Bewaar ons heilige eg teen sonde, kwaad en gevaar. Kweek tussen ons die gees van begrip, die gees van vergifnis en die gees van vrede, sodat geen grief, twis of ander probleem ons laat struikel en val nie. Gee dat ons elkeen ons eie foute raaksien en mekaar nie oordeel nie. Hou die band van ons liefde altyd nuut. Verbly ons lewens met die vreugdes van die huwelik, sodat ons U met een hart kan loof en verheerlik. Amen.
Gebed vir 'n Sakeman
Meester en Heer, U het 'n oorvloed vrugte beloof aan hulle wat u getrou volg.
Seën my in my strewes en help my deur U genade sukses behaal.
Here, ek wy my onderneming aan U, om U daarin te behaag met my werk en strewes, tot my eie voordeel en die voordeel van ander.
Maak my hart vol van U genade sodat ek in al my handelinge mag optree met geloof, eerlikheid en moed.
Lei my om goeie werke voort te brig tot U diens en verheerliking . Amen.
Gebed in 'n Tyd van Nood
Almagtige God, die Vader van seëninge en God van alle vertroosting, help my en verlos my van hierdie probleem waarmee ek worstel. Ek glo, Here, dat alle beproewinge in die lewe onder U hoede staan en dat alles ten goede werk vir hulle wat U liefhet. Bevry my van vrees, angs en nood. Help my om my probleem met geloof, moed en wysheid aan te pak en te verduur. Gee dat hierdie beproewing my nader aan U sal bring, want U is my rots en toevlug, my troos en hoop, my behae en vreugde. Ek vertrou op U liefde en deernis. Geloof sy U naam, Vader, Seun en Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.
Gebede vir 'n Sieke
Hemelse Vader, heler van ons siele en liggame, wat U eniggebore Seun en ons Here Jesus Christus gestuur het om alle siektes en swakhede te genees, besoek ook U dienaar(-ares)(naam) en genees hom(haar) van alle liggaamlike en geestelike kwale, deur die genade van U Christus. Skenk hom(haar) geduld gedurende hierdie siekte, krag na liggaam en gees, en herstel van gesondheid.
Here, U het ons deur U woord geleer om vir mekaar te bid sodat ons genees mag word. Ek bid dat U U dienaar(-ares) (naam) sal genees en hom(haar) die gawe van volkome gesondheid gee. Want U is die bron van genesing en aan U gee ek die eer, Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.
Danksegging na Herstel
Almagtige God en hemelse Vader, U is die bron van lewe en genesing.
Ek loof U heilige Naam en dank U dat U my van my siekte verlos en my genees het.
Ek bid dat U my U blywende genade sal skenk sodat ek 'n nuwe lewe in ware gehoorsaamheid aan U mag lei.
Lei my om U wil in alles te doen en my lewe aan U diens te wy.
Mag ek deur só te leef, waardig bevind word vir U koninkryk, waar U woon in heerlikheid met U Seun en U Heilige Gees tot in ewigheid. Amen.
Gebede vir die Afgestorwenes
Christus ons Heer, gee aan U dienaar(-es)(naam) rus onder U Heiliges waar daar geen pyn, smart of lyding is nie, maar die ewige lewe.
Gee rus aan die siel van U dienaar(-es)(naam) onder die regverdiges wat in U vrede heengegaan het, en skenk hom(haar) die geluksalige lewe wat van U af kom, genadige Heer.
Here, dink aan U dienaar(-es)(naam) wat gesterf het in die hoop op die wederopstanding. Vergewe hom(haar) alle oortredings wat hy(sy) in gedagte, woord of daad begaan het. Skenk hom(haar) vrede en verkwikking in 'n plek van lig waar U heerlikheid die Heiliges verbly. Want U is die wederopstanding, die rus en die lewe van U afgestorwe dienaar(-es)(naam), en aan U bring ek die eer, nou en tot in ewigheid. Amen.
Die Gesegdes van die Vaders
(2de tot die 6de Eeu)
Die prys van die koninkryk is die kos wat jy gee vir hulle wat dit nodig het.
Sint Leo die Grote
Om hulle te voed wat honger is, is 'n groter taak as om die dooies op te wek.
Sint Johannes Chrysostomos
Herberge moet in elke stad van elke bisdom vir die armes gebou word.
Konsilie van Nicaea
Elke gesin behoort 'n kamer te hê waar Christus in die persoon van die honger en dors vreemdeling welkom is.
Sint Johannes Chrysostomos
Ek weet dat God ons die gebruik van dinge gegee het, maar net vir sover dit nodig is; en Hy het bepaal dat die gebruik gemeenskaplik moet wees. Dit is onsinnig en skandelik vir iemand om groots en in weelde te lewe wanneer soveel mense honger ly.
Sint Clement van Alexandrië
In plaas van aan die arme te gee wat joune is, gee jy eintlik maar net iets terug wat aan hom behoort.
Sint Ambrosius
Die dood is die skeiding van liggaam en siel.
Sint Ambrosius
Wat is die dood hoogstens? Dit is 'n tydlange reis; 'n tydperk van slaap langer as gewoonlik. As jy die dood vrees, moet jy slaap ook vrees.
Sint Johannes Chrysostomos
Al is dít wat jy in kwaad spreek ook wáár, is dit tog ook 'n misdryf.
Sint Johannes Chrysostomos
Want God alleen is sonder sonde; en die enigste mens sonder sonde is Christus, aangesien Christus ook God is.
Tertullianus
Die mensdom is aan drie soorte sonde onderworpe, want wanneer ons sondig, doen ons dit of in gedagte, woord of daad.
Sint Hieronymus
Sonde is bloot die verwaarlosing van die hemelse, en die soeke na aardse, tydelike dinge.
Sint Augustinus
Die een wat sy sonde raaksien, is groter as hy wat die dooies opwek.
Sint Isaac die Siriër
Behandel jou naaste, naas God, soos God.
Evagrius Ponticus
Ware vriendskap behoort nooit te verberg wat dit dink nie.
Sint Hieronymus
Daar is geen groter uitnodiging tot liefhê as om eerste lief te hê nie.
Sint Augustinus
Die volmaaktes verwerp vrees, versmaai belonings, en het met hul hele hart lief.
Sint Isaac die Siriër
Gebed om Verlossing van Boosheid
Here, ontferm U.
O Here, ons God, die Koning van die eeue, Almagtige; U skep en omvorm alle dinge deur U wil alleen. U het in Babilon die oond wat sewe maal warmer gemaak is en die vuur verander in verkwikkende dou en U Drie Jongelinge veilig bewaar. U is die geneesheer en die heler van ons siele, en die skuiling van hulle wat op U vertrou. Ons soebat en smeek U, verdryf en weer van U dienaar (naam) af enige duiwelse handeling, enige sataniese aanval, enige bose invloed en skade, en towery wat veroorsaak word deur kwaadwillige en bose mense. En as dit gebeur het as gevolg van skoonheid, of aantreklikheid, of voorspoed, of jaloesie, of afguns, o mensliewende Meester, steek U magtige hand en U kragtige en verhewe arm uit en sien in U wakende sorg neer op U dienaar(-es) en besoek hom(haar) met 'n engel van vrede, 'n magtige beskermer van liggaam en siel, wat enige bose plan en enige towery van afbrekende en afgunstige mense sal besweer en uitdryf, sodat U dienaar, deur U beskerm, mag sing: "Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?", en ook: "Ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, want U is God, my sterkte, 'n magtige raadsman, vredevors, ewige Vader." Ja, o Here, ons God, verlos U skepping en red U dienaar (-es) van enige invloed en skade veroorsaak deur towery en beskerm hom (haar) teen alle kwaad; deur die voorbidding van ons hooggeseënde, verheerlikte Liewe Vrou, die Theotokos en altyd Maagd Maria, die stralende Aartsengele, en al U Heiliges. Amen.
Deur die gebede van ons heilige Vaders, Here Jesus Christus ons God, ontferm U oor my en red my. Amen.
Voorbereiding vir die Heilige Bieg
Die gawe van God se vergifnis word ontvang deur gemeenskaplike aanbidding, die dissiplines van gebed en vas, boetedienste en bowenal deur die sakrament van die Heilige Bieg.
Die waarde van bieg is tweeledig. Eerstens het ons deur hierdie sakramentele handeling van die ge-ordende priester die versekering van goddelike vergifnis volgens die woorde van Christus (Joh.20:23). Tweedens gee die Heilige Bieg iemand die geleentheid om oor sy of haar diepste sorge te praat, om raad te ontvang en tot geestelike groei aangespoor te word, alles dinge wat algemeen erken word as uiters voordelig vir 'n mens se persoonlike lewe.
Die Heilige Bieg is gepas wanneer ook al 'n Ortodokse Christen die behoefte daaraan ervaar. Dit is ook deel van ons hele geestelike voorbereiding gedurende die vastye wat lei tot die groot feeste van Pase, Kersfees, die Ontslaping van die Theotokos en die Fees van die Twaalf Apostels. Die Heilige Bieg is egter veral nodig a) wanneer 'n ernstige sonde gepleeg is; b) wanneer 'n gewoontesonde 'n Christen oorweldig het, of, c) wanneer 'n Christen geestelik ophou groei het en 'n herondersoek van prioriteite nodig is.
Ons bely ons sondes deur die Priesterskap terwyl die mag van vergifnis by God lê. Die gawe van God se vergifnis, hoewel dit seker is, vind egter nie op magiese wyse plaas nie. Dit vrywaar ons nie sonder meer geestelike stryd nie - die voortdurende waaksaamheid teen die kwaad en die onophoudelike stry teen die sonde. Die Heilige Bieg sal net in die Gees vrugte dra wanneer die gelowige die bose haat, sonde volkome verwerp en geduldig positiewe lewensgewoontes in Christus aankweek. "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus ....En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het" (Rom.6:11,13)
Hoe kan 'n mens jou vir die Heilige Bieg voorberei? Voorbereiding vir die Heilige Bieg is 'n biddende ondersoek van gevoelens, gedagtes, dade, handelinge, houdings, gewoontes, waardes, voorkeure, doelstellings, rigting en lewenswyse. Hierdie biddende self-ondersoek sluit in nie net die eie persoonlike godsdienstige lewe nie, maar ook gesinsverhoudings, sosiale bedrywighede, werkverrigting, saketransaksies, politieke verpligtings en selfs ontspanningsbelange, want ons hele bestaan behoort in Christus geleef te word. Die doel van hierdie opregte gewetensondersoek onder die lig van die Heilige Gees is nie om onsself te veroordeel nie, maar om ons ware self te bevestig in Christus wat vir ons toegang gegee het tot God se genade en vergifnis, en ons geleer het om tot eer van God te leef.
Dink en bid oor 'n aantal dae oor jou bieg. Vra God om jou te help om jou sondes raak te sien en hulle volledig te bely. Bid 'n tyd lank vóór die sakrament van die Heilige Bieg gebede van belydenis, Psalm 51 of die volgende boetegebed, en nader dan jou Priester en bely jou sondes.
n Gebed van Berou
O Here my God, ek erken dat ek teen U gesondig het in gedagte, woord en daad.
Ek het ook versuim om te doen wat U heilige wet van my vereis.
Maar nou wend ek my weer met berou en boetvaardigheid tot U liefde en genade.
Ek smeek U om my al my oortredinge te vergeef en my van al my sondes te reinig.
Here, maak my hart vol van die lig van U waarheid.
Versterk my wil deur U genade.
Leer my om net wat U behaag, te begeer en te doen. Amen.
Gebed vir Vrede
Almagtige God en Skepper, U is die Vader van alle mense op aarde.
Ek bid U, lei alle nasies en hul leiers op die pad van geregtigheid en vrede.
Beskerm ons teen die euwels van ongeregtigheid, vooroordeel, uitbuiting, konflik en oorlog.
Help ons ontslae raak van wantroue, bitterheid en haat.
Leer ons om nie meer wapens bymekaar te maak en te gebruik nie.
Lei ons om geregtigheid, vrede en vryheid te vind.
Verenig ons in die maak en deel van vredeswerktuie
in die stryd teen onkunde, armoede, siekte en onderdrukking.
Gee dat ons mag toeneem in eensgesindheid en vriendskap as broers en susters wat na U gelykenis geskep is, tot U lof en eer.
Amen.
Voorbereiding vir die Heilige Kommunie
"Ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my" (Gal.2:20). Die kern van die Christelike lewe is 'n persoonlike verhouding met Christus. 'n Christen is iemand in wie Christus woon. Ons beleef ons bestaan in eenheid met Christus deur geloof, gebed, getuienis lewer, diens aan ander en, bowenal, deur die Liturgie en die ontvangs van Kommunie.
Die Liturgie is 'n voortdurende viering van die lewe en reddende werk van Christus, die middelpunt van die lewe van die Kerk. Terwyl ons die Liturgie bid, kom Christus in ons midde staan. Wanneer die Evangelie gelees word, ontvang ons die woorde as van Christus self afkomstig en ons prys hom: "Eer aan U, o God, eer aan U!" Wanneer die eucharistiese gawes gedurende die Groot Intog uitgedra word, sing ons: "Laat ons die Koning van almal ontvang!" Wanneer ons die kelk nader, bely ons: "Kyk, ek nader Christus, ons onsterflike Koning en God!" Wanneer ons die Heilige Kommunie ontvang, is ons verenig met Christus, met mekaar as broers en susters, en met die hele gemeenskap van die Heiliges, wat almal saam die mistieke Liggaam van Christus uitmaak.
Die Heilige Kommunie is die mees verhewe oomblik van ons lewe in Christus. Deur die Liturgie kom die hele plaaslike Kerk in die teenwoordigheid van die verrese Heer te staan om Hom te aanbid as die Brood van die Lewe. Die Ortodokse Kerk het nog nooit probeer ontleed presies hoe Christus in die eucharistiese gawes teenwoordig is nie. Ons glo dat ons deur die Heilige Kommunie Christus in Sy persoonlike teenwoordigheid nuttig. Die verandering van die Eucharistiese gawes is nie fisies en chemies nie, want met die Heilige Kommunie proe ons nog steeds die eienskappe van brood en wyn. Die verandering van die brood en wyn in die Liggaam en Bloed van Christus is eerder die mistieke en sakramentele eet en drink van die verheerlikte mensheid van Christus wat ons reinig en verheerlik deur genade (theose).
Die dikwelse gebruik van die Heilige Kommunie is 'n natuurlike deel van die Ortodokse lewe. Die viering van die Liturgie is eers voltooi, aldus Ortodokse teoloë, "ná die ontvangs van die Heilige Kommunie, nie daarsonder nie." Berei jou voor en ontvang die Heilige Kommunie dikwels. Bid as deel van jou voorbereiding gepaste Psalms en gebede gedurende jou aandgebed. Gaan na die Liturgie met afwagting en toegeneëndheid. Laat die hele Liturgie en die ontvangs van Kommunie 'n werklike ervaring wees van 'n nuwe skepping in Christus en 'n nuwe en kraggewende koms van Christus na jou plaaslike gemeente en na jou persoonlik, 'n bron van nuwe insig, wat jou begeester om in die wêreld getuienis te lewer en die goeie nuus van God se liefde in Christus met ander te deel, en om die behoeftiges te help en vir geregtigheid en vrede te werk.
Vr. Hoe kommunikeer ons met God?
Ant. God is Gees, dus moet ons ons gees ontwikkel om met die goeie Heer te kan kommunikeer.
Vr. Hoe ontwikkel ons ons gees?
Ant. Deur eenvoudig die Tradisie van die Kerk uit te leef.
Die Kerk leer ons die volgende:
1. Hernuwing - ons word wedergebore in Christus by die doop, maar ons moet ons geloof en lewe in Christus voortdurend bely en hernuwe - 'n nuwe verbintenis by elke Sakrament, veral die goddelike Liturgie. Sonder hierdie voortdurende hernuwing is die Christelike lewe dood!
2. Om God se liefde te ervaar, moet ons elke Sondag die Goddelike Liturgie bywoon en daaraan deelneem!
3. Gebed sonder ophou - dit is ons regstreekse verbinding met God!
4. Lees die Bybel elke dag - selfs een versie elke dag is 'n begin!
5. Lees die Vaders (die opvolgers van die Apostels) wat die Christelike lewe volledig gelei het!
6. Hoe om die deug van nederigheid te ontwikkel - een van die basiese eienskappe vir verlossing!
7. Hoe om die vrugte van die Heilige Gees te ontwikkel (Gal.5:22) - liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.
8. Verlossing word bereik net in die Kerk, deur die ware geloof te hê, en deur dit in ons daaglikse lewe uit te leef.