By ons winter kampe en groot saamtrekke soos die "Presidente" waar daar ‘n baie hoë besetting van staanplekke is, het ons dikwels probleme met kragonderbrekings. Ek het agtergekom dat daar ‘n redelike mate van onkunde bestaan omdat baie mense hulle oor die verkeerde goed, soos elektriese komberse bekommer, en het besluit dat ‘n artikeltjie soos hierdie van pas sal wees vir die Kosmosniks.
Kom ons begin by ‘n paar basiese definisies en begrippe:
Alle kraginstallasies word beskerm deur stroombrekers. Indien te veel Ampere deur ‘n kabel getrek word, dan word die kabel warm, die issolasie smelt en daar is ‘n kortsluiting met die gevolglike verlies van die kabel en ‘n brandgevaar.
Gewoonlik het elke kragpunt sy eie stroombreker wat gesien kan word by die kragpunt. Soms is twee of drie kraguitlate saam op een stroombreker. Op die stroombreker staan geskryf teen watter stroomsterkte hy sal uitklink. Dit is gewoonlik 10A of 15A. , wat ‘n veilige vlak is vir die kabel wat die kragpunt voorsien vanaf die toevoer verdeelkas. So nou en dan kom ons stroombrekers van 6,5 A teë.
Wanneer jy gaan inprop, neem kennis van die grootte van die stroombreker en of dit net een, of meer as een kragpunt voorsien. Skakel nou die stroombreker se stroomvermoë (Amp) om na krag (Watt). ‘n Tien Ampere stroombreker is ekwivalent aan 2200 Watt (220V x 10A= 2200W). ‘n Stroombreker van 15 Amp is ekwivalent aan 3300 W (220V x 15A= 3300W). Kyk op die toestelle wat aangeskakel is, tel almal se Watts bymekaar en vergelyk met die vermoë van die stroombreker om te bepaal hoe naby aan uitklink hy is.
Feitlik elke elektriese toestel wat ons gebruik het ‘n naamplaatjie waarop sy kragverbruik aangedui word. Toestelle met verhittingselemente , met geen aanduiding op ‘n naamplaatjie nie, se krag kan bepaal word deur die element se weerstand te meet met ‘n multimeter. Weerstand word gemeet in Ohm (W) . Gebruik die formule Amps = Volts ÷ Ohm. Veronderstel jy meet die weerstand van ‘n toestel as 100 W . Die hoeveelheid stroom wat hy sal trek is dan : 220V ÷ 100 W = 2.2 A. Sy krag is dan: 220V x 2.2 A = 484 W.
Ons probleem toerusting is ketels, verwarmers, elektriese tweeplaatstofies, "super-duper" haardroërs ensovoorts.
Die geen probleem toerusting is elektriese komberse, yskaste, vrieskaste, ligte ens.
Hier volg ‘n lys toestelle en hulle tipiese krag en stroomverbruike:
Elektiese ketels was vroeër jare ±1000W maar deesdae kry mens net hierdie "snelkook" ketels van 2000W of meer. Ek wens ons kan weer 1000W (of selfs 750W) ketel elemente kry. Wat maak dit nou saak of dit 3 minute of 6 minute neem om ‘n liter water te kook; ons kamp en ontspan mos. Miskien kan SAWA as organisasie bietjie invloed uitoefen by die vervaardigers.
As jy die verwarmer gebruik, sit hom op sy laagste kragstelling. In die klein ruimte van ‘n woonwa maak dit steeds baie vinnig warm. Bring ook maar liewer jou kleiner haardroërjie saam en blaas ‘n klein bietjie l anger en los die Boeing enjin by die huis.
‘n Ander probleem wat ons het met sommige oorde se kragverspreiding installasie wat na my mening
swak ontwerp is, is dat terwyl elke individuele kragpunt nie oorlaai is nie, die toevoerkabel na die
verdeelkas ‘n bietjie lig in die broek is. Dié het dan ‘n stroombreker met ‘n vermoë heelwat laer as die
somtotaal van die individuele kragpunte se stroombrekers. Die meegaande skets illustreer dit.
In hierdie skematiese voorstelling kan gesien word dat as 8 kragpunte in blok 1 elk ‘n ketel aan het, gaan die 70 A hoofbreker in blok 1 subverdeelkas uitklink sonder dat enige een van die afsonderlike brekers oorlaai is. Indien 7 ketels in blok 1 en sewe ketels in blok 2 gelyktydig aan is, gaan die 120 A breker in die hoofverdeelkas uitklink sonder dat een van die substroombrekers oorlaai is.
Dit is maklik om die belading van afsonderlike kragpunte binne perke te beheer en om die stroombreker weer aan te sit as dit uitgeklink het maar wanneer die hoofstroombrekers kort kort uitklink dan raak dit ‘n probleem.
Wanneer ons ‘n oord baie vol staan in die winter, gee ek nie om om my koffiewatertjie op die gasstoof te kook nie, maar los net my elektriese kombers uit.