deur
Mike Oettle
EEN van die mees komplekse klasse kleuringe in die heraldiek is vair. Dit word in ’n verskeidenheid kleure aangetref, en kom ook in verskillende rangskikkings voor, elk met sy eie naam.
Maar dit alles gaan terug, soos in die geval van hermelyn, na ’n pels wat deur die magtiges van die Middeleeue hoog aangeprys is: vair is ’n saamgestelde pels bestaande uit stukke van eekhoringvel.
Die woord vair dui op hierdie diversiteit: dit is deur Nederlands uit Frans ontleen, en beteken bont pels. Op sy beurt is die Franse woord vanaf die Latynse varius afgelei; dit beteken ook bont.[1]
Die betrokke eekhoring (wat in die boeke oor die heraldiek nie na spesie genoem word nie) was blykbaar blougrys op die rug en onder wit, en was heelwat vir mantelvoerings gebruik.
Dit is in afwisselende koppievormige stukke rug- en maagpels vasgewerk, wat uitgekom het op ’n patroon van blougrys en witgrys – wat dan in heraldiese tekening en skildery vereenvoudig is as blou en wit in afwisselende stukke.
Een raaisel is die betrokke soort eekhoring: die Encyclopædia Britannica stel dit dat daar verskeie genusse en spesies eekhoring is, noem dit die rooi eekhoring (Sciurus vulgaris) as geskiedkundig die oorwegende boom-eekhoringspesie in Brittanje, Europa en Asië, en die grys eekhoring (S carolinensis) as uit Noord Amerika ingevoer (dit is ook in Suid-Afrika ingebring).
Duidelik moes daar in Europa ’n gewone grys eekhoring gewees het voordat hierdie indringer uit die Nuwe Wêreld ingevoer is.
Die pels was, soos reeds genoem, hoog aangeprys, en Godfried van Anjou[2] word op sy graftombe met ’n vair-gevoerde mantel afgebeeld. Biskop Odo van Bayeux, halfbroer van koning William I,[3] is ook daarvoor bekend dat hy vair gedra het.
Fox-Davies[4] haal ’n interessante besonderheidjie aan uit Parker se Glossary of the Terms Used in Heraldry (my vertaling):
“Die bekende veestorie van Aspoestertjie is vanuit ’n Franse vertelling na ons gebring, en die mofskoentjies wat uit hierdie kosbare pels gemaak is – blybaar as verre vir vairé geskryf – is foutiewelik in Engels vertaal as ‘glas’-mowwe (slippers). Dit was natuurlik ’n onmoontlike materiaal, maar die fout is sedertdien nog altyd in die kindersprokieboeke herhaal.”
Fox-Davies, in sy beskrywing van die voorstelling van die pels in heraldiese kuns, skryf:
“In die oudste rekords word vair voorgestel deur middel van reguit horisontale lyne wat met horisontale golwende of newellyne [eintlik in Afrikaans geënte lyne] afwissel, maar die koppievormige stukke wat daaruit spruit, het deur verskeie intermediêre vorms gegaan, en het nou stereotipies ’n vaste geometriese patroon aangeneem, gevorm uit rye oorvormige skildjies van afwisselende kleure en afwisselend omgekeer, so aangetoon dat elke omgekeerde skildjie in die ruimte inpas wat oorgelaat is deur dié weerskante wat nie omgekeer is nie.”
Fox-Davies skryf dan nog twee volle bladsye voordat hy op ’n illustrasie afkom wat die prentjie aansienlik verduidelik: links twee tipiese vair-“skildjies”, en regs ’n 14de- en 15de-eeuse ysterhoed wat by die geronde vorm pas, en ’n eekhoringpels wat by die vair-buitelyn wat met reguit lyne geteken word, pas.
Die ysterhoed illustreer die Duitse naam vir gewone vair, Eisenhut-feh (ysterhoedpels). Op sy beurt het dit die Duitse bynaam vir die pels, Eisenhütlein (“ysterhoedjie”), afgegee, wat by tye in wanverstand uitgedraai het en gelei het na ’n verskeidenheid vergesogte ontlenings vir hierdie pelstipe.
Hy illustreer ook die seël van ’n 14de-eeuse burgemeester van Wene, Chimrad Pellifex (Conrad die Pelsenier), waar die regterhelfte van die skild duidelik geteken is as vair in die styl hierbo beskryf.[5] Die naam Pellifex is blykbaar ’n vertaling in Latyns van Wildwerker – ’n pelswerker of pelsenier – dus is die vair-veld duidelik woordspelend.
