Armoria familia
http://uk.oocities.com/barensteel

Buite die eg gebore

deur Mike Oettle

“bar sinister” / Eduard die Belyder / onderskeid / rykswapen / Beaufort

wapen met ’n ‘‘bar sinister’’ - die wapen van die hertog van St Albans

BUITE-EGTELIKHEID, onegtheid of bastaardy[1] is nog altyd ’n spesiale geval gewees in die heraldiek – dit is in der waarheid ’n spesiale geval in die Christelike Weste, die groepering samelewings waarin die heraldiek eers ontstaan het.

Die voer van heraldiese wapens het sy begin gekry in die kryger-élites van gemeenskappe wat deur barbaarse invallers gestig is – hoofsaaklik Germaanse stamme (selfs in Romeinse Gallië, wat Frankryk geword het, en Romeinse Hispania [Spanje en Portugal]), maar ook Kelte[2] in Brittanje en Ierland – en dit het later na ’n verdere groep barbare, die Slawwe, versprei.

Al hierdie Indo-Europese samelewings was eers heidens, en het veelwywery, bywywery en buite-egtelike verhoudings toegelaat of selfs wetlik geseën. Die aanvaarding onder hulle geledere van die Katolieke[3] Geloof het eenwywige huwelik verplig (sonder die moontlikheid van egskeiding)[4] en, vir sommiges, selibaatheid.

Maar daar was steeds veel wat verhoudings buite die grense wat deur die Kerk toegelaat is, aangegaan het, en kinders is uit hierdie verhoudings gebore. Deur die jare heen is daar in verskeie plekke verskillende reëlings gemaak om hulle in of uit te sluit, soos wat die sedes van die tyd dit sou toelaat.

Lank voordat die heraldiek gevestig is, was daar heel vrome monarge en ander heersers, soos Karel die Grote[5] [*c742 †814; op Kersdag 800 nC as keiser gekroon] en die twee Engelandse St Edwards (Eduard die Belyder [*c1003 †1066] en Eduard die Martelaar [*c963 †978]) – nadat die Belyder eers ses jaar lank getroud was, het hy ’n kuisheidseed afgelê.

Maar daar was ook andere wat die Kerklike reëls geïgnoreer het, en nie alleen vader geword het van buite-egtelike kinders nie, maar selfs gereël het vir hul opvolging.
wapen wat aan Eduard die Belyder toegeskryf is

Geeneen van die Sakser-konings van Engeland het heraldiese wapens geken nie, maar latere heroute het aan Eduard die Belyder ’n wapen toegeskryf, gebaseer op ’n munt wat tydens sy regering geslaan is. Die munt het ’n kruis gehad met vier muurswaeltjies tussen die arms daarvan, maar omdat Normandiese en Plantaganet-skilde so lank was, is ’n vyfde muurswaeltjie in die skildbasis bygevoeg.

’n Beroemde voorbeeld van ’n bastaard wat sy vader opgevolg het, kan gesien word by hertog Robert I van Normandië, wie se buite-egtelike seun Willem in die ouderdom van 15 effektief die heerser was van Normandië en, toe hy ongeveer 38 was (in 1066), homself koning van Engeland gemaak het. Alhoewel hy onthou word as Willem die Veroweraar, het koning Willem I[6] altyd daarop aangedring dat hy koning geword het nie deur verowering nie, maar volgens kontrak (’n verhouding met Eduard die Belyder wat andersins geen bewys het nie). Dus het hy die beskrywing “die Veroweraar” ontken, maar het hy dit toegelaat dat na hom verwys word as Willem die Bastaard.

Ander onegte seuns het minder sukses gehad in die opvolging tot hul vaders se landgoed – of dikwels tot enige vaderlike oorerwing – en die wapens wat vir hulle opgetrek is is bedoel om aan te dui dat hulle nie in die lyn van opvolging was nie.

Selfs die woorde wat gebruik is om sulkes aan te dui het oor die jare gewissel. Hulle is onder andere eufemisties as “natuurlike kinders” beskryf.

Dit is by tye in Engels van buite-egtelikes gesê dat hulle wapen ’n “bar sinister” insluit – en veral in die Viktoriaanse tyd is dit gevoel dat dit ’n vreeslike sosiale ongeskiktheid is. Mense uit wapenvoerende families wat van buite-egtelike afstamming was, sou dikwels hulle verbintenis vergeet of ontken – sodat hulle nie ’n wapen met ’n “bar sinister” sou moet voer nie.

Tog is dit ’n totale misverstand van die funksie van heraldiese merke van onegtheid, en is die benaming selfs totaal skeef.

Franklyn en Tanner[7] skryf (volgens my vertaling):

“Die voer van heraldiese wapens is . . . ’n eer, al is dit ’n mindere eer; dus volg dit, ten spyte van ’n diep ingewortelde en gewilde wanbegrip, dat die onegte nageslag van ’n wapenvoerder, òf seuns òf dogters, nie deur ’n punitiewe toevoeging tot die familiewapen gestigmatiseer word nie.

“Wanneer ’n wapenvoerder sy vaderskap erken het, en die nodige reëlings met die heraldiese gesag gemaak het, sal sy buite-egtelike kinders ’n verlening verkry van die pronominale kwartier van sy wapen, met paslike breuke.

“Die breuk is nie daar om die onreëlmatigheid van die nuwe wapenvoerder se geboorte te verklaar nie, maar slegs om aan te dui dat hy nie die erfopvolger is van enige titels of landgoed wat met die wapen waartoe hy toegelaat is, geassossieer mag wees.”

Franklyn en Tanner voeg by, nadat hulle verskeie breuke vir buite-egtelikheid, sowel as vir aangenome seuns, beskryf het:

“Die idee dat sulke uitkenningsmerke, nadat dit vir drie geslagte in gebruik is, laat staan mag word, is absurd.”

Die rede vir uitkenningsmerke van enige aard (in ’n familiewapen) is, na alles, om te onderskei tussen die familiehoof en die junior familielede. Die verwydering van ’n merk van buite-egtelikheid sou dieselfde gevolg hê as die verwydering van die breuk van ’n jongere seun (egtelik gebore): ’n onregverdigbare aanspraak op die hoofskap van die familie en die titels en landgoed wat aan die familiehoof behoort.

Dit kon selfs hoogverraad konstitueer: in die Tudor-tydperk het persone van Plantaganet-afstamming wat ’n wapen vertoon het wat die indruk geskep het dat hulle ’n beter reg tot die troon gehad het as die heersende monarg, vir sulke vermetelheid hulle hoofde op die blok verloor.

Hierdie punt word deur Fox-Davies[8] onderstreep. Hy skryf (weereens my vertaling):

“. . . daar kan bitter min twyfel wees dat die gebruik van heraldiese buite-egtelikheidsmerke nie geskep of ingestel is nie, en ook nie is sulke merke afgedwing nie, bloot as straf of oneer.”

wapen van die hertog van Richmond wapen van die graaf van Munster

Franklyn en Tanner se verwysing na die “pronominale kwartier” is duister, aangesien daar heelwat instansies is waar ’n bastaard die volle kwarterings van sy vader se wapen verleen is – byvoorbeeld, die vele Britse koninklike bastaards wie se nageslag steeds die kwartiere van Engeland, Skotland en Ierland voer (met of sonder Frankryk of Hannover), met paslike bykomende merke.

Hier aangetoon is die wapens van die hertog van Richmond (die Britse koningswapen soos deur koning Charles II gevoer, binne ’n geblokte skildsoom, die silwer blokke elk met ’n rooi roos belaai) en dié van die graaf van Munster (die koningswapen soos deur koning William IV gevoer [sonder die kroon van Hannover], met ’n blou verkorte linkerskuinsstreep waarop drie goue ankers). (Die hertogdom Richmond is tans met dié van Gordon gekoppel, en die wapen hierbo word in die huidige hertog se eerste en vierde kwartiere getoon.) Let daarop dat terwyl koning Charles se wapen die Franse koningswapen insluit, die Franse lelies laat vaar is teen die tyd dat William (die laaste Britse monarg wat ook koning van Hannover was) die troon bestyg het.

Daar is ’n verdere onderskeid wat gemaak word tussen breuke wat sylyn-afstamming aandui en dié van buite-egtelikheid. Terug by Fox-Davies:

“Die amptelike term vir ’n sylyn-breuk is dat dit ’n merk is van verskil [in Engels, a ‘difference’ mark], i.e. dit was ’n merk wat die verskil aangetoon het tussen een familielid en ’n andere. Die merk wat gebruik word om ’n tekort aan bloedverwantskap aan te toon, en die merk wat buite-egtelikheid aantoon, word elkeen ’n uitkenningsmerk genoem [a ‘mark of distinction’], i.e. ’n merk wat iets duidelik anders [‘distinct’] sal maak. Wat is daardie iets? Die feit dat die voer van die wapen nie bewys is van afstamming waardeur ’n aanspraak op opvolging gemaak of bewys kan word nie.”

’n Mens moet daar byvoeg “in die normale loop van sake” – soos hieronder gemeld word, was daar gevalle waar opvolging wel op ’n basterlyn geval het.

En wat die “bar sinister” betref: die Engelse heraldiese term bar dui op ’n dun dwarsstreep (’n volle dwarsstreep word ’n fess genoem). Dit kan afgeknot wees (weerskante verkort), maar dit loop altyd horisontaal oor die skild (of ’n onderverdeling daarvan) en is dus nog links nog regs nie.

Die term verwys eintlik na die verkorte linkerskuinsstrepie – in Engels ’n baton sinister (kyk hier vir ’n illustrasie): dit is heelwat dunner as ’n skuinsbalk, en dit loop van bo links (links soos van agter die skild gesien) na onder regs.

Die foutiewe naam is ’n mislees van die Franse benaming: in Franse blasoen is ’n verkorte skuinsstrepie une barre, en een in die linker-posisie is ’n barre sinistre.

Die voorbeeld van die “bar sinister” wat bo-aan hierdie bladsy verskyn is van die wapen van sir Charles Beauclerk, 1ste hertog van St Albans, bastaardseun van koning Charles II en Nell Gwynn. Die wapen is dié van die Stuart-konings van Engeland, gebreek met ’n linkerskuinsstrepie van rooi, belaai met drie silwer rose met punte en saadknop in natuurlike kleure (my vertaling van die amptelike blasoen).

Hierdie wapen kan (as groot kwartier) gesien word in die wapen van die huidige hertog van St Albans. Die 1ste hertog is getroud met lady Diana de Vere, enigste erfdogter van die 20ste en laaste graaf van Oxford, en hul nageslag vierendeel St Albans met De Vere.

Skuinsstrepe is in die Middeleeue dikwels as breuk gevoer, en bastaards het dit dikwels in die linker-posisie gevoer. Mettertyd is hulle ook afgeknot gevoer – die oorsprong van die berugte “bar sinister”. (Vir meer besonderhede oor die skuinsstreep en sy verkleinings, wat gebruik is om kinders aan te dui wat beide binne en buite die huwelik gebore is, kyk hierdie artikel.)

Dit is nie heeltemal duidelik nie of die Engelse uitdrukking “left-handed marriage” (vir ’n verhouding waaruit ’n bastaard gebore is) òf uit hierdie “linkse” gebruik onstaan het, òf die oorsprong daarvan was.

Ander merke is egter ook gevoer.
wapen van sir Roger de Clarendon, bastaard van die Swart Prins

In die Middeleeue sou ’n bastaard dikwels ’n wapen aanvaar (of is hy een verleen) wat slegs na sy vader s’n verwys het, of wat elemente uit die vaderlike wapen ingesluit het:
wapen van hertog Afonso de Bragança, bastaard van koning João I van Portugal

Sir Roger de Clarendon, onegte seun van die Swart Prins, het ’n goue skild gevoer met ’n swart skuinsbalk waarop die drie vere van sy vader se “vredeskild” verskyn het, terwyl hertog Afonso I van Bragança (*1370 †1461), buite-egtelike seun van koning João I van Portugal, die vyf skildjies van die quinas[9] geneem het, en dit op ’n rooi skuinskruis geplaas.

Die huidige Huis Bragança voer steeds die rooi skuinskruis, maar het die blou quinas-skildjies vir skildjies van die rykswapen geruil, wat moeilik is om te kan sien.

’n Afstammeling van Afonso, hertog João II (*1604 †1656), het ’n populêre opstand teen Spanje se koning Felipe IV gelei. (Felipe se oupa, Felipe II van Spanje, het die Portugese troon geërf nadat die manlike opvolgers uitgesterf het.) Die hertog het (as João IV) in 1640 koning geword.

João het dan die enkelvoudige wapen van Portugal aanvaar (die quinas plus die skildsoom van Castilië wat sedert 1254 gebruik is). Dit kan egter nie as ’n verloëning van buite-egtelikheid gesien word nie: die wapen van Portugal is nie slegs ’n familiewapen nie, maar is ’n rykswapen.

Die wapen wat ’n soewerein voer, weerspieël sy heerlikheid, eerder as bloot ’n familieverbintenis – die huidige Britse soewerein, koningin Elizabeth, sluit in haar wapen niks van haar afstamming (in die manlike lyn) van die huise van Sakse (Sachsen-Coburg-Gotha) en Hannover in nie. En dit is ook hoogs onwaarskynlik dat die wapens van haar opvolgers op die troon enigsins kwarterings vir Mountbatten, Griekeland of Denemarke (aldrie waarvan huidiglik deur haar man, prins Philip, gevoer word) sal insluit nie. (Om ’n banier van prins Philip se wapen te sien, gaan na hierdie bladsy en gaan af na die vyfde vlag.)

Dit word op hierdie bladsy beweer dat die koningin se regte familiewapen die kranselyn of loofkrans van Sakse is (aangesien sy in die manlike lyn van prins Albert, van die Huis Sachsen-Coburg-Gotha, afgestam is), en dat ’n rykswapen nie ’n familiewapen konstitueer nie.

Dit egter die geval dat nie net al koningin Victoria se afstammelinge (in die manlike lyn van prins Albert) wapens voer (of gevoer het) wat breuke aantoon van die Britse koningswapen, maar sedert 1916 het selfs die binneskild van Sakse wat deur die prins van Wallis gevoer is, weggeval het. (Kyk hier vir die wapen van prins Charles, die huidige Prins van Wallis, wat as gekroonde binneskild die vier leeus van Wallis insluit.) Die Britse koningshuis het sedert 1916 die naam Windsor gevoer en sy verbande met sy Duitse familieverwante afgesny.
wapen van sir John de Clarence, bastaard van Thomas, hertog van Clarence wapen van sir Ralph de Arundel, wat sy vader se kwarterings in ronde sy-uitsnydings invoeg

Om terug te keer na die wapens van Middeleeuse bastaards:

Sir John de Clarence, onegte seun van Thomas, hertog van Clarence (’n seun van Henry IV), het kepergewys gedeel van rooi en blou, in die skildhoof twee na mekaar klimmende leeus en in die skildvoet ’n lelie, alles van goud gevoer – die Engelse leeus (gaande en aansiende) is klimmend gemaak en kyk na mekaar, plus ’n lelie vir Frankryk. (Die hertogdom Clarence was gebaseer op die landgoed van die vroeëre grawe van Clare, wie se wapen drie kepers bevat het.)

Ralph de Arundel, buite-egtelike seun van ’n lid van die FitzAlan-familie (waaronder die grawe van Arundel), het die kwarterings van FitzAlan en Warenne op ronde uitsnydings gevoer: In silwer, aan albei kante rond uitgesny en belaai met FitzAlan en Warenne gevierendeel.
wapen van Sancho de Albuquerque wapen van Juan de Castella

Soos in hierdie artikel genoem, was die eerste gevierendeelde wapen deur koning Alfonso XI van Castilië gevoer (waar hy Leon by sy skild gevoeg het). Alfonso het ’n bywyf, Eleonora Nunes Guzman, gehad (hul verhouding het begin al ’n jaar voor sy huwelik met Maria, dogter van koning Afonso IV van Portugal), saam met wie hy etlike seuns gehad het. Een van hulle, Sancho, graaf van Albuquerque, het ook Castilië en Leon gekombineer, maar het hierdie maal die leeu van Leon met Castilië se kastele gekap. (Die skeidslyn was ook geboog.)

Sancho se halfbroer, koning Pedro I, het ook ’n bywyf aangehou terwyl hy getroud was. Sy bastaard, Juan de Castella, het ook Castilië en Leon gekombineer, hierdie maal met die tipies Iberiese devies van twee leeukoppe wat ’n skuinsstreep verslind, om die twee skildvelde te skei. (Hierdie soort wapenfiguur het dikwels ook drake- of wolwekoppe weerskante.)
wapen (voor haar huwelik) van koningin Juana van Aragon, van die Huis Henriquez helm van ’n Spaanse ‘‘bastardo’’, links gedraai

Pedro se manlike nageslag het egter uitgesterf, en sy onegte halfbroer Henrique de Trastamatera het (as Henrique II) in 1369 koning geword. Hy het ook ’n bywyf aangehou, en het daardeur vader geword van die Huis Henriquez. Hierdie familie het ook blykbaar Castilië en Leon geboog gekap gevoer, en ’n afstammeling, Juana, is in 1447 met koning Joan II van Aragon en Navarra getroud. Haar vader se wapen voeg ’n silwer skildsoom by, waarop vier blou ankers.

’n Spaanse bastardo, terloops, word daarby verplig om sy helm te vertoon sodat dit na links kyk, nie regs nie.
wapen van John Beaufort (vóór legitimering)

’n Heel interessante geval is dié van die Beaufort-familie, kinders van die (uiteindelike) derde huwelik van Jan van Gend,[10] hertog van Lancaster, derde seun van koning Edward III en broer van die Swart Prins.

Jan se seun Henry (deur sy eerste vrou, Blanche van Lancaster) het in 1399 koning geword. Die Beauforts is egter buite die eg gebore – hul moeder, Catherine Roelt, [11] is eers in 1396 met Jan getroud (as sy derde vrou), toe hul oudste seun, John Beaufort, reeds 23 jaar oud was.
wapen van John Beaufort as graaf van Somerset

In 1397 het die Engelse Parlement ’n Legitimeringswet gepasseer, waardeur die buite-egtelike status van die Beauforts uitgewis is.

Vóór 1397, het John Beaufort ’n wapen gevoer: Silwer en blou gedeel, op’n rooi skuinsstreep drie leeus van Engeland waarbo ’n baresteel van Frankryk. Die kleure silwer en blou is dié van die Huis van Lancaster (ironies die livreikleure van Jan van Gend se eerste vrou se familie), terwyl die skuinsstreep Engeland toon met Frankryk amper as bygedagte (as baresteel, eerder as die eerste kwartier, soos die Engelse koning dit destyds gevoer het).

Nà sy legitimering het John (teen die tyd graaf van Somerset) die gevierendeelde wapen van Frankryk en Engeland binne ’n geblokte skildsoom gevoer – met behoud van die silwer en blou van Lancaster in die skildsoom.

Die Legitimeringswet het troonopvolging nie uitgesluit nie, en die Tudor-soewereine van Engeland en hul opvolgers van die huise van Stuart, Hannover, Saksen-Coburg en Windsor is almal deur Jan van Gend en Catherine (asook Elizabeth van York, dogter van koning Edward IV, wie Henry VII se koningin geword het) van die Huis Plantaganet afgestam.
wapen van Henry Somerset as graaf van Worcester

Henry Beaufort, derde hertog van Somerset, het ’n onegte seun gehad, Charles Somerset, wat graaf van Worcester geword het en die Beaufort-wapen met ’n linker-skuinsstreep gevoer het. Charles se seun Henry het die skuinsstreep verwyder, en het instede daarvan die Beaufort-wapen (geblokte skildsoom ingesluit) op ’n dwarsstreep geplaas. Boutell[12] se kommentaar is dat dit “die gepastheid erken van die behoud van ’n aanduiding van buite-egtelike afstamming, alhoewel die skuinsstreep verwerp word”.

In latere jare het die uitsterf van opvolgers in die egtelike lyn het beteken dat ’n nasaat van Henry Somerset die eenvoudige familiewapen van Beaufort geërf het.

Die Beaufort/Somerset-familie is vir ons in Suid-Afrika van belang omdat lord Charles Somerset, Goewerneur van die Kaapkolonie vanaf 1814 tot ’26, daaruit afgestam het. Die heraldiek van lord Charles se familie word in die wapens van (ten minste sommige van) die dorpe wat hy vir homself of vir sy familie vernoem het, weerspieël – Somerset-Oos, Somerset-Wes, Worcester, Beaufort-Wes, Fort Beaufort en Port Beaufort.

Lord Charles se vader, die 5de hertog van Beaufort, was van Henry Somerset afgestam, en so ook die huidige hertog. Lord Charles se oudste seun, ’n militêre offisier wat lank op Grahamstad gestasioneer was, het ook die familienaam Henry gehad. Van sy kinders het in Suid-Afrika agtergebly en het moontlik steeds nageslag in hierdie land.

(Om die wapen van die hertog van Beaufort te sien, kliek hier.)

Die rede vir hierdie lange ekskursie in die Somerset/Beaufort familie (bo en behalwe die Suid-Afrikaanse verbintenis) is om te verduidelik dat die geblokte skildsoom ’n gewone breuk is. Dit was in der waarheid eers nà legitimering aangeneem, dus kan dit in hierdie geval nie as aanduiding van buite-egtelikheid gesien kan word nie. Tog is dit as gevolg hiervan in Skotland as ’n bastaard se kenmerk gebruik, en is ook wyd gevoer, of alleenlik of tesame met ander merke, om buite-egtelike afstamming aan te dui.

Ironies het in Engeland dieselfde met die golwende skildsoom gebeur. Skildsome, soos wat in hierdie artikel uitgewys is, word algemeen in Skotland gebruik, met ’n verskeidenheid skeidslyne, om sylynafstamming aan te dui. Tog het ’n enkele geval van die gebruik in Skotland van ’n golwende skildsoom om ’n bastaard aan te dui, daartoe gelei dat die Tudor-heroute en hul opvolgers dit as die normale merk van buite-egtelikheid gebruik het.[13]

In die 17de, 18de en 19de eeue was die Engelse heroute amper freneties in hul aandrang op merke van onegtheid, en het hulle selfs op helmtekens bygevoeg (dikwels in die vorm van golwende skuinsstrepe, pale of skuinskruise). Dit het die ongelukkige nagevolg gehad dat wapenvoerders van bastaard-afstamming ongewillig was om hul helmtekens, wat so duidelik ontsier is, te wil vertoon.

Tog moet dit beklemtoon word dat, ten spyte van die uitgebreide gebruik in sekere lande van sekere merke om buite-egtelikheid aan te dui, daar in die internasionale heraldiek geen enkele merk is wat ’n bastaard aandui nie. Die voorkoms van ’n merk wat, in ’n enkele land gedurende ’n gegewe tydperd, buite-egtelikheid mag aandui, is nie bewys daarvan nie. Ook nie (selfs waar onegtheid wel aangedui word) is dit ’n skandvlek op die wapenvoerder se karakter nie.

Nà al hierdie ernstige bespreking is dit tyd om na ’n paar van Don Pottinger se koddige tekenings te kyk.
wapen van Campbell, hertog van Argyll, en sy bastaardseun William Campbell, hertog van Argyll, sy twee eg-gebore seuns (bo die kombers) en sy bastaardseun William (onder)

Hy maak gebruik van die uitdrukking “wrong side of the blanket” (’n eufemisme vir buite-egtelikheid) om ’n illustrasie voort te bring van Campbell, hertog van Argyll, met twee seuns (wat altwee die Highland fling uitvoer!), die een met ’n baresteel, die ander met ’n blou skildsoom. Onder die kombers is hulle buite-egtelike halfbroer William, met ’n geblokte skildsoom en ’n “bar sinister” (en daarby ’n vies gesig!).

(Skotse bastaards is geregtig op die naam en wapen van hul vader se familie.)

Moncreiffe en Pottinger is ietwat misterieus in hul volgende verwysing, want hulle sê nie watter van die twee deviese wat uitgesit word, werklik gevoer is nie, maar dit is moontlik dat dieselfde bastaard in verskillende lewenstadiums altwee gevoer het.
Sir John Stanley doen aansoek by die Britse kroon om ’n wapenverlening kentekenwapen van Stanley, graaf van Derby

Hulle lê klem daarop dat in Engeland ’n koninklike vrybrief verkry moet word voordat ’n bastaard sy pa se van mag voer, en dat ’n wapen dan in terme van die vrybrief verleen word. Die devies mag dan die vader se wapen wees (met ’n verandering vir buite-egtelikheid), of kan dit een wees wat van die vader se heraldiese simbole afgelei is.

Hier toon hulle die wapen van Stanley, graaf van Derby (in silwer, ’n blou skuinsstreep belaai met drie aansiende takbokkoppe van goud), en sy kentekenwapen, die klou van ’n roofvoël (moontlik ’n arend). Sy seun, sir John Stanley, maak dan by die kroon aansoek vir verlening van òf Stanley binne ’n golwende skildsoom, of ’n nuwe wapen wat drie kloue en Stanley se takbokkoppe inlyf.

