Armoria patrić
http://www.oocities.org/haigariep

Qwaqwa

Qwaqwa

Die wapen is 8 September 1972 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer. Dit mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: Op ’n groen Tswana-skild ’n voorstelling in die skildhoof van die Brandwagberg, regs onder’n omgekeerde krokodil en links onder ’n lęende luiperd. Bo die skild is ’n Basotho-hoed in sy natuurlike kleure, en agter die skild skuins gekruis ’n spies en ’n Sotho-krygsbyl.

Skildhouers, grond en leuse: Op ’n grond van gras, twee Basotho-ponies in natuurlike kleure as skildhouers, en onder die skild die leuse Kopano ke Matla.

 

Die keuse van ’n Tswana-skild vir die wapen van Qwaqwa is ’n raaisel, want die tuislandstaat was beslis Suid- Sotho, of Sesotho sa Borwa, in sy taal en kultuur. Die skildformaat is identies met dié van Bophuthatswana, terwyl van Lesotho (’n regte Sotho-skild) is afgerond waar hierdie tipe reghoekige rante het.

Die skildgebruik onder die Sothosprekende volkere (Batswana, Basotho ba Borwa[1] en Basotho ba Leboa) was daarin anders as dié van die abeNguni dat hulle skilde tradisioneel heelwat kleiner was, sowat ’n meter hoog, terwyl die Nguni-tradisie (wat onder Shaka verander is) heelwat langer skilde verkies het, skilde waaragter ’n man kon wegkruip terwyl die vyand spiese gewerp het.

Altwee hierdie groepe het nietemin skilde van beeshuid (of die huid van ’n ander soort hoefdier) gebruik. Dit is tot by die slagveld waaroor ooreengekom is, gevou gedra. Op hierdie stadium is stokke daar bygevoeg om die krygsman toe te laat om sy skild met die linkerarm voor hom te hou, en sodoende houe teen hom af te weer terwyl hy met die regterhand ’n aanvalswapen voer.

Die groen van beide skild en grond staan vir die groen weivelde van Qwaqwa, alhoewel die hoë vlak van menslike bewoning daar dat, terwyl die staat bestaan het, daar min daarvan was. Hierdie posisie het sedert 1994 weinig verander.

Die Brandwagberg is ’n plaaslike baken in die Drakensberg-reeks.

Die Nyl-krokodil (Crocodylus niloticus) is die totem van die Koena- of Kwena[2]-volk, ’n klan wat gevind word onder beide die Batswana van die Provinsie Noord-Wes en die Basotho van QwaQwa en Lesotho – die koningshuis van Lesotho behoort aan hierdie klan. Aangesien daar in nog Lesotho nog Qwaqwa enige krokodille is nie, dui die totem duidelik op ’n tydperk toe die klan in ’n omgewing gebly het waar hierdie reptiele te vinde was.

In aldrie Sotho-tale (Setswana, Sesotho sa Borwa en Sesotho sa Leboa) is “krokodil” kwena.

Die luiperd (Leo pardus) is tradisioneel die koninklike dier onder Bantu-sprekende volkere in Suider-Afrika, en stel dit hier kapteinlike gesag voor.

Die hoed wat bo die skild verskyn is uit strooi geweef; die styl is tydens die middel-19de eeu in die huidige Lesotho deur sendelinge ingebring. In sy oorsprong lyk dit of dit Oosters is, maar dit word huidiglik beskou as intrinsiek tot die Suid-Sotho-kultuur.

Die skildhouers is volgroeide ponies van die soort wat tans in die hooglande van Lesotho en Qwaqwa as tipies beskou word.

Perdie is rondom die middel-19de eeu die eerste maal hierdie gebied ingebring. Die tekort aan weiding in die hoogliggende dele, veral in die winter, het saam met die rowwe terrein ’n ras ponies voortgebring wat beroemd geword het vir hul gehardheid en vaardigheid op die rowwe bergpaaie.

Die Basotho het ongeveer in dieselfde tydperk vuurwapens en ponies verkry, en in die oorloë wat gedurende die tweede helfte van die 19de eeu tussen hulle en die Boere en Britte geveg is, het groot getalle beredeSotho-krygsmanne gewere gedra en gevuur. Die meeste onder hulle het ook Basotho-hoede en kleurvolle komberse gedra.

Die leuse, Kopano[3] ke Matla, vertaal as “Eendrag maak mag” – dit is ’n weergawe in Sesotho van die leuse van die Unie en Republiek van Suid-Afrika, Ex Unitate Vires, en kan gesien word as uitdrukking van solidariteit met daardie staat, teenoor Lesotho.

 

Oor die staat:

Die bestaan van die tuislandstaat Qwaqwa kan teruggevoer word na twiste tussen sekere Sotho-kapteins en Moshoeshoe I, die stigter van Lesotho, en tweedens die leer van apartheid wat vereis het dat alle gebiede met ’n Bantu-sprekende meerderheid in taalkundige eenhede selfregering moet behaal.

Die ligging daarvan is ’n distrik van die Vrystaat wat sedert die vroeë dae van die Boererepubliek as Witsieshoek bekend staan. Aan die suidooste lę die Bergville-distrik van Natal, en aan die suidweste Lesotho.