So vroeg reeds as die 13de eeu het vair in ander kleure voorgekom behalwe blou en wit – en in sulke kleure is dit dan vairé of bontvair genoem.
Fox-Davies illustreer ’n reeks voorbeelde van die familie Ferrers, grawe van Derby, wat blykbaar bontvair van goud en rooi as wapen gevoer het as ’n woordspeling op hul van.
Die eerste was William de Ferrers (†1247), graaf van Derby, wat ’n skild gevoer het van vier rye van sulke stukke, met geënte lyne geteken.
Robert de Ferrers (graaf van Derby 1254-1265), wie se wapen op gebrandskilderde glas in die kerk te Dorchester verskyn, toon drie rye waar die geënte lyne in punte eindig (moontlik om die vernstermaker toe te laat om aparte glasstukke te sny). Maar op sy seël toon Robert se skild die geënte patroon, en in nie minder nie as sewe rye.
Tussen hierdie twee was William de Ferrers (†1254), graaf van Derby, wat ’n silwer skildsoom bygevoeg het, waarop agt swart hoefysters, en het sy vair in vier rye van geënte lyne aangetoon. Dit is ’n tyd lank gedink dat die hoefysters ook ’n woordspeling op Ferrers was (“farrier” of hoefsmid), maar dit blyk egter dat dit die kentekenwapen was van sy skoonpa, William Marshall,[6] graaf van Pembroke.
Hierdie geënte styl om vair voor te stel word in Frans as vair ondé of vair ancien geblasoeneer. Die Duitse ekwivalent is Wolkenfeh.
Ofskoon ’n mens vair met geënte lyne of hoekige stukke teken, is daar ten minste vier maniere om die blou en wit segmente te rangskik. Apart van die gewone vorm is daar:
Teen-vair, waarin die blou segmente vertikaal rug-teen-rug gerangskik is en dus in pare met die wit stukke afwissel.
Vair en point, waarin die blou segmente afwisselend rug-teen-rug gerangskik word, gee die verspringende patroon wat hier heel links verskyn. Vair en point word in Duits Wogenfeh genoem.
En in paalvair, of in Duits Pfahlfeh en in Frans vair appointé of vair en pal, word die segmente van dieselfde kleur in vertikale of paalsegewyse rye gerangskik.
Die Duitse heraldiek onderskei tussen Pfahlfeh en Sturzpfahlfeh, of omgekeerde paalvair.
En op die Europese Vasteland vind mens soms skuinsvair (of linkerskuinsvair). Fox-Davies siteer (in Franse blasoen) die Mignianelli-familie in Italië, die hoof waarvan vairé d’or et d’azur en bande voer (skuins bontvair van goud en blou), en Pichon, van Genéve: vairé en barre d’or et de sable (linkerskuinsvair van goud en swart).
Wanneer die kleure van bontvair genoem word, volg dit die heraldiese patroon van metaal eers, dan tinktuur: gewone vair is silwer en blou (of eerder wit en blou), en die mees algemene vorm van bontvair is goud en rooi.
Daar is egter ’n onderskeid tussen die gebruike van Frankryk en Brittanje: in die Franse heraldiek vorm die wit segmente die boonste lyn; maar in die Britse heraldiek verskyn die blou segmente gewoonlik bo.
Beide Fox-Davies en Boutell[7] noem ’n instansie waar bontvair en hermelyn saamgevoeg word: die wapen van Gresley is bontvair van hermelyn en rooi. En Fox-Davies, waar hy weereens vir Parker aanhaal, noem ’n geval van bontvair van silwer, blou, rooi en goud, en point.
Vair vertoon ook (soos in die wapen van Ferrers) variasies in grootte. Fox-Davies skryf:
“Die Vair van die handel was vroeër van drie groottes, en die onderskeid word in buitelandse [Vastelandse] wapenkunde voortgesit. Die gemiddelde of gewone grootte staan as Vair bekend; ’n kleiner formaat is Menu-vair (waarvandaan die Engelse ‘miniver’); die grootste is Beffroi of Gros vair, ’n term wat in die wapenkunde gebruik word wanneer daar minder is as vier rye. Die woord Beffroi is blykbaar aan die klokvorm van vair ontleen, en lank gelede is die woord Beffroi in die sin van die alarmklok van ’n dorp gebruik. In die Franse wapenkunde behoort Beffroi om uit drie horisontale rye te bestaan; Vair, van vier; Menu-vair, van ses.
“Hierdie reël word nie streng toegepas nie, maar waar daar in die Franse blasoen meer as vier rye voorkom, is dit gebruiklik om die getal te noem; dus voer VARROUX: de Vair de cinq traits. Menu-vair is steeds die blasoen van sommige families; BANVILLE DE TRUTEMNE vier: de Menu-vair de six tires; die baronne van HOUTHEM het hierdie wapen gevoer: de Menu-vair, au franc quartier de gueules chargé de trois maillets d’or (Van menu-vair, ’n vrykwartier van rooi belaai met drie hamers van goud).
“In die Britse wapenkunde is die voorgaande onderskeide onbekend, en is Vair van slegs een grootte, dit dan aan die oordeel van die kunstenaar oorgelaat.”
Fox-Davies noem (behalwe Ferrers en Gresley) ’n aantal families wat slegs vair of bontvair voer: Varano, hertoë van Camerino; Vairière, in Frankryk; Veret, in Switserland; Gouvis, Fresnay (Brittanië); De Vera in Spanje; Loheac (Brittanië); Varenchon (Savoje); Soldanieri (Florence). Hy skryf verder:
“Teenvair word deur LOFFREDO van Napels gevoer; deur BOUCHAGE, DU PLESSIS A
Fox-Davies noem ook die eienaardigheid van plumeté, wat hier bespreek word.
Verdere variasie kom in ’n vorm waar die segmente T-vormig is. Dit word krukkevair genoem (in Engels “potent”), omdat krukke in die Middeleeue min of meer so ’n formaat gehad het. Hierdie vorm verskyn ook in twee variasies: behalwe krukkevair is daar ook teen-krukkevair, waarin die segmente van dieselfde kleur vertikale rye vorm.
In Duits word hierdie Sturzkrückenfeh en Gegensturzkrückenfeh genoem, en ’n verdere tipe kom in die Duitse heraldiek voor, wat verschobenes Gegensturzkrückenfeh genoem word, ’n variasie in krukkevair-formaat wat soos vair en point voorkom.
Fox-Davies noem dat krukkevair oorspronklik ’n alternatiewe manier was om vair aan te toon, en noem etlike vroeë voorbeelde hiervan. Soos vair, is dit normaalweg wit en blou, maar indien dit so gespesifiseer word, kan dit in ander kleure wees, wat dan in Engels potenty genoem word.
Dit alles neem ons ’n hele ent weg van eekhoringpels . . . maar dit onderstreep die feit dat die heraldiek fatsoenlike en uitkenbare patrone wat betekenis oordra, te skep.
[1] Etymologie uit die American Heritage Dictionary of the English Language (American Heritage/Houghton Mifflin).
Fox-Davies ontleen die woord van ’n Latynse woord varus, maar alhoewel Lewis en Short se Latin Dictionary (Oxford, 1894) twee woorde met daardie spelling het, het geneen enige aanduiding op pelse nie.
[2] Godfried Plantagenet (*1113 †1151), graaf van Anjou, tweede man van Matilda (*1103 †1167), dogter van koning Henry I van Engeland. Matilda was eers met die Keiser Hendrik V getroud, en is in 1127 met Godfried getroud, nà Hendrik se dood in 1125. Sy is in 1141 tot koningin Engeland geproklameer, as teenwig vir koning Stephen (*1096 †1154, ook graaf van Blois).
Selfs voor die dood van Stephen is Matilda en Godfried se seun Henry in 1152 koning van Engeland geproklameer (Henry II); daardeur is die Huis Plantagenet op die Engelse troon gevestig.
[3] Willem van Normandië, algemeen as Willem die Veroweraar bekend, maar kyk onderaan hierdie bladsy vir ’n bespreking hiervan.
[4] A C Fox-Davies: A Complete Guide to Heraldry, revised and annotated by J P Brooke-Little, Richmond Herald of Arms (Nelson).
[5] Die arsering op hierdie seël dui blykbaar daarop dat die vair op hierdie skild ystergrys (Eisengrau) en wit is, maar aangesien die arserings wat vroeër in algemene gebruik in (swart-wit) heraldiese tekenings nie vroeër nie as die 17de eeue uitgedink is, kan dit in die geval van ’n 14de-eeuse seël buite rekening gelaat word. Kyk hierdie bladsy vir ’n bespreking.
[6] Die feodale amp van maarskalk, waarvan hierdie graaf van Pembroke sy familienaam ontleen het, het ’n hoë staatsamp geword, maar het oorspronklik die betekenis gehad van ’n persoon wat in beheer was van die stalle, dus die hoefysters.
[7] Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Frederick Warne & Co).
Opmerkings, navrae: Mike Oettle