.IN
die begin van hierdie nuwe millennium was dit weer sulke tyd.
Die son het sy nagenoeg elfjarige siklus van verhoogde aktiwiteit
binnegegaan, en die groot bewerker van die stoflike lewe op aarde sou ook weer
wys hoe omgesukkeld hy kan raak as dit dan nou moet.
Foto: NASA
Op só ’n onstuimige hoogtepunt
word slierte gloeiende
gasse honderdduisende kilometers bokant die oppervlak van die
son uitgeblerts
en vorm dit partymaal ook enorme kringe. Selfs die treffende aksietonele
wat deur moderne teleskope op foto’s vasvang word, kan nooit werklik
reg laat geskied aan die skaal en geweld van die ontsaglike
skouspel nie. Trouens, dis ’n kosmiese inferno groter as wat die
menslike verstand kan bevat.
En dit laat ’n
mens ook weer tot stilstand kom om ’n slag opnuut oor die son as
skeppingswonder te dink. Want haal jy die son uit ons lewens uit,
wat bly oor? Dood. Geen plant, geen
dier, geen mens of mikrobe of enige ander vorm van lewe nie... net
’n onherbergsame, bevrore aarde wat deur die oneindigheid wentel in
’n star en ewige nag waarin verafgeleë sterre
flikker.
So
belangrik is die son in ons bestaan dat sekere mense hom in die antieke
tyd as die hoofgod van die gode beskou
het.
Die
son is natuurlik verreweg die grootste hemelliggaam in ons
sonnestelsel en bevat 99,8 persent van die totale massa van ons
familie van planete, komete en ander ruimtelike voorwerpe. Maar in
die ruimte is hy ’n taamlik algemene soort ster, straks selfs ’n bra
onopsigtelike enetjie onder die bonte gewemelte van sterre in ons
sterrestelsel.
Sy
deursnee is nietemin ’n reusagtige 1 390 000 km. Vergelyk dit met
die sowat 1 600 km wat die Kaap en Johannesburg van mekaar skei.
Boonop het die son sowat 1,3 miljoen keer die aarde se volume en
ongeveer 300 000 keer ons planeet se massa. Om ’n beter denkbeeld
van die verskil te vorm: as hierdie gloeiende gasbol ’n deursnee van
20 cm gehad het, sou die aarde omtrent so groot soos ’n
peperkorrel gewees het!
Die
krag van die son word deur kernfusie opgewek. Hy is ook al beskryf
as ’n ontsaglike waterstofbom, met die groot verskil dat hy nie na buite uitplof nie,
maar weens sy geweldige swaartekrag gedurig op homself
inplof.
Hy
bestaan meestal uit die gas waterstof, waarvan 700 000 000 ton elke
sekonde in die gas helium en energie omgeskep word. Tans bevat die
son sowat 75 persent waterstof en 25 persent helium, terwyl alles
anders (soos metale) ’n skamele 0,1 persent van sy massa
vorm.
Maar
die kern van hierdie hemelbol van gasse is, verbasend genoeg, baie
digter as wat kwik of lood op aarde is. Dis weens die enorme
drukking in die kern.
Amerikaanse
sterrekundiges het enkele jare gelede berig dat hulle selfs water op
die son gevind het. Die water, in die vorm van superverhitte stoom,
is in twee sonvlekke waargeneem waar die oppervlak-temperatuur ’n
paar duisend grade koeler was as
normaalweg.
Die
son se gemiddelde oppervlak-temperatuur is ongeveer 5 500 grade C en
die temperatuur by sy kern ’n alles versengende sowat 15 000 000
grade.
Maar
hoewel die mens in die afgelope dekades baie van die raaisels van
die ruimte opgelos het, skuil daar vir ons steeds tergende geheime
in die son se chaotiese kernoond.
Vrae
soos hoekom sy buitelae selfs warmer as sy onstuimige hart kan wees,
verbyster nog altyd wetenskaplikes, hoewel gesofistikeerde nuwe
ruimtelike instrumente aanhou om die raaisels te ondersoek en ons
kennis omtrent die son te verbreed.
Dit bring ons terug by die son se
driftige buie al om die elf jaar. Die foto’s wat dan wat na
die aarde gesein word van die tonge gloeiende
elektromagnetiese gasse wat honderdduisende kilometers bokant die
oppervlak uitrol, toon selfs hoe hulle teen mekaar bots om massiewe
ontploffings te veroorsaak.
Die
menseverstand kan hom kwalik indink hoeveel energie hierby betrokke
moet wees. Wat meer sê: treffend soos hulle is, kan selfs die ordelose
aksietonele wat deur teleskope op foto’s vasgevang is, nooit reg
laat geskied aan die skaal en geweld van die verblindende skouspel
nie.

BO:
’n Loodregte magnetiese “spuitfontein” bokant ’n sonvlek op
die son, ’n gebied met sterk magnetiese veld.
Foto: NASA
|