Die naam Witsieshoek kom van die Maholoko-kaptein Oetse,[4] wie se mense tussen 1839 en 1856 daar gewoon het.

In 1867 het president Brand van die OVS vir kaptein Paulus Mopeli en sy volgelinge, behorende aan die Bakoena of Bakwena, wat uit Moshoeshoe se koninkryk gevlug het, om deel van die gebied te bewoon, en in 1873 is kaptein Koos Mota, ’n broerskind van Sekonyela, saam met sy Tlokwa-volgelinge toegelaat om hulle aan die oostekant te vestig.

Op Mopeli se verwoek het die Nederduitsche Gereformeerde Kerk in 1874 daar ’n sendingstasie daar gestig onder eerw Gustave Maeder. Maeder het op sy sendingstasie een van die eerste besproeiingsvore in Suid-Afrika uitgelę. Volgens ’n brief van Maeder aan die geskiedkundige George McCall Theal, het hierdie voor gedien as model vir die een wat op Upington deur eerw C Schröder gebou, wat op sy beurt die model was vir die kanaal op Kakamas.

J J Ross skryf dat Witsieshoek bergagtig is met weinige ploegbare grond, maar is as verbeteringsgebied geproklameer en vir landbou-ontwikkeling beplan. “In ’n gemiddelde jaar het dit ’n opbrengs van 840 000 kg mielies, 900 sakke boontjies, 700 sakke koring, 5 600 sakke sorgum, R12 000[5] se sybokhaar en R8 500 se wol.”

19 Junie 1953 is stam-owerhede vir die Mopeli Koena en die Mota Tlokwa formeel op Witsieshoek opgerig – dit was die eerste twee volkere wat die status van stam-owerhede kragtens die Wet op Bantoe-owerhede van 1951.[6]

24 April 1969 is hierdie twee stam-owerhede as die gebiedsowerheid Basotho ba Borwa gekonstitueer, en 1 Oktober 1971 is ’n Wetgewende Vergadering geskep en die amptelike naam van die gebied na Basotho-Qwaqwa verander. Die wetgewer het die daaropvolgende Januarie begin funksioneer, en in September is die wapen hierbo geregistreer.

Kaptein Wessel S Mota, kleinseun van kaptein Koos Mota, het hoof van administrasie geword.

Regeringsproklamasie 203 van 25 November 1974 het Basotho-Qwaqwa[7] as selfregerende tuisland binne die Republiek Suid-Afrika geproklameer.

Die wetgewer het 60 lede gehad, en ’n uitvoerende gesag bestaande uit ’n Hoofminister en vyf ander lede.

Ampstale was Sesotho sa Borwa, Engels en Afrikaans, en die setel van regering was Phuthadtjhaba, ’n dorp wat gestig is om die Sotho te huisves wat uit Suid-Afrika in terme van apartheids-wetgewing na die tuisland teruggestuur is.

In die 1980s is Botshabelo, ’n oornagdorp vir swart mense buite Bloemfontein, in Qwaqwa ingelyf, ten spyte daarvan dat dit anderkant beide Lesotho en die distrik Thaba Nchu gelę het; Thaba Nchu was in daardie tyd deel van Bophuthatswana.

Toe Suid-Afrika 27 April 1994 verkiesings gehou het waarin kiesers van alle rasse stemreg uitgeoefen het, het Qwaqwa formeel opgehou om te bestaan, alhoewel die administrasie vir ’n verdere jaar gefungeer het.

Met die heropdeel van munisipale gebiede in 2000 het Witsieshoek deel geword van die munisipaliteit Maluti a Phofung, terwyl Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu almal in die munisipaliteit Mangaung ingelyf is.



[1] Borwa is die Sotho-woord vir “suide”, terwyl leboa noorde beteken. Die eerste woord word as boe-rwa (met gerolde R).

Die voorvoegsel “ba-” vorm die meervoud. Gekoppel aan Sotho (as Basotho) beteken dit “Sotho-persone” of “die Sotho-volk”. Die voorvoegsel “se-” dui op ’n taal of kultuur.

[2] Die klan-naam word in beide Setswana en Sesotho as Kwęna uitgespreek.

Die OE-spelling (Koena) word onder die Suid-Sotho gebruik deels omdat hulle taal aanvanklik deur Franse sendelinge neergeskryf is; vir hulle was dit ’n natuurlike manier om daardie klank te spel.

[3] Kopano word as Koe-pa-noe uitgespreek.

[4] Geskryf as Oetse, uitgespreek as Whie-tsie, dus die Boere-uitspraak Witsie (met W-klank).

[5] Hierdie syfer vir sybokhaar en dié vir wol is gebaseer op pryse wat in die jare 1970 behaal is.

[6] Hierdie wet was nie in Transkei van toepassing nie, want dit het reeds onder die raad-sisteem geopereer.

[7] Die naam is later na Qwaqwa afgekort.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Beeld met vergunning van International Civic Arms, kleure aangepas met behulp van MS Picture It! Aantekeninge oor Witsieshoek en Qwaqwa uit die Standard Encyclopćdia of Southern Africa en ander bronne.


Terug na Bantustans-indeks

Terug na Armoria patrić-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle