Armoria
http://www.oocities.org/armoria_frage

VDG

Sal die besit van ’n heraldiese wapen van my ’n edelman maak?

KORT en bondig: NEE.

Terwyl die gebruik en eienaarskap van heraldiese deviese nou verband hou met die adel, en was dit ook so sedert die heraldiek aanvanklik in gebruik geneem is, is dit nie op sigself ’n bron van edele status nie.

Eeue lank reeds is heraldiese wapens in verskeie lande gevoer deur mense wat nie tot die adelstand gebore is nie. Sommiges is wel tot daardie status verhef, maar die besit van ’n wapen maak nie van jou ’n edelman nie.

In sommige lande mag slegs die getitelde adel heraldiese wapens voer. In sulke lande, dus, vloei die besit van ’n wapen uit die adellike status.

Maar dit werk nie andersom nie.

In Brittanje is die verlening van ’n wapen ’n eer wat vanaf die kroon ontvang word – dit is al daarvan gesê: “Dit is ’n eer, al sy dit ’n minder eer.”

Die argument is al gevoer dat die besit van ’n wapen in Brittanje daarop dui dat jy ’n edelman (nobleman) is. In ’n sekere sin is dit korrek, omdat die Engelse woord noble van die Latynse nobilis afgelei is, en dit beteken: “aan die owerhede bekend”. ’n Mens kan nie in Brittanje ’n wapen verleen word sonder dat jy aan die heraldiese gesag bekend is nie.

Voordat jy ’n Britse verlening mag kry moet jy tewens die heroute tevrede stel dat jy ’n eerbare persoon is.

Maar in Brittanje is dit ook so dat die enigste mense wat eintlik as edel beskou word, die wat adellike titels besit, en hul gades. Voordat die New Labour Party met die House of Lords begin peuter het, het dit beteken die besit van ’n titel wat jou op ’n setel in die Lords geregtig het (so ’n titel het dan van jou ’n peer[1] gemaak).

Terwyl die peers en peeresses van Brittanje (en hul gades) adel is, is hulle kinders en kleinkinders nie adel nie, tot tyd en wyl hulle sulke titels erf, of wanneer hulle self ander titels verkry.

Edele status word nie aan baronette, ridders of die houers van mindere ere van die kroon toegereken nie, en ook nie aan hul gades of nageslag nie. Dit kan egter gebeur dat die manlike houer van so ’n titel getroud kan wees met ’n dame wat wel ’n edeltitel het.

In die Verenigde State word daar hewig getwis oor die edele status wat kamstig deur ’n wapenverlening verkry sou word.

Bedrieërs wat die rykes van hulle geld wil “bevry”, oortuig hulle dat deur die verkryging van ’n verlening van die een of ander orde of kollege (soms sal so ’n bedrieërorganisasie selfs homself ’n heroutekollege[2] noem) hulle dan outomaties adel sal word.

Die eenvoudige teenargument is dat die Grondwet van die Verenigde State die adellike status aan sy burgers ontsê – edeles wat burgers wil word, moet van hulle titels afstand doen.

Suid-Afrika het ’n vergelykbare situasie, want sedert 1925 is daar ’n verbod op die aanvaarding deur landsburgers van “vreemde titels”.[3]

Dit is ’n ironiese beperking, want in daardie tyd was koning George V van Groot-Brittanje Suid-Afrika se Staatshoof, tog is hy deur die Unie-Parlement (waarvan hy die titulêre hoof was)[4] om enige titels aan Suid-Afrikaanse burgers toe te staan nie.

Maar heraldiese wapens het nie onder hierdie beperking geval nie, en in die 1950s het selfs ’n herout van die College of Arms Suid-Afrika besoek met die doel om heraldiese sake in hierdie land in orde te bring.

Die College het nà hierdie besoek aan verskeie Suid-Afrikaanse munisipaliteite en ander inrigtings verlenings gemaak, en het sedert lank voor die verbod van 1925 aan indiwiduele Suid-Afrikaners ook wapens verleen.

’n Treffende verskil tussen die VSA se verbod op edeltitels en dié wat in Suid-Afrika van toepassing is, is dat terwyl die VSA alle titels vir burgers verbied, Suid-Afrika slegs die skepping van nuwe titels vir sy burgers verbied. Daar is geen beperking op die erf van titels nie. In 1996 het John Murray, ’n landmeter van Haenertsburg in die Provinsie Limpopo, van ’n verlangse neef die hertogdom Atholl geërf.

AAN die ander hand is daar altyd die moontlikheid dat daardie familie-erfstuk wat jy behou, wat met ’n wapen of helmteken versier is, miskien die bewys sal wees dat jy die verlore hertog van Bridgewater[5] is.

Maar sulke moontlikhede is eerder die stof van die fantasie as werklikheid. Dit is nietemin die moeite werd om jou stamboom na te vors, wie en wat ookal jou voorouers mag gewees het. Daar is altyd interessante verrassings.



[1] Die Engelse woord peer is van die Franse pair afgelei, en dui op ’n persoon wat beskou is as gelykstaande met die koning.

[2] Die enigste heroutekollege wat ’n regtelike bestaan het, is die College of Arms in Londen.

[3] Hierdie maatreël was nie van terugwerkende aard nie. Daardie Suid-Afrikaners wat reeds ridderskappe en baronetskappe besit het, en lord De Villiers van Wynberg, die enkele Suid-Afrikaanse baron, het hulle titels behou.

Ridderskappe sterf saam met die persone wat so vereer is, terwyl baronestkappe oorerflik is. ’n Voorbeeld van ’n Suid-Afrikaanse baronet in die 21ste eeu is sir David Graaff, 3de baronet.

Sedert die verbod van 1926, is die enigste titels wat Suid-Afrikaners mag aanvaar ere-ridderskappe en -dameskappe. Helen Suzman, die Opposisie-parlementariër wat soveel jare gedien het, is ’n ere-dame van die Britse Ryk.

Verskeie Amerikaners behou ook ere-ridderskappe. Op een stadium was die musikus Yehudi Menuhin ook onder hulle, maar nadat hy ’n Britse onderdaan geword het, is hy tot baron verhef, en het as lord Menuhin bekend gestaan.

[4] Die enigste Britse soewerein wat in werklikheid ’n Suid-Afrikaanse parlementsitting voorgesit het, was koning George VI, wat in 1936 die troon bestyg het en in 1947 die Parlement in Kaapstad geopen het.

In 1995 het sy dogter, koningin Elizabeth (wie, as vermoedelike erfopvolger, die koning se reis van 1947 meegemaak het), die Parlement toegespreek, maar by hierdie geleentheid was die situasie heeltemal anders. Sy was nie daar as koningin van Suid-Afrika nie (hierdie titel het sy tussen 1953 en ’61 geniet), maar as hoof van die Gemenebes van Nasies, waaraan Suid-Afrika die jaar vantevore hertoegelaat is nà meer as driek dekades van uitsluiting.

Sy het die Parlement nie voorgesit nie, maar het dit bygewoon as genooide gas van president Nelson Mandela.

[5] Hierdie titel is uit Amerikaanse fiksie geneem, nie heraldiese navorsing nie. Dit is die naam wat gebruik is deur een van die twee bedrieërs wat saam met Huckleberry Finn op ’n vlot die Mississippi afgevaar het in Mark Twain se roman The Adventures of Huckleberry Finn.


Counter

Volgende vraag

Terug na bo

For English, click here


Terug na VDG-indeks

Terug na Heraldiek-ABC-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle