Die betekenis van ikone in die Ortodoksie

 

 

(Soos uiteengesit in ‘n persoonlike brief van 'n Ortodokse priester aan ‘n katkisant.)

 

Wat die kwessie van ikone betref, sou ek die saak min of meer só stel: beeltenisse (d.w.s. paslike, ortodokse beeltenisse wat aan die Kerk se opvattinge voldoen en dit weerspieël,) is nodig as beveiligers van die vleeswording. In hierdie sin dien hulle Teologies as bevestiging dat die God wat "vermenslik" het, afgebeeld kan word, en trouens afgebeeld moet word, as ons begrip van die vleeswording eg ortodoks en katoliek wil wees. Daar was natuurlik tye toe dele van die Kerk gedurende die vroeë eeue nie ikone gebruik het nie (gewoonlik in reaksie op die heidense beeldekultusse). Toe sekere vrae egter eers oor die regmatigheid van ikone geopper is en die saak so ontwikkel het dat dit op Christologiese terrein beland het, en die Kerk haar antwoord uitgewerk het, (deur die regtheid asook die relatiewe verering van ikone te bevestig), was dit onmoontlik om ‘n katolieke Christen te wees sonder om die dogmatiese noodsaaklikheid van ikone te aanvaar. Dit is vir ons in die twintigste eeu onmoontlik om terug te keer na vóór hierdie histories-Teologiese ontwikkeling en dit van ágter af te benader. Ons lewe aan hierdie kant daarvan, net soos wat ons lewe aan hierdie kant van die debatte (en die uitsprake daaroor) in verband met die Drie-eenheid en die wese van Christus (die eerste ses konsilies). In hierdie sin vorm die dogmatiese verordening in verband met ikone en die gebruik daarvan in die Kerk ‘n element van die Heilige Tradisie (en nie bloot ‘n tradisie nie) wat universeel aanvaar word deur die ortodokse katolieke Kerk.

Prakties gesproke beskerm ikone in werklikheid die ortodokse geloof in Christus as die vleesgeworde Seun van God. ‘n Mens hoef maar net te kyk na die situasie in ‘n groot deel van die Protetstantisme: Waar die skakel tussen Teologie en kuns vergeet of doelbewus prysgegee is, is die ortodokse belydenis in die vleeswording ook dikwels vergeet of doelbewus verwerp. Ek is daarvan oortuig dat daar ‘n verband tussen hierdie twee dinge is. Solank die gelowiges ‘n ikoon van Christus voor hulle het wat die vleesgeworde Seun van God uitbeeld (en gevolglik ook Maria as die Moeder van God en die Heiliges as menslike wesens wat vergoddelik is en wat God in die Heilige Gees ontmoet het), word die Kerk se geloof voortdurend verkondig en geleer. As die ikone eers prysgegee word, of die Teologiese inhoud daarvan bederf is of verswak is (soos wat gebeur het selfs in die Rooms Katolieke Kerk), vind daar ‘n geleidelike verswakking van die ortodokse geloof plaas of kan dit plaasvind. In hierdie sin is ikone soos baie van die Liturgiese tekste: Solank ons voortgaan om te sing oor die vleeswording van die ewige God en voortgaan om Sy beeltenis voor ons te hê, word die geloof van die Evangelie verkondig. Ek kan dit moontlik verwerp, maar ek kan nou nie juis voorgee dat dit nié die Kerk se geloof is nie, soos wat wel in Anglikanisme gebeur. Op hierdie punt in die geskiedenis, beteken enige opsetlike verwerping van ikone ‘n ernstige Teologiese dwaling op die een of ander vlak, wat die hart van die Kerk se geloof in die Vleeswording en die heiligheid van die stoflike aantas. Selfs wanneer die Kerk deur slegte periodes gaan, wanneer haar bewussyn verswak is deur allerhande magte, en Teologiese onkunde algemeen voorkom, bewaar die ikone die geloof en dien hulle as stukrag vir vernuwing wat ortodoks en eg is. In hierdie sin is ikone "nodig", op ‘n soortgelyke wyse as wat die tekste van die Nuwe Testament "nodig" is, aangesien hulle albei, op hul onderskeie maniere, die Evangelie bevat, bewaar, oordra en verkondig. Daar was ‘n tyd toe die Kerk nóg die Nuwe Testament nóg die ikone gehad het, maar net die lewende Tradisie soos bevat in die mondelinge leer van die apostoliese kollege en in die sakramentele vieringe. Op sekere stadiums in die geskiedenis het hierdie Tradisie in die Nuwe Testamentiese geskrifte en in ikone gestalte gekry. Gevolglik is hulle nou onontbeerlike elemente in die lewe van die Kerk.