Maar die tekening wat vir my die lekkerste is, is dié van De St Remi de Valois, bastaard van Frankryk, wat hier baie gebelg vir sy koninklike pa aankyk. Sy wapen het die lelies van Frankryk op ’n dwarsstreep.

Langs hom, heel ongeërg, is sy seun, met ’n driepuntige baresteel op sy bors – en sy seuntjie, trots genoeg oor sy koninklike herkoms om ’n banier van sy eie wapen (met ’n vyfpuntige baresteel) te wapper.

Die wapens van aangenome kinders is in baie opsigte soos dié van buite-egtelike kinders, maar hulle is ’n spesiale geval (selfs meer spesiaal) en word in hierdie artikel bespreek.

koning van Frankryk met sy bastaardseun, St Remi de Valois, saam met die bastaard se eg-gebore seun en kleinseun


[1] Die woordeboeke verkies die woord “baster” bo “bastaard”, en beskou “bastaard” as outyds of Nederlands, maar “baster” het bybetekenisse wat polities en rassisties van aard is. Hierdie bespreking is by die Middeleeue diep betrokke, en verwysings sal eerder na “bastaarde” wees.

[2] Keltiese gebruik van heraldiese wapens het heelwat later gekom as dié van Anglo-Normanne in Brittanje, maar was steeds vroeër as die heraldiek van baie dele van Europa, veral die Slawiese ooste.

[3] Die woord katoliek (in Grieks kaqolikh) beteken universeel, en verwys na die Christelike Kerk van die Romeinse Ryk nadat Konstantyn die Grote in 324nC keiser in beide Ooste en Weste geword het. Die sogenaamde Oostelike Ortodokse Kerke verwys steeds (in Grieks) na hulself as “Rooms Katoliek”.

Die barbaarse stamlede het eers oorgegan na Arianisme, ’n heretiese vorm van die Christelike Geloof, en het eers daarna Katoliek geword.

Alhoewel die groot Skeiding van 1054 die Oostelike Kerke (losweg onder leierskap van die Patriarg van Konstantinopel) en die Westelike Kerk (ferm onder die beheer van die Pous in Rome) – nà ’n lang tydperk van onenigheid – formeel geskei het, het altwee na hulself as Katoliek verwys.

Nà die Reformasie in die 16de eeu het die woord “Katoliek” ander betekenisse bygekry, en die Nederlandse en Afrikaanse woord katools draai dit heeltemal om: dit beteken bekrompe en pervers. (Hierdie woord het tydens die Tagtigjarige Oorlog in die Nederlandse Republiek ontstaan, en weerspieël Protestantse houdings teenoor ’n Katolieke vyand.)

[4] Huweliksontbinding was vir enkeles oop, veral dié wat in Rome invloedryk was.

[5] Hierdie Frankiese (Germaanse) koning is in sy eie tyd as Carl bekend. Slegs toe sy seun, ook Carl, as medekoning bekroon is, het dit nodig geword om tussen hulle te onderskei, en die ouere Carl is toe in Latynse dokumente Carolus Magnus genoem. Dit het in Frans Charlemagne geword.

Karel se bekroning as keiser deur pous Leo III op Kersdag 800nC het blykbaar as verrassing gekom vir die Frankiese vors. Daar was eeue lank reeds geen keiser in die Weste gewees nie, maar die grootte van Karel se gebiedsbeheer – sy koninkryk, Francia, het hedendaagse Frankryk (met uitsondering van Brittanië), die noorderhelfte van Italië en die meeste van vandag se Duitsland gedek, plus alles tussenin – en die geleerdheid van sy hof regverdig blykbaar die Pous se optrede.
die adelaar van die Heilige Romeinse Ryk, toegeskryf aan Karel die Grote

Dit was die begin van wat in latere jare die Heilige Romeinse Ryk genoem is, alhoewel hierdie benaming in Karel se tyd nie gebruik is nie. Dit is slegs gebruik nadat die koninkryk verdeel is – verskeie male – en uiteindelik uitgedraai het as ’n klein, swak koninkryk in wat later Frankryk sou word, en ’n Duitse koninkryk wat gestrek het tot in Nederland, België, die noord-oostelike dele van die huidige Frankryk, Switserland, Oostenryk en dele van Italië. Die keiserlike titel is deur die Duitse koninkryk geërf.

Karel die Grote het blykbaar nie ’n heraldiese wapen gevoer nie, maar het om twee redes ’n spesiale plek in die geskiedenis van die wapenkunde: die gebruik van heraldiese wapens het blykbaar onder sy nageslag in Vlaandere ontstaan, en die swart adelaar op goud wat deur die eeue heen deur die Heilige Romeinse keisers en, sedert 1871, deur Duitsland gevoer is, word aan Karel toegeskryf.

[6] Willem het nie ’n heraldiese wapen gevoer nie, en die Bayeuxse Tapisserie – wat sy inval in Engeland aantoon – word dikwels genoem as bewys dat die heraldiek in sy tyd nie bestaan het nie.

wapen wat aan koning Willem I toegeskryf is

Die tapisserie – wat in opdrag van sy halfbroer Odo, biskop van Bayeux, gemaak is, en deur ’n groep dames in die klooster by sy katedraal uitgevoer is – is egter bewys vir niks meer nie as onkunde aan die kant van dié wat dit gemaak het.

Verskeie Vlaamse ridders (nie alleenlik uit Vlaandere nie, maar ook uit verskeie dele van Frankryk) wat wel wapens gevoer het, het deel uitgemaak van Willem se leër. Hulle gebruik van heraldiese wapens in Engeland het gelei na die wydverspreide aanvaarding daarvan in daardie land en in die dele van Wallis, Skotland en Ierland wat ook onder Normaanse invloed geval het. Dit het ook gelei tot die verspreiding daarvan onder die Vastelandse familiebetrekkinge van Anglo-Normaanse ridders.

Alhoewel Willem van die heraldiek geen kennis gedra het nie, is hy nietemin deur latere heroute ’n wapen toegeskryf.

[7] An Encyclopædic Dictionary of Heraldry deur Julian Franklyn en John Tanner (Pergamon).

[8] A Complete Guide to Heraldry, deur A C Fox-Davies, hersien en met aantekeninge deur J P Brooke-Little, Richmond-Herout (Nelson). Hy het later die wapenkoningsamp Norroy en Ulster beklee.

die ‘‘quinas’’, wapen van koning Sancho I van Portugal

[9] Die quinas is die vyf blou skildjies, (uiteindelik) elk met vyf silwer pennings belaai, wat die sentrale element in die Portugese koningswapen geword het. Kyk hierdie tabel (en die gekoppelde bladsye) om oor hul oorsprong en ontwikkeling meer te weet.

[10] Hierdie Engelse prins, in Engeland bekend as John of Gaunt, is in die Vlaamse stad Gent gebore.

[11] Sy is ook Catherine Roët of Catherine Swynford genoem. Sy was die dogter van Payn Roët en weduwee van sir Hugh Swynford, en kan bo-aan hierdie tabel gevind word.

[12] Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, MVO, MA, FSA, FHS, Richmond-Herout (Frederick Warne & Co, London).

[13] In een geval is ’n ganse familie, gebore uit wat later uitgedraai het as ’n onreëlmatige huwelik, hul vader se wapen met golwende skildsome verleen, en elke seun en dogter het ’n skildsoom van ’n ander kleur ontvang. Dit het beteken dat die dogters, buitengewoonlik, hulle wapens aan hul nageslag kon aangee, ten spyte van die feit dat hul broers ook kinders gehad het.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Wapen van die 1ste hertog van St Albans uit Encyclopædia Britannica 15de uitgawe. Wapen van sir Roger de Clarendon, sir Ralph de Arundel, sir John de Clarence en die Beauforts/Somersets uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, MVO, MA, FSA, FHS, Richmond-Herout (Frederick Warne & Co). Wapen van Eduard die Belyder aangepas van illustrasies in Boutell’s. Wapens van die hertog van Bragança, Castiliaanse koninklike bastaards, Willem I, die adelaar van die Heilige Romeinse Ryk en die quinas uit Lines of Succession: Heraldry of the Royal Families of Europe, deur Jirí Louda en Michael Maclagan (Orbis). Ander illustrasies almal uit Simple Heraldry: Cheerfully Illustrated deur Iain Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons Ltd). Kleure aangepas met behulp van MS Picture It!


    Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle