HALLOOOOOOOO daar. Dis EK, BALKIE, wat hier praat. En
hierdie is die BALKIEKOERANT! (APRIL 2003)
Weet jy wat moet ek vandag doen? Ek moet my KAMER regpak.
JIG. Die ma het gesê ek MOET vandag my kamer regpak en toe sê ek KAN nie, want
ek moet die BALKIEKOERANT skryf. En weet jy wat sê die ma toe? Sy sê ek kan
LATER die BALKIEKOERANT skryf want ek MOET vandag my kamer regpak. En toe word
sy BAIE rooi in haar gesig. En ek weet as die ma so DONKERROOI word in haar
gesig dan moet mens liewers LUISTER.
Maar weet jy wat ek toe besluit? Ek het besluit om my kamer
reg te pak EN tegelyk die BALKIEKOERANT te skryf en dis wat ek nou doen, soos
jy kan sien. Nee. Eintlik sien jy niks nie. Want jy LEES die BALKIEKOERANT,
maar aan die anderkant SIEN jy ook, want as jy LEES, dan SIEN jy mos ook. Maar
net in jou VERBEELDING.
VERBEELDING is ‘n wonderlike ding. Ek wonder of ek my kan
VERBEEL dat my kamer VANSELF homself regpak? Sê nou maar daar kom skielik KLOMP
handjies te voorskyn en KLOMP voetjies en hulle begin sommer net vanself my
kamer regpak en ek lê net op my bed en KYK.
Wel, ek KAN op my bed lê, as daar net PLEK op my bed vir MY
is. My bed is ‘n bietjie VOL met allerhande goed.
“Haai Handjies en Voetjies, julle moet eers my BED leegmaak,
hoor!” sal ek sê.
“Goed, Balkie. Met plesier, Balkie. Dit sal vir ons heerlik
wees om jou kamer reg te pak,” sal die Handjies en Voetjies vir my sê en sommer
HARD begin werk en voor jy kan sê BALKIE, sal my kamer sommer VANSELF reggepak
wees.
Ai. Dis so WONDERLIK om net hier op my SKOON bed te lê en te
kyk hoe die handjies en voetjies ALLES vir my doen.
“BALKIEEEE,” skreeu die ma. “Hoe ver is jy met jou kamer?”
”OEPS! O VETPLANT! EK GAAN NOU BEGIN DIE MA!” gil ek en begin vinnig skarrel om
alles reg te pak.
Sjoe! Amper is ek in GROOOT moeilikheid. Maar gelukkig is
die BALKIEKOERANT nou klaar geskryf. Nou moet ek nog net my kamer opruim. Ai.
Ek wens. Ek wens daar was REGTIG handjies en voetjies. Wel, eintlik is daar
seker. MY handjies en voetjies! Of so iets.
Oooo vetplant. Ek dink ek moet nou ophou!
BAIEEEEE liefde
BALKIEEEEEEEEEE
EK, wat BALKIE is, het ook 'n STORIEBLADSY op STORIEWERF!
KLIEK hieronder om te lees!