Suid-Afrika / Mzantsi Afrika / Afrika Borwa /
Opgangskring:
Onderaan die groepering van simbole wat vergelyk kan word met die helmteken van konvensionele heraldiek is ’n protea-blom wat op die gekruisde spies en knopkierie rus.
Die nasionale blom is Protea cynaroides,[1] ’n fynbos-spesie wat in die natuur tussen die Boland en die distrik Albany (Grahamstad-omgewing) gevind word. Tipies het dit witterige blommetjies in ’n bloeiwyse omring deur brakte (“blomblare”) wat gewoonlik pienk is, maar in sommige variëteite kan dit helder rooi wees. Die bloeiwyse is kenmerkend 150 mm of meer in deursnee, maar een plaaslike variëteit (wat in die distrik Port Elizabeth gevind word) het ’n bloeiwyse van slegs 60 mm in deursnee.
Protea-agtige spesies is onder die kenmerkende plantegroeitipes van fynbos. Fynbos is op sy beurt die dominante onderverdeling (die ander is woud) van die Kaapse Plantkundige Koninkryk, en is ’n veldtipe wat hoë spesierykheid en ’n hoë graad van aanpassing by plaaslike klimaats- en grondtipe-omstandighede.
P cynaroides verteenwoordig ook die protea-familie in ander dele van die land, en van ander dele van Afrika. Nie-fynbos spesies protea groei in vele ander dele van die oostelike helfte van die land, terwyl nog ander benoorde Suid-Afrika gevind word, veral in hoogliggende gebiede. Een spesie, P gaguedi, word in die natuur gevind vanaf Zimbabwe in die suide tot Etiopië in die noorde, en weswaards sover as die hooglande van Senegal.
Die protea wat aangetoon word is egter ’n stilering van P cynaroides, en is geteken as ’n reeks driehoeke en trapezoïdes. Die brakte verskyn in groen en goud, terwyl die hoof van die bloeiwyse bestaan uit driehoeke in kleure ontleen aan die landsvlag wat sedert 1994 in gebruik is.
Die amptelike beskrywing lui: “Die protea is ’n embleem van die skoonheid van ons land en die bloei van ons potensieel as nasie in die soeke na ’n Afrika-renaissance. Die protea simboliseer die holistiese integrasie van kragte wat uit die aarde groei en wat van bo af verpleeg word. Die gewildste kleure van Afrika is aan die protea toegewys – groen, goud, rooi en swart.”
’n Verdere deel van die amptelike beskrywing lui: “Die blomblare van die protea verskyn in ’n driehoekige patroon wat herinnerend is aan die kunsvlyt van Afrika.” (Die sogenaamde blomblare is in werklikheid groeperings van die blommetjie-koppe.)
Vanuit die agterkant van die protea rys die kop, nek en vlerke van ’n sekretarisvoël (Sagittarius serpentarius).
Die sekretarisvoël, wat wydverspreid is in Suid-Afrika, asook in Afrika-lande benoorde ons land, is die enigste lewende roofvoël wat op die grond woon. Dit is ’n slank, kragtige voël 120 cm lank met ’n vlerkbreedte van 210 cm. Dit het 20 lang swart kopvere wat horisontaal en effens afwaards uit die agterkant van sy kop steek, wat dit laat lyk of dit penne agter die oor dra, soos wat sekretarisse eens gedoen het.
In die natuur het dit ’n liggrys liggaam, swart dye en vlugvere, en wit aan die binnekant van die vlerke. Twee lang straalvere is in die middel van die stert, en die bene is lank, met dik skubbe om die voël teen slangbyt te beskerm.
In die wapen is hierdie voël totaal onnatuurlik gekleur in drie skakeringe tussen goud en bruin.
Die amptelike beskrywing lui: “Die sekretarisvoël word in vlug gekenmerk, die natuurlike gevolg van groei en spoed. Dit is die ekwivalent van die leeu op die aardbodem. ’n Kragtige voël, die bene waarvan . . . dit goed dien in sy jag op slange, wat simbolies is van die beskerming van die nasie teen sy vyande. Dit is ’n boodskapper van die hemele en is op die aarde grasieus; in hierdie sin is dit ’n simbool van hemelse koningskap. Sy verwoë vlerke is ’n embleem van die opgang van ons nasie, terwyl dit tegelykertyd aan ons sy beskerming bied. Dit word in goud gebeeld, wat duidelik sy verbintenis met die son en die hoogste mag simboliseer.”
Die laaste deel van die devies is die stygende son, wat aangetoon word as ’n halfsirkel van goue driehoeke (wat nog twee skakerings van goud inbring) wat in die lug hang bokant die sekretarisvoël se kop.
Die amptelike beskrywing lui: “’n Embleem van helderheid, heerlikheid en die heersende beginsel van die aard van energie, simboliseer dit die belofte van wedergeborenheid, die aktiewe deugde van terugdink, kennis, goeie besef en wilskrag. Dit is die simbool van die bron van die lewe, van lig en die uiteindelike perfeksie van die mensdom.”
For English, click here
Terug na deel 1 van hierdie artikel (die grondleggingskring)
Na deel 3 van hierdie artikel (die leuse, en tale van Suid-Afrika)
Terug na Armoria patriæ-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle