Armoria
http://www.oocities.org/armoria_frage

VDG

Wat is regs en links in ’n heraldiese wapen?

AS jy na ’n wapen kyk – en veral as jy die beskrywing daarvan lees – kan jy maklik verwar word deur die gebruik van die woorde regs en links.

Soos jy die beskrywing lees, raak jy miskien verward, want dit wat as regs beskryf word, staan dan aan jou linkerhand.

Ons is so gewoond daaraan om ’n wapen te bekyk as iets wat daar teen die muur hang: ’n gedrukte stuk papier, of ’n skildery wat daar hang, of miskien ’n stuk argitektoniese vormwerk (wat miskien of miskien nie in die korrekte kleure geverf is) dat ons vergeet dat dit oorspronklik iets was wat op die slagveld gevoer is.

Ridders het oorspronklik deviese in verskillende kleure en vorms op hul baniere en lanswimpels gedra.

Hierdie deviese is op die lans-or banier-paal gefokus. ’n Leeu, byvoorbeeld, sou altyd na die paal kyk, sodat dit in die slag vorentoe sou kyk.

Agterna het hulle hierdie deviese ook as kleding gedra – die oorkleed, ’n kledingstuk wat die pantsering van die skouers tot by die boude gedek het.

Die krygsman se belangrikste hand was die een waarmee hy sy swaard gehou het – gewoonlik die regterhand.

Heelwat positiewe bygeloof is aan die regterhand gekoppel, en selfs meer negatiewe superstisie aan die linkerhand.[1]

Die fokus van die devies op die oorkleed was dus op die regterhand. Die leeu[2] op die ridder se bors het na regs gekyk, en so ook die spieëlbeeld van die leeu op sy rugkant.

En toe ridders pantsering begin dra het wat hul gesigte toegemaak het, het hulle ook daardie devies op die skild gevoer.

Hier ook was die fokus op die regterhand – die regterhand van die man wat die skild gevoer het.

Dus soos jy die krygsman bekyk het, was sy regterhand aan jou linkerkant, en tot vandag toe is die regterhandse kant van die skild aan jou linkerkant soos jy dit aankyk.



[1] Ridders wat links was, was skaars. Miskien is dit omdat linkses aangemoedig is om hul regterhande te gebruik of omdat hulle afgeraai is van ridderskap – albei, miskien.

Ridders wat links was, kon nie in die toernooi geakkommodeer word nie, aangesien alle berede aanvalle uit twee ridders bestaan het wat op mekaar afgestorm het met ’n lans in die regerhand en die skild aan linkerkant; enige uitsondering hierop so ongelyke voordeel gegee het.

[2] Vele diere het in heraldiese ontwerpe voorgekom, maar die leeu was buitensporig gewild. Dit is waarskynlik omdat kruistogter-ridders wat die Middellandse See bereik het, hulle daar gesien het en beïndruk is met hulle majestueuse voorkoms.

Geweldig baie Engelse en Duitse ridders het leeu-deviese gebruik, maar die hoogste konsentrasie daarvan was in die Lae Lande (daardie graafskappe en hertogdomme binne die Heilige Romeinse Ryk wat vandag die koninkryke Nederland en België is, asook Luxemburg).


Counter

Volgende vraag

Terug na bo

For English, click here


Terug na VDG-indeks

Terug na Heraldiek-ABC-